ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Laeveld annerste plek

Annemarie Marais, 2005

“Hoeveel lovers het jy al gehad?” vra sy op die oomblik wat ek dink die Laeveld is ‘n annerste plek. My een groot vriend, die een wat nie in die Laeveld woon nie, sê dit gereeld wanneer ons met mekaar praat.

Ek kyk na my vriendin aan die passasierskant, wissel die ratte, en dink dat ek ook maar net halfpad in die Laeveld woon, want die berg waarop ek bly, is te hoog bo seevlak om te kwalifiseer vir lae veld en dit reën te veel daar en wanneer dit elders mooiweer en warm is, rol die banke mis by die plaaslike agterdeur in. Maar ten minste is die propperse Laeveld net 25 km ver.

“Soek jy ‘n totaal? Of ‘n skatting?”

Die Laeveld ís annerste. Dit kom sit net eendag in jou klere en dan wil jy nie hier weg nie en nie Madrid en ook nie Istanboel en veral nie Londen nie kan jou vir té lank hier weggelok kry nie. Nie eers wanneer die verste wat jy ná weke lank, op ‘n doodgewone Donderdag, die skamele 25 km tussen Nelspruit en Witrivier is nie.

Maar wie, ja wié, wat my en my vriendin moontlik opmerk in die generiese wit motor, sal besef ons is nie eintlik dáár waar hy dink hy sien ons nie? Hý hoor nie Marianne Faithfull se rou stem oor die speakers nie. (“Dís hoe ‘n vrou klink as die Rolling Stones – behalwe die drummer – met haar klaar is,” sê die vriend wat van die Laeveld hou maar nie hier woon nie, toe ek hom bedank dat hy die CD by my vergeet het.) Marianne sing – nee, skree – “I’m like a curious child, give me more, more, more …” en die ganse pad lê oop. Ek en my vriendin ry veel verder as Witrivier, al ry ons net tot daar, en weet “I never gave to the rich, I never stole from the poor.”

“Ieder geval, wie tel nou lovers?” antwoord ek verder toe ons 10 km/h stadiger oor ‘n spoedlokval ry as wat die beperking is. Ek besluit dít maak op vir die tyd wat ek sonder ‘n rybewyskaart gery het nadat dit gesteel is en ek twee keer probeer het om dit te vervang, maar voordat ek die laaste keer voor in die ry gekom het, het die oue verval en moes ek opnuut deur die ganse proses gaan.

Witrivier is bedrieglik groen, want ons lees elke week in die streekkoerant hoe liederlik leeg die damme is. “Ek’t ook al vergeet hoeveel.” Eers dog ek my vriendin strek haar net uit, maar kom toe agter sy soek na die oopmaakding van die sondak. Wat my motor nie het nie. Faithfull sing: “Oh I will free the bird in me, when I find my life …”

Hoeveel amptelike stoppe ons daardie dag gehad het, het ek lankal vergeet. Ek onthou die reuk van die bier in ons glase – BRU, die bier wat slegs in die Laeveld te koop is. Ek onthou hoe’t ons gegrinnik vir die fyndruk op die etiket wat seg dat dit nie te koop is nie aan mense acting under the age of eighteen. Ek onthou dat ons probeer onthou het vir wie ons almal lief was.

Daardie aand het ons ook geleer ‘n mens kan gin en tonic drink met ‘n komkommer pleks van ‘n suurlemoen. Dit vat die bitter weg.

En op pad huis toe het ek en my vriendin by elke afdraaipad na mekaar gekyk. Dit was nie nodig om dié vraag te beantwoord nie, want my hel, ja, ons wou. Skielik slap links óf regs draai en net aanhou ry en ry en ry, tot daar waar ons weet “the morning sun touched lightly on the eyes of Lucy Jordan … dreaming of a thousand lovers … at the age of thirty-seven, she realised she’d never …”

Sy’t op die end van die dak afgespring, sê my vriendin oor Faithfull en ek’s bly ék het Maandag agt en dertig geword.

“Ek ís die dak,” antwoord ek, en sien die flits van ‘n verkeerskamera in die truspieëltjie.





LitNet: 25 April 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SÍNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.