PoësieNet - rondom poësie; nuwe gedigteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
No matter how the replica watches online master series simple and classic, it is swiss replica sale very popular, more importantly, Master Series wrist watch, generally are relatively thin, this table is replica watches only one of the basic blue dial, equipped with cheap replica watches automatic movement 896/1, automatic gold has a hollow.
LW Hiemstra Trust



Wat sou die iimbongi* wees: gepubliseer vs ongepubliseer?

Jo Prins

Self publishing is the ideal way to cripple the grip publishers have on the writer.
— Zebulon Dread

Hoewel dié aanhaling van ons (vir sommige geliefde, vir ander gehate) eie boepens literêre terroris nie nuwe lig werp op die vraag oor waar ’n skrywer sy werk kan gaan voorlê nie, lê hier ’n ander vraag ingebed: Hoeveel mense ag Dread en ander mense soos hy as gepubliseerd? Wanneer, om dié vraag-distillasie verder te neem, word ’n skrywer inderdaad as “gepubliseerd” geag?

In die soeke na die definisie van gepubliseerd teenoor ongepubliseerd blyk hier sprake te wees van ’n sogenaamde moeras. Sekeres meen ’n skrywer het ge-”arrive” — hetsy dit via die internasionale of die binnelandse aankomssaal is — wanneer hy/sy ’n boek uitgee met ’n ISBN op.

Wat van ’n skrywer wat ISBN-loos self uitgee? Wat van ’n skrywer wat in ’n bloemlesing opgeneem is, of wat ’n jeugroman gepubliseer het? Word ’n skrywer as gepubliseerd beskou in die volwasse-prosa-kategorie as hy poësie uitgegee het? En miskien ’n laaste vraag: Is die literêre bedryf — wat self hoogs subjektief in sy keuses is — se kanoniserende rol besig om ’n ander gedaante aan te neem?

Danie Knipe van Oryx skeppende kunste meen dis deesdae blykbaar ’n onbeantwoordbare vraag wanneer ’n skrywer gepubliseerd of ongepubliseerd is.

“Dit wil vir my voorkom asof dit amper met ’n geloofskwessie vergelyk kan word, want terwyl daar van ons is wat nie so lekker verstaan wat aangaan nie (die vir wie daar wel ’n vraag bestaan), is daar die vir wie die antwoord so klokhelder is dat dit moeilik is om te dink dat iemand sukkel om die vraag op te los. En soos met ’n geloof, stem jy saam of jy stem nie saam nie.”

Volgens Knipe is daar “allerhande dinge” wat in die vergelyking ingesleep word. Dinge soos ISBN’s, uitgewers, selfgepubliseerde publikasies, bloemlesings en “enige ander ding om te verseker dat die NB-groep ‘alleen’-reg op publikasies het”.

“Indien ’n skrywer dan enige ander opsie tot publikasie gebruik, word hy as ongepubliseerd beskou op grond van (die bostaande) tegniese punte. Die groot vraag is nie of ’n skrywer gepubliseerd is nie, maar of hy deur NB gepubliseerd is. Vir ’n skrywer om gepubliseerd te wees is daar een enkele voorwaarde: dat hy ’n publikasie beskikbaar stel aan die publiek. En daar is baie ander paadjies wat gevolg kan word om daar uit te kom.”

“Die hele debat gaan oor die enkele stamwoord ‘publiseer’. Indien enige skrywer dus ’n publikasie aan die publiek beskikbaar stel (met of sonder die hulp van ’n uitgewer), word hierdie publikasie as gepubliseerd beskou, wat die skrywer ’n gepubliseerde skrywer maak. Dit is so eenvoudig soos dit. Of is dit?”


Maar die skynbare eenvoud waarna Knipe verwys, blyk net dít te wees: skyn. Vir digter en romansier Joan Hambidge beteken gepubliseerd inderdaad die ISBN-nommer of ’n bloemlesing. Met ander woorde gekanoniseerd.

“Die moeras ontstaan natuurlik wanneer mense hul eie werk self publiseer. Op ’n manier raak hulle tog deel van die sisteem. Maar LitNet-publikasie is nog nie ‘gepubliseerd’ nie. Die internet is nie altyd gehalte-onderskeidend nie.”

In ’n paar “los gedagtes” weet die skrywer Henning Pieterse nie of mens eenstemmigheid oor hierdie kwessie gaan kry nie — “dit bly maar subjektief.”

“Myns insiens is ’n skrywer ‘gepubliseerd’ wanneer hy/sy ’n boek met of sonder ’n ISBN uitgee, asook wanneer hy/sy in ’n bloemlesing verteenwoordig word. Dit het uiteraard met ‘kanonisering’ te doen; wanneer ’n selfgepubliseerde boek ter sprake is, kan die kanoniseerder/samesteller/resensent dit noem dat die teks ‘self uitgegee’ is.”

Dis by genres waar dinge volgens Pieterse “tricky” raak. Hy meen mens kan die genre-onderskeid behou of nie.

“Al ervaring wat ek hier het, was in die De Kat-kortverhaalkompetisie in 1992. Ek is toegelaat om ’n verhaal vir die debuutafdeling in te stuur, alhoewel ek op daardie stadium reeds ’n digbundel gepubliseer het. Die sameroepers het dus besluit dat ‘gepubliseerdheid’ slegs van toepassing is op die prosa-genre.”

Met betrekking tot die internet sê Pieterse is dit “nog trickier”.

“Moet ’n digter as ‘gepubliseerd’ beskou word as hy/sy een gedig op bv Poësienet geplaas gekry het? (Daar loop ’n paar mense rond wat hulle skielik as ‘gepubliseerde skrywers’ beskou omdat ’n gedig of twee op LitNet verskyn het.) Ek is nie seker nie. My gut sê vir my in hierdie geval ‘nee’; as die gedig bv in ’n ‘harde kopie’ (in ’n bundel of bloemlesing), maw in ’n meer ‘durende’ weergawe/vorm verskyn, sou ek die digter as ‘gepubliseerd’ beskou.”

Johann Lodewyk Marais voel in ’n mate soos Pieterse. Hy meen ’n digter kan eers as ’n “gepubliseerde digter” beskou word as sy/haar werk in ’n eie digbundel (met of sonder ’n ISBN) die lig gesien het.

“So ’n gedrukte digbundel behoort ook op die ope mark beskikbaar te wees en elkeen van die pligeksemplaarbiblioteke in die land moet ’n kopie van die bundel hê. Daar moet ook besprekings van die bundel (kan!) verskyn.

“’n Digter kan wel ’n betekenisvolle bydrae tot die literatuur lewer en invloed uitoefen sonder dat hy/sy al ’n bundel gepubliseer het. Sheila Cussons was so ’n voorbeeld voordat sy met Plektrum (1970) gedebuteer het. In my en Ad Zuiderent (samests) se Ons klein en silwerige planeet (1997) is daar onder die “70 vooraanstaande hedendaagse Zuid-Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse dichters” twee digters wat in daardie stadium nog nie ’n eie digbundel gepubliseer het nie. Een van hulle het vanjaar die Ingrid Jonkerprys gewen!”

“Terloops,” sê Marais, “iemand het ’n keer gesê dat ’n digter eers ’n oeuvre het sodra hy/sy drie digbundels gepubliseer het. Nog iets om oor na te dink ...”

Met die klem daarop dat hulle in hul persoonlike hoedanighede reageer en nie as bestuurslede van die Afrikaanse Skrywersvereniging nie, sê Willem Fransman jr en Elias P Nel dat dit nie vir hulle as skrywers vanuit die histories agtergeblewe gemeenskappe gebiedend noodsaaklik is om hul name op die rug van ’n boek te kry nie, “maar om die geskiedenis van ons gemeenskappe te boekstaaf sodat ons die hele gemeenskap ten beste kan dien”. Dit is dus ’n proses wat oor meer gaan as net die boek en die titel as “gepubliseerde skrywer”.

“Die hele gedagte dat jy eers werklik gesien word as ’n gepubliseerde skrywer wanneer jou naam op die rug van ’n boek verskyn, is so verkeerd as wat kan kom. Daar is mos die skool van denke wat te kenne wil gee dat jy nie werklik ’n skrywer kan wees as jy net in bloemlesings opgeneem is nie. Volgens ons behoort net een goue reël te geld, naamlik dat die boek van ’n ISBN voorsien moet word.”

Volgens Fransman jr en Nel is daar “natuurlik” ook nog ’n ander probleem waarmee die histories benadeelde skrywer sit. Hy/sy skryf vir ’n gemeenskap wat nog nie die leeskultuur na behore bemeester het nie. Daarom is ’n maklik leesbare produk wat nie altyd aan die kwaliteite van die hoofstroom-uitgewers voldoen nie, vir hulle wel regverdigbaar.

“Dit is soms die soort publikasies waarmee die gemeenskap kan identifiseer. Dit is dan ook as gevolg van die weiering van die gevestigde uitgewers om werke uit hierdie gemeenskappe te publiseer wat skrywers noop om op eie stoom uit te gee.”

Nicol Stassen van Protea Boekhuis meen dié “eie stoom-uitgewers” kan “waarskynlik” as gepubliseerd gesien word.

“Maar mens moet versigtig wees — die probleem met só ou is daar is geen beheer wat betref die gehalte van die boek en die taalkundige versorging en die voorkoms en so aan nie.”

Stassen meen ’n boek se ISBN-nommer — hoewel ’n “boek dit moet hê” — verleen nie noodwendig legitimiteit nie. “Enige ou wat ’n boek publiseer is eintlik veronderstel om na die staatsbiblioteek toe te gaan en ’n ISBN-nommer te kry — dit verleen nie méér status nie.”

“Die antwoorde is nie altyd eenduidig nie, maar ek dink oor die algemeen sou mens kon sê iemand wat by ’n erkende uitgewery uitgegee het se werk sou bietjie hoër geskat word as iemand wat dit nie gedoen het nie. Maar dit kan bedrieglik wees,” sê hy, en verwys dan na Hans Pienaar se bundel Die taal van voëls.

Maar dis wanneer iemand soos Antjie Krog vir mens sê sy het geen gedagtes hieroor nie, “vermoedelik omdat ek na elke boek dink ek sal nooit weer ’n ander een kan skryf nie en dus nie kan aanspraak maak op die betiteling van skrywer nie”, dat mens aan die een kant jammer voel vir dié skrywer wat nie Krog se insig het nie, óf in verwondering staan vir skrywers wat nog enigsins kans sien om die spreekwoordelike literêre bul by die horings te pak.

“Dit is maar sedert Country of my skull dat Engelse mense begin vra het: van waar Gehasi? dat ek begin sê het ek is ’n poet. Vir die voorafgaande dertig jaar kon ek nooit hardop sê ek is ’n skrywer nie.”

“Dis moeilik om te onderskei tussen gepubliseer en nie,” eggo Krog verskeie ander sienswyses. “Wat sou die iimbongi wees wie se goed nooit opgeteken is nie?”

Die vraag is dus — en hiermee in aansluiting by die geykte vergelyking van “as ’n boom in ’n bos val en niemand hoor dit nie, het dit dan nog steeds geval?”: as ’n boek gepubliseer word — met of sonder ISBN; in watter genre ook al; deur wie ook al; en waar ook al — en niemand lees dit nie, is dit dan gepubliseer?

* Die Xhosa mondelinge digter.


terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.