ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die geheim van Montagu

Vincent Pienaar, 2005

So 'n veertig of vyftig kilometer voor De Doorns, waar die N1 ernstig begin afsak na die Hexriviervallei toe, is daar 'n reisigersgeheim. Een van daais wat jy maklik kan sien as jy daarvoor kyk, want, soos die gesegde lui, "it is hiding in plain sight."

Die geheim is 'n eenvoudige padteken wat aandui dat jy links moet draai Montagu toe. Dit is nie een van daai aanwysingsborde wat jou met trompetgeskal beveel om die tolpad of die hoofweg te betree nie, dit is meer 'n glimlaggende uitnodiging - die soort aanwysing wat jy sien vir rykmansplase of vakansieoorde - net die een woord: Montagu.

My vriend Dries, wat voor, langs my in die 1800 Honda Ballade met die lugreëling sit, wonder of ek nie hierdie pad wil probeer nie. Hy is die soort man wat, as hy "wonder", dit beteken dat hy dit eintlik sterk aanbeveel. Maryna, sy vrou, vir wie ek in die truspieëltjie kan sien, knik haar kop entoesiasties. Sy is immers die rede hoekom ons lekker tydsaam van Gauteng in die rigting van die Suid-Kaap ry: dit is haar familie se driejaarlikse familiesaamtrek op Robertson, haar geboortedorp.

As jy na die padkaart kyk, is Robertson een van daai plekke wat so geleë is dat dit om 't ewe is of jy Worcester of Montagu om ry - die een pad 'n knak na links, die ander 'n knak na regs, en as húlle dit voorstel …

Die eerste twintig kilometer van hierdie pad, outyds ongelyk en nie wyd soos moderne hoofweë nie, is nogal onheilspellend. Daar is nie bome nie en die Karoobossies lyk of hulle die grysgroen kleur van herfsblare aan 'n akkerboom het, nie die olyfgroen wat 'n mens eerder met die bossies assosieer nie. Iets wat my ietwat kriewelrig laat voel, is wanneer ek na my selfoon kyk en sien dat die seinsterkte 'n dodelike nul uit vyf is; die tegnologie waarsonder 'n mens na 'n skamele dekade nie meer kan klaarkom nie, het nog nie op hierdie pad gearriveer nie.

Maar dit is maar net 'n tien of twintig minute se gemaklike ry voordat jy hierdie detail vergeet, want die pad begin links en regs om skerp draaie teen die Rooihoogtepas afkronkel - baie soos die Du Toitskloofpas, maar sonder verkeer.

Van hier af, sê Dries, ry ons deur die Witteberge uit die Groot Karoo uit en in die Klein Karoo in.

Lekker verrassings is lekkerder hoe groter die verrassing - en Dries se manier van onderbeklemtoning vang my heeltemal onkant. Skielik is jy op die rand van die plato, aan die begin van die Burgerspas, en wanneer jy stop ("Ja, hier, net hier!" sê hy opgewonde, want dit is die plek wat hy my eintlik wou wys), kyk jy in die vallei af en daar onder, tussen die lappieskombers groengeskakeerde landerye, lê die dorpie Koo - die plekkie wat sy naam gegee het aan 'n miljoen blikkies wat jou van die supermarkrak af in die gesig staar.

Gewoonlik wanneer ek Kaap toe ry (dis nou Kaapstad toe in die rigting van Stellenbosch) vermy ek die moderne Du Toitsklooftonnel en ry oor die berg sodat ek heel bo kan stop en een van die biere wat ek by Laingsburg gekoop het, kan oopmaak. Met die son wat op die damme weerkaats, en die Afrikaanse Taalmonument dynserig sigbaar op Paarlberg in die agtergrond, is dit lekker om bene te rek en te bespiegel of die naam, Die Paarl, gekies was terwyl iemand so 'n klompie honderd jaar gelede hier staan en bier drink het.

Maar die uitsig op Die Paarl van Du Toitskloofpas af is 'n uitsig wat die meeste reisigers ken - hierdie uitsig waar ons nou staan, suid van De Doorns, op die platorand wat die Groot en die Klein Karoo skei, is vir die meeste mense onbekend. Ek onthou toe ek 'n kind was, hoe die hele volk met stille eerbiedigheid na Die Geheim van Nantes geluister het en ek besluit ek het hier "Die Geheim van Montagu" ontdek. Die uitsig, die geselskap, en 'n geluid soos 'n klein katjie wat nies wanneer ek die prop van 'n bierbottel afdraai en saggies suig aan die vriendelike wit skuim wat skamerig by die bek uitborrel, sal ek nie maklik vergeet nie. Alhoewel ek nie besonder gelowig is nie, is daar rare oomblikke in my lewe wat ek geseënd voel - en hierdie is een van hulle.

Die Burgerspas in die vallei in is, as uitdaging vir die motorbestuurder, nie Swartbergpas-standaard nie (geen pas is nie), maar dit het 'n redelike aantal haarnaalddraaie om jou op jou tone te hou en dit laat my wonder of manne soos Hendrik Verwoerd en ander motorjoernaliste onthou het dat dit presies 'n halfeeu gelede in April 1955 was dat Dennis Jenkins, legendariese skrywer in die Autosport-tydskrif, saam met sir Stirling Moss die Mille Miglia, 'n 500 myl-wedren deur Italië, in 'n Mercedes 300SLR gewen het. Later het hy geskryf van sy eerste toetsrit saam met Moss in hierdie 400 perdekrag monsteragtige motor en dat hy genoem het dat "at a hundred miles an hour, I leaned over the windowsill and bequeathed my breakfast to the land of the Emperors". Elegant.

Aan die eindpunt van die bergpas, onder in die vallei, is daar 'n landelikheid aan die omgewing, die gevoel van harmonie wat 'n mens al stadiger en stadiger laat ry en ons laat bespiegel wat die invloed van die landskap self op die kultuur en houding van die mense is: Is dit makliker om 'n nice mens te wees as jy hier in hierdie sagte land lewe? Skep die droë Karoo-landskap, net hier aan die bokant van hierdie plato, waar fisiese oorlewing 'n konstante faktor is, nie harder, meer realistiese mense wat, as gevolg van die omgewing, nie tyd het vir 'n sagter, meer romantiese lewenstyl nie?

Hier, wys Dries my daarop, is daar drie naambordjies in 'n ry: Keerom, Laaftrivier en Uitvlught. Wat, wonder ons, sou die herkoms wees van hierdie name, of sou dit suiwer net toevallig wees?

Montagu self lê tussen die berge, 'n amper Switserse gevoel aan die omgewing, omring deur hoë berge, met die rivier wat saam die hoofpad deur Cogmanskloofpas kronkel in die Boland in. Hier is daar 'n klein monument opgerig vir Thomas Bain. Hy wat eiehandig, met geringe hulp van honderde bandiete, verantwoordelik was vir 'n klomp bergpasse, onder andere hierdie een en die Swartbergpas. Dit is toevallig dat die vloede wat Laingsburg in 1981 verwoes het, die "moderne" pad wat in die 50's gebou is, hier by Montagu verwoes het, maar Bain se pad van die laat 19de eeu het bly staan.

Die Boland begin hier en skielik is die wêreld anders - hierdie is die Boland, groen en sag, met die berge oral deel van die landskap, soms ver na regs op die horison, maar partykeer sommer indringernaby in jou gesig. Ai, die Kaap, darem!

"Ashton," sê Maryna, "hasn't got anything going for it," en sy is seker reg. Dit is nie toevallig dat dit 'n gevoel van Germiston-in-die-wynlande het nie. Tot 1940 was die dorpie nie veel meer as 'n gerieflike afsaalplek vir moeë reisigers op pad Oudtshoorn toe nie, maar toe die Langeberg Koöperasie hulle hoofkantoor hier gevestig het, moes daar skielik allerhande essensiële dinge gebou word wat die ekonomie aan die gang hou, soos fabrieke en paaie en ook akkommodasie vir die werkers. Dit is 'n toonbeeld van die moderne, industriële bouwerk: meedoënloos prakties, sonder styl of sjarme, en dit help natuurlik nie dat die res van die Boland wat in die 1800's gevestig is, die kontras so sterk beklemtoon nie. Hier staan huise, winkels, kantoorgeboue, en vulstasies higgledy-piggledy rond, die interessanthede eerder die gevolg van inwoners wat stoepe toegebou het of kamers aangebou het en allerlei verbeteringe aangebring het - en die mees kleurryke is die onvermydelike motorwrak wat die jaart volstaan met die gras wat kniehoogte om die geroeste bakwerk uitpeul. Soos 'n vriend (van 'n ander dorp) eendag gesê het: "Elke huis broei 'n kar uit." Laat my skoon verlang na my eie grootwordplek: Newlands, Johannesburg.

"Maar, never mind," sê Maryna, soos wat sy altyd sê om mens te herinner dat jy die lewe mooi of lelik kan ondervind, afhangende van waar jy die klem plaas, en wanneer ek weer na haar gesig in die truspieëltjie kyk, kan ek haar opgewondenheid sien.

Ek weet hoekom. Ons volgende stop is die rede vir ons toer, haar hervereniging met haar familie - waarvan twaalf van die dertien kinders nog leef - wat op Robertson, haar geboortedorp, plaasvind.

Ek is self nou nogal opgewonde. Die enkele vriend van my skooldae (ons het mos almal een), wat botweg weier om iets anders as 'n vyftigjarige blues-liefhebber te wees, en wat, afhangende van hoe hy voel, nie skroom om Led Zeppelin, Koos Kombuis, of miskien Janis Joplin tienuur in die oggend kliphard op die hi-fi te speel nie, het al drie keer gebel: "Waar is julle, man? Die kos word koud en die drank word warm!"

"Ons is nog so 'n vyftien minute weg," voorspel ek, maar Maryna skud haar kop en wys met haar vingers. Ek dink sy bedoel dat dit meer soos dertig sal wees, maar dit maak nie saak nie; ons is amper daar.



LitNet: 21 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.