ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

For obvious reasons: Okavango

Hannetjie Buys, 1996

Vanaf Johannesburg Internasionale Lughawe is dit slegs twee uur en twintig minute na Maun. Al is ons die gaste van Air Botswana, weet ek ek is en blý ‘n “swak passasier”. Die koue lemoensap wat onder my boude inloop ná die eerste air-pocket oor die Kalahari het Maun, wat op die rand van die Okavango-delta is, verder laat klink as wat dit is.

Natbroek-dankbaar toe die wiele op Maun se aanloopbaan neersuig, staan ons paspoort in die hand. Dit is effens bedompig in die lughawegeboutjie, maar doeane is doeane.

Ons is op pad na Xakanaxa (die “x” word as ‘n “k” uitgespreek). Padlangs is Xakanaxa 130 km, ‘n 4x4 job, en genoeg tyd. Luglangs 90 km, ‘n 20-minute-vlug.

‘n Paar eenmotorige vliegtuigies wag wiegend op die aanloopbaan. Die lughawegeboutjie se deur stamp my sonbril van my kop af en met ‘n harde slag klap die deur agter my toe. Koes-koes deur die dwarrels kyk ek waar is my man, Johann.

“This way, Madam,” sweef die stem van ‘n jong mannetjie van so ongeveer vyf en twintig na my toe, met sy hand vertroulik onder my linkerelmboog. Die vlieënier? Kan nie wees nie. Wragtag! Kortbroek, donkergroen hemp, vellies en kort kouse.

“I’m just waiting for my husband,” praat ek woordelose woorde.

“Partners to be separated,” sê hy naby my linkerelmboog-oor.

“Why?”

“For obvious reasons!” Verbeel ek my of spring daar ‘n spiertjie in sy ken?

Hy los my elmboog en mimiek ‘n sywaartse wiegbeweging met gestrekte arms. Gooi sy kop soos ‘n rock-sanger in die rigting van die vliegtuig, met sy oog op die windkous.

Daar “be-Xakanaxa” ek myself byna.

Al vinniger draf ek agter die vrou voor my, wat self al op ‘n drafstap is, aan en kyk na die klein tornado’s in haar hare wat verskillende kroontjies op haar kopvel oopvlek. Dankbaar dat ek tog maar my grys wortels, teen ‘n prys, laat toesmeer het. My gedagtes vir ‘n oomblik afgelei.

Vreemd gehurk sit die vlieënier langs die vliegtuigie. Dalk voel hy nie lekker nie? Nie nog dit ook nie. Dan sou ek sien dat hy die trappie vashou sodat dit nie omwaai nie. (All four on board.)

Binne loer ek na die kontrolepaneel en al wat ek kan uitmaak, is die brandstofmonitor. Vermaak myself met die grappie dat “e” staan vir “enough, en “f” vir “f…all” (ek vlieg saam met ‘n paar koeke, en hou dit dus vir myself). Jonk en vol selfvertroue lê die vlieënier se hande op die stuurstang, skakel hy die craft aan. Propeller begin draai, so ook my maag. Soos ‘n Vrystaatse sprinkaan spring die craft in die lug, vang ‘n air-pocket of ses, and off we go.

Ons kry koers na Xakanaxa. Onder ons lê die Moremi-reservaat, en Chief’s Island, een van die wêreld se laaste groot wildernisse.

Ons vlieg oor troppe buffels en olifante. Plek-plek begin ons water sien – die waters van die delta – gebore in Angola. Die skuddende, dreunende op-en-af van die craft half vergete toe die water begin uitwaaier in doolhowe van interkonneksies. Verstommende watergange wat vorm en wat uiteindelik wegsypel in die Kalahari-woestyn.

Voor ons lê Xakanaxa, of “big lagune”, se landingstrook. Die verandering in lugdruk sê ons gaan land. Noord en wes van die lodge is die permanente lagunes en waterweë van die Okavango.

Op die 800 m-landingstrook, wat ‘n beperkte gewig van 2 300 kg kan hanteer, land ons een-een tyre op ‘n slag. Die ongereptheid verjaag die spookbeelde van die vlug.

Dan kom die vriendelike veldwagter en begelei my met ‘n kronkelpaadjie na my safaritent. Die luukse tent staan op stelte gekamoefleer met breë houttrappe wat lei na die opening. Die opgerolde flap is grof teen my hand toe ek daaraan druk om in te gaan. Binne flikker ‘n kers, sitronella-olie en dennegeur van die houtvloer wat na woud ruik.

Iewers in ‘n watergat steun-kla die hippo’s wat wag om te wei … die gedoofde pit van die kers maak die donker dik.

*

Die grasvelde om ons lê ongeskonde, vry van plastieksakke teen drade. Hoog op sy wiele staan die safarivoertuig en luier. Verkykers en kameras stamp liggies teen die reling as gedempte stemme in afwagting opklim en die delta binne ry.

Die gras roer onheilspellend wanneer die koning van die bos sy lyf omdraai. Sy gesig vol skade wat getuig van konflik.

Klein-Grootvoete hang aan spene … groot happe gras verdwyn in Grootvoet-keelgate.

‘n Swartkop wieliewaal beantwoord haar maat se roep, die troupand tooi sy vere. Omring van watervoëls by die moerasagtige watergate, suig ons aan koue wyn, en maak aantekeninge in voëlboeke. Lepelaars, groot wit reiers, groot langtoon, slanghals, eende, ganse, waterhoenders … ‘n droom word werklikheid vir voëlkykers.

Mokoro’s (uitgeholde boomstompe) of kano’s wat met lang stokke deur die plaaslike inwoners voortgestoot word, dobber oral op die delta. “Geeloog-houtstomp”-krokodille swem sywaarts as seekoeie afsak, wegraak, opkom, verdwyn … om met ‘n neusblaas net langs die mokoro’s te verskyn.

Sononder bring motorbote gelaai met proviand. Die kronkelende geheime van die waterweë word oopgestoot tot waar die son sak. Die waterverfskildery toegegooi met skakerings van pienk, blou, pers, geel en rooi word voor ons oë voltooi. Hier bid jy oop-oë. Die weerkaatsing in die water is ‘n dubbele skildery.

Die hitte van die dag word verruil vir die soelheid van die aand. Die nuwe nag se geluide. Jakkalse, leeus, naguile, hiënas en stroompies water verdof die geklots van waterrimpels teen die boot se boeg as ons die oewer nader.

Die maan “gooi water” op pad na die beskutting van die kamp. Die soet geur van hardekool omvou die aandlug met ‘n kleed van ongebondenheid en “vuurmannetjies” skiet hoog die lug in uit die bomavuur se nuwe hout. Die half swartgebrande koffieketel se tuit spoeg spatsels sisgeluide … dun aswolk-strepies fladder waar dit op die warm kole val.

In die suidelike hemelruim vonkel sterre in die naglug … en ek gee my oor … aan die nostalgie.

Xakanxa? Ek hoor jy sê jy is die grootste meer
Mag ek dan ietsie met jou deel?
Ek weet nie wat die visarend vra
Nog minder of die groenvlekduif ‘n hartseer dra
Dink jy ook die glansspreeu is ‘n windlawaai?
En weet jy of die “hippo” weet waar hy sy krag ontlaai?
Kyk! Die miershope lyk soos kasteeltjies waar dwergies bly
En die vlakvark staan op sy knieë … soos iemand wat bely
Buffels stroef en stil
By die watergat – ‘n yskou krokodil
Die “koning” lê ongeskond
In die skadu’s sluip ‘n bontkat rond
Grootvoet laat sy trompetter hoor
In die hoogste top ‘n troupand wat bekoor

Jou geluide laat die nag se stilte breek
Aandster … word môrester … word bleek
As die skadu’s van die kers mimiek
Van die winde deur die fluitjiesriet
En jy – jou identiteit sorgloos oor my uit kom stort
Trek ek my “delta-tent” se ritser-slot … hoog op Tot …
By my siel se keel
Omdat, Xakanaxa …
Ek myself met jou wil deel.

Afskeid is altyd seer.

Die deur van die craft is op knip. Oor die hobbelrige aanloopbaan taxi die pilot, met sy oog op die windkous. ‘n Klein foutjie? Ons sit vas in die sand. Uitklim en stoot. Terug op die aanloopbaan. ’n Trop blouwildebeeste kom groet. Uitklim en aanjaag … inklim en opstyg.

My metabolisme het my in die steek gelaat. Droë mond, nat hande. Werk dit nie andersom nie?

“For obvious reasons” … is dit tyd dat jy gaan.



LitNet: 23 Augustus 2005

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.