ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wydsbeen oor die Overberg en die Boland

Deel 1 (Franschhoek)

Vincent Pienaar, 2005

Hier is Deel 3 van Vincent Pienaar se ontdekkingsreis vanaf Johannesburg tot Johannesburg via Kaapstad.

Karooreis 1: Van Johannesburg tot Beaufort-Wes kan gelees word by: http://www.litnet.co.za/reisnet/oppad02.asp

Karooreis 2: Van Beaufort-Wes tot Robertson kan gelees word by: http://www.litnet.co.za/reisnet/oppad04.asp

Nadat Dries en Maryna, ons reisgenote saam wie ons deur die Karoo gereis het, ons by my skoolvriend Jan en sy vrou Anneen afgelaai het, neem ons lewe 'n baie meer koorsagtige pas aan.

Jan, trotse pa van drie kinders wat - anders as hy - min of meer goedgebalanseerde tienderjariges was en op Maties goed gedoen het, en nou as jong volwassenes, elk in hul eie veld, die cut-and-thrust van die kommersiële wêreld met sukses aanvat. Daar is natuurlik die kwessie van Paulo, die laatlammetjie, so 'n sjarmante eenjarige laitie met sy skewe, afwagtende glimlaggie, en sy blink ogies, wat so 'n jaar of wat jonger as Jan se jongste kleinkind is, maar dit is die interessante onderwerp van 'n heel ander storie.

As Johannesburger probeer ek al vir so lank as wat ek kan onthou myself oortuig dat ek die Witwatersrand bo die Kaap verkies, maar as ons in Jan se Twin Cab so die wynlande invaar in die rigting van Franschhoek, is dit maar moeilik om oortuigend my tuisdorp te bemark. (Ek weet dit is 'n Twin Cab want die arme siele wat op die agterste sitplekke sit, sit met hulle knieë om hulle ore, maar as jy voor sit, is dit 'n lekker voertuig as jy van 'n stamperige ride hou.)

Op die pad vanaf Robertson in die rigting van Worcester lyk dit of jy jou teen die Hexrivierberge gaan vasry, maar terwyl ons Gautengers ons vergaap aan die majesteit daarvan, praat die Kapenaars allerhande dinge wat vir my doodeenvoudig heiligskennend is. Wie gee om of die Springbokke hierdie seisoen beter gaan doen, en of die rand verder teen die dollar gaan verstewig, en of … ag shurrup man!

Natuurlik is dit hoe die wêreld altyd vir hulle lyk. Jan, wat al vir amper dertig jaar in hierdie wêreld woon (eers in die Boland en nou in die Overberg), en Anneen, wat hier rond gebore is, ken die plek maar so en ek verstaan dat hulle wil weet hoe gaan dit met … en wanneer laas het jy vir … en … en … en …

Uiteindelik besluit ek om so nou en dan 'n belangstellende "mmm" te neurie terwyl ek die gesprek uitskakel en die emosie van hierdie dag enersyds te probeer identifiseer, en andersyds om dit in my brein as 'n herinnering te verewig.

Ek is een van daardie mense wat met vakansie gaan en fout soek met alles en dan eers later besef dat ek eintlik 'n goeie tyd gehad het, maar hier, saam met vriende wat saak maak, 'n Castle in die hand, en die Boland wat my toesak, weet ek dat ek hierdie pragtige oomblik nou - real time - beleef. Franschhoek het maar stadig sy "Melville-tussen-die-Berge"-gevoel ontwikkel. Die munisipale kantore wat oorkant die Traumerei-restaurant staan, lyk vir my maar soos enige staatsgebou van die sestigs, maar my vriende neem foto's daarvan asof dit die Arc de Triomphe is en wie is ek om te stry? Buitendien, die bergie wat die kar parkeer hou my so besig met sy duisend-woorde-per-minuut sales pitch dat ek nie spaartyd het om na die geboue te kyk nie. Hy is so vinnig dat ek nie kans het om te protesteer nie: hy gee my goeie rede hoekom ek hom nie enige iets moet gee nie, maar dan gee hy my die antwoord, dan gaan hy vinnig aan na die volgende storie. Dit verloop so iets soos: "Meneer moenie vir die bergies geld gee nie, hulle suip dit net uit!" praat hy in die derde persoon van homself, dan antwoord hy: "Haai nooit, meneer! Dis vir my kinders; hulle is honger, meneer!" Dan weer derde persoon. "Meneer kan nie 'n woord glo wat hierdie mense jou vertel nie, hulle lieg!" Eerste persoon: "Ek is 'n eerlike man, meneer, meneer kan my trust!"

Ek kry dit reg om hom lank genoeg stil te kry om die tweerandstuk wat al sweterig in my handpalm begin word, te oorhandig. Hy probeer dadelik om die geld in 'n begroting in te deel (soveel vir brood, soveel vir melk, soveel vir …) maar ek kry dit reg om aan hom te verduidelik dat, aangesien dit nou sy twee rand is, en nie meer myne nie, is hy geen verduideliking aan my verskuldig nie. Hiervan hou hy en hy verdwyn vinnig in die rigting van 'n ander prospect, en ek kry kans om oor my skouer te kyk en te sien hoe my vriende, geduldig - en meer as net 'n bietjie geamuseerd - vir my staan en wag.

Die ontbyt hou heelwat langer aan as wat beplan is, en die reisplanne word aangepas. Anneen, wat die kuns van refleksologie beoefen, maak 'n oproep aan 'n kliënt wat saamstem dat, aangesien die Paasnaweek is, vanmiddag se sessie kan oorstaan na 'n volgende dag en ons besluit dat ons besoek aan die Hugenote-monument vir 'n volgende vakansie kan wag.

Aangesien ons nou meer tyd het, word 'n glasie wyn bestel.

"Nie vir my nie, dankie," sê ek.

"Hoekom nie? Gaan jy bestuur?" vra hulle verbaas, omdat die bestel van ietsie om te drink nie 'n onbekende praktyk by my is nie.

"Eh, nee …" stamel ek. "Ek sal 'n Castle drink." En net hier begin my dilemma.

Ten spyte van die uitstekende televisie-advertensieveldtog van SAB wat die fast talking laitie in die buiteland uitbeeld wat alles kry - behalwe iets om sy dors te les want daar is nie Castle nie - is daar plekke wat nie vir bier drink bedoel is nie.

Die berge op die horison, die Paasnaweek-hemel, die gesellige klank van Hollandse en Duitse toeriste (of is dit landbaronne?) in die agtergrond, 'n bergie wat breed vir my knik wanneer hy verbystap (hy't my onthou!) en die yskoue witwyn wat my vriende in my rigting uithou terwyl hulle my met 'n bejammerde "cheers" begroet, is moeilik om te ontken. Daar is alreeds iets aan die nuwe, goue, Castle-blikkie wat nie lekker is nie; miskien omdat dit lyk of dit iets bevat wat in 'n kar se enjin gegooi moet.

Erken dit maar: hier in die wynlande is wyn koning. Dis 'n no-brainer. Hier is 'n tip. As jy moet kies tussen die Hugenote-monument en Die Padstal net buitekant Robertson, stel ek voor dat jy 'n poskaart van die monument by die toeristekantoor koop en 'n rustige uur of twee by Die Padstal deurbring. Omdat ons groente moet kry vir vanaand se braaivleis (daar is darem nog so een of twee eg-Transvaalse dingetjies wat behoue gebly het), draai ons in by hierdie padstal, 'n kleinerige geboutjie met 'n groot parkeerterrein. Hoekom moet 'n plek soos hierdie baie parkeerplek hê? Want daar is soveel mense wat hier kom inkopies doen.

Die eienaar het jare gelede sy plaas verkoop, want die besigheid het al meer en meer van sy tyd opgeneem. Terwyl ons op die stoep sit en tuisgemaakte hoenderpasteie eet wat hy self bedien, mors ek van sy tyd met die soort sinnelose geselsie waarmee die vakansieganger alewig hardwerkende mense pla. Het hy, wil ek weet, enige formele besigheidsopleiding gehad; die besigheid word dan so goed bedryf. Nee, sê hy met 'n frons. Ek dink nie hy hou van die vraag nie. Wat is die rede vir die sukses? Hy kan nie eintlik aan een spesifieke ding dink nie, en hy kom uiteindelik met 'n "harde werk, seker" vorendag wat my oortuig dat hy nie regtig lus is vir hierdie debat nie en buitendien ("Ek kom, oom Doep!") het een van sy verskaffers nou net 'n aflewering kom doen voor die son sak.

In die winkel self is dit baie gou duidelik dat hier nie 'n enkele bargain is nie - daarvoor is die Oriental Plaza in Fordsbrug geskape. Hier by Die Padstal gaan dit oor gehalte, ontdekking, genuine home-made goete en sommer die plesier van lekker rondsnuffel.

Dis gebottelde olywe en draadkarre, slaphakskeentjies en skilderye, braaisous en muurhorlosies, suuruie en tjalies, ingelegde vrugte en voorskote, "and all kinds of everything (that) remind me of you" en regte vars groente sonder shrinkwrap wat by die till geweeg gaan word. Dis 'n rustige geselsie met die tannie agter die toonbank (ja, regtig! niks versteende kettingwinkelgesigte hier nie) en die meriete van elke item van jou inkopies word bespreek - deur die tannie self en ook deur die oom met die plaashoed agter jou wat sy vrou nader roep om die blatjang se spesiale pikante smaak te verduidelik. Hoekom ken sy dit so goed? Dis sy wat dit gemaak het.

Jan tik betekenisvol op sy horlosie. "Wil jy nog na die Robertson-wynkelder toe gaan?" vra hy, sy geduld darem nou al genoeg beproef vir een dag. Ek moet erken ek het amper vergeet van my enigste verpligting vir die volgende week: om Maryna se vonkelwyn vir hulle reünie te koop. Wat sal gebeur as hulle nie vonkelwyn het nie?

"Ons beter gou maak," sê ek.

"Jammer dat ek jou so besig hou, Oom," sê die tannie agter die toonbank en hou my pakkies na my toe uit. Weer lyk my vriende geamuseerd.

"Next stop, Robertson Wineries," sê ek soos 'n treinkondukteur van ouds en vermy die verleentheid deur vinnig by die deur uit te stap.



LitNet: 20 September 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.