ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kampkoors: 'n Klein begin

Kobus Prinsoo*

Dit begin heel onskuldig. Met 'n ou tweeman-tentjie. So 'n blou "dome" enetjie wat in die winkel lyk of hy op Everest sal pas, maar wat eintlik nie erger as Clarens in die herfs kan hanteer nie. Maar hy is joune en jy's skielik 'n kampeerder.

Ag, dis tog te lekker om die penne en seile en dinge aanmekaar te flans en om te sien hoe die dingetjie wonderbaarlik verander van plat plastiek tot 'n ou skuilinkie wat ferm en waardig lyk.

In die begin maak jy al wat 'n tou is vas. Daai tentjie staan so vas jy hoor behoorlik die spanning in die toue. Met die tyd raak mens mos gemaklik en later aan word net die nodigste in die grond vas gehamer. Tot Die Storm jou tref. Vir 'n laaang ruk daarna maak jy weer alles vas. Partykeer is die skrik so groot, jy koop nog 'n sak vol toue en penne wat net so groot is soos die tent self. Jy maak die tentjie so vas dat dit lewensgevaarlik is om snags uit te gaan om te gaan fluit of iets. Al die rieme rondom jou lyk soos daai laser-alarms in Mission: Impossible. Behalwe dat jy hulle net nie kan sien nie ...

Nou trap jy mooi en probeer onthou waar jy die riem gespan het tussen jou tent se voordeurflap en twee bome en jou opslaanstoeltjies (sodat hulle nie weer wegwaai nie). Dan vang jou enkel die ene wat jy gespan het tussen die windseil en die bakkie se towbar. Mens val mos so skielik grond toe oor 'n tenttou, maar jy het natuurlik veertien toue in die grond ingehamer om jou tentjie se dakseil vas te hou, en daai goed is so styf soos kitaarsnare. Val jy op een, skiet hy jou soos 'n trampolien rond na die volgende een toe en so bons jy die hele karavaanpark wakker in jou onderbroek. Die bome en bosse waaraan jou tent vas is, skud rond asof daar werklik 'n storm is en jaag al wat 'n vlermuis is op, saam met wie weet watse ander gediertes. Sou daar nou iemand in jou tent wees, kan mens hulle vergewe dat hulle vermoed daar is iets ietwat ongewoon aan die gang, soos 'n aardbewing of 'n trop olifante wat die kamp binneval. En dan storm hulle ook uit ...

Binne-in jou tounetwerk in ...

Die volgende oggend in die ablusie-fasiliteite kyk die mense jou half skuins aan. Jou lyf lyk of iemand jou in die nag met 'n sweep bygedam het. 'n Seuntjie sal dalk agter sy pa se been skuil en se: "Gaan Pappa nou weer my ore toe hou?"


* Kobus Prinsloo is 34 jaar gelede gebore in Boksburg, het daar matrikuleer en het politieke wetenskappe geswot by Tuks (en tot sy eie verbasing dit actually deurgekom). Vandaar is hy ingesluk deur die wêreld van IT en besigheidskonsultasie.

Hy bly nog steeds in Boksburg en voel dis genoeg rede vir enigiemand om verslaaf te raak aan reis. Sy Kampkoors-stories verskyn gereeld op Weg.co.za en ‘n paar gedigte is al in bundels opgeneem. Hy’s ongetroud en hou van kitare, gedigte skryf en reise beplan, veral tydens lang vergaderings
.




LitNet: 10 Oktober 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.