ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Clarens, Oos-Vrystaat

Dries Brunt, 2005

Op pad soontoe sit ek en Maryna agter in die motor, Vincent en Nadia voor. Ons ry verby die afrit na Nigel.

"Ken julle die een van Nigel en die telefoonsentrale?"

"Ja, Dries."

"Die een van die brand in die hoerhuis?"

"Ja, Dries."

"Die een van Kentucky Freud Chicken?"

"Ja, Dries."

"Wat gaan aan met jou? Jy is nooit so nie." Dis nou Maryna wat my uitspattigheid wil snoer.

"Toets net hulle algemene kennis, mamma," sê ek, lus om 'n grap te vertel. Toe vertel ek die een van die bier, die pie en die friendly chat.

Stemming en natuurskoon gaan saam. Die een moedig die ander aan en omgekeerd. Natuurskoon is ondefinieerbaar, dink ek as ons al langs vlaktes en vertes na Clarens op pad is. Mense wat die Vrystaat 'n vervelige vlakte noem, wil ek nie as my vriende hê nie. Ons ry deur geel grasland wat tot teen die horison strek met heel agter die blou-blou berge.

"Ken julle die een …?" maar Maryna skop my teen my been en ek bly stil, weier om die grap van die bul en die bokkie te vertel, selfs toe ons later in Clarens aan ons eerste bier suig. "Nee, Vincent," sê ek. "Tyd vir grappe is verby. Hier gaan ons ernstig kuier."

Hoekom so 'n ent ry om net met jou pelle op die stoep te sit, bier drink, pie eet, gesels en lui-lui langs winkeltjies stap en skilderwerke besigtig? Clarens is 'n plek waar 'n mens nie sulke vrae stel nie. Dis net anders. Hier is iets wat jou aanmoedig om lekker te voel, om anders te wees, om jou stemming op te charge. Nie net losbandigheid nie. Wat is losbandigheid vir 'n ou man in ieder geval? Twee biere pleks van een? Nee, nee, wat ek eintlik bedoel, is dat jy deur 'n grootse omgewing geïnspireer word om dinge te sien, anders te sien as by die huis.

Ons, ek en Vincent, sit op die stoep van die gastehuis, ek met my tweede bier, en kyk na die tuin. Mooi tuin, pragtig uitgelê, en tussen die blomme staan 'n Griekse beeldjie van 'n meisie met 'n kruik op haar skouer. 'n Sement-replika van 'n klassieke beeld soos dit in die ou Griekeland gemaak is.

"Sien jy iets wat snaaks is?" vra Vincent. Ek kyk weer mooi

"Daardie beeldjie," help Vincent my. Ek kyk nou aandagtig. Die meisie staan so 'n meter hoog, krullerige hare, mooi slank gebou, borste wat ferm onder haar gewaad wys. Ten spyte van die kruik op haar skouer, wat sy met twee hande vashou, het die oorspronklike kunstenaar daarin geslaag om haar grasieus, slank uit te beeld.

"Sien niks wat snaaks is nie, Vincent. Wat sien jy?"

"Daardie beeldjie vertel iets van die ou Griekse leefwyse, Dries. Was dit 'n Afrika-beeldhouer, sou die meisie die kruik op haar kop gedra het." Wragtag, dink ek. Hierdie is 'n ontdekking in antropologie en ek onthou hoe iemand my vertel dat, anders as die Europeërs, Afrika-mense se voortbestaan afhanklik was van beweeglikheid.

"Jy't iets interessants raakgesien, Vincent," sê ek en vertel hom van die teorie dat die Europeër geneties anders aanmekaar gesit is as die Afrikaan. "Vir hulle was stoor van kos en huisvesting noodsaaklik om die lang winters te kan oorleef. In Afrika was hierdie van minder belang en was beweeglikheid om saam met migrerende wild by te bly, 'n vereiste vir oorlewing en voortbestaan."

"Saamdra wat jy kan en jou kop gebruik vir ekstra pakplek," sê Vincent.
"En waar kry jy meer grasie, vandag nog, as die Afrika-vrou wat met 'n pakkie op haar kop langs die straat stap."

"Jy sê dis ingebore?"

"Geen vrou van Europese herkoms kry dit reg nie."

Ons gesels oor geneties oorgeërfde vaardighede tot Maryna en Nadia by ons aansluit en die gesprek uitloop op 'n toets. Maria van die gastehuis demonstreer die pakkiedra foutloos; Nadia en Maryna dop die toets.

"Mans was toe al te sleg om self die swaar werk te doen," is al kommentaar wat Maryna gee.

So 'n plek is Clarens.

Jy kom weg van die gejaag en sleur van die alledaagse en begin geestelik ontspan; grys selle wat bietjie meer suurstof kry, begin vinniger werk.

Dié middag ry ons 'n entjie Fouriesburg se rigting uit om die sonsondergang teen die sandsteenformasies op sy mooiste te sien. Nadia kry 'n bottel sjampanje en glase uit die kattebak en daar staan ons langs die Lesotho-grens en klink 'n glasie op vriendskap. Ver in die vallei sien ons mense, twee perderuiters, en 'n paar hutte en begin jy peins oor die soort lewe wat hierdie mense voer. Die natuurskoon is asemrowend mooi en jy wens jy kon skilder of gedigte skryf, want iets in jou gemoed spoor jou aan om so 'n belewenis te verwerk.

Tesame met natuurskoon is geskiedkundige merkwaardighede ook altyd 'n aansporing vir gesels. Die Oos-Vrystaat-grens met Lesotho is vol geskiedenis en in die boekwinkel met die gepaste naam Bibliophile is daar 'n versameling boeke om dit te bevestig. Paul Kruger het hiervandaan met die Basoeto’s baklei en Prinsloo het net langs die dorp by Surrender Hill in die Tweede Vryheidsoorlog met 4 000 man aan die Britte oorgegee. G'n wonder generaal De Wet het die Vrystaters 'n klomp lamsakke genoem nie. Of was hulle dalk net bietjie slimmer? Ons kuier lekker, wil nie nou met politieke slimmighede ons gashere in die verleentheid stel nie, nè?

Clarens tussen naweke is 'n droomdorpie en jy wonder of jy hier sou wou bly.

"Sou jy hier wou bly, Nadia?"

"Nee, as ek kan kies om te bly, is dit iewers in die Kaap."

Ons sit op die balkon van die gastehuis met uitsig op 'n hoë berg wat Clarens aan die westekant begrens.

"Buitendien, daar moet plekke wees waarna toe jy wil terugkom."

Dit is waar, nè? Daar moet iets oorbly waarheen jy wil terugkom, 'n plek waar jy van kan droom, 'n werklikheid waarvan jy 'n onwerklikheid kan maak, nog mooier en lekkerder as wat dit is.

So 'n plek is Clarens.




LitNet: 14 Maart 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.