ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Toertroebadoer

Dries Brunt, 2005

Hoekom mense, intelligente mense, joernalistiek as 'n loopbaan kies, gaan my verstand te bowe. Dit is 'n beroep vir mense wat in die skuiling van gesag en onder beskerming van 'n hoër hand, in hierdie geval die hoofredakteur, tuis voel en gerieflik afstand kan doen van selfstandige denke. Moenie die baas irriteer met wat jy skryf nie, en moet nooit hom rêrig kwaad maak nie.

"Jy ken die agenda," sê kollega Pietie, met wie ek somtyds oor sulke goed gesels. "Redaksionele beleid, kultuuragtergrond van ons lesers, die belange van die persgroep. Dit is nou maar eenmaal die gebied waarbinne jy moet werk."

Agendapunte wat jou denke bepaal en waarvan jy nie afwyk nie. Dié goed loer altyd oor jou skouer as jy skryf en maak jou 'n slaaf van 'n onsigbare maar onverbiddelike "teenwoordigheid" wat in die kantoor, en snags as jy wakker lê, soos 'n stinkwolk bokant jou kop hang.

"Miskien ly jy aan geestelike uitputting of emosionele verwarring as die dinge jou pla," sê Pietie, en dan herinner hy my daaraan dat ek gelukkig is om onderhoude te kan voer.

"Gee jou kans om so nou en dan uit hierdie malhuis weg te kom," sê hy.

Dit is darem waar, en waarskynlik, as ek eerlik moet wees, is dit die enigste rede hoekom ek my daarvan weerhou om die redakteur, figuurlik gesproke te lyf te gaan.

Die besoek aan Tour Holiday het my weer laat besef dat ek tussen my kollegas eintlik die minste rede het om te kla. Die onderhoud kom in die vakansiebylaag, waaraan almal dié tyd van die jaar werk. Pietie is een van hulle wat brosjures van gastehuise, spesiale hotelaanbiedings, restourante se vakansie-spyskaarte, kusdorpe se strandspeletjies en ander vakansie-jolyt moet verwerk tot 'n sinvolle bylaagstorie. Om te kan wegkom van hierdie gekkespul is al 'n klein vakansie op homself, dink ek terwyl ek na Tour Holiday se kantoor ry vir die onderhoud.

"Die grootste enkele probleem met toergroepe is dissipline," sê meneer Kaiser. Ek onthou dat Tour Holiday veral met toergroepe werk.

Ons sit in sy ruim kantoor waarvan die mure behang is met plakkate waarop die genietinge van vakansieplekke geïllustreer is. Kaiser het 'n stroewe gesig, klein bokbaardjie en 'n netjiese snorretjie wat bokant sy bolip lê asof dit daar geplak is. Sy oë kyk streng met 'n uitdrukking van gesag en ek kan sien dat hierdie man geen teëspraak van enige aard duld nie.

"Dissipline?"

"Die toergroep is 'n interessante verskynsel in die vakansiebedryf," sê Kaiser. "Jy kan dit vergelyk met 'n trop skoolkinders wat vir die dag saam met Juffrou dieretuin toe gaan. Daar is uitgelatenheid, onhebbelikheid, verwerping van gesag, alles … "

"Groot mense is tog …," onderbreek ek, maar Kaiser lig sy hand en waai sy vinger hier voor my neus langs.

"Moenie dink dat volwassenes enigsins anders optree as kinders nie," sê hy. "My sukses as toerleier skryf ek daaraan toe dat ek hierdie verskynsel raaksien en 'n fyn aanvoeling ontwikkel het vir die hantering van sielkundig afwykende gedrag in 'n groep."

Kaiser lyk ingenome met homself. 'n Fyn glimlaggie wat sy oë op skrefies laat trek, gee sy gesig 'n uitdrukking van selfversekerdheid. Ek lei af dat hy my uitlok om op sy stelling te reageer.

"Afwykende gedrag?"

"Alte seker. Indien 'n leier nie van die begin af streng optree teen uittarting nie, kan hy vergeet om 'n goedgeorganiseerde toer te lei. U moet verstaan dat die meeste mense wat 'n toer onderneem, bewus is van groepsverantwoordelikheid en hul gedrag aanpas by die meerderheid se beskouing van wat 'n lekker vakansiestemming is."

Ek raak nou nuuskierig. Agendapunte flits dit deur my brein.

"Neem byvoorbeeld samesang op die bus," vervolg Kaiser. "Vrolike mense sing. Dit kan jy maar aanvaar as 'n gegewe feit. Die toerleier moet reg van die begin af die stemming bepaal en toets. Speel 'n musiekbandjie met lekker outydse liedjies en gou genoeg sal 'n paar mense, meesal voor in die bus, begin saamsing. Kort voor lank is dit 'n hele lekker singery waaraan almal deelneem."

Kaiser lig weer waarskuwend sy vinger. "Behalwe natuurlik diegene wat onvergenoegd sit en knies. Samesang is een manier om die toergedrag van die begin af na jou hand te sit."

"Wat van die mense wat rustig wil sit en uitkyk, die natuur wil bewonder, byvoorbeeld, of met hul metgesel wil gesels?"

Kaiser trek sy skouers op. "Jy kan nie almal tevrede stel nie, nè. Dan probeer jy die onmoontlike bereik. Privaat plesiertjies en belangstellings moet vir die duur van die toer op die agtergrond skuif. Dit is presies dit wat die werk van 'n toerleier so interessant maak. Binne die bestek van 'n week of twee weke moet jy 'n groepmentaliteit kweek wat vir die meerderheid aanvaarbaar is."

Dan herhaal hy hom met genoegdoening. "Jy kan nie almal tevrede stel nie."

"Wat van dié met afwykende gedrag," vra ek, "dié wat sit en knies?"

Terwyl Kaiser sy teorie verduidelik, sit ek my en verstom. Kaiser moes my uitdrukking van verstomming verkeerdelik as intense belangstelling vertolk het, want hy begin iets van sy stroefheid afgooi en met meer gemak oor sy werk gesels.

"Reëls is heel belangrik," vervolg hy nadat sy verduideliking oor hoe hy kniesers hanteer, onderbreek is deur 'n dame wat vir ons tee en koekies aandra. "Reëls moet sommer al in die brosjure uitgespel word. Laatkom vir die bus is die grootste enkele sonde wat toergangers kan begaan. Daarmee het ek geen genade nie. Laatkommers bly eenvoudig agter."

Hy knipoog vir my en op 'n vertroulike toon verduidelik hy dat hierdie reël dikwels ontevredenes in die groep uitskakel. "Jy sien, dié mense wil dikwels hul misnoeë oor die toerleiding met dié soort uittarting bekend maak en daarmee vang ek hulle juis uit." vNou lag hy lekker en versluk homself aan 'n slukkie tee, wat my geleentheid gee om 'n paar vrae te vra.

"Sê my, meneer Kaiser, wie is van jou lekkerste toergangers? Ek bedoel nou Hollanders of Duitsers of …"

Hy hou al twee sy hande op. "Noem my Jack, asseblief, Juffrou. In ons bedryf is ons maar informeel. Dit laat mense gouer op hul gemak voel." Dan bly hy stil en hy wag, seker vir my om my voornaam aan hom te bied, maar ek bly doodstil.

Dan vervolg hy: "Wat betref nasionaliteite is Japanners sonder twyfel die maklikste om mee te werk. Beleefde en inskiklike mense. Maar elke nasie het sy eie eienaardighede. Neem byvoorbeeld 'n groep Duitsers na Namibië, dan sien jy wat 'n toerleier eintlik mee te doen kry. As jy stilhou om die mense 'n kans te gee om bene te rek, is die hele groep in 'n ommesientjie uit die bus en bo-op die naaste duin. Dan sukkel jy jou gedaan om hulle weer in die bus terug te kry. Ondernemende mense! Maar sing kan hulle! Dit moet 'n mens opweeg teen hulle gedrag."

Jack glimlag weer fyntjies.

"In Namibië staan ek bekend as Der Tur Führer. Ek beskou dit as 'n eretitel en 'n kompliment. Ten spyte van die duineklimmery is Duitsers gevoelig vir streng dissipline en kan jy as leier so ver gaan om versoeke in die vorm van 'n bevel te rig. Dit maak dit vir die toerleier maklik."

Jack praat nou lekker oor sy ondervinding met verskillende volke se "afwykings" en ek kry die gevoel dat hy die vraaggesprek begin geniet. Hy vertel staaltjies uit sy lang en veelbewoë loopbaan: opleiding ('n militêre agtergrond is ideaal); tipiese probleme waarmee 'n toerleier te doen kry (verlore paspoorte, gebreekte busse, skielike siekte, romanses, neuroses); en ek kom onder die indruk van die menigvuldige lastigheidjies wat 'n toerleier se lewe versuur.

Wanneer ek aanstaltes maak om die onderhoud te beëindig, staan Jack uit sy stoel op en kom sit aan my kant op die punt van die tafel in 'n houding wat ek as vertroulik definieer.

"Op my volgende toer na Namibië het ek 'n kansellasie. Sou u belangstel om dié persoon se plek in te neem?"

Dit kom onverwags.

"Natuurlik heeltemal gratis. 'n Vriendskapsgebaar teenoor u koerant."

Later toe ek Pietie vertel, sê dié ek was effentjies mal (hy gebruik die redakteur se terminologie) om nie die vent se aanbod te aanvaar nie.

Hy verneem nog na my redes, maar ek is reeds halfpad by die deur uit. Ek steek vir 'n oomblik vas en loer oor my skouer.

"Pietie, jy weet mos ek kan nie sing nie."



LitNet: 19 Julie 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.