ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Heksenwaag (Oudewater, Holland)

Dries Brunt, 2005

Verlede jaar, tydens 'n besoek aan Holland saam met my dogters Marinda en Anita, kom ons by 'n plek uit wat om meer as een rede 'n groot indruk op ons maak: die Heksenwaag in Oudewater. Maklik om daar te kom. As jy voel jy wil vir die dag 'n bietjie van Amsterdam af wegkom, neem jy die trein na Utrecht. 'n Kwartier later is jy daar en gaan jy oor die loopbrug na die bushaltes, waar busse in alle rigtings vertrek. Hier kry jy 'n bus na Oudewater. Nog 'n halfuur later, ná 'n pragtige rit langs die IJsselrivier, klim jy daar af en loop die stad binne.

Oudewater is 'n ou stadjie wat sy status as stad van Willem van Oranje kry, weens die dapper verdediging teen die Spanjaarde in die 80-jarige oorlog. Die Spanjaarde het in 1575 tog daarin geslaag om die stad binne te dring, die verdedigers te verslaan en die inwoners uit te moor.

Geskiedenis is hier tasbaar as jy deur die ou strate loop. Die roete deur die stad is weer eens maklik. Van die bushalte af loop jy deur die Molenwalstraat, draai regs in by Ijsselvere, en nou gaan jy die binnestad in. By 'n geel brug - wat dalk vir 'n paar minute opgetrek is om 'n skip deur te laat - gaan jy oor die rivier. Vandaar loop jy deur 'n paar smal strate met gewelhuise aan weerskante. Niks is ver uit mekaar in die plek nie en binne 'n paar minute is jy op die markplein.

As dit Woensdag is, is jy gelukkig, want dan is dit markdag. Hier is alles te koop en ons kry 'n visstalletjie waar ons eers 'n beroemde Hollandse straatdelikatesse gaan proe, teen "drie Hollandse Nieuwe alstublieft". Jy neem die rou haring by sy stert, smeer hom deur 'n bakkie gesnyde uie en, kop agteroor, smul jy hom happie vir happie. Anita hou haar dapper, maar kom nie verder as 'n lekseltjie nie, waarna ek, dankbaar, die vissie by haar oorvat.

Hier op die plein, op die regterkant, is die eintlike plek waar ons wil wees, die Heksenwaag. Dit is die oorspronklike plek waar vroeër mense wat van toordery beskuldig is, geweeg is. Van buite lyk die gebou soos enigeen van die ander gewelhuise langs die plein, maar binne is 'n enkele groot vertrek met houtbanke langs die kante en 'n trap na die solder. Agter hang die weegskaal aan die dakbalke. Dit bestaan uit twee houtplatforms, elk met vier dik toue aan 'n dwarsyster vasgemaak. Die waagmeester, in outentieke kleredrag, is juis besig om 'n vrou te weeg as ons daar binnekom. Kaalvoet staan sy op die een houtskaal en hy pak gewigte op die ander tot die skaal balanseer. Dan lees hy die gewig en help die vrou om van die swaaiende platform af te klim. Met ernstige stem vertel hy haar dat haar gewig bo dié van 'n heks is dat en sy 'n vrywaringsertifikaat by die deur kan kry. "Dalk 'n oorgewig heks," fluister Anita, want die vrou is liggaamlik goed bedeel.

In die Heksenwaag leer ons 'n stuk geskiedenis uit die Middeleeue. Op die solderkamer word die verhaal van heksejag in woord en beeld vertel. Van oor die hele Europa het mense na hierdie Heksenwaag in Oudewater gekom om 'n "certificaet van weginghe" te bekom waarmee hulle die dood op die brandstapel kon vryspring.

Ons was vaagweg bewus van heksevervolging, maar het nooit besef hoe groot hierdie menslike tragedie was nie - dat geleerde betoog gevoer is oor heksery, dat met prente die voorkoms van hekse en weerwolwe "bewys" is. Hier kon die gelowige met eie oë sien hoe hekse van die dakke af op besems deur die lug vlieg en bymekaar kom om duiwelse rituele te beoefen. Weerwolwe is voorgestel as mense met wolwekoppe en bokpote, soos hulle snags hul menslike voorkoms verander om die duiwel met dans en sang te aanbid. Honderdduisende mense is gemartel en gedood gedurende die donker tye van kettervervolging, heksejag en duiwelsaanbidding. In die Heksenwaag herleef jy 'n menslike drama wat vir ons, vandag, onbegryplik is. Hier het eens mense bewend van angs binnegekom en is hulle met groot sorg voorberei vir die weeg. Vroue is deur die plaaslike vroedvrou ondersoek of hulle nie dalk gewigte op hul liggaam versteek nie. Dan kry hulle 'n lang los gewaad om aan te trek en gaan hulle kaalvoet op die skaal staan. Mans, deur die skout voorberei, word ook op dié manier geweeg.

Liggaamsgewig was deurslaggewend as bewys van heksery en aangeklaagdes moes 'n verskeidenheid van wreedaardige toetse ondergaan. Die watertoets was een. Dryf die persoon, word dit aanvaar as voldoende bewys dat so 'n mens 'n heks is. Die traantoets was 'n ander, want as geen trane gestort word tydens marteling nie, is dit weer eens bewys van duiwelskuns.

Dit was maklik om van 'n vyand of skuldeiser ontslae te raak. 'n Anonieme brief was voldoende om 'n hekseproses aan die gang te sit en dit is bekend dat een persoon meer as 200 hekse aangekla het om daarmee aan die kerk 'n groot diens te kan bewys.

Die geskiedenis van duiwelskunste, van volksbygeloof tot by aanvaarde kerkdogma, wat selfs tot na die Reformasie duur, is in die Heksenwaag opgeteken. Met pous Innocentius VIII se geskrif "Die Heksehamer", wat in 1484 verskyn, het die vervolging in alle erns begin. Dit was 'n pouslike opdrag aan kerkleiers om hekse te vervolg en uit te roei. Drie eeue lank het hierdie onmenslike praktyk voortgeduur. Die laaste "heks", ene Marigje Arriens, is in Holland in 1597 verbrand en in 1610 is die laaste beskuldigde in 'n hofuitspraak vrygespreek.

Jacob Cats, beroemde Hollandse digter uit die tyd, skryf:

Ey ziet, nadat het Hof dit vonnis had gegeven
Scheen alle toverij als uit het land verdreven.
Het wijf, dat voor een tijd van yeder werd verfoeyt.
Bleef stil en zonder blaam, van niemand ooit gemoeyt.

Die laaste amptelike weegtoets is in die Heksenwaag in 1729 gedoen, maar in Switserland vind die laaste verbranding nog in 1782 plaas. Geskrifte van voor- en teenstanders van die hekseproses was volop. Petrus Scriverius, wat in Oudewater geleef en begrawe is, was een van hulle wat in traktate sy afkeer van hierdie onmenslike praktyk te kenne gegee het.

'n Besoek aan die Heksenwaag roep emosies op. Hier op die einste weegskaal het dit regtig gebeur, het mense in doodsangs opgeklim, het hulle die gewigte wat langs hulle geplaas word, dopgehou en gebid dat hulle genoeg moet weeg om hul onskuld te bewys. Dan volg die uitspraak en die vreugde, die ontsaglike gevoel van bevryding. Dit strek Oudewater tot eer dat in hierdie gebou nooit met gewigte geknoei is of met omkoopgeld 'n arme onskuldige mens sy lewe hier moes prysgee nie.

In die Heksenwaag is nooit 'n "heks" geweeg nie.

"Daar's altyd 'n eerste keer," sê Marinda as Anita op die skaal klim. "I should be so lucky," sê dié, want sy kla alreeds dat die vakansie haar laat uitdy. Natuurlik het ons ons soos toeriste gedra en die sertifikaat bekom. Daar staan dit swart op wit: ons is geweeg en dit is bevind dat ons gewig ooreenkom met die "natuerlycke proportiën des lichaems". Nou ja, daaroor kan niemand kla nie.

Ons is uit Oudewater weg met 'n gevoel van tevredenheid en die wete dat al kla jy hoe, daar altyd rede is vir dankbaarheid.

(Inligting is by die Heksenwaag self verkry.)



LitNet: 19 Mei 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.