Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afrika ná Bob se gemors ...

Chris Heymans

Selde het ek so ’n groot politieke sug van verligting gevoel as toe ek hier in ’n Dar es Salaamse hotelkamer by CNN verneem dat President Mbeki die skorsing van Zimbabwe uit die Gemenebes steun. Vir ’n paar weke nou al sit ek gretig en wag om iets goeds te kry om my laaste rubriek oor te skryf. Maar dit lyk toe al of almal wat die goeie ding moet doen, net nie daar wil uitkom nie. En toe, skielik, is daar ’n waardige Thabo Mbeki op die TV-skerm: eers probeer hy Mugabe tot ’n eenheidsregering oortuig; en toe steun hy die besluit om Zimbabwe uit die Gemenebes te skop.

Na die aanvanklike uitsprake van die President se waarnemers, en wyere Afrika se oënskynlike onvermoë om die kant van demokrasie te kies, was hierdie stap ’n belangrike verskuiwing. Dit herstel ’n mate van waardigheid vir ’n vasteland wat dit dringend nodig het, en gee hoop dat Suid-Afrika darem nie ten volle die morele krag verloor het wat 1994, Nelson Mandela, en baie van die goeie gebeure in die land die afgelope agt jaar, meegebring het nie. Daarom is die steun vir die Gemenebes-aksie teen Zimbabwe so belangrik vir Suid-Afrika en vir Afrika as ’n geheel.

Die Zimbabwe-verkiesing op sigself is nie meer belangrik nie, en wat daar gebeur het, was nouliks ’n verrassing. Vir meer as twee jaar reeds het Mugabe en sy trawante hul verwerping van ordentlike waardes oor en oor bewys, terwyl hulle hul land sistematies ondermyn het. Van demokratiese waardes en ordelike regering was daar nie meer sprake nie: kiesers en burgers se algemene regte is openlik ontneem of ondermyn, daar is met die regstelsel gepeuter, staatsterreur het alledaags geword. Mugabe se selfverryking het onverpoosd voortgeduur; en dink nou net hoe geloofwaardig was die feit dat hy die eerste prys in die lotto gewen het! (Terloops, soos ’n mens van ’n respektabele land kan verwag, koop Thabo Mbeki self nie lottokaartjies nie, omdat dit onvanpas sou wees vir ’n president om dit te doen.)

Boonop het Zimbabwe sy bure erg skade berokken.

Die verkiesing self is wyd en syd veroordeel, en bewerings dat dit op rassisme gebaseer was, was maar flou. Daardie massas wat futiel in die toue in Harare gestaan het, was nie merendeels wit nie. Die mense wat aan die ontvangkant gestaan het toe die staasmasjinerie in volle geweld op hulle losgelaat is, was ook grootliks swart mense.

Maar met die verkiesing gedane sake, was die eintlike kwessie of Suid-Afrika die moed van oortuiging sou toon om wel die wanpraktyke te erken en deel te wees van die internasionale gemeenskap se pogings om iets daaraan te doen. En uiteindelik is dit ’n kwessie van waardes. Trouens, die kruispad waarop ons staan, is uiteindelik juis oor waardes.

Afrika kan nie kompromieë tref oor demokratiese waardes nie. Jy laat óf die kiesers hul sê sê, óf jy doen dit nie. Jy laat óf vrye prosesse toe, óf jy doen dit nie. Jy is óf oop in die regeerproses, óf jy is nie. Jy kan nie net ’n bietjie korrupsie toelaat nie, of ’n bietjie onderdrukking pleeg en dan dink jy kan daarmee wegkom nie. Goeie regering is ’n beginsel, en daarmee speel jy nie.

Ek het reeds voorheen geskryf dat Suid-Afrika belangrike positiewe keuses gemaak het oor die afgelope paar jare. Dit was nie net Mandela-toorgoed nie; nee, Thabo Mbeki het met visie die hele NEPAD-inisiatief geloods, en sy regering sit die werk voort om hierdie ’n beter land te maak.

Daar is foute, en snaakse beleidsposisies. Dinge is ook nie altyd so gemaklik in die suburbs as wat ons dit wil hê nie, en die voortslepende misdaad maak baie mense ten regte erg ongelukkig. Die idilliese lewetjies agter die mure van apartheidskole, en in die afgekampte wit toue by die poskantoor, is daarmee heen. Ons baklei oor MIV/Vigs terwyl ons kinders kan red. Ons skree nog te maklik “ras! ras!” En die breë bevolking het nog nie wat hulle oor gedroom het nie — dit gaan nog heelwat geld en “effort” kos om daar uit te kom. Daar is dringende behoefte aan beter kapasiteit binne staatsdepartemente: hulle het soms die geld, maar nie die vermoë nie.

Maar meer kinders het deesdae toegang tot redelike onderwys, al is dit nie so goed as wat ons graag wil hê nie. Meer mense het toegang tot mediese geriewe, selfs al is die staatshospitale nie op internasionale standaard nie. En al moet ons gedurig koes vir misdadigers, is dit darem heerlik om nie die hele blêrrie tyd te wonder of die veiligheidspolisie jou dalk dophou nie, of dalk nog iets erger met jou gaan doen nie.

Ek leef veel eerder in die nuwe Suid-Afrika as die oue, skete en al.

Maar om dit werklik die moeite werd te maak, moet ons ons waardes uitsorteer. Daar is te veel gedrentel wanneer sulke mamparras soos Mugabe hulle misdrywe pleeg. Ek wou selfs glo dat Suid-Afrika hierdie hele ding vreeslik strategies benader, self al sou die strategie nie so goed wees nie. Maar daar kom ’n punt wanneer jy moet kies, en daardie punt is ongetwyfeld hier bereik.

Dit is onsin om te beweer dat die kritiek teen Mugabe vanuit ’n obsessie met die Weste se goedkeuring spruit. Dit is common sense dat hierdie soort diktatuur nie verdra kan word nie. Suid-Afrika, wat deur soveel pyn gegaan het om self vryheid te bereik, moet dit darem weet en respekteer.

En as dit ooit lyk of ons halfhartig oor hierdie waardes is, gaan ons onsself en die hele Afrika in die gedrang plaas. Daar was ’n tyd toe beleggers outokratiese lande heel gemaklik omarm het. Laat ons ook eerlik wees: met George W Bush aan die spits van die enigste supermoondheid weet jy nie so mooi waar die waardestelsel staan nie. Maar “good governance” is aan die mode word. Selfs wanneer die Enrons en die Andersons ons tref, sê dit nie noodwendig dat wanpraktyke aan die orde van die dag is nie. Trouens, dit gee hoop dat wanpraktyke uitgevang word, dat etiese gedrag nie heeltemal vreemd geword het nie.

As dit die geval is, moet lande wat beleggers wil trek, hul huise in orde kry. Hulle het uiteraard gesonde ekonomiese beleid, goeie infrastruktuur en aanmoediging vir beleggings nodig. Maar hulle moet ook gemoedsrus gee dat hulle fundamenteel stabiel is, en dat jy eerlike en etiese besigheid binne hul grense kan doen.

Juis daarom moet ons hoop dat Suid-Afrika — wat skaars tien jaar gelede darling van die wêreld geword het — ’n leidende rol speel om dit ’n beter plek te maak — ’n plek waar vryheid, verdraagsaamheid en eerlikheid ’n hoop het. In die gesukkel en geskarrel oor Mugabe se ondinge het dit begin lyk of ons hierin gaan faal. Hopelik is die steun vir internasionale aksie teen Mugabe — hoe simbolies ookal — die bevestiging dat ons steeds groot gewig dra waar goeie regering onder die loep kom.


Hierdie Polsslag is die laaste. Chris Heymans gaan eers vir ‘n wyle uitspan. — Uitvoerende redakteur.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.