ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moedertjie is pragtig maar sy praat nie Engels! (Praag)

Estie Reynecke, 2003

Die Tsjegge noem hul hoofstad Maticka Praha, Klein moeder Praag, en dis baie maklik om te sien hoekom hulle so lief is vir hierdie pragtige stad met al sy torings. Praag is 'n argitektoniese fees, van Goties, verby Barok tot by Art Nouveau. In die middel van al hierdie wonders vloei die donker Vltavarivier, wat so treffend lewe gegee word deur Milan Kundera in een van sy romans, stadig deur.

Praag is 'n gunsteling-bestemming, dis duidelik - daar is baie, bitter baie, toeriste wat oral ronddwaal. Ek het egter nie een keer gevoel ek gaan crowd rage kry nie, en dit is veelseggend, want my persoonlike borrel is maar groot. Die stad het 'n byna gewyde atmosfeer - al is die persentasie gelowiges maar klein, iets soos dertig persent - en die toeriste is half-gedemp in hul waardering vir alles wat hulle om hulle sien. En daar ís baie te sien, amper honderd en vyftig bestemmings wat wissel van museums en galerye tot katedrale, paleise en tuine.

'n Plek waar dit minder gewyd gaan, is die Astronomiese Horlosie in die muur van die ou stadsaal in die Old Town Square. Hierdie horlosie is in 1490 gemaak en van die mees opvallende detail is die vier figure wat aan die kante staan: Ydelheid met 'n spieël in die hand, Gierigheid wat vasklou aan sy beursie, Dood en Heidense Inval, wat voorgestel word deur 'n Turk. 'n Meganiese spektakel speel hom elke uur, op die uur, vanuit die horlosie af. Eerstens lui Dood 'n klok en keer sy uurglas om, dan kom die twaalf Apostels verby en groet die skare, wat intussen hier vergader het om na die skouspel te kyk, met 'n statige kopknik. Laastens, as die parade Apostels verby is, kraai 'n haan en word die uur geslaan. En elke uur klap die skare geesdriftig hande voordat hulle terugkeer na hul pilseners en borde kos by die talle straatkafees op die stadsplein. Dis asof mense hul asems ophou terwyl die horlosie doen wat dit al vir langer as vyf honderd jaar doen. Net vir ingeval dit hierdie keer nie gaan werk nie.

Al hierdie prag en praal om jou is mooi en maak pragtige foto's en bring soms 'n stilte in jou hart, maar reisigers sal met my saamstem dat dit die menslike element is wat vir die meer blywende herinneringe sorg. Mense en hulle dinge en die tale wat hulle praat.

Engels is maar skraps in Praag. By die toeristeburo's en winkels in die historiese sentrum (die "ou stad'), is die taal nie 'n probleem nie - en sorg die Tsjeggies op trems en die Metro vir pret en 'n gevoel van outentisiteit, omdat mens mos voorberei het voor jy hierheen gekom het, en byvoorbeeld weet as die aankondiger sê "Hlavni Nadrazi", moet jy spring, want hier klim jy af om die bus en dan die trem nommer vyf en dertig te kry na jou pension toe. Die hemel help jou egter as jy verdwaal en al hoe verder weggevoer word deur die verkeerde trem, diep in die bleek, industriële voorstede in. In hierdie stedelike woesteny verkoop elke tweede winkel elektriese huisware en word 'n verdwaalde toeris sommer deur 'n verskeidenheid platinum blondes van agter toonbanke verwilder met "no English!"

Die gebrek aan Engels het ook vir snaakse oomblikke gesorg. Ek was in 'n supermark en het by die kassiere oorgeleun om na 'n plastieksak by haar oop kasregister te wys - wat ek baie graag wou koop om my kruideniersware in te pak - toe sy my hand driftig wegklap. Ek was heeltemal oorbluf en toe my reismaat begin lag, het ek ook begin. Onbedaarlik en so lekker dat die kassiere later saamlag en ek verbete moes begin knyp.

Die mooiste oomblik was in 'n katedraal toe ek vir die jong sekuriteitswag vra of ek 'n foto mag neem. Die dak was tipies Goties en ek het gereken dit sou 'n mooi foto maak, maar ek het aangeneem dat die neem van foto's binnenshuis taboe sal wees. Ek het na my kamera beduie en toe op na die dak. Die jong wag het vir 'n hele paar sekondes met die mooiste glimlag na die dak staan en kyk en toe entoesiasties "Yes!" gesê, asof ek iets wonderlik ontdek het en so gaaf was om dit met hom te deel.



LitNet: 08 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.