ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die dag toe die kinders huil
(Lidice, Tsjeggië)

Johan van Niekerk, 2003

(met vergunning uit Watsenaam)

Die kinders huil die dag toe ek Lidice besoek. Nee, nie omdat ek ek is nie, maar omdat dit dié dag in Boheme reën.

Hulle staan eenkant, opeengebondel, met strak gesigte en kyk na die groen heuwelreliëf voor hulle ... emosieloos ... star. Is dít wat grootmense aan ander doen ... totale uitwissing? Is dít wat mag, gesag, inhou - termineer lewe bloot na goeddunke?

Jy dink aan die name van enkele van die 173 mans wat dié oggend, 10 Junie 1942, deur die Gestapo gefusilleer is ... eenvoudige, plattelandse myn- en staalwerkers wat meestal in die nabygeleë dorpie, Kladno, werk en met die oorlog weinig te make het: Antonín Müller, Josef Prineba, Antonín en Franicek Sajbl, vermoedelik pa en seun, Josef Kafka, Franicek Nerau, Franicek Husak ... ag, te veel om te onthou ... en jy kyk weer na die kinders ... hoe groot blinknat druppels oor die wange loop … hulle pa's. Kan, mag, die mensheid ooit vergeet wat dié dag gebeur het?

Dié reuse groen vlek lê in 'n vallei 22 km buite Praag, noord, vandag, enkele kilometers van die Ruzyné-lughawe af in die rigting van Slany. Die oggend van 9 Junie 1942 was hier, na agt eeue, steeds 'n tipiese Tsjeggiese dorpie, gedomineer deur 'n barokstruktuur, die St Martin-kerk, 'n hoër- en laerskool, drie kroeë vir die manne saans na werk, twee slaghuise, drie groentewinkels, 'n biblioteek, 102 huise en 495 inwoners. Die volgende dag niks ... als weg ... mans, vroue, kinders, die kerk, die skole, die huise, als ... niks, maar net niks, het behoue gebly nie ... enkele fondamente van 'n plaashuis hier en daar ... altesaam 339 Lidice-siele uitgewis ... die uiteinde van waansin deur magsbehepte waansinniges.

Te midde van die gruwel wat 'n mens in die Terezin- en Auschwitz/Bergenau-konsentrasie- en -uitwissingskampe meemaak, bly Lidice my veelal by. Waarom, weet ek nie ... die een gruwel bly immers so skrikwekkend soos die volgende …

Die oordeel oor Lidice word reeds vier jaar vroeër gevel met die sogenaamde München-pakt van 1938 waarin Groot-Brittanje en Frankryk Hitler toestemming gee om Sudetenland (die grensgebied tussen Duitsland en Tsjeggo-Slowakye) te beset. Minder as 'n jaar later, in Maart 1939, beset hy egter die hele Boheme en Morawië en verklaar die gebied 'n Duitse protektoraat.

Op 27 September 1941 word die Ryksprotektor, Von Neurath, vervang deur die sadis, Reinhardt Heydrich, SS-Obergruppenführer en generaal van die polisie, met die duidelike opdrag: vernietig enige weerstand van die Tsjeggiese partisane en verduits die bevolking. Die volgende dag word 'n noodtoestand afgekondig en tree sy planne summier in werking. Hy verklaar Boheme en Morawië die hart van die Duitse Ryk waarin geen plek vir Tsjegge is nie. Daarom stuur hy 'n deel van die bevolking Duitsland toe om te verduits (dié met Ariese trekke), 'n deel word Ooste toe gestuur vir goedkoop arbeid, en die res, wat verandering teenstaan, word geëlimineer - 486 summier.

In Londen beplan die Tsjeggiese bannelingregering van Benez die eliminering van Heydrich en op 27 Mei 1942 vermoor twee valskermsoldate van die Tsjeggiese leër in Engeland, Josef Gabcik en Jan Kubis, Heydrich in Liben, 'n voorstad van Praag. Op 4 Junie sterf hy aan sy beserings.

Die soektog na die skuldiges is onverbiddelik, met min sukses. 'n Reusebedrag vir informasie word uitgereik, verdagtes word wreed gemartel en, in veel gevalle, gefusilleer.

Op 4 Junie is dit Lidice se beurt en elke huis word deeglik gevisenteer - veral dié van die Horak- en Stribrny-families. 'n Seun van elk van dié families word reeds sedert 1939 vermis en nou is hulle die hoofverdagtes. Al die familielede van die twee gesinne word gearresteer - én die inwoners van die dorpie word daarvan beskuldig dat hulle hulp aan die twee, en hulle saak, verleen het!

Op 9 Junie 1942 vind die begrafnis van Heydrich in Berlyn plaas. Hier stel sy tweede in bevel, Karl Herman Frank, voor dat, as vergelding, die dorpie, Lidice, totaal uitgewis moet word … "van die aardbol af moet verdwyn".

Hitler sanksioneer dié voorstel en dieselfde aand nog word 'n Gestapo-eenheid ingestuur om die inwoners bymekaar te maak. Hulle versamel op die kerkplein waar mans, vroue en kinders geskei word.

Vroegoggend 10 Junie 1942 word al 173 mans summier gefusilleer, ses dae later nog 19 in Kobylisy ná 'n mynskof - altesaam 199, die totale mansbevolking van Lidice. Saam met dié 19 ook sewe vroue, lede van die Horak- en Stribrny-families.

Later die oggend van 10 Junie word 'n Duitse pantsereenheid ingestuur om die vernietigingswerk af te rond. Eers die kerk, toe die skole, toe die huise ... met grofgeskut, vuur en, uiteindelik, dinamiet ... die opdrag immers: veeg Lidice, en sy inwoners, van die aardbol af!

Laataand is al wat oorbly, betonhopies wat deur RAD-eenhede in die sagte aarde van Boheme weggewerk word - 'n skrikwekkende skandvlek op die gewete van die mensdom.

Groot-Brittanje en Frankryk herroep feitlik onmiddellik die München-pakt van 1938 en prys die brawe weerstand van die Tsjegge - 'n daad wat nie ongesiens verby sou gaan nie.

Inderdaad.

Enkele dae later stig die mynwerkers van die Engelse dorpie Staffordshire 'n beweging: Lidice sal bly leef. Die doel: om 'n nuwe Lidice langs die oue aan te lê waarin onder andere 'n wetenskap-instituut gehuisves sal word wat navorsing sal doen oor die beveiliging van steenkoolmyne en mynwerkers in dié streek.

Ry jy vandag van die Lidice-museum af noord, verby die indrukwekkende rosetuin, simbool van die nuwe Lidice, kom jy inderdaad in dié nuwe woonbuurt aan - die huise gerekonstrueer op dié van ou Lidice. Jy skud net kop … en diep in jou siel huil jy saam met die kinders van Lidice … wéét ook … daar was ánder dorpe in die oorlog met dieselfde lot: Lezaky in Oos-Boheme, Oradour in Frankryk, Merzabotto in Italië, Putten in Holland, Distomo en Kalavryta in Griekeland …

Maar dis al of die mens kennis neem, maar nie wil leer nie … nie wil luister na die gehuil van kinders wêreldwyd nie, want sindsdien het talle dorpe, hele gemeenskappe, ewe-eens verdwyn … bloot van die aarde geveeg: die Koerdiese dorpie Halbia en 4 000 ander deur Saddam Hussein met mosterdgas, die Palestynse dorpies Sabra en Shatila deur Israeli-kolonisasie, honderde gehuggies in Viëtnam, Guatemala, Chili, Nicaragua, Oos-Timor, Kambodja, Angola …

En die kinders van die wêreld ween steeds … wat doen grootmense aan ander … aan óns!



LitNet: 08 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.