ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Voortreflike diens en ander gevare in Montreal

Judy van Biljon, 2005

Liewe Almal

Afskeid is die klein dood … en dan begin die lewe in 'n nuwe plek met nuwe mense en ander gewoontes.

Montreal is 'n pragtige stad, 'n kosmopolitaanse vermenging van kulture wat jou laat dink aan 'n groot, skoon, veilige weergawe van Durban. Montreal lê op 'n eiland binne-in die magtige St Laurent-rivier wat vir my plek-plek na 'n meer lyk. Die mense is skoon, netjies, gedissiplineerd en baie bewus van die feit dat hulle moet water bespaar! (Wonder wat sal hulle van die mighty Apies dink?)

Hier bly ons vroue nou saam, drie geslagte en drie gelowe onder een dak. Die 60-jarige Franse Boeddhis, 26-jarige Algeryns Mohammedaanse Naouelle, en ek. Ek hoop maar die lyne kruis nie en die gebede kom by die regte plekke uit, anders kom iemand verseker terug as 'n wurm.

Verlede week kry Naouelle koekies van haar ma af, sulke koepeltjies soos 'n moskee, omtrent so groot soos gholfballe met saadjiepatrone op. Sy bied my een aan en stap gelukkig weg. Dit ruik soos nat hondehare. Eet kon ek dit wragtag nie! Bêre dit vinnig in my laai, toegedraai in 'n tissue. Gister haal ek dit weer uit, bang dat al my klere so gaan ruik. Kan dit nie weggooi nie, sy sal dit kry - ons recycle mos. Boonop loer die Boeddha-beeldjie uit die versterbank vir my. Besluit toe om dit terug te sit - in haar koekblik bo-op die kas. Die koekie is net weer veilig terug toe Naouelle instap - dink net as sy my betrap het met my hand in die koekieblik!

Ek eet smiddags by Tim Hortons, 'n restaurant/wegneemete-groep veral bekend vir oliebolle. Dis vergelykbaar met ons eie W-reeks ontbytspesialiste. Die plek is ruim met groot, skoon vensters waardeur jy mense sien smul - 'n goeie advertensie. Die spyskaart is opgeplak, soos in die meeste restaurante, maar hier net in Frans. Jou keuse word dus beperk tot dit wat jy kan uitspreek of uitwys.

My plan was om te wys na die prentjie op die muur vir sop en 'n bagel (ronde broodjie met 'n gat in). Dáár tref ek toe Franse noukeurigheid ...

Watter sop?

Die prentjie lyk na beessop en ek sê "beef".

"No bouf," sê die kelner en wys na 'n plek op die muur waar die sopsoorte is. Ek kies die een wat ek die amperste kan uitspreek.

Hy knik en vra: Watter bagel?

Hoe de duiwel moet ek weet watter soort bagels is daar? (Die tou agter my word langer.)

Hy wys na die rak bagels en oliebolle agter hom en ek wys na een. Hy vat die verkeerde een, maar ek bly stil.

Toe wil hy weet: botter of roomkaas?

"Albei," sê ek, om onduidelikheid uit te skakel.

Watter koffie? (Die fynskrif sluit toe koffie in.)

"Klein," roep ek, gedagtig aan die slegte, sterk koffie wat hulle maak.

Geen klein; net gewone of groot.

Melk/suiker? hou hy meedoënloos vol.

Dit word toe darem so dat "ja" en "nee" begin werk.

Vir hier of wegneem? (Jy moet altyd spesifiseer.)

"Vir hier, vir nou, vir my!" kreet ek.

Wag daar, sê en beduie hy vir my en ek stap na 'n ander toonbank waar my bestelling wonder bo wonder reg deurkom.

Nou gaan dit beter. Vanmiddag was dit "Dans un bol en pain". Ja, dit klink na iets wat jy nie wíl beleef nie, maar dis eintlik 'n groot broodrolletjie wat uitgehol is, met beesvleisbredie in - baie lekker en sonder variasies. Afgerond met French Vanilla, 'n melkdrankie. Ek hou nie baie daarvan nie, maar dit bevat nie kaffeïen nie en ek kán dit uitspreek.

Ciao

Judy



LitNet: 26 Augustus 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.