Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ons kan nie die mense stop nie — die stede gaan aanhou groei

Chris Heymans

Met ’n groot sug van verligting hoor ek toe die President se aankondiging dat die geïntegreerde landelike-ontwikkelingstrategie ’n stedelike teenwig sal hê: die sogenaamde stedelike-vernuwingstrategie. Maar ’n paar dae later skryf die koerante dat die landelike strategie ’n manier is om die vloei van mense na die stede toe te stop. Gelukkig sê die President nie self so nie, maar dit klink so al asof dié sentiment alte sterk in regeringskringe loop. Indien dit wel die geval is, moet ons sê: wat ’n jammerte!

Dat die landelike gebiede ’n ontwikkelingsinspuiting nodig het, is gewis. Maar dan moet ons die motiewe agter so ’n inspuiting regkry, anders kry ons netnou die hele dosis medisyne verkeerd. Die feite hier in Suid-Afrika en elders toon dat jy nou maar ten ene male nie verstedeliking kan stuit nie. Waar dit probeer is, is die staatsfondse meestal vermors, die doelwit hoegenaamd nie bereik nie, of ’n skewe uitkoms verkry.

Met meer as veertig persent van ons mense in landelike gebiede, en hoë armoedevlakke daar, is daar geen twyfel dat iets gedoen moet word nie. Die ekonomiese bande tussen baie klein dorpies en hul landelike hinterlande het vervaag; die infrastruktuur is gefragmenteerd, of bestaan dikwels glad nie. Mense moet lang afstande loop, of op slegte paaie ry, om by hul bestemmings uit te kom, om toegang tot dienste te verkry. Boonop is daar nog die moeilike kwessies soos grondbesit en grondverbruik wat opgelos moet word.

Daarom is die regering se verbintenis tot ’n landelike strategie gepas, en dit maak sin wanneer jy armoede wil beveg en so wyd as moontlik ’n impak op die verbetering van mense se lewensomstandighede wil maak. Die uitdaging van landelike ontwikkeling het ook etlike fasette: infrastruktuur en dienste moet geïnstalleer word, ekonomiese geleenthede soos produksiefasiliteite en markte ontwikkel en ontgin word, en die sosiale en politieke strukture in landelike gemeenskappe verstewig word.

Maar sodanige ontwikkeling moet uit eie reg plaasvind, met noukeurige aandag aan die ekonomiese en sosiale netwerke wat stede, dorpe en landelike gebiede aan mekaar verbind. Vergeet egter daarvan om daarmee verstedeliking te probeer stuit.

Onthou nou maar net hoe die apartheidsregering vir ’n goeie sewe-en-dertig jaar probeer het om swartmense uit die stede te hou. Hulle het wette, staatsgeweld, intimidasie — noem maar die swaar instrumente waaroor ’n staat kan beskik — gebruik. Maar die mense het bly kom. Teen die tagtigs het die Kaapse vlaktes en die suide van Johannesburg, die buitewyke van Port Elizabeth, trouens die meeste stede en dorpe, heel anders gelyk as wat die instromingsbeheer-profete ons wou wysmaak en met hul arsenaal van beleidsinstrumente en staatsmagte probeer skep het.

Stede is hier om te bly, en hulle vorm ’n sleutelpunt in die ekonomie. Dit beteken nie dat jy net op hulle toegespits moet wees nie, maar dit is noodsaaklik dat hul ekonomiese rol erken en as ’n pilaar vir breëre ontwikkeling benut word.

Ten eerste, vanuit ’n beleidsoogpunt is die tradisionele onderskeid tussen landelike en stedelike gebiede ook nie meer van veel nut nie. Kyk nou maar na Soweto en omgewing, of die Kaapse vlaktes uit na die Strand se kant toe. En suid van Durban loop daar ’n streep nedersettings so vyf kilometer van die kus af, so dig dat jy dit nie landelik kan noem nie, maar buite enige formele stedelike gebied. Hierdie tendense weerspieël dat mense hulself vestig waar hulle geleenthede sien, en dat hulle hulself organiseer om die beste van daardie omstandighede te maak. As jy wil lyne trek in jou beleid teenoor hierdie gebiede, moet jy die onderliggende verbande verstaan en binne jou aksies integreer.

Die meeste Suid-Afrikaners — sowat 64 persent — is “funksioneel verstedelik”. Dit beteken dat hulle óf in stedelike gebiede woon óf sosiaal en ekonomies aan sodanige gebiede verbind is. Suid-Afrika is nie alleen in hierdie opsig nie: na raming is meer as die helfte van die wêreld se bevolking verstedelik, en die stedelike bevolking in sub-Sahara-Afrika groei met sowat ses persent per jaar.

Arm mense in stede sukkel ook om te oorleef: armoede is nie tot landelike gebiede beperk nie. Behuising, werksgeleenthede, kos en sosiale netwerke is dikwels onvoldoende. Dit is ’n werklikheid dat hierdie mense hier is, en jy kan hulle nie summier verwyder nie. Soos ons in die apartheidsjare geleer het, hulle kom meestal terug, selfs al probeer die owerhede hulle deporteer. Van Suid-Afrika se mees kleurryke — alhoewel hartseer — verhale uit daardie tydperk vertel die stories van mense wat in tronke gegooi is, of meer as ’n duisend kilometer weg gedeporteer is, net om binne ’n kwessie van dae terug te wees in die stad. Dikwels is die geleenthede in die stad net beter, selfs al is hulle nie watwonders nie.

Ons moet darem toegee dat die huidige beleidsrigtings klaarblyklik nie die werklikheid van stede heeltemal ontken nie. Die stedelike-vernuwingstrategie onderstreep dit, en verteenwoordig ’n duidelike poging om die lewensomstandighede van arm stedelinge aan te spreek. Hierdie balans moet eksplisiet wees, met volle erkenning dat hierdie gebiede stellig sal bly groei, en dat die staat nie die vermoë het om mense te verhinder om hierheen te verhuis nie.

Daar is egter ook ’n breëre strategiese rede hoekom toegespitste stedelike ontwikkeling ’n prioriteit behoort te wees. En dit gaan nie oor armoede alleen nie. Dit gaan oor die doelgerigte najaag van ekonomiese ontwikkeling, en oor ’n wêreldperspektief op die strategiese rol van stedelike gebiede in ons nasionale ekonomiese ontwikkeling.

Globalisering, oftewel die integrasie van die internasionale ekonomie, beteken dat spesifieke areas hul eie mededingendheid moet opknap om deelname in hierdie internasionale ekonomiese netwerk moontlik te maak. Beleggers kyk deesdae na baie spesifieke kenmerke van plaaslike gebiede, veral stede. Dit maak ’n groot verskil wanneer jou infrastruktuur goed is en goed bestuur word, jou plaaslike belastings gunstig is, en jou geriewe betroubare dienslewering en internasionale toegang vergemaklik.

Deur hierdie strategiese rol van stede te erken en binne hul beleidsrigtings te akkommodeer, het lande soos Australië, Maleisië, Singapoer en Chili ingrypende groeiprestasies bereik, en geleenthede vêr buite stede self geskep. Landelike gebiede baat by sterk stede: dit beteken markte, finansiële vloeie en geleenthede vir opleiding, om maar net enkele van die positiewe effekte te noem.

Daarom moet die stedelike beleid eweneens op ekonomiese ontwikkeling afgestem wees, terwyl daar uiteraard aandag aan die armoedekwessies gegee word. So ’n positiewe benadering berus nie op die valse aanname dat mense uit die stede weggehou kan word nie. Dit erken, inteendeel, dat hul teenwoordigheid daar verder bydra tot die geleenthede wat stede kan skep of ontgin, en dat hulle in elk geval daar sal wees. Jy kan dus maar net sowel die hele ontwikkelingsuitdaging positief probeer aanpak, eerder as om teen die stroom te probeer om mense weg te hou.

Dit is nog ’n bietjie te vroeg om presies te weet wat die regeringsinisiatief rondom landelike en stedelike ontwikkeling dryf, en presies hoe sensitief die inisiatiewe sal wees teenoor die geleenthede wat met stedelike ontwikkeling gepaard kan gaan. Maar dit is belangrik dat die mite dat die vloei na stede toe gestuit kan word, vir eens en vir altyd die nek ingeslaan word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.