ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Konsertina-diva (Skerries, Ierland)

Johan van Niekerk, 2003

(met vergunning uit Watsenaam)

Wie sy is, weet ek nie … dié konsertina-diva van Skerries … vyftig, moontlik ouer, blond, geel bloese en rooi snyerspak … sal seker ook nóóit weet nie, maar wat ek wél weet, is dat sy dié aand, deel van 'n oktet, Ierse musiek help maak wat rillings deur rugbiltonge sny.

Waarom spesifiek sy? sou mens met reg kon vra. Waarom nie die akkordeonis of fluitis nie? Omdat dit die konsertina is … én die manier waarop sy dié instrument hanteer … sagkens, soos 'n man 'n meisie, fluweellappie oor die knie met die blaaie van die instrument daarop, lang vingers wat die knoppies van die vier-en-'n-half-ry streel sodat dit telkens flou in die ligkringe van die pub kaats, oë gefokus, die ander been ritmies op galop … pasaangeër.

Skerries is 'n vissersdorpie aan die Ierse See, vyftig kilometer noord van Dublin, op pad na Belfast. Dié dorpie is, soos al die ander rondom Dublin, oorvol, want die pop idol Robbie Williams hou konsert in Phoenix Park en 135 000 kaartjies is reeds verkoop en iewers moet mens tog bly, nie waar nie!

Die Iere en Suid-Afrikaners loop al 'n lang pad en met 'n bietjie manipulasie kry ek plek by twee wonderlike mense, Carl en Mary, in die hartjie van Skerries … Church Street. Logies, nè! Vrydagoggenddrafskof is in digte mis, al langs die oseaan langs, verby die Martello-toring … heerlik … lekker … want dis hoogsomer en bloedwarm … en 'n man swéét … puur Guinness.

Later die oggend is ek op die hawe, die bote skimme op die water. Ek sak in by Joe May's, bang vir ontwatering … die mees tipiese Ierse pub in Ierland … klein, intiem, met elke tapbier denkbaar … die swart menere met die dik, romerige skuimkoppe, Guinness en Murphy's, die heuningbruines, Kilkenny en Forster's, ook enkele wittes … Soos ek sê, jy vra en Joe May skink.

Nou dié instelling het net een venster, onmeetlik groot en laag sodat kennisse ín die pub en dié daarbuite lekker oor en weer kan kuier … vir ure. Jy verluister jou aan die stories, altyd ten koste van iemand anders, maar altyd sonder venyn, die Ierse craic … én natuurlik, die Galliese uitspraak … albei lekker op die oor … albei ure se pret.

Ek verneem terloops van tipiese Ierse musiek dié aand in die hotel langsaan, die Pier House Hotel - en besluit summier om in te val.

So gesê, so gemaak … en dié aand, in digte mis, stap ek oor en soek plek agterlangs … eet vis en drink steeds Guinness.

Teen nege-uur arriveer hulle vanuit alle windrigtings: die musikante, instrumente op sleeptou … akkordeon, konsertina, ghitaar, basghitaar, luit, viool, fluit, bodhrán ('n bokveltrom) … en kort voor lank begin die instemmery … elkeen op eie gehoor, en geloof, af. Dis amateurmusikante dié wat een keer per week saamtrek om hul gunstelingmusiek te bedryf … die Ierse lied. En van oraloor kom die ingewydes om te luister.

Dit raak gou duidelik die jong Molly op die akkordeon is die spil … sy gee dwingendheid aan die aksie … Tot háár repertoire gedaan is, dan vat een van die ander oor … so, van die een na die ander … polkas, riele, walse, jigs, airs …

En toe's dit háár beurt … en in doodse stilte rits sy blitssnel deur die toonlere en sleutels om a voor b te kry … as't ware die lang, skraal vingers in tandem te kry vir A-majeur en B-mineur.

Dan die aftel-inkantasie: saggies 1,2,3,4 … die dowwe kruisakkoorde van "The Lakes of Pontchartrain" … eers sag en effe onseker, maar soos die ander instrumente bykom, al harder … al sekuurder … tot instrument en musikant deel word van kollektiewe oorgawe.

Dis pragtig … dis mooi … en die gehoor waarderend … méér … méér … "The May Morning Dew" … "Midnight on the Water" … "Donegal Reel Set" … en die mense luister en luister … en drink … Guinness … "… for the great Gaels of Ireland are the men that God made mad, for all their wars are merry, and all their songs are sad."

En die gedagtes vlug terug … oor landsgrense heen … Suid-Afrika toe … om presies te wees, veertig jaar terug … Noord-Kaap … Kimberley … Lawsonstraat toe … bure toe … oom Attie en ta' Lenie van Jaarsveldt met hul loseerder, Pedro … Pedro Theron van Vaalharts … twee en twintig jaar oud … konsertina-prins … skrefies-oë, skewe glimlag, hangkuif, maar as hy "Tan' San van Christiana" vat, is dit of die hele liggaam saamgesels … die dun voorarms … die lang, maer vingers … die hangskouers … is dit of die hele liggaam knoppe trek … lewe … die oë doer gunter.

En jy? Jy trek hoendervleis … van boude af, deur die stuitjie tot hoog op in die blaaie.

Jy dink aan die slag toe die SAUK van Bloemfontein kom om in die NG Kerksaal opnames te maak vir nasionale uitsending … hoe jy as jongeling gehelp het met die instrumente … die trekklavier vir Wollie Wolmarans, die konsertina vir Pedro, die ghitare, die tromme, die banjo. Die klavier - uiteraard - rééds daar. Toe die opstel van die mikrofone … "testink … testink" … tot almal naand gelukkig was met die peile. En toe die program: "Tant' San" … "Die Kalfiewals" … "Die Vaalhartsseties" …

Feitlik vergange, dié persepsie … tot dié aand toe konsertina-diva en konsertina-prins mekaar toevallig in Skerries raakloop …



LitNet: 08 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.