ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Waar is die vroue van Suid-Afrika?

Trudy Reinhardt, 2005

Twee vroue op hulle eie deur Suider-Afrika? Is julle mal? Dis gevaarlik! 'n Ma (toegegee, sy het nog al die jare 'n goeie streep van wyle Wena Naudé in haar) wat huilend vra: "Waarom, my kind, waarom?"

Dit is die soort van reaksie wat 'n mens te wagte kan wees as jy sommer net op 'n dag jou huis verkoop, jou kar inruil op 'n 4x4-voertuig, vir 'n enkele Sondagoggendklas gaan oor die hantering van jou toekomstige huis op wiele, selfverdedigingsklasse met messe deurloop en dan 'n skrale drie maande na die besluit geneem is, in die pad val.

Die wysheid van my optrede het ek reeds daardie eerste oggend bevraagteken toe ek en vriendin Marguerite rondom Vereeniging verdwaal het, 'n skrale 150 kilometer nadat ons vertrek het! Ons sirkelroete rondom die dorp en die vermanende Amerikaanse vrouestemmetjie van die GPS (hoekom nie sommer in die beskawing reeds die ding onder die knie probeer kry nie?), wat voortdurend (in 'n toonhoogte wat vir my geklink het na toenemende angs!) bly maan het: "Off course! Recalculate!" het ons gelukkig as uiters snaaks getref, en nee, ons het nie omgedraai nie, maar vroumoedig noord gehou!

Drie maande later en agter ons lê die Noord-Kaap, Richtersveld, Namibwoestyn, Etosha-wildreservaat, Sossusvlei en Ruacana, en vorentoe wag die Caprivistrook, die Okavango-delta in Botswana, die Victoriawaterval in Zambië en vele meer. Hierdie artikel word geskryf onder 'n boom in 'n karavaanpark in Tsumeb, tien duisend kilometer van ons vertrekpunt in Gauteng af.

Nee, ons het regtig nie geweet dat die Richtersveld met meer as een 4x4 aangedurf behoort te word sodat een die ander kan uitsleep nie, toe doen ons dit op ons eie en probeer ons bes om nie vas te val nie, want daar is nie veel ander voertuie te sien nie. Ons het wel nooit die kamp gevind nie, maar om op die oewers van die Oranjerivier te slaap en met koue water uit 'n waskommetjie soort van skoon te kom, was toe ook nie so erg nie. En al daardie vooruitdraf om die ergste dongas te identifiseer en klippe daarin te gooi sodat die nou gryswit 4x4 nie omval of vasval nie, het nie net gesorg vir bruiner lywe nie, maar het sommer ook 'n hele paar kilogramme die wyk laat neem. Nie dat ons 'n skaal byderhand het nie, maar ons klere voel losser (kan natuurlik ook iets te make hê met die wasproses … 'n emmer seepwater waarin dit bedags agter in die abbahuis rondskommel!).

Ons het geen wafferse beplanning gedoen nie, want dit sou die journey te maklik laat ontaard in 'n netjies-gekarteerde reis en dit was juis wat ons nie wou hê nie. Ek was keelvol vir my agt-tot-vyf voorspelbare leefwyse en toe ek Marguerite ses maande vroeër ontmoet en sy entoesiasties klink oor my planne, het ek besef dat ek lekker geselskap gaan hê en dat dit boonop veel makliker sou wees om haar oor grense heen te kry as my Franse poedel, wat in elk geval nooit Afrikaans kon baasraak nie.

Intussen het ek ook ontdek dat sy kan vleis braai en darem net snags teen die wiele piepie wanneer die ablusiegeriewe te ver is. Op laasgenoemde punt, papierhanddoeke het baie beter kladvermoë as toiletrolle en boonop is dit sommer handig as servette ook - nee, nou darem nie dieselfde blokkie vir beide doeleindes nie!

Natuurlik was dit 'n belewenis om die Eiffeltoring in Parys te bestyg en op die bullet train in Japan te reis, maar dit was 'n ewe wonderlike ontdekking dat Keimoes uit 'n honderd eilande bestaan. Ons het op een geslaap tussen die wingerde en Oranjerivier Wynkelders se wyn beproef en uitgevind dat hulle die grootste wynkorporasie in Suider-Afrika is (ek het nog al die tyd gedog dis een van die Wes-Kaapse kelders!).

Afrika is 'n wonderlike kontinent en vol uniekhede en interessanthede. Ja, natuurlik is mens lugtig vir krakende takke as jy die enigste kampeerders in Selma ('n Damaravrou) se boskamp in die droë lope van die Ugabrivier is - dis naby die oeroue White Lady-rotstekeninge - want die wilde olifante is 'n paar uur vantevore deur die kamp en hulle reusespore is oral te sien.

Of ons al die lande gaan sien wat ons nog wil sien met die geld tot ons beskikking, dié weet ek nie. Indien nie, gaan ons terug Afrique du Sud toe en gaan werk weer 'n ruk voor ons die res aanpak. Ek betwyfel dit ernstig of 'n mens na so 'n nomadiese bestaan ooit weer maklik vir lang tye in 'n voorstedelike bestaan sal tuis voel. Dis regtig nie maklik om maande lank in 'n abbahuis te bly en dikwels swak of geen badkamergeriewe te hê nie, maar dit is eintlik 'n geringe prys om te betaal vir die sielservaring van die woestyn en Afrikabos. En die sebra-hoefafdruk wat 'n maand na die skop nog opgehewe op my regterbobeen bult, gaan bloot sorg dat ek volgende keer bietjie meer afstand hou wanneer ek wil kiek!

Waarom sou dit wees dat ons geen ander vroue op hulle eie aan 't toer deur Suider-Afrika teëgekom het nie?



LitNet: 22 Julie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.