ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Karavaanagtigheid

Kobus Prinsloo, 2005

Een oggend staan jy op en klim uit jou tent met jou slaperige gevreet reg binne-in 'n Toyota se grill in ... Dis seer en ontnugterend en alles jou eie skuld. Want jy't nie 'n karavaan nie ...

Agtergrond

Om langs 'n karavaan te kampeer, is baie braaf. Karavaanvakansies behels die duplisering, en soms verbetering, van die presiese weelde en toebehore waaraan mens gewoond is by die huis. Dit sluit nou alledaagse klein dingetjies in soos mikrogolfoonde, wasmasjiene, outomatiese waterverkoelers, DSTV, hart-long-masjiene, ens.

Van vroeg in jou kampgeskiedenis is jy al gekonfronteer met die aura van die karavaan. Die standaard-karavaanman se kamp is gewoonlik net groot genoeg vir sy familie en 'n paar vrinne en miskien helfte van die Thuli-blok olifante en hulle gades. Die goed is soos oorlogskepe; hulle het 'n invloedsfeer veel groter as hulle afmetings. Wee jou as jy jou tweemanbesigheidjie tussen twee sulke auras opslaan ...

'n Gesoute karavaner is gewoond aan dinge op 'n groot skaal, so jou gedroggie van 'n tent is nie eers meer binne sy verwysingsraamwerk nie. Sy laaitie se speeltentjie is dan groter as joune. Met ander woorde, jy moet omtrent sewentig meter polisielint saamvat om jou kampie af te baken, anders is jy eintlik maar net 'n obstacle course vir jou buurman en sy pelle. Dis hoekom mens so versigtig moet opstaan in die oggend. As iemand jou nie in die nag dood geparkeer het nie ...

Tog is die belangrikste effek van karavane op jou baie meer subtiel. Sien, daar's so baie blink dinge en liggies en vreemde implemente langs jou dat jou kampkoors stadig oorsit in iets erger: karavaanagtgheid ...

Karavaanagtigheid is sekerlik die uiterste variant, die finale evolusie van kampkoors, maar is 'n kort stappie weg van werklik 'n karavaan hê. Dit word gekenmerk deur 'n totale oorgawe aan goeters in die ergste graad. Jy het nie eers meer die vermoë om twee keer te dink oor 'n kampding voor jy dit aanskaf nie. Jy dwaal rond in kampeerwinkels met 'n mond wat half oophang en 'n brosjure in die hand waarop jy regmerkies aanteken soos 'n wafferse voëlkyker. Elke liewe ding wat geadverteer word, het in jou geestesoog al klaar 'n plekkie in jou kampstaanplek. Die effek op jou beursie grens aan vandalisme.

So neig jy na karavaan koop toe sonder om een te koop. Jy vertel natuurlik vir almal dat karavane onnodig is en dat jy net sowel in 'n woonstel kan vakansie hou, maar jy het naderhand so baie goed gekoop dat jy dit net als kan saampiekel as jy 'n karavaan het om dit in te sit.

*

Dis die nuuskierigheid wat jou onderkry. Daar sit jy uiteindelik op jou stoeltjie in die wildtuin, sê nou maar, met 'n blikkie goue lafenis na 'n hele dag se kamp opslaan. Jy tuur nou en dan die bosse in, maar daai karavaankamp langs jou is so helder neongroen en lewensgroot, dis soos om langs die Eiffeltoring te staan en om te probeer om nie op te kyk nie. Troppe rooibokke kom nader agter die groen aan, van die opinie dat hulle na jare se rigtingloosheid uiteindelik hulle pad terug paradys toe gewei het, en party probeer selfs oor die draad klim.

Ewenwel, hier sit jy op jou gestoeltetjie met 'n yspak teen jou voorkop - so Toyota is 'n harde ding, jong. Mama kloek nou en dan om uit te vind of jy nog kan dink en jou naam kan onthou en so aan. Nou en dan hoor jy so "zap"-geluid en 'n geskokte rooibok steier hier en daar duiselig rond anderkant die heining. Buurman en sy trawante is al vroegdag uit met dieselenjins wat brul; vandag sien hulle net bejaarde wild wat al doof is.

Jy ploeter maar rond in jou kampie en melk die laaste bietjie simpatie (dit hou mos nie lank nie), maar jou oog trek heeltyd na die karavaan toe. Daar's so baie góéters! En hier teen skemer het van hulle nog blink liggies ook! G'n mens met kampkoors onder lede kan so iets weerstaan nie. Dis dan wat jy net gou bietjie nader gaan loer. Net so bietjie kyk. Hoe nader jy kom, hoe interessanter word dit. Hordes tafels, fancy seilstoele wat die ouens by Boeing as standaardtoerusting op 'n 747 sal oorweeg, Jamie Oliver se hele kombuis, matte, Mnet ... jy sal nie verbaas wees as hulle môre pos afgelewer kry nie.

Ongelukkig is dit so dat iemand wat so nuuskierig is, 'n natuurlike sluip aan hom het. Dit lyk sommer verdag. En as die liggies en blink dingetjies jou so laat kwyl, is jy naderhand in die middel van jou buurman se kamp en kan jy mos nie sien die mense is op pad terug nie - jy besef eers iets is fout as jy in Phalaborwa se hospitaal wakker word met half toegeswelde oë. Langs jou sit Mama, wat nie geamuseerd lyk nie, en net effens bly is dat jy nog leef en dat die kindertjies nog 'n pa het, al is dit 'n stupid een. Die dokter kom in en mompel iets van die euwels van drankmisbruik. Jy probeer verduidelik dat jy werklik nie weet wat gebeur het nie, dat jy niks ingehad het nie, maar jou buurman (in die donker heeltemal oortuig jy's 'n booswig) het jou mond ook toegeslaan en jy kan net onverstaanbaar mompel.

En in elk geval, as jy die dokter was, sou jy ook nie 'n ou geglo het met 'n Toyota-teken op sy voorkop nie.




LitNet: 20 Desember 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.