ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die prys van jou daaglikse rys - Deel 2
(Taiwan)

Anel Heydenrych, 2003

(Anel kom eindelik na die reis saam Meneer Haar en sy bokwa, soos beskryf in Deel 1, onder "OpPad", by die skooltjie aan.)

Die skoolgebou is darem van bakstene aanmekaar geslaan, en ietwat minder primitief as wat ek geantisipeer het, maar my aankoms veroorsaak tog konsternasie. In Taiwan besef die Westerling gou dat sy nie aangestaar word omdat sy 'n unieke voorkoms het nie, maar bloot omdat geen Westerlinge ooit gesien word nie (veral nie in areas so afgeleë soos hierdie nie). As dit nie vir die televisie was nie, dink ek sou selfs die onderwysers weggehardloop het, maar nou doen hulle skamerig die Chinese kopknik met die gepaardgaande glimlaggie - en verdwyn dan die ryslande in.

Anders as hulle hoenders en ganse het die Taiwannese 'n manier om in 'n oogwink te verskyn en te verdwyn - geluidloos soos 'n stil wind - presies soos in die Chinese movies. Toe ek my oë uitvee, staan 'n stil man langs my en is ek saam met hom die trappe op. Die skool is heeltemal verlate en 'n doodse stilte hang oor alles. Die man los my voor 'n deur, knik sy kop in daardie rigting, sê iets in Chinees wat ek hoegenaamd nie verstaan nie en verdwyn geluidloos. Ek sê "che-che" (dankie), skiet 'n gebedjie op, draai die deurknop, haal diep asem en sê vir myself: "Juffrou van die PU vir CHO, vandag gaan jy elke triek wat al die opvoedkunde-, taal- en drama-proffies jou ooit geleer het, nodig hê - en die klasse wat jy gebank het, gaan jy ook vandag regret."

Die deur swaai oop en daar sit hulle. Rye en rye Chinese kindertjies. Eers doodstil, maar dan kom daar beweging. Een maer, geel seuntjie begin sy lyfie soos 'n slang wriemel om elke deel van my liggaam te kan gade slaan - ek dink my hare is vir hom net te rooi, my vel net te wit en my wimpers net te lank om my as normaal te klassifiseer. 'n Vae twyfel begin oor my spoel: hoe maklik gaan ek vandag my rys verdien?

Net toe gryp 'n oorgewig dogtertjie haar baadjie en hou dit voor haar mond, waarop die ander begin om ook hulle monde te bedek. Ek vermoed iemand by die huis het gesê Westerlinge bring die SARS-virus en maskers in die klas is die oplossing. Gelukkig het niemand maskers skool toe gebring nie (ek dink bloot omdat my koms nie aangekondig is die vorige dag nie - ek dink hulle sou nie kon slaap nie - of hulle sou by die huis gebly het).

Ek ignoreer die ogies en bedekte mondjies en beweeg moedig nader terwyl ek Engelse rympies soos "Pittepat, pittepat, pittepat" voordra (net om die atmosfeer te probeer verbeter). Die goed-geoefende nar en verhoogkunstenaar in my skop in en ek kry later 'n paar bang laggies uit hulle uit. Geen Britse klanke (buiten my eie) is egter aanwesig nie. Toe ek uiteindelik "I'm fine thank you and you?" uit hulle kry, prys ek hulle so dat sommiges die hande voor die monde wegvat.

Nou's ek braaf genoeg om 'n speletjie te begin speel. Na 'n lang verduideliking en op en af hardloop na die bord toe en terug en flashcards gaan haal en hulle in twee spanne insukkel, soveel so dat my bene later begin kramp van al die oefening, snap een van die slimmes en vertaal alles in Mandaryns. Die gemoedere lig verder en selfs die angsbevangenes se vrees begin uit die ogies verdwyn …

Pandemonium. Ek het altyd gewonder hoe dit moet voel om magteloos te moet staan en toekyk hoe iets voor jou oë regtig ontplof - in vlamme en rook - nie soos in Hollywood movies nie, maar soos met regte bomme byvoorbeeld. Ek dink ek het daardie dag so gevoel. Die eens bedeesde, geskokte, gedissiplineerde, skrefiesoog-kindertjies het in 'n oogwink met één Westerse klaskamerspeletjie die ware kind in hulle wesentjies ontdek en impulsief en heeltemal spontaan die klaskamer van hoek tot kant begin afbreek.

Ek kon nie besluit of ek moet koes of vlug nie - stoele en tafels word omgekeer, kinders hardloop in mekaar vas, dogtertjies skree teen die hoogste frekwensie wat ek nog ooit in my veertigjarige lewe gehoor het. Ek voel naar, ek wil rook, ek wil weghardloop, o here, waar is my skoene? … Ek onthou vaagweg een van ons opvoedkunde-professore se woorde: "'n opvoeder laat onder géén omstandighede sy opvoedelinge in 'n krisis alleen nie!" Maar ek - nie bang van nature nie - kies koers na die deur toe.

Op pad deur toe flits my ouma se dapper oë voor my geestesoog - en terselfdertyd sien ek 'n fluitjie op die juffrou se tafel lê. Ek raap dit op, druk dit in my mond, soos 'n dwelmverslaafde 'n dwelm, en blaas so hard ek kan. Dit werk.

Bless die Chinese juffrou se hart - sy moes hulle met die fluitjie getrain het. Hulle stop op die plek asof ek 'n militêre bevel gegee het. Ek voel die behoefte aan 'n dankbare gebed in my opwel.

"Please sit down," sê ek met 'n bewerige stemmetjie en die nodige handgebare terwyl ek die stoele en tafels in posisie begin terugskuif. Hulle help gedwee en gelate - dank die Vader, Boeddha of die juffrou wat hulle met die fluitjie geleer het. Maak nie saak wie nie. Die orde is herstel.

Speletjies op 'n stokkie. Nou is ons ernstig aan 't Engels leer in hierdie klas. "Drilling" is wat 'n Chinees verstaan - kyk net hoe lyk hulle weermag - goed-gedissiplineerd. Speletjies is vir Westerlinge, dit het ek baie vinnig geleer. Ek drill hulle: high drill, medium drill, low drill - elke drilling method in elke drilling boek.

Toe ek die struktuur: "Who's he?", "He's a teacher" indril, begin ek dink ek is aan die wenkant. Vol selfvertroue, teacher card in die hand, vra ek teen die einde van die les vir die duisendste keer: "Who's he?" 'n Spontane dogtertjie skree uit haar maag uit: "He's a whoshie!" Toe weet ek: die wenkant sien my nie vandag nie.

Sewe-uur is die marteling verby, en ek sleep myself na die wagtende Meneer Haar en sy bokwa. Ek val op die agtersitplek neer en maak my oë dankbaar toe. Dan aanvaar ek die Marlboro Light wat Meneer Haar my empaties aanbied, steek dit aan en sak terug. Die reuk van my ouma se varsgebakte Vrystaatse plaasbrood kom by my op. Ook die woorde: "In die sweet van jou aanskyn sal jy jou brood verdien." Dis okay, maar hoekom is rys soveel duurder as brood?



LitNet: 28 Junie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.