ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Edinburgh se donker kant

Estie Reynecke, 2004

Edinburgh is ‘n somber stad met ‘n donker kasteel wat op ‘n heuwel staan en uitkyk oor die smal, kronkelende strate en stegies van die Old Town. Dis ‘n stad met karakter, en het al goeie skrywers soos die misdaadkoning Ian Rankin, JK Rowling en die filosofiese Alexander McCall-Smith, skrywer van die elegante roman The Sunday Philosophy Club opgelewer. Dit is ‘n asemrowend mooi stad, ten spyte van die dramaties onheilspellende gevoel. Reisgidse hou daarvan om Edinburgh en sy skynbaar snobistiese inwoners af te speel teen die lewendige Glasgow, wat slegs ‘n uur per trein verder wes geleë is.

Ian Rankin was slim genoeg om inspekteur John Rebus in Edinburgh, en nie Glasgow nie, te laat werk. Die minder gesofistikeerde Glasgow, ‘n industriële stad, is nie besonder mooi nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek hou van Glasgow en glo dit het ‘n energie wat tasbaar is, maar die buitewyke ís saai en die stad het al sy kwota van wrede bendes opgelewer. Die Rangers vs Celtic sokkergeweld is ook legendaries. Dit is dus ‘n meer ooglopende liggingkeuse vir die oorwerkte, uitgebrande John Rebus om sy daaglikse brood in te verdien.

Totdat jy daaroor nadink. En dis presies wat Rankin gedoen het toe hy verby die Edinburgh Festival-karakter en toeriste-attraksies gekyk en die donker kant raakgesien, of moontlik aangevoel, het. Edinburgh is ‘n veel beter agtergrond vir grusame moorde as Glasgow.

Edinburgh is dus ook ‘n geskikte plek vir ‘n toeriste-attraksie soos Mary King’s Close. ‘n Close is ‘n kronkelende, nou paadjie met multivlak-wooneenhede wat tot agt verdiepings hoog aan weerskante van die paadjies uittoring. Dit is gepas onheilspellend (Ian Rankin se jongste roman, Fleshmarket’s Close, speel daar af). Die Middeleeuse closes het saam met Edinburgh ontstaan en gegroei en die name was soms ‘n aanduiding van die besighede wat daar bedryf was (bv Advocate’s Close, asook die Fleshmarket’s en Bakehouse Closes). Mary King’s Close was aanvanklik John Towris Close genoem en het al in 1530 bestaan. In 1753 word hierdie close egter toegegooi om plek te maak vir die City Chambers in die High Street en dele van die laer seksies word as fondamente gebruik, wat ‘n aantal donker en lewelose stegies onder dit tot gevolg gehad het. Die laaste inwoner van die close is in 1902 gedwing om dit te verlaat, ten einde plek te maak vir die westelike vleuel van die City Chambers.

Mary King’s Close het al sy kwota van ellende gesien; die builepes van 1644 het die helfte van Edinburgh se inwoners uitgewis en die mense van die closes is ook in kwarantyn geplaas. Daar is darem daagliks brood, kole en selfs wyn aan hierdie ongelukkige mense afgelewer – die mite dat slagoffers in die closes se mure ingemessel is, is net dit: ‘n mite.

Spookstories doen ook natuurlik die rondte in Mary King’s Close: koplose ou mans, ‘n jong kind in ‘n jas, ‘n spookhond en -kat, en vreemde klein skepseltjies wat ronddans, is op verskillende tye gewaar.

‘n Besonder hartroerende verhaal is dié van Wee Annie, ‘n agtjarige dogtertjie wat van haar ouers weggeneem is en in kwarantyn geplaas is, en in 1645 aan die pes dood is. In 1992 het ‘n Japannese medium Annie se spook vir die eerste keer hier in Mary King’s Close ontmoet toe sy haar as ‘n dogtertjie met lang vuil hare wat by die venster staan en huil oor haar ouers, pop en hond, gesien het. Die medium het gesê dat sy nie in die kamer kon ingaan nie, daar was net te veel hartseer in die lug. Sy het Annie getroos deur ‘n Barbie-pop (geklee in tartan) te gaan koop en in die kamer te kom neersit. Vandag is die een hoek van die vertrek toegepak onder teddiebere en poppe. Wee Annie se storie loop ver en mense van dwarsoor die wêreld kom sit speelgoed vir die ongelukkige dogtertjie neer wanneer hulle in Edinburgh is.

Die Mary King’s Close-tentoonstelling of toeriste-attraksie is ietwat van ‘n teleurstelling. Dit is goed gedoen, die beligting hier onder die City Chambers is gedemp (die kwaliteit van lig is presies soos dit was in die betrokke tydvak), mens kry ‘n gevoel van onheil om elke draai. Jy word selfs deur die toergids gewaarsku dat as jy benoud sou raak, iemand per tweerigtingradio ontbied sal word om jou te kom uithaal. Dis ook redelik maklik om ‘n idee te vorm van hoe moeilik die alledaagse lewe in die sewentiende-eeuse Edinburgh was – en die gode te dank vir moderne sanitasie.

Wat my onder gekry het van die attraksie, was die toergids in kostuumdrag, wat die rol speel van Mary King se dogter. Sy het ‘n voorspelbare teks gehad en haar grappies was flou. Dan is daar ook die poppe wat die moordenaars Alison en Katerine, Mary King en Doctor George Rae (met sy masker en groot instrument vir oopsteek van swere) voorstel, wat gevries in die halfdonker staan. Ek het my flou geskrik toe ek omdraai en teen die dokter stamp, so ek is seker maar net suur omdat ek uitgevang is. Op ‘n stadium is daar ook ‘n bloedstollende gil, en ek het gedink dis ‘n goedkoop truuk om mens te laat hop, en dat dit eerder op ‘n skou-spookrit tuishoort. Engelssprekende jongmense sal die attraksie cheesy noem, Afrikaanse jonges sal sê dis fake. Ek dink oudio- en videobande sou dalk beter gewerk het. Toeriste kan een-een of twee-twee deurstap en geslotekring-televisiekameras kan toesien dat toeriste wat paniekbevange of angstig raak, uitgehaal word.

Ek stel my gewoonlik daarop in om my te geniet wanneer ek na'nnuwe plek reis en die meeste daarvan te maak. Die moontlikheid bestaan derhalwe dat ek op hierdie dag maar net in'nslegte bui was. Wanneer jy in Edinburgh is, gaan kyk gerus na die uitstalling. Dit ís interessant. Ek voel egter dat Edinburgh so ‘n atmosfeer-belaaide plek is dat dit beter verdien as hierdie tipe toeriste-attraksie. Gee die teks vir Ian Rankin om te skryf en gooi weg die poppe. Die resultaat behoort nog meer vreesaanjaend te wees.



LitNet: 23 Augustus 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.