ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bedrywige dag in New York

Willie van Staden, 2003

Na 'n koffie-en-bagel-ontbyt het ons die dag soveel ingepak as wat mens in een dag kan. Die dagkaartjie vir die Subway (moltrein) kos $7, en die stasies het trappe, nie roltrappe soos in Washington of Londen nie. New York is nie vir sissies nie. In vergelyking met Washington DC se Metro is New York se Subway primitief.

Henning is baie goed met kaarte en rigting, so ons was gou op die terrein van die World Trade Center. Dit was vir ons almal baie aandoenlik. Daar is nog steeds dieselfde plankmuur met verdroogde blommekranse, geskrewe boodskappe en ander aandenkings wat ons op TV gesien het. Op een plek is daar 'n foto van 'n oopgesig-jongman. In die raam om sy foto staan daar sy naam, en "Husband, son and father. Murdered at work, 9/11/2001."

Daar kan debat gevoer word oor die aanslag en die redes daarvoor, en oor die kwaliteit van politieke leierskap waarmee dit begroet is, asook die effektiwiteit waarmee daarteen opgetree word, maar oor een ding moet daar geen onduidelikheid wees nie, en dit is die rou emosie wat by gewone Amerikaners, spesifiek New Yorkers, ontketen is. Rou emosie is 'n aanvoelbare entiteit op hierdie martelaarsterrein. Geen mens gaan koud gelaat hiervandaan weg nie.

Na koffie in die mooi Winter Garden van die Financial Center het ons 'n rukkie stil deurgebring in Battery Park, waar daar vroeër jare kanonne was om die stad teen aanvalle te beskerm.

Adrie se eerste naam is Charlotte, en op 'n plek het ons op 'n baie armsalige winkeltjie met die naam Charlotte's Catering afgekom. Dit was nogal snaaks. Later daardie dag het Adrie die laaste gelag: een van die duur modewinkels op Fifth Avenue se naam is Charlotte Russe.

Met moltrein en bus is ons na een van die baie hawehoofde, waar ons die 13:30 90-minuut-vaart in die hawe meegemaak het, onder meer naby die Statue of Liberty verby. Dit was vir ons 'n baie mooi deel van die bitterkoue, nat dag. Die elfde November is Veterans' Day, en daar was 'n verbyvlug van 'n helikopterformasie. Die hoë geboue, sowel as die absolute omvang van Manhattan, kom baie mooi in perspektief as mens so stadig daarom vaar. Die gids het haar vertellings bondig gehou, en mens genoeg kans gegee om die inligting te verwerk. Ek het nooit gedink ek gaan in my lewe op 'n skip onder Brooklyn Bridge deurvaar nie!

Ingesluit by die $19 per persoon vir die bootvaart is 'n busrit terug na die middestad, en ons het Central Park toe gegaan, nog steeds in die koue en sagte reën. Hierdie reuse groen long in die stad, waarvan ons maar 'n klein deeltjie gesien het, is manjifiek. Die bome is pragtig, en die eekhorinkies is besig. Op een plek het hulle luidkeels op 'n rondloperkat geskel. Daar is 'n buitelug-ysskaatsbaan wat heelwat laer as die paadjie lê. Agter die wit ys is daar in die mistige wasigheid 'n groot grysgroen wilger met takke wat in 'n gelyke soom hang. Dit lyk soos 'n driedimensionele Monet. Op party plekke sien mens die hoë geboue deur die herfsbome, en dis mooi, veral vir 'n stadsmens soos ek.

Waar ons uit die park uitgekom het, het ons pakkies warm heuninggeroosterde grondboontjies gekoop. Amanda het nie juis hare geëet nie, sy het dit vasgehou om haar hande warm te maak.

Na 'n vinnige vensterkyk-draai by Fifth Avenue se juweliers- en modewinkels, het ons 'n laat pizza-middagete gehad, en daarna was dit weer in die moltrein, dié keer na die Empire State-gebou toe.

Mens het 'n keuse. Vir $11 gaan jy op na die uitkykplek op die 86ste verdieping, en vir 'n ekstra $9 kry jy die voorprogram ook. Laasgenoemde sluit 'n videovertoning in oor die gebou en die top tien besienswaardighede van die stad, sowel as 'n Skyride: mens gaan sit in 'n klein, beweeglike teater en daar is 'n lang staaf wat mens soos 'n veiligheidsgordel in jou sitplek vashou en vir jou ook iets gee om aan vas te klou. Daar is 'n GROOT skerm voor mens, en die vertoning laat jou voel asof jy vinnig en laag oor die stad skeer - afduik, opskiet en skuins draai. Dit was vinnig, intens, en oorweldigend - net soos New York self.

In die pragtige Art Deco-portaal gaan mens in 'n hysbak in, en dié registreer net elke tiende verdieping. Op 80 gaan die deure oop, en mens beweeg na 'n ander stel hysbakke, maar eers verby 'n baie optimistiese en halfdesperate fotograaf wat deeglik daarvan bewus is dat die toeristeseisoen einde se kant toe staan. Ons vier het vir die verpligte foto gaan poseer, maar ons het dit later nie gekoop nie, want dit was doodeenvoudig te duur. Tough luck, Buddy. New York is nie vir sissies nie.

Die volgende "ellevaydr" neem mens na die uitkykvloer, verdieping 86. Dis 'n oop balkon reg rondom die gebou, met relings daarom. Almal wat Sleepless in Seattle gesien het, sal presies weet hoe dit lyk. Dit is 'n uitsig wat maak dat mens die snerpende wind vergeet. Liggies lê soos stringe krale na alle rigtings. In die verte is die donker waters van die East- en Hudsonriviere, en die halssnoere van liggies op die brûe waaronder ons vroeër die middag gevaar het.

In die geskenkwinkel het ek twee potlode gekoop. Een, vir Gert, het 'n klein geel taxi'tjie op, in plaas van die gebruiklike uitveër. Vir kleinseun Steven het ek 'n New York T-hempie gekoop, en 'n miniatuur New York nommerplaat met sy naam op.

Van die hoë gebou is ons per moltrein na Grand Central-stasie om vir Annemarie te wag. Annemarie is die jongste van Adrie se suster Hester, en sy au pair so 'n uur per trein buite New York. Ek het op die stasie 'n groot rooi appel gekoop om die middag se pizza mee te balanseer, en mettertyd was Annemarie met ons.

Om die hoek van die stasie af is ons, op Annemarie se aanbeveling, na Houlihans Old Bar and Restaurant. Die kind het my verbaas met haar kennis en kundigheid. Die sagte blou-oog-dogtertjie het, in die beste moontlike sin van die woord, 'n Woman of the World geword.

Ons het lekker gekuier voor ons saam met Annemarie stasie toe is om te groet. Sy het met die elfuur-trein jongvrou-alleen teruggery na haar voorstedelike stasie 'n uur verder, en in 'n geparkeerde motor geklim en huis toe gery. Ek glo daar is plekke in New York waar mens dalk nie so veilig sal wees nie, maar daar is in die hoofstroom van hul lewens 'n benydenswaardige graad van lewenskwaliteit wat hierdie mense in hul daaglikse handel en wandel geniet. Mens sien dit veral aan die vrouens. Nie een van hulle knyp op straat haar handsak krampagtig vas soos die gemiddelde Suid-Afrikaanse vrou nie.

By die laaste stasie waar ons die moltrein moes haal hotel toe, was daar 'n man, Oosters in voorkoms, wat op die perron 'n snaakse tweesnaar-strykinstrument met verstommende virtuositeit gesit en bespeel het. Die musiek was onbekend en vreemd, maar mooi.

In die trein was daar 'n bedelaar wat gevra het vir "any spare change at all", maar die musikant het al Adrie se "spare change" gekry, en ek het niks meer gehad nie.



LitNet: 19 Julie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.