ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Van die Ierse Klub in Linden, Suid-Afrika, tot by Willie Daly's in Ennistymon, Ierland

Buks en Toekie, 2005

"Ek was vir amper vyf jaar sonder 'n man in my lewe," sê Toekie en trek 'n strepie met haar voorvinger deur haar Guinness se skuimkop. Vir 'n oomblik dink ek sy gaan breed knipoog om haar punt te maak wanneer sy "as jy weet wat ek bedoel …!" sê, "… toe ek vrou-alleen Ierland toe is."

Sy glimlag en skud haar kop wanneer een van haar herinneringe by haar opkom. "Ek het die musiek gaan soek," sê sy en maak haar oë groot om seker te maak ek snap haar bedoeling, "maar met baie méér teruggekom."

Dis nog vroegaand by die Ierse klub, 'n pub wat die klubhuis van die minder as suksesvolle Blairgowrie-tennisklub in Linden op Vrydae gebruik, en ek en Toekie is omtrent die enigste twee wat aandagtig na die musiek luister - die res van die mense besig met hulle eie dinge by die kroeg aan die anderkant van die muur. Dit lyk of hulle so lekker kuier dat ek vir 'n oomblik wonder of ek vir Toekie kan vra of ons nie maar vir 'n rukkie daar kan gaan sit nie, maar my voorstel steek in my keel vas. Die orkes begin weer 'n liedjie speel en Toekie vat 'n groot sluk van die donker Guinness en skuif haar ronde agterstewe met lekkerkry op die wit plastiekstoeltjie reg.

Sy het 'n vonkel in haar oë. Dis dáái soort vonkel en ek is nie verbaas wanneer ek haar oog volg en sien dat sy na die vioolspeler, 'n kaalkop mannetjie, seker twintig jaar jonger as sy, met duiwelogies en 'n stoute glimlaggie, kyk nie. "Elliot!" fluister sy in my oor sonder om haar oë van hom af te haal. Sy sê dit asof sy 'n geheim verklap. Dit val my op dat Mick, voormalig van Ballyhoo op akoestiese en elektriese kitaar, sowel as Trevor, 'n man wat al vir jare hoëgehalte-sessiewerk as basspeler lewer, 'n belangrike bydrae tot die musiek maak, maar ek besluit om nie nou 'n tegniese gesprek met Toekie te probeer aanknoop nie. Sy is nie hier vir sulke onbenullighede nie - sy het gekom om na die Ierse musiek te luister.

"Nou toe!" fluister ek terug. "Vertel die storie," por ek haar aan.

"Watter storie?" kyk sy fronsend na my.

"Jou storie! Vrou-alleen Ierland toe, en uh …" aarsel ek, "…die 'ekstra' goedjies waarmee jy teruggekom het."

"O, ja, dit!" Haar gesig helder op en sy neem eers nog 'n sluk voordat sy voortgaan: "Hierdie vioolspeler ken sy storie. Maar ek mis die pipes en tin whistle. Dít maak die musiek lekker."

Sy tik die ritme uit met haar linkervoet, en met 'n laaste groot sluk maak sy korte mette van haar Guinness.

Ek wys na die leë glas met 'n vraagteken op my gesig en sy glimlag en knik haar kop stadig en duidelik.

Wanneer ek terugkom, sit ons en kyk vir die bier totdat Toekie besluit het dat dit tot haar bevrediging genoeg gesettle het. Ek weet nie regtig hoekom ons dit doen nie, maar ek wag maar totdat sy, amper seremonieel, haar glas optel en 'n sluk vat.

"Dis hoe dit die aand op Ennistymon was. Het ek jou nog nie daarvan vertel nie?" vra sy en trek 'n strepie met haar voorvinger deur haar Guinness se skuimkop.

Ek dink nie sy het nie en sê so.

Sy vertel: "Ek wou Doolin toe gaan; die Lonely Planet-gids het gesê dis die mekka van tradisionele Ierse musiek op die Weskus. Dis 'n piepklein plek en die dag toe ek daar land, is dit 'n 'bank holiday'. Geen slaapplek in die dorpie nie. Nêrens nie. Ek besluit toe om verder te ry, eintlik te jaag, want dit het al begin donker word en ek moes slaapplek kry. Ek ry toe tot op die volgende dorp, Ennistymon. Kry 'n oulike dakkamer vir 'n skrale dertien pond.

"Teen 9-uur sit ek in Cooley se pub ietsie en drink toe 'n groepie lawaaierige jong mans ingestap kom. Ek besluit om te verkas, bed toe te gaan, want die jongelinge lyk vir my eerder techno as tradisioneel.

"Met dié dat ek oor die straat stap terug na die gastehuis toe, kom daar hierdie malse musiek van agter 'n toe deur na my toe aangewaai. Ek luister versigtig en ek is seker ek hoor 'n viool, 'n kitaar en 'n banjo; al klaar 'n lekker mix, maar ek is amper seker dat ek 'n akkordeon ook hoor.

"Ek stap oor die straat en stoot die swaar rooi deur oop - en ontdek Daly's, 'n outentieke Ierse pub. Dis klein en langwerpig met lang houtbanke soos kerkbanke, monks' benches eintlik, teen die kante af. Ek weet sommer dit is nou die real McCoy, want die mense van die omgewing sit, regop en uitgevat in hul kisklere, elkeen met 'n drankie in die hand, ernstig na die musiek en luister.

"Ek was die jongste daar," sê Toekie en glimlag so diep in haar Guinness in dat ek wonder of sy nog die storie vir my vertel en of sy net hardop mymer. "En volgens Seamus Shannon, die mooiste," sê sy.

Seamus? Ek wil vra, maar ek keer myself. Sy sal weldra by hom uitkom, raai ek.

Sy verdwyn weer in haar eie wêreld in, kleur die prentjie verder in: "Voor in die kamer is 'n mantelpiece met 'n keramiekhond, rooi kerstinsel en 'n portret van Jesus, wat met 'n kalm gesig en hartseer blou oë oor die drinkendes afkyk.

"Ek kry vir my 'n sitplek op 'n groot ronde drom, groter as 'n konka, redelik voor waar ek lekker na die band kan luister, en toe ek weer sien, kom stel die mense in die pub hulself voor aan my.

"Ek weet nie regtig wat om te doen nie, maar ek skud maar hande en sê so beleefd soos wat ek kan, aanhoudend: "Pleased to meet you, pleased to meet you." Maar ek is nie só besig dat ek nie sien hoe Seamus Shannon op en af voor my verbyloop nie, elke keer met 'n glimlag groter as die vorige keer.

"Hier langs my sit John, wat omtrent agt en tagtig is. Wanneer hy opstaan om 'n bier te gaan haal, wil ek opspring om hom te help, maar hy gee my 'n kyk wat my duidelik laat verstaan dat hy heeltemal bevoeg is om self kroegtoonbank toe te stap. Dit het nie noodwendig so gelyk nie. Toe hy terugsteier onder daai pint na sy stoel langs my drom, het dit vir my gelyk of die ou knieë enige tyd onder die gewig van die Guinness gaan ingee, maar hy't dit gemaak - maak dit seker tot vandag toe nog.

"Dis tradisie dat mense beurte kry om ietsie te sing, en Willie Daly het 'Galway Bay' net vir my gesing. Ek het soos 'n prinses gevoel en toe die leprechaun-omie langs my op sy dun beentjies opstaan en 'n liedjie prewel, het ek amper in trane uitgebars, dit was so mooi. Ek dink dit was 'Isle of Innisfree'."

Toekie vryf met haar vinger onder haar oë voordat sy na my toe opkyk. Dan begin Eliott en die Linden-orkes "Fields of Athenry" sing en sy draai om om met blink oë na hulle te kyk.

"Keith Woods met sy kaalkop en sy geskeurde Ierse rugbytrui het dit in die middel van 'n volgepakte Lansdowne Road gesing," herinner sy my, haar oë nou onbeskaamd vol trane. Ek wag vir haar om met die koorgedeelte los te trek, maar sy doen dit nie. Sy onthou dat sy in die middel van 'n storie is en vertel verder: "Een van die vrouens wat langs die muur op 'n regop bankie sit, staan op om kroeg toe te stap, maar wanneer sy voor die verhoog verbystap word sy voorgekeer en 'n mikrofoon word in haar hand gedruk. 'No! No!' maak sy eers of sy nie wil sing nie, maar almal skree: 'C'mon, c'mon!' en dan sing sy 'n pragtige Gaelic song met 'n hemelse Enya-stem, en toe sy klaar is, kom Willie Daly agter die toonbank uit om by my te kom aandring dat ek moet sing. En toe ek nie wil sing nie, toe probeer hy my kry om 'n gedig op te sê."

Sy pomp my weer in die ribbes en lag. "Kan jy dink hoe ek gevoel het!?"

"So? Het jy?" vra ek.

Toekie maak haar oë bietjie groter. "Jy weet mos ek is maar skaam!" lag sy.

"Ek weet, ja," stem ek saam en dink dat dit miskien beter was dat sy nog nie so baie van die donker drankies ingehad nie, anders het sy die hele nag daar gestaan en gedigte voordra. "Klink of dit 'n lekker aand was," sluit ek af.

"Die aand het toe maar eers begin!" antwoord sy.

Ek sien hoe haar oë vonkel en onthou waar die storie begin het. "Seamus?" vra ek.

"Toe die pub twaalfuur toemaak, is ek saam met hom en sy vriend daar weg na 'n disco by 'n hotel op die dorp." Sy knik haar kop. "Ons het daai oggend tot vieruur in die disco gedans, ek en Seamus en sy vriend."

Sy frons vir 'n oomblik. "Ek dink die vriend was die village idiot," besluit sy. "Hy't aanhoudend gelag, en dan sien jy net groot gate in sy tande terwyl sy ogies toetrek. Hy't aanhoudend stories in daai vreeslike Weskus-aksent vertel wat ek glad nie verstaan het nie."

"En Seamus?" vra ek om haar by die storie terug te bring. "Dans hy toe lekker?"

"Ja-nee, heel lekker, dankie." Toekie gee my haar weergawe van 'n misterieuse glimlag. "En later die aand is ek vir die eerste keer in vyf jaar behoorlik gesoen. Dít nou onder 'n lamppaal in die hoofstraat van 'n kleine Ierse dorpie, en ek sien later hy wonder of hy nie maar moet vra of hy kan saamkom dakkamer toe nie."

Sy bly stil.

"En …?" vra ek wanneer die nuuskierigheid my aanjaag.

"Jy weet mos ek is maar skaam." Weer die misterieuse glimlag. Sy kyk af en trek nog 'n strepie deur die dik skuimkop voor haar.

"So…?"

Sy lig haar glas. "Slainte!" sê sy en glimlag vir my, dan draai sy haar oë en glimlag in Eliott se rigting, waar hy met toe oë sy viool staan en stryk.



LitNet: 03 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.