ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Gediertes

Kobus Prinsloo, 2005

Jou kamp begin nou al na iets lyk. Jy't nie meer die planne nodig om die tentjie op te slaan nie (alhoewel jy nog elke keer wonder oor jou IK as jy die ding terug in sy sak moet kry na die tyd).

Ongelukkig het jy nog die Kampkoorsvirus onder lede (geen kuur is nog gevind nie). As mens filosofies na Kampkoors kyk, sien jy dat dit kompleksiteit skep. Meer goeters beteken meer dinge wat gedoen moet word om die goeters te gebruik.

Aan die begin was dit vinnig om kamp op te slaan: tent opslaan, stoele opslaan, bed maak, vuur maak, tjops eet, inkruip. En dit was omtrent al.

Met die virus onder lede verloop dit anders: grondseil/e uitlê, tent opslaan (bietjie groter, om plek te maak vir die matras, en dus 'n bietjie moeiliker om op te slaan), stoeltjies (bietjie groter), tafeltjie opslaan (Mama begin skimp vir enetjie met 'n ingeboude opwasbakkie), gasbottel koppel met arms en plate vir 'n lig, 'n potjie en 'n verwarmer, matras opblaas (toe net so uitputtend met 'n handpomp), windseil opslaan, vuur en gas aansteek, tjops, wors, pap en braaibroodjies maak en siedaar!

Nou's mens so moeg jy wil net slaap; Mama is bietjie krapperig oor mens eers na nege in die aand kan begin eet ... Maar ons is hier, in die natuur.

Na 'n bietjie ongemaklike rondhoppery op die matras kry jy jou lê.

Zoeemmm ... Klap! Mis ...

Muskiete is baie soos ons: hulle hou verskriklik van kampeer.

Met Kampkoors onder lede sal jy gelukkig 'n arsenaal hê teen die klein duiweltjies. Muskietspiraaltjies word aangesteek binne en buite die tent. Stinky Sleep word aangespuit op elke stukkie oop vel. Na so 'n rukkie van chaos en doenigheid en rondhop op die matras raak dit weer rustig en jy kry jou lê.

Jy dink: "Goed bere, try my nou ..."

Dis natuurlik nie gemaklik óf romanties om blink van die chemikalieë op 'n glorified li-lo te slaap nie, maar dis hier belangrik om aandag te gee aan een van die ander belangrike simptome van Kampkoors: Die Drang om Iets te Doen.

Kampkoors druk jou om die heeltyd voor te berei vir iets. Lank terug, in die begin van jou kampeerdae, kon jy gou kamp opslaan en verder net sit en die omgewing beleef. Deesdae is daar so baie Dinge Om te Doen, dit raak omtrent die punt van die kampery. Jy't al gesien hoe besig ouens kan lyk oor 'n naweek van uitkamp. Dies 'n sieke man, al wat bietjie help is Mammaeer wat jou aanraai om "nou verdomp stil te sit my magtag!"

In elk geval, daar lê jy in die nagtelike natuurskoon, selfvoldaan. Jy het Iets Gedoen, jy het 'n strategie teen dreigende ongemak en ongeluk, jy is waarlik besig om te kampeer ...

Maar muskiete is nie al wat hou van kampeer nie. Iets sal een of ander tyd oor Mama se voet skarrel, glo dit maar. Dis dan wat sy die Stinky Sleep gryp en elke liewe hoekie van die tent spuit met 'n aggressie wat jou senuweeagtig maak. Enige ongedierte sal sterf, al is dit net omdat alle bruikbare suurstof verplaas is deur die inhoud van die kannetjie. Vinnig raak dit onhoudbaar in die chemiese waas. Jy strompel orent en skop 'n brandende muskietspiraaltjie om, teen die nylon van die tent. So nou is die walms rokerig ook. Met toenemende paniek probeer julle die tent ooprits, tussen hoese en hyge deur. Dan ontsnap jy uit die tent in 'n enorme bol rook, maar jou longe brand van die asem ophou. En jy't boonop bietjie vinnig regop gekom …

Die tente en karavane storm jou weer skuins, die grysheid en spikkels oorval jou, maar dankie tog vir jou tent se toue ...

Dis oggend in die ablusieblok. Net voor jy die stort oopdraai, sê 'n seuntjie vir sy pa: "Hoekom moes ons gisteraand so laat alles oor dwelms leer Pappa?"

'n Muskietnet is net die ding, vertel die virus jou. Dit sal alles perfek maak ...




LitNet: 31 Oktober 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.