ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Goeters

Kobus Prinsloo, 2005

Kampkoors is 'n vieslike virus. Wetenskaplikes meen dis 'n organisme wat aangetref word tussen jou natuurklier en jou beursie. Hoe meer jy kamp, hoe meer stimuleer jy jou natuurklier.

Die natuurklier is 'n normale verskynsel in Suid-Afrikaners, maar as jy hom stimuleer, wil jy net nog natuur hê. Dis waar die virus inkom. Hy vertel jou brein dat die natuurklier altyd die natuur bietjie beter kan beleef as wat hy tans doen. So sal jy, as jy die ding onder lede kry, skielik oortuig wees dat die toppunt van natuurbelewenis, die absolute eenheid met die skepping buite jou, bereik sal wees sonder daardie een kritieke element: 'n opblaasmatras.

Nuut ruik hy soos 'n strandbal en jy voel sommer dat jy nou lekkerder gaan vakansie hou. Jy rol hom oop in die tentjie en soek na die blaasbesigheidjie, net soos jou ou li-lo's. En jy begin blaas.

Die eerste blaas is 'n ding vol selfvertroue, soos die wolf moes gevoel het toe hy die eerste varkie se huis afgeskryf het. Jy dink by jouself: "Dis nie so erg nie, lyk my ek het nog 'n stel longe aan my." Dis net bietjie onrusbarend dat daar so met die eerste oogopslag geen verandering vis-à-vis matras waar te neme is nie. Ook nie na die derde, vierde en selfs sesde oogopslae nie.

Op 'n stadium begin die ding so half lewe kry en die kante plak nie meer aan mekaar vas nie, maar dis hier waar die moedeloosheid jou pak. Jy blaas en blaas, maar halfmas sal hy bly. Jou longe brand en jy kan voel dat jy maar karige volumetjies lug kan bymekaarskraap vir die volgende blaas.

Teen die tyd dat die matras al bietjie beginte lyf kry, draai jou kop al soos laasweek met die werk se krismispaartie en dit voel of een van jou longe uitgeval het. En noudat die ding stywer word, blaas hy mos terug ... Nou en dan verloor jy beheer oor jou lam mondspiere en die matras blaas jou in die mangels.

Jy kan naderhand nie nog 'n mondjie lug blaas nie en besluit dat hy so styf is as wat jy hom gaan kry. Jy reverse met jou draaiende kop uit die tentjie uit, want daar's skaars plek vir jou én die matras binne-in. En so staan jy te vinnig op. Dit lyk vir jou of die hele karavaanpark se tente en waens met so skuins draai op jou afgepeil kom. Dan word alles so gryserig en jy kry op jou ouderdom 'n floute. Gelukkig breek jou tent se toue jou val, al is dit op 'n taamlik uitgerekte manier.

Môre-oggend sluip jy uit die ablusieblok en jy hoor 'n stemmetjie agter jou: "Was dit die dronk omie, Pappa?"

Maar 'n handige ding, so matrassie. Miskien moet moet mens net 'n handpompie kry. Dan sal alles perfek wees ...



LitNet: 24 Oktober 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.