ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

'n Besonderse fees

Willie van Staden, 2003

Saterdag 18 Oktober was regtig 'n fees - die Maryland Renaissance Festival, om presies te wees. Ons is die oggend na die feesterrein, so 'n halfuur se ry van die huis af. Ons was net betyds vir die opening. Dit was 1535, en Henry VIII het by die dorpie opdaag, met sy gevolg, om die dag se feestelikheid te geniet. Hy is seremonieel verwelkom.

Dit is 'n uitgespreide feesdorp, met Middeleeuse en Tudor-houtgeboutjies waarin daar stalletjies is met handwerkartikels en kunswerke, soos 'n reuse-vlooimark - dink Irene se tipe vlooimark maal tien - plus mense in kostuum, temageboue, alles saam met 'n kunstefees. Mens betaal eenmalig $16 per volwassene en alles verder, behalwe eet- en drinkgoed, is gratis. En alles is in die skadu van hoë najaarbome.

In die buitelug is 'n orrel. Nie 'n draai-orrel nie, 'n groot pyporrel, in helder kleure geverf. Ons het 'n hele ruk daar gestaan en luister.

Ons was toeskouers in 'n replika van Shakespeare se Globe-teater, waar kunstenaars optree. Baie stalletjies verkoop musiekinstrumente soos fluite, en ook allerhande snaakse snaar- en strykinstrumente, so daar is musiek oral, musiek wat by die geleentheid pas. Plek-plek is daar sommer so tussen die geboutjies groepe mense wat musiek maak, toertjies uitvoer of sing. Dit is seker 'n prima geleentheid vir kunstestudente om praktiese ervaring op te doen.

By een stalletjie kon mens uit hout gekerfde bokhorinkies koop. Mens bind hulle met 'n toutjie vas wat jy in jou hare versteek, en dan lyk dit asof daar bokhorinkies op jou kop groei. Die blondekopmeisie wat hulle verkoop het, het 'n stel aangehad. As die doel was om haar baie stout te laat lyk, dan was die oefening 'n groot sukses.

Van die stalletjies is helderkleurige tente, maar die meeste lyk na permanente strukture. Dit voel regtig soos 'n Middeleeuse dorp. As mens moeg is, kan jy gaan sit, en daar is altyd iets aan die gang naby jou. Baie van die feesgangers was in kostuum, soos die eregaste, en mens kan daar kostuums vir die dag huur, of koop.

Op een plek was daar 'n kennisgewing wat waarsku: "Unattended children will be sold as slaves."

Ons was by 'n glasblaasdemonstrasie. Die man maak baie mooi goed, maar die pryse is hoog. Ek het niks onder $65 gesien nie, en dit was die uitsondering. Die meeste pryse is in drie syfers. Ons was ook by 'n winkel waar daar mooi houtwerk en houtinlegwerk verkoop word. Oral voel mens maar dat ons ou randjie nie eintlik veel kan koop nie. Baie van die winkels en stalletjies vertoon 'n lapkennisgewing wat in outydse skrif sê: "We honor the Lady Visa and the Master Card."

Die hoogtepunt van die dag was seker die Jousting Tournament. Ridders in harnas storm mekaar te perd met lang lanse, en daar is 'n hele puntestelsel vir trefhoue teen borsharnas, gebreekte lanse, en mekaar van die perd afgooi. "Jousting" is 'n gewilde sport in Maryland. As Baltimore of Annapolis ooit die Olimpiese Spele aanbied, kan dit dalk vir daardie spele 'n Olimpiese sport verklaar word.

Voor die vertoning is die twee kante van die gehoor goed teen mekaar opgesweep deur twee baie aardse rasieleiers in kostuums wat mekaar oor die breedte van die arena gekoggel en uitgedaag het, elk met sy helfte van die ondersteuners wat saamgeskree het. Die arena is met veelkleurige vlae en baniere versier. Mens voel al die tyd soos 'n figurant in 'n Cecil B De Mille-fliek.

Ek het lanklaas so 'n dag beleef. Dis moeilik om te beskryf, maar ek wil sê dat dit al my sintuie betrek het. En al die tyd is mens bewus van die natuurskoon, met die wisselende lig deur die bome, waarvan party nog groen is en ander al verkleur het - rooi, goud, geel en party amper pienk. Mens loop op 'n immerwisselende grondbedekking, 'n towertapyt van blare, takkies, bas, en hier en daar plate rooi bessies wat van die bome afgeval het. As mens stilstaan, is jy al die tyd bewus van blare wat stadig neersif.

Vir middagete het ons sop in brood gehad. Nee, dis nie 'n tikfout nie. Hulle sny 'n groot broodbol bo oop, hol dit uit, en skep die dik sop daarin. Sop so dik soos beesvleisbredie, kaas-en-broccoli-sop, clam chowder. Ek het ook 'n stalletjie gekry wat goeie Ale uit Virginia verkoop het vir $3 'n glas.

Vir 'n dag lank was ek weer 'n kind. Daar is nie 'n ander manier om die totale verwondering te beskryf nie. Dit was dieselfde tipe ervaring as wat ek gehad het toe ek vyf was en een aand saam met my pa en ma met die bus Johannesburg toe is om die feesliggies van die koning se besoek te gaan sien - 'n wonderwêreld, 'n nuwe fantasie.



LitNet: 02 Augustus 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.