ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jeugrit

Erika Ochse, 1965

Plekname in die stuk is behou soos dit in 1965 was

'n Wittebroodvakansie op Mauritius vir Annalise en Dave - wat 'n benydenswaardige heerlikheid! Ek en Dirk waai vir hulle voordat hulle deur die straler ingesluk word. Maar, ek het vasgegordel in die sitplek van herinnering en op 'n jeugrit vertrek.

* * *

Die skool het pas vir die Julievakansie gesluit en Lydenburg se strate is 'n miernes van raserige kinders en wagtende motors. My opgewondenheid ken geen perke nie, want my heel eerste vliegtuigrit lê voor. Dawid (dis nou ek) gaan vir Jonatan (dis nou Marga) kuier. Vanaand oornag ons in Pretoria en môre vroeg begin die salige, o salige vliegtuigrit en 'n volle twee weke se alleen kuier.

"O, aarde! Ek het Essie se vliegtuigkaartjie by die huis vergeet!" Ma soek haar handsak weer en weer deur, maar die paspoort tot my groot vakansie is nie daar nie.

"Ons moet maar môre-oggend baie vroeg ry," sê Pa terwyl hy 'n u-draai in die pad maak. Ma praat woordeloos mooi met hom. Ek wil ook mooi praat, maar ek kan nie. Ek wil bid. Tydens die omdraairit is ons al vyf stom.

"Kyk wat het ek hier!" sê ma nadat sy weer die voordeur agter haar gesluit het. Sy hou die vliegtuigkaartjie vir my om te sien en glimlag op haar breedste. Die trane wat ek huil, het tuite van verligting. Die laaste swaarmoedigheid ontsnap uit my toe ons weer by die groepie wattelbome aan die regterkant van die pad verbyry waar ons 'n uur gelede omgedraai het.

Ma brei my groen trui se kraag in die kar - dit moet saam. Op Witbank kry ons nog 'n skoenwinkel oop.

"Sy kan nie met daardie stukkende skoene gaan nie," het pa gesê.

Ek skrik wakker van tannie Nelie-hulle se huishorlosie. Ja, dis reg, dis vier slae, dit wil sê oor sowat 'n halfuur moet ons opstaan. Ek wag en wag op die een enkele horlosieslag. Daar's hy! Ek wikkel kaalvoet in die donker na die kamer waar Pa en Ma slaap. Ma loer vaak-vaak na haar horlosie.

"Ons moet opstaan," sê ek.

"Nee, my kind, dis halftwee. Ons sal jou betyds wakker maak. Gaan slaap nou maar weer."

Ek skrik weer wakker - van die helder kamerlig. Ek is vaak, vaak, vaak, maar nou móét ek opstaan. Hoewel ek al twaalf jaar oud is, help ma my om in my rooi rompie, wit-en-rooi gebreide baadjie en nuwe swart skoene te kom. Sy het gisteraand die laaste wolletjies van my groen trui weggewerk en die trui in my tas gepak.

Ons bereik die lughawe toe die son môre sê. Die vertreksaal sluk ons in. 'n Mens sou maklik al die Lydenburgers hier kan inpas, dink ek. Ons wurm met die tou langs tot voor vir kaartjie kontroleer en bagasie weeg. 'n Vietse geüniformde lugwaardin vat my by Ma en Pa en lei my uit na die wagtende Skymaster. Binne wys 'n ander lugwaardin vir my waar om te sit.

Die passasiers moet vasgordel. Ek word gehelp. Die propellers begin wir en woer - vinnig, vinniger, nog vinniger ... Ons klim die winterblou lug loodreg. Ek sit salig agteroor in my sitplek. Ons kry ontbyt en vrugtesap en later lekkers. Ons vlieg oor die Kalahari-gemsbokpark en die passasiers word oor die luidsprekers gesê waar gemsbokke, blouwildebeeste of ander wild te sien is. Ek kyk, maar sien niks. Miskien is ons te hoog. Die vlerk is ook effens in die pad, maar ek kyk wel kort-kort uit om myself te herinner dat ek in die lug is. Dit voel dan nes 'n rit op 'n gelykpad tussen Lydenburg en Pretoria. Maar die yl doringbome van hierdie geweste is waarlik niks groter as duimspykers nie!

"J.G. Strijdom," lees ek op die gryswit gebou toe ons land. Marga en haar ouers is daar. Vlugtig dink ek aan haar briefie wat my 'n week gelede bereik het. In plaas van die gebruiklike tuisadres en "Liewe Essie" het sy eenvoudig "ESSIE!!!" in groot letters oor die breedte van die papier geskryf.

Ons bondel met my groot bruin tas en "twistbag" in die kar en babbel uitgelate tot by hulle huis. Ons het darem 'n telegram aan Ma-hulle gestuur.

Die volgende dag vertrek ons na Ovamboland in die noorde van Suidwes-Afrika. Marga-hulle sing in die kar. Ek vra hulle om weer die Suidweslied te sing en neurie later selfs saam:

Wie hart die Kameldornholz ist unser Land
und trocken sind seine Riviere
die Klipfen sie sind von der Sonne verbrannt
und scheu sind im Büschel die Tiere
und sollte Mann uns fragen
was halt euch denn hier fest, ja fest
wir kunnen nur sagen
wir lieben Südwest!
Ons slaap in oop grashutte volgens Ovambostyl. Was dit nie groots om te kon vertel Marga se boetie het die tennisbal tot in Angola gegooi nie - dis nou oor die grensdraad ongeveer 50 treë ver waar die Suid-Afrikaanse en Portugese vlae toe nog gewapper het.

Marga se pa hou elke oggend en aand huisgodsdiens. Ek verstaan nie Duits nie, maar vanmôre het hy my naam genoem en ek weet hy het my aan die Here opgedra. Hy wens my namens hulle almal geluk met my verjaarsdag. Ek kry 'n foto-album present - een met rooi buiteblaaie en 'n swart geruite rugkant. Ek streel my hand daaroor. My fotografiese onbeholpenheid van Marga by 'n reusagtige termiettoring pryk vandag nog daarin. En van flaminke en sebras by die Etoshapan ... die Namutonifort wat die Duitsers teen die Herero's gebou het met sy stomp torings en plat voorkoms ... die Otjikotomeer waar 'n ouerpaar se gedenkplaatjie vertel van 'n drenkeling wie se lyk nooit gevind is nie. En, die Ruacanawaterval ...

Sal ek die rit oor klip en sand na Ruacana ooit vergeet! Ons was OK in 'n Jeep. Alles wat egter nie vierwielaandrywing het nie, word deur hierdie stuk aarde soos rommel langs die pad weggegooi.

"Sal jy saam met jou mense weer hierheen kom?" vra Marga se ma.

"Nee, Tannie, hulle kan alleen kom," sê ek toe die Jeep oor 'n groot klip bokspring.

Van ver kan 'n mens die reënboog-mistigheid sien. Die waterval word letterlik deur afgronde der afgronde ingesluk en geen veiligheidsrelings nie, niks! Net 'n droë boom waaraan die kopbeen van 'n dier hang.

Ek vergaap my. Buiten die see, is dit die grootste watermassa wat my dertienjarige oë nog gesien het. Ons val in die terugpad. Netnou se afdraandes is nou opdraandes ... O nee, daar stol die Jeep! Ek gryp vas om my. Dis afgronde en nogmaals afgronde weerskante van ons. Die vaardige hand van Marga se pa gryp na die rathefboom en stadig, stadig kruie ons opwaarts na behoudenis. As Marga se ma haar vraag nóú vra, is my antwoord dieselfde, net meer finaal!

Maar, Marga en ek moet terug hok toe - eers sy en 'n week daarna hierdie Transvalertjie. Hef aan vir die terugreis.

Die terugvlug is volgens skedule. Daar is iets van betrokkenheid in die droë Suidweslug. Nooit het ek besef dat twee weke sonder my mense soos twee maande kan voel nie.

Nader aan Johannesburg is die rit bokant die wolke nogal rukkerig. Jy kan nie uitkyk nie, want die wit verblind jou. Jy pas later jou bly-sit of kan-opstaan by die rukke en grille van die vliegtuig aan. Ek onderdruk my lag toe die man oorkant my presies op die verkeerde tyd opstaan en weer sit - gouer as wat hy wou - en 'n gedeelte van sy glasie se inhoud op sy pak stort.

Toebroodjies en lekkers word bedien. Die eerste aankondiging sê weens digte mis op Jan Smuts gaan ons op Bloemfontein land. Die tweede een sê dit het op Bloemfontein gesneeu, so ons gaan deurdruk Jan Smuts toe. As ons nie op Jan Smuts land nie, hoe sal Ma-hulle weet? Waar bly ek tot hulle my kry?

Soos ons deur ondeurdringbare mis grond toe sak, spoel die verligting oor my. Moeder Aarde! Soete, vaste grond!

Ek word weer na die aankomssaal begelei. Dis ysig. Ek het my jas aan wat ma agterna Windhoek toe gepos het. (Daar het sowaar nog iets op Lydenburg agtergebly, ja.)

Dáár, hulle neusies soos plaatkoekies teen die groot toegewasemde glasdeure, staan my sussies, Marlene en Franlie, knus gelangbroek en gewoltrui. Agter hulle staan Ma en Pa! Franlie spring op en af. Sy het my gesien.

"Waar sou julle my gekry het as ons nie hier geland het nie?"

Ma en Pa kyk vir mekaar en lag voordat hulle verduidelik van radioverbinding en van die lugwaardinne wat na jou kyk totdat jy veilig by jou mense is.

* * *

Sowat 'n jaar later het terroriste SWA oor die Angolese grens binnegedring. Ek het gesien wat vir min Transvalers beskore is en daarby was ek net betyds. Vir etlike jare sou die noorde van SWA te gevaarlik vir toeriste wees. Marga het later geskryf dat daardie vreeslike pad tot by die waterval nou geteer is. (Ek het aangeneem dat as die weermag moet optree, hulle nie sou wou tyd verspil met vierwielaangedrewe Jeeps nie. Ek het óók aangeneem dat die regmerkie langs die vraag oor die waterval tussen SWA en Angola vir Juffrou se verbeelding was. Dié was sterk genoeg om via die klip en sand van "Roehakana" by "Ruacana" uit te kom.)

* * *

"Hoeveel vliegtuie wil jy nog sien? Kom!" Dirk vat my aan die arm. Agter ons verflenter 'n Boeing die lugruim bo Jan Smuts.



LitNet: 14 Julie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.