ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

!Europa! Deel I

Liezel van Beek

Eureka! Europa! Ja, uiteindelik, ná amper 27 jaar. Dit voel amper verkeerd dat ek so lank gewag het - dit is 'n ervaring wat ek vir almal gun. 'n Plek waarvandaan jy nie dieselfde kan weggaan nie.

Die hele trip is binne 'n oogwink gereël. Impulsief en swak beplan, soos al my vakansies. Sussie Gitte het laat weet dat sy verlof het in Engeland, en ek het sommer besluit om by haar aan te sluit, voordat die hooi op my vurk in Taiwan my doodval.

Ek en Iutian het gevlieg tot in Parys waar sy vriende, Yang en Siwei, Taiwannese wat al 17 jaar lank daar woon, ons opgelaai het en sommer dadelik vir 'n vroeë-oggend-toer deur die stad van ligte geneem het.

Parys is selfs nog mooier as wat ek verwag het. Die mense daar ook. Elke tweede persoon lyk asof hulle uit 'n modetydskrif geknip en teen ‘n historiese agtergrond geplak is. Ongelukkig doen hulle ook hulle reputasie van arrogant en onvriendelik gestand. Miskien verdien hulle nie al daardie skoonheid nie. My eerste indruk van Parysenaars as perde steek in my kop vas: beeldskoon, elegant, grasieus en bot, selfs persoonlikheidsloos. Maar dit is waarskynlik sélf 'n arrogante aanmerking vir iemand wat net vier dae daar spandeer het.

Omdat ons tyd vreeslik beperk was, het ek besluit om nie te veel te worry om al die besienswaardighede in te pas nie. Ek het eerder gefokus op dit wat ek regtig nog altyd graag wou sien - die kuns.

My koue, steekse hart het sommer vroeg gesmelt toe ons ná ons eerste koffie en croissant na die Louvre-museum toe is. Vele skilderye en beelde het my bewoë gelaat, en ek het gevoel asof my hart knoop van verwondering. ‘n Foto kan nooit naastenby weergee wat Rembrandt, Monet, Rubens, Manet, Picasso, Goya, Vermeer, Raphael, Toulouse-Lautrec, Velazquez, Da Vinci, Degas, Botticelli, Renoir, Rodin, Matisse, Cezanne en al die ander halfgode op ‘n skilderdoek of met ‘n stuk marmer reggekry het nie.

Tekstuur en die manier waarop lig met die verfblertse speel, is meer as die helfte van die kuns. Veral die impressioniste, en spesifiek die Van Gogh-skilderye, se driedimensionele eienskap het my verstom. Ek sou ook my oor afgesny het as ek so geteister was deur die stemme van kleur. Elke blokkie detail verklap een van die heelal se geheime, in ‘n kode wat net ‘n malle sal kan verstaan. Ek het vir minute aaneen met my neus sentimeters van die doek af gestaan sodat die ander mense seker gedink het ek is erg blind, of kens.

Siwei en Yang se kunsateljee is buite Parys op ‘n plot en hulle het ons heerlik bederf met groot hoeveelhede kaas en wyn. Hulle het ons rondgeneem na eeu oue kastele en paleise waar spoke sommer in die daglig tussen die mense deur loop. ‘n Mens voel klein en simpel as jy daar stap, want jy besef dat selfs al val al die hooi op jou vurk jou vandag dood en daar groei ‘n hele mielieplantasie daaruit, sal hierdie kastele oormôre en die volgende eeu nog steeds daar staan.

Londen volgende. Gitte het ons op Waterloo-stasie ontmoet nadat ons die Eurostar verpas het en moes wag vir die volgende trein. Sy is beeldskoon. Lang bene in bruin boots, ‘n bos krul hare waardeur oorbelle nou en dan die lig vang, lippe vol gloss en blos op die wange. Ek het ná twee jaar amper vergeet hoe mooi sy is. Soos ‘n prentjie uit ‘n tydskrif.

En dan’s sy nog nice daarby. Sjokolade op ons bed (háár bed), frikkadelle en appeltert vir aandete. Self gemaak. ‘n Real-life goddess.

In die National Gallery het ek ‘n portret gesien van ‘n jong man wat ek al van kleintyd af in kunsboeke uitwys as die aantreklikste man op aarde. Dis tot vandag toe nog onbekend wie hy was. Maak ook nie regtig saak nie; ons sê maar net baie dankie vir Andrea del Sarto dat hy hom vir ons met sy kwas behoue laat bly het sedert 1517.

Anders as in Parys word ‘n mens nie daar toegelaat om foto’s te neem van die kuns nie. Nie dat dit vir Iutian gekeer het nie – hy het maar net dom gespeel en sy kamera soos ‘n swaard uit sy skede getrek elke keer as die opsigters hulle rug draai. Ek het maar net anderpad geloop en gemaak asof ek nie dié weird Chinaman in Europa ken nie.

(Word vervolg)



LitNet: 25 April 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.