ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Metro, en Washington DC (VSA)

Willie van Staden, 2004

Mens koop Metrokaartjies by 'n outomaat wat met kontant of 'n bankkaart werk. Dit is goed as mens die juiste bedrag het, want as jy byvoorbeeld met 'n $10-noot vir jou $6 Day Pass betaal, keer die outomaat jou $4 se kleingeld in 16 quaddrs uit. Niemand het dít nodig nie.

Die Metrostasies se name rol so lekker van die treindrywer se tong af as hy hulle aankondig. By elke stasie noem hy die lyn en die eindpunt, sodat mens weet jy ry in die regte rigting: "Green Line, Branch Avenue." Van Greenbelt af kry mens College Park - University of Maryland, Prince George's Plaza, West Hyattsville (die laaste lettergreep uitgespreek soos in kalfsvleis, of "veal"), dan sê hy: "We are now leaving the State of Maryland. The next station is Fort Totten, in the District of Columbia." In DC is die volgende stasies na Fort Totten dan Georgia Avenoo, Columbia Heights, U Street and the African-American Civil War Memorial, Shaw-Howard University, Mount Vernon Square, Gallery Place and Chinatown, Archives and Navy Memorial, L'Enfant Plaza (waar ek uitgeklim het). Die mense wat hier bly spreek, nie die naam Maryland uit in drie lettergrepe soos wat ons geneig is om dit te doen nie. Dit klink asof hulle sê "Marr'lind".

Die moderne Metro is 'n maklike moltreinstelsel om te gebruik. Dit is maar omtrent dertig jaar gelede in gebruik geneem. Die waens is skoon en nuut, en benewens die mondelingse aankondigings, word die volgende stasie op 'n elektroniese bord in die rytuig aangedui, asook aan watter kant die deure gaan oopmaak. Wanneer die trein tot stilstand kom, sê 'n verleidelike vrouestem: "Doors opening", en dan skyn daar liggies op die vloer by die deur. Later is daar 'n musikale kloknoot en dieselfde stem sê: "Doors closing." Soms kan die deure nie toemaak nie omdat iemand te naby aan een staan, dan verloor die stem haar verleidelikheid, en versoek saaklik: "Please stand clear of the doors!"

As mens op die perron staan en wag, flikker die liggies op die rand van die perron wanneer die trein in aantog is. Dit is noodsaaklik, omdat die vinnige treine byna geluidloos beweeg.

Amerikaners is baie ernstig oor toegang vir gestremdes. Die treine van Washington se Metro is so ontwerp dat rolstoele van die perron af kan inry, en daar is plek vir hulle in die trein. Elke stasie het, benewens die roltrappe vir die massas, ook 'n "ellevaydr" vir gestremdes.

In die buitewyke van die stad loop die spoor bogronds, en daar is mooi tuine by die stasies. Waar die stelsel ondergronds is, is die stasies ruim, met hoë, geboë, indirek-beligte plafonne. Al die konstruksiewerk is van beton, daar is nêrens oop metaalbalke nie.

Die stasie waar ek uitgeklim het se naam is L'Enfant Plaza, en dis vernoem na Pierre L'Enfant, die man wat die stad Washington uitgelê het. Dit is 'n groot oorklimstasie waar die groen lyn van Greenbelt af met die oranje en blou lyne kruis. Die stasie het verskeie uitgange, maar ek het gelukkig geweet ek moet na die Maryland Avenue-uitgang gaan.

Washington DC is 'n voetganger-vriendelike stad. Die sypaadjies is breed, en solank mens onthou dat voetgangerverkeer ook moet regs hou, gaan alles goed. Voetgangeroorgange is 'n plesier, en op die meeste straathoeke is daar blou inligtingsbordjies aangebring wat duidelike aanwysings gee na besienswaardighede en Metro-stasies. Die voetganger-verkeersligte sê in rooi: "Don't Walk", of: "Walk", in groen. By baie van die ligte in die middestad is daar 'n groot elektroniese paneel wat die tyd digitaal aftel, sodat mens kan sien hoeveel sekondes jy nog oor het om te "Walk". Die paneel is so groot dat ek dit sonder hulp van oorkant die straat kan lees.

Die stad is imposant. Dit laat my 'n bietjie aan Parys dink, want daar is soortgelyke boomryke breë strate met groot geboue en reusemonumente wat langs reguit lyne gerangskik is. In die omgewing van die Navy Memorial is daar twee spieëlbeeld-geboue teenoor mekaar waarvan die opset baie aan die Trocadero herinner. Anders as in Parys, is dit moontlik om die strate van Washington moeiteloos oor te steek.

Die jong republiek het na hul vryheidsoorlog (die Amerikaners praat graag van The Revolutionary War) verskeie tydelike hoofstede gehad, onder andere Annapolis, vir 'n paar maande in die 1780's. Philadelphia was 'n gewilde keuse, want dit was 'n kultuurstad met goeie infrastruktuur, en dis waar die Declaration of Independence in 1776 onderteken is. James Madison, later die vierde president, het by die skryf van die grondwet (ook in Philadelphia) egter daarop aangedring dat die regering in 'n neutrale gebied gesetel moet wees en nie in een van die deelstate nie.

Thomas Jefferson het deur slim onderhandeling die Suidelike deelstate omgepraat om te help om van die vryheidsoorlog se skuld te betaal, in ruil waarvoor die hoofstad in die Suide geleë sou wees. Washington DC lê tussen 50 en 60 myl suid van die kulturele grens tussen die Noorde en die Suide, die ou Mason-Dixon Line.

Die oorspronklike geproklameerde gebied was 'n tien myl by tien myl vierkant waardeur die Potomac vloei. Die grond is afgestaan deur Maryland en Virginia. Dit was ruig-beboste moerasgebied. Daar was ander opsies, maar hierdie gebied, oënskynlik ongeskik, was die naaste aan Mount Vernon, president George Washington se huis, en dié feit was deurslaggewend.

Toe die nuwe hoofstad in 1800 in gebruik geneem is, het die Britse ambassadeur sy goed gepak en huis toe gegaan, eerder as om in so 'n "hardship post" te dien. Iemand anders het die plek 'n "pestiferous swamp" genoem. Die somers was baie warm, met hoë humiditeit, en malaria op die koop toe. Charles Dickens het Washington DC in 1842 besoek, en sy kommentaar was nie vleiend nie.

Vandag is daar geen teken van moeras nie. Die aantreklike stadskern is die VSA se sitkamer. Washington DC is 'n majestueuse stad, en ek is onbeskaamd betower met die plek. Ek wens Dickens kon dit nou sien.



LitNet: 02 Augustus 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.