ReisNet Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bonjour Parys (Kuns, galery, museums) (Deel II)

Una Beukman, September 2005

Klik hier vir Deel I

Nie ver van Montematre nie is die Moulin Rouge wat so half skuins teen die bult af lê. Parys se kunstenaars het almal hier uitgehang en vandag kos dit R1 000 of meer vir ‘n aand se vermaak. Dit is opvallend dat die winkels in hierdie buurt ‘n sekere soort koopware het wat verband hou met vermaak en plesier.

‘n Besoek aan afdelingswinkels was ook interessant. L’Samaritaine was gesluit weens veiligheidsredes. Die gebou verkrummel, maar mag nie gesloop word nie, en om dit te restoureer sal te duur kos. Galeries La Fayette bied afslag aan en jy kan ook nie in een dag deur al die afdelings kom nie. Dan is die stalletjiesmense ook in Parys. Al langs die rivier af het elke smous sy houtkis met deksel en slot waaruit hy of sy handel dryf.

Kuns en vermaak in Parys is nie net beperk tot klubs, teaters en museums nie. Ek het ‘n wonderlike balletuitvoering gaan kyk met verteenwoordiging uit ses lande, en ‘n Franse fliek, Le Parfum de la Dame en Noir. Verder is daar oorgenoeg straatteater wat jy elke dag raakloop; selfs ‘n kunstenaar wat in die Louvre sit en verf aan ‘n kunswerk.

Die platteland hou net soveel bekoring in as die stad, miskien dalk meer, en hier ontdek ek nog kunstenaars en hulle werke. ‘n Besoek aan Giverny neem my tot in Claude Monet se huis met die netjiese tuin en damme vol water en lelies wat hy so graag geskilder het. Hierdie dorp het so ‘n indruk op hom gemaak dat hy baie Amerikaanse kunstenaars na die platteland getrek het, en hier kon ons hulle kunswerke ook besigtig. Die drie vlakke waarop hy gekonsentreer het, was die lug, oppervlakte en diepte.

Terug in Parys kom jy by die Pompidou-galery uit wat amper soos ‘n psigedeliese Caltex-olie-raffinadery lyk, met al die pype en skoorstene aan die buitekant. Hier lê toe ‘n stukkie verrassing uit Afrique du Sud. In die eerste lokaal ontmoet ons Marlene Dumas se kunswerk getitel Mixed Blood. Haar CV lees dat sy in RSA gebore is met ‘n Franse familienaam, en dat sy Afrikaans praat. Die ses portretstukke van gesigte beeld teenstrydighede uit in die wêreld waarin sy leef. Kyk net hoe teenstrydig is hierdie gebou in vergelyking met al die ander museums in Europa.

Net om die draai van die Pompidou gaan kyk ons na ‘n tegnologiemuseum, des Arts et Métiers. Hier is die ontwikkeling van kameras, radio’s, motors en nog baie meer agter glaspanele uitgestal. Heel aan die einde kom ons in die kapel by Foucault se pendulum uit wat die draai van die aarde bevestig. Die metrostasie oorkant die pad is ewe tegnies versier met koperplate en duikbooteffek.

Kunswerke, veral beelde, is nie net tot galerye beperk nie. ‘n Besoek aan twee begraafplase het vir my nog stukkies intriges laat ontvou. Hierdie begraafplase is goedversorgd en jy kry ‘n inligtingkaart met die bekendes se name en aanduidings waar die grafte is. Die grafstene trek baie aandag. By Montmartre kry jy name soos Jacques Offenbach, die komponis, en Fernando Sor, die kitaarmusikant. Aan die ander kant van die stad ontdek ek in Montparnasse-begraafplaas ‘n beeld van Brancusi wat Die Soen getiteld is. Hierdie Italiaanse beeldhouer lê ook self hier te ruste. Charles Pigeon het ‘n man en vrou in die bed op sý graf.

In die Katakombes lê ses miljoen mense se beendere en kopbene in rye en rye kilometer lange tonnels.

Nog ‘n laaste besoek ondergronds bring jou by die rioolwerke uit. Hier is nog ‘n stad onder die stad. Parys het ‘n unieke rioolstelsel om die rivier Seine skoon te hou, en daar is meer as 2 000 km tonnels wat die riool wegvoer.

Salon de Thé en die aantal verskillende teepotte wat ek in Parys gesien het, het my nogal geprikkel. Dit lyk my asof tee al is wat van die Engelse hier oorgebly het, want die meeste van die Parysenaars wil nie eens die taal praat nie. In die een teewinkel het hulle ‘n pragtige pop wat daar sit. Toe ek ‘n foto wou neem van al die teepotte op die rakke, het die winkelassistent my amper vermorsel. Die heel mooiste teepotte het ek toe maar op ‘n poskaart saamgebring, want hulle is amper iets soos Dior – ontwerpersitems – en ek mag hulle in geen omstandighede afgeneem het nie.

Van die stukkies geskiedenis wat jou lekker laat rondsnuffel, is wie is waar begrawe. Hier by die militêre museum Les Invalides lê Napoleon begrawe. Hitler het nie ‘n graf nie. Victor Hugo lê by die Pantheon. Marie-Antoinette se tronksel het ons gaan besoek en vir Jeanne d’Arc het ons voor die Sacre Coeur ‘n saluut gestuur.

Die Sacre Coeur is die witste katedraal in Parys en lê dramaties teen die horison bo-op die bult Montemartre – die Bult van Smarte kan jy dit ook noem. Picasso het hier swaargekry, Lutrect se ouma het hom kleintyd al wyn gevoer omdat hy so hiperaktief was, en Van Gogh het ook ellendige dae agter die bult deurgebring.

Die Sacre Couer is met kalksteen gebou. Wanneer dit reën, word die gebou sommer vanself skoon gewas. Daarom dat dit so wit vertoon. Staan onder die boog voor die deur en kyk op, dan sal jy sien hoe vuil dit daar is. Die reën kom nie onder die boë in nie.

Jy sal baie geboue in Parys aantref wat skoongemaak word. Al ooit daaraan gedink hoe hulle dit doen? Veral as jy na die katedrale kyk met al daardie ingewikkelde torinkies, krulle en draaie. Ek het eers gedink hulle gebruik tandeborsels, want dit neem gewoonlik so lank, maar nee, dit is ‘n dun laserstraal wat gebruik word.

By Rodin se museum stap ons in ‘n netjiese Franse tuin rond en besigtig al die beelde. By die ingang stap jy verby The Gates of Hell en tref later Die Denker aan tussen mooi ligroos rose en helder blou lug.

By die Cluny-museum fassineer die tapisserieë my. The Lady with the Unicorn-reeks beeld vyf sintuie uit – gehoor, reuk, sig, smaak en gevoel. Die sesde tapisserie beeld ‘n geheime begeerte van die Lady with the Unicorn. Dit laat jou met ‘n raaisel, want jy kan nie uitmaak wat haar begeerte is nie.

Ons besoek Versailles saam met ‘n toergroep en per fiets. Die gids kom van Texas af en die mannetjie rol sy woorde met so ‘n draalstem. Die paleis in Versailles is baie, baie groot. Ons stop by ‘n opelugmark om piekniekgoedjies te koop en daarna fiets ons deur ‘n woud na die agterkant van die paleis, waar die gids vir ons al die geheime plekkies van die koninklikes, hul minnaars en dies meer wys. Ons hou piekniek langs die watergragte reg voor die paleis. By die paleis kry elkeen ‘n oudiogids en stap jy op jou gemak deur al die prag en praal en skandes en skades van die sonkoning.

Die laaste Sondagmiddag van ons vakansie in Parys woon ons ‘n kerkdiens by. Dit is in die Trinity International Church of Paris, in Rue de Madame naby die Luxemborgtuine. Fred Henry lewer sy boodskap uit Deuteronomium 6:4-9. Dit is ook ‘n doopdiens en twee pare ouers laat hul kinders doop. Die een ouerpaar is kinderloos en vertel van hulle oorwinning om twee kinders uit Madagaskar aangeneem te kry. Die gemeente hier is baie klein, maar kleurvol. Amerikaners, Britte, Chinese, Europeërs, Marokkane en Indiërs aanbid hier almal saam. Hulle het ‘n redelike netwerk onder mekaar en selfs ‘n jeugwerker om na die tieners om te sien.

So kom alle goeie dinge op ‘n einde. Die laaste dag laat ek gou my hare kap by ‘n Franse salon voor ek die treine en busse begin ry lughawe toe.




LitNet: 31 Januarie 2006

Stuur alle bydraes aan reisnet@litnet.co.za en kommentaar na webvoet@litnet.co.za om 'n gesprek op SêNet, ons meningsblad, te begin.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.