Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die demokrasie-barometer:
Politieke praktyk in Suidelike Afrika onder die soeklig

Chris Heymans

Die politiek van minstens drie Suider-Afrikaanse lande het opnuut die soeklig op demokrasie binne Afrika en hierdie streek geplaas.

Eens die simbool van rasseverdrukking, het die Suider-Afrikaanse streek algaande sedert 1980 ’n plek van hoop geword. Eers dekolonisering in die 1970’s en 1980’s, gevolg deur ’n lang periode van relatiewe stabiliteit in lande soos Zimbabwe en Namibië, toe die demokratisering van Suid-Afrika en onlangse hervormings in Mosambiek en Malawi — dit alles het net soveel beter gelyk as in so baie plekke elders in Afrika. Die ordelike oorgang tussen presidente Mandela en Mbeki, en selfs die verkiesingsneerlaag van meneer Kaunda, het alles bygedra tot ’n hoopvolle prentjie. Toe die Mugabe-regering verlede jaar ’n grondwetlike referendum verloor, het dit ook gelyk of billike en geordende politieke proses darem nog in ’n mate bestaan.

’n Reeks verwikkelinge het egter opnuut die stand van demokrasie in Suidelike Afrika onder die soeklig geplaas. Soos gewoonlik is dit die gevolg van meer slegte as goeie nuus:

  • Die chaos in die Kongo, die onvermoë van die vorige Kabila-regering om ’n billike werkende orde te vestig, en die groeiende konflik oor landsgrense heen, het die beeld van hierdie deel van die wêreld onmeetbare skade aangedoen.

  • In Zimbabwe was daar eers die stories oor wydverspreide intimidasie tydens die referendum verlede jaar, en die wraakveldtog deur die regering teen teenstanders na die uitslag het vertroue erg geskaad. Toe kom die flagrante aantasting van eiendomsreg met president Mugabe se ondersteuning vir die onwettige invalle op kommersiële plase. Die inperking van opposisieleiers, die huidige aanslag teen die leier van die opposisie, en pogings om die pers aan bande te lê is verdere redes tot kommer.

  • In Zambië het president Chiluba se pogings om die grondwet te buig om homself vir ’n derde termyn aan bewind te hou, vrese van ’n nuwe diktatuur opgejaag. Dat hierdie gevaar nou klaarblyklik in die kiem gesmoor is, is te verwelkom, maar daar is nog maar heelwat skeptisisme oor die president se voornemens. Boonop is die aksies teen die pers en teen opponente van die regerende party steeds tekenend van ’n bewind wat die suiwere waardes waarmee dit in die vroeë negentigs van die Kaunda-regering ontslae geraak het, maar erg gekompromitteer het.

  • In Suid-Afrika het die gerugte en beskuldigings oor ’n komplot teen president Mbeki, die rol van staatsorgane in oënskynlike partygeskille, die geskille oor die rol van die speaker, en die hele ongelukkige wapentransaksie-kwessie ’n wrang nasmaak gelaat. Die land se grondwet is een van die mees besonderes ter wêreld, maar ook hier sal die uiteindelike toets die praktyk wees. Daar is op hierdie stadium nog nie werklik ’n bedreiging vir die heersende party nie, en die funksionering van politieke instellings kan nog foute absorbeer, omdat die meeste mense verstaan dat demokratiese praktyk geslyp word en nie doodgewoon perfek is van meet af nie. Maar dit is belangrik dat positiewe antwoorde duidelik en spoedig kom.

    Teen die agtergrond van Afrika se swak rekord in die handhawing van demokratiese praktyk en menseregte het hierdie verwikkelinge veel meer as blote beginsels-implikasies. Dit sal onvermydelik internasionale vertroue in die vasteland — en die streek — skaad, en dit het natuurlike gevolge vir beleggings, internasionale hulp en dies meer.

    Dit is daarom belangrik dat die indruk van ’n onstabiele politieke klimaat, gekenmerk deur magsmisbruik, gevaarlike konflik en geknouery, en ’n geklou aan mag, vinnig die nek ingeslaan word. Om dit te doen, moet die politieke leiers uiteraard die regte gesindheid hê. Maar dit is eweneens belangrik dat die basiese grondslae van die demokratiese orde in plek moet wees. Suid-Afrika het ’n vars aanslag, en ons reputasie is sterk genoeg dat hierdie uitdaging betreklik eenvoudig behoort te wees. Maar die skade in Zimbabwe en Zambië is reeds groot, en daar sal verreikende aksies moet wees om dinge reg te kry.

    Alhoewel die omvang van wat in die onderskeie lande moet gebeur, verskil, is daar tog sekere fundamentele aspekte waaraan hul almal moet werk, hetsy om ’n stelsel te vestig of te herstel wat in wese demokraties is (Zimbabwe en Zambië), of om te bevestig dat ons wel hier met respektabele demokrasieë te doen het (Suid-Afrika).

    Die pertinente kwessies is:

  • Demokrasie as ’n saak van beginsel: Jy kan nie demokrasie hê sonder ’n basiese respek vir sekere regte en beginsels nie. Mense moet van mekaar kan verskil; groepe en individue moet kan meeding en organiseer vir sodanige medinging; oop regering is noodsaaklik en die publiek het ’n reg om ingelig te wees; die media het ’n basiese vryheid en reg om nuus te versamel en kommentaar te lewer … Dit is ’n kwessie van gesindheid, en dit moet geld of dinge vir jou regloop of nie. Demokrasie verloor betekenis as dit net in plek is wanneer dit die regering pas. Dit gaan oor die reg om te kies, oor verantwoordbare en deelnemende beleidsprosesse, oor respek vir mense se regte — ongeag die onmiddellike politiek van die dag.

    Hierdie beginsels word veral getoets wanneer die waarskynlikheid van verskiesings verloor werklik begin word. Daarom was die Kaunda-Chiluba-oorgang belangrik, en daarom is die Mugabe-regering se tirannie teen opposisieleiers so kommerwekkend. Zambië en Zimbabwe bewys beide dat die ware toets kom wanneer die waarskynlikheid van ’n bewindsverandering groter word. Dit is maklik om demokrasie en verdraagsaamheid te predik wanneer jou party veilig aan bewind is, met ’n groot meerderheid en sonder veel morele bevraagtekening of party-politieke teenstand. Maar wanneer jy dalk die mag gaan verloor, is dit ’n ander saak. Die skynbare onvermoë van Mugabe en Chiluba om onder sodanige druk die gang van demokrasie te aanvaar is dus van die grootste gevaartekens.

    Dit is ook teleurstellend omdat beide so goed begin het. Dink maar terug aan hoe Mugabe in 1980 volgehou het dat jy nie een verdrukking met ’n ander durf vervang nie; en dat Zimbabwe ’n model moet word van hoe ’n eens onregverdige bedeling met ’n nuwe orde van menseregte, ordelike demokrasie and verdraagsaamheid vervang kan word. Destyds was hy natuurlik veilig aan bewind, met weinig opposisie. Nou is dit anders: die bevolking kla dat hul omstandighede nie verbeter het nie; mense is kwaad oor die skending van hul regte namate die veiligheidspolisie al hoe meer onderdrukkend word; en die opposisie het gegroei. Die grootste skande is straks dat die nuwe regering selfs die wetlike wanpraktyke van hul voorgangers wou gebruik om opposisie in die kiem te smoor.

  • Demokrasie as prosedure: Die beginsels verskaf die grondslag vir demokrasie: die proses is krities om te verseker dat daardie beginsels billik toegepas word en dat hulle vir almal geld, selfs onder veranderende omstandighede.

    Die mees basiese proses is verkiesings, maar dit is maar een aspek. ’n Gesonde demokrasie wentel om ordelike regeringsoorgange, die maniere waarop die uitvoerende gesag verantwoording doen aan die verkose wetgewende liggame, die wyse waarop opposisiepolitiek in die stelsel geakkommodeer word, die prosesse van rapportering, die wyse waarop die openbare belang gedien word en korrupsie aan die kaak gestel word, en die openheid van regeerders teenoor media en andere wat hul aktiwiteite ondersoek.

    Grondwette vorm die basis vir hierdie prosedures, en daar kan nie ligtelik veranderinge aan hierdie dokumente gemaak word nie. Maar die toets lê ook in hoe die alledaagse politiek bedryf word. Die Mandela-Mbeki-oorgang is proseduregewys dus van groot belang, en die openheid van die ondersoek na die wapentransaksies sal werklik toets hoe ernstig die verantwoordbaarheidsbeginsel na die praktiese politiek deurgevoer word. Prosedures word gekompromitteer deur inperkings van opposisiegroepe en persmense, doelbewuste pogings om regeringsmense teen openbare ondersoek te beskerm, bewimpeling van verkiesingsprosesse, en die inkorting van die wetgewende gesag se toesighoudingsrol. Hierdie laaste kwessie is prominent in Suid-Afrika, en dit is belangrik dat die status van die parlement as ’n toesighouer duidelik bevestig word.

  • Die staat of ’n prominente individu mag nooit die begin en die einde van alles word nie: Demokratiese state is daar om hul mense te dien; hul regerings is instrumente om dit te bereik. Die regte van individue is die teenwig, en die staat moet binne die raamwerk van daardie regte funksioneer. Daar is altyd die gevaar dat ’n regering bloot na sy eie belang omsien, en dat hy die staat as instrument van daardie belange sien. Op daardie wyse word die ruimte vir dissensie toenemend ingeperk, en dus word demokrasie al hoe meer gekompromitteer. Apartheid het Suid-Afrikaners goed geleer dat paranoia gevaarlik is — die destydse regering het ondermyning agter elke bos gesien; die onskuldigste verset is as ’n daad van hoogveraad behandel. Elders was die ervaring dieselfde: jy sien nou nog die angs in die Russiese politieke kultuur; Watergate was die gevolg van Richard Nixon se paranoia; en die Mugabe-bewind se misbruik van veiligheidsmagte om politieke opponente aan bande te lê is ’n uiterste voorbeeld, en straks een van die sigbaarste bewyse dat die demokrasie nie gesond is in Zimbabwe nie.

    Meer subtiel is dikwels die neiging om individue groter as die stelsel te laat word. Die versoeking hiervoor is veral groot wanneer iemand die vader van die nasie is, die simbool van bevryding. Tipies is dit wat Mugabe probeer doen: hy beskou homself in effek as ’n lewenslange president, met min agting vir die gang van die demokratiese proses. Juis daarom is meneer Mandela se vrywillige uittrede so besonders: dit het ontsaglike geloofwaardigheid aan die Suid-Afrikaanse stelsel gegee en dit is belangrik dat president Mbeki dit bevestig.

  • ’n Aktiewe burgery: Die bevolking moet op hul tone bly, hul regte jaloers bewaak, en nooit toelaat dat enige persoon of organisasie groter as die beginsels en prosedures word nie. Suidelike Afrika het ’n trotse tradisie van sodanige “civil society”, met talle organisasies wat ontwikkelingsaspekte aanspreek of in sekere belange optree.

    Met die koms van demokrasie het baie leiers van sodanige groepe in regeringsposte beland, en baie donateurs het ook begin verkies om met regerings saam te werk, eerder as met hierdie nieregeringsgroepe. Dit is nodig dat baie van hierdie organisasies hul fokus en hul akiwiteite hersien om hierdie veranderde werklikhede te akkommodeer. Vanuit ’n staatsperspektief is dit nodig om aan hulle die ruimte te gee daarvoor. Sonder sodanige stemme van buite die staatsmasjinerie sal demokratiese praktyk kwesbaar wees, en die regering se verantwoordbaarheid sal minder word. Natuurlik moet elke burger verkieslik ook goed ingelig en aktief wees, maar die sleutel tot goeie waghonde lê in die vlak van organisasie wat buite die staat plaasvind om die regeerproses te monitor en kritiek te lewer of ondersteuning te verleen waar nodig.

    Die gebeure en gerugte in Suider-Afrikaanse lande oor die afgelope tyd het vraagtekens laat ontstaan oor die kwaliteit van demokratiese praktyke en die diepte van beginsels oor demokrasie in hierdie deel van die wêreld. Tans is veral die Mugabe-bewind besig om hierdie probleem deurgaans te vererger. Dit is belangrik dat ons weer na die basis kyk van die demokratiese orde wat ons in plek wil sien, en dat daar van binne hierdie lande, asook onderling, stappe gedoen word om die vrae te beantwoord en demokratiese praktyk te versterk.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.