PaneelklopperArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dan Roodt ry aan die PEN

Deborah Steinmair

Dan Roodt het aangekondig dat hy 'n Afrikaanse tak van die skrywersorganisasie PEN gaan stig. Sommige mense is daaroor positief, aangesien hulle meen dat dit baie vir Afrikaans en Afrikaanse skrywers kan beteken. Ander sê weer dat dr Roodt 'n spesifieke politieke agenda het en beweer dat sy poging Afrikaans en Afrikaanse skrywers skade gaan aandoen, veral in die buiteland. Vir hierdie week se paneelklop vra vyf skrywers en letterkundiges elk 'n paar vrae aan Dan oor hierdie kwessie.

Dan Roodt

vs Ons Paneel:


Willem Fransman, Jaco Botha, Kirby van der Merwe, Robert Dorsman. (Foto van Philip John uitstaande)

Paneel:
Willem Fransman
Philip John
Jaco Botha
Kirby van der Merwe
Robert Dorsman

Willem Fransman (Jnr) is 'n bekroonde dramaturg, digter, prosaïs en akteur en 'n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

1. ‘n Paar jaar gelede op Stellenbosch het Antjie Krog in ‘n toespraak opgemerk: “Die Afrikaner moet altyd koning kraai op sy eie mishoop. En as hy nie ‘n mishoop het nie, dan soek hy vir hom een sodat hy daarop kan koning kraai.” Is die stigting van PEN die mishoop waarna jy soek om ten minste ‘n leier van ‘n klompie teleurgestelde skrywers te kan word?

DR: Antjie Krog is ‘n naïewe Vrystater wat gebreinspoel is om elke Engelse stereotipe van Afrikaners te verinnerlik en haar eie te maak. PEN is geen mishoop nie; dis ‘n internasionale vereniging wat 12 000 skrywers uit alle lande en volke bymekaar bring. Volgens hul Londense woordvoerder is die beginsel wat by PEN geld dat elke afsonderlike letterkunde geregtig is op ‘n eie PEN-sentrum. Selfs ‘n Amerikaanse reisskrywer soos Paul Theroux verwys in sy onlangse Dark Star Safari na Suid-Afrika se “twee letterkundes wat in twee tale geproduseer is”. Indien u na veertig Afrikaanse skrywers, filosowe en literatore van die kaliber van John Miles, Jaap Steyn, John Kannemeyer, Piet Haasbroek, Hermann Giliomee, George Weideman, HP van Coller en ander as “teleurgestelde skrywers” wil verwys, is dit seker u goeie reg. Ek wonder net hoe lyk die nieteleurgestelde skrywers wat onderliggend is aan u vraag?

2. Is daar werklik mense wat soos jy dink, dat julle ‘n aparte skrywersorganisasie wil stig, of is dit maar net nog een van jou vele pogings om jouself nog verder van die Afrikaanse skrywersgemeenskap te isoleer?

DR: Weer eens verwys ek u na die veertig skrywers wat binne ‘n week of twee by die Afrikaanse PEN aangesluit het, vanuit ‘n wye spektrum. En inteendeel: ek voel geensins geïsoleer van die Afrikaanse skrywersgemeenskap nie en is feitlik voortdurend in prikkelende gesprekke gewikkel met dosyne Afrikaanse skrywers en denkers.

3. Is jy bewus van die bestaan van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) en dat hulle sedert 1995 lidmaatskap verskaf aan alle Suid-Afrikaners wat in Afrikaans wil skryf?

DR: Ek is bewus van die bestaan van so ‘n organisasie. Ekself (asook ander skrywers) definieer my nie as ‘n “Suid-Afrikaner” of “nuwe patriot”, of wat mens dit ook al wil noem nie. Die hele gedagte van ‘n Afrikaanse PEN is juis dat ons wil wegkom van ‘n politiekery rondom letterkunde en die universele aspek daarvan wil beklemtoon, tesame met ons verbintenis aan Afrikaans. Omdat Afrikaans grotendeels ‘n staatlose taal geword het, is daar groot behoefte aan internasionale kontak vir ons skrywers en daarom sou lidmaatskap van PEN meer gepas wees. Persoonlik is ek ten gunste van gesprek en kontak tussen alle skrywers in die land, waar dit sinvol is. Dit geld ook die verskillende skrywersverenigings van die verskillende taalgroepe, of op watter basis skrywers ook al met mekaar wil assosieer. Dit sou sekerlik onwenslik wees dat alle skrywers in die land onder ‘n verpligting sou verkeer om aan ‘n enkele skrywersvereniging soos die Sowjetskrywersvereniging in die voormalige Sowjetunie te behoort. Dit sou ook moontlik wees vir skrywers om aan meer as een vereniging te behoort, na vrye keuse.

4. Verlede jaar is in Potchefstroom, tydens die Aardklopfees te Nooitgedacht, ‘n besluit deur Afrikaanse skrywers teenwoordig geneem dat die ASV die enigste skrywersorganisasie sal wees wat namens die Afrikaanse skrywer sal optree en onderhandel. Waar was jy toe, want ons verneem dat jy wel uitgenooi was?

DR: Sover ek kan onthou, is ek nie uitgenooi nie. Ek het uit my eie navraag gedoen by Hans du Plessis daaroor, maar is weens ander verpligtinge daarvan weerhou om dit by te woon. Enige skrywersorganisasie kan slegs namens sy eie lede optree en onderhandel, en nie namens “die Afrikaanse skrywer” nie, tensy alle Afrikaanse skrywers lid is van dieselfde organisasie.

5. Indien jy wel bewus is van die ASV, is die stigting van ‘n Afrikaanse arm van PEN dan ‘n doelbewuste poging om ‘n wig in te dryf tussen bruin en wit Afrikaanse skrywers?

DR: Hoegenaamd nie. Dit is vir ons belangrik om die Suid-Afrikaanse pigmentasiebewustheid te oorstyg as dit by letterkunde kom en daarom word daar geen rasseklassifikasie by die Afrikaanse PEN toegepas nie. Al waaroor dit gaan, is ‘n liefde vir die Afrikaanse letterkunde. Sommige bruin intellektuele, soos Hein Willemse, bevraagteken egter die bestaan van die Afrikaanse letterkunde en sien dit as ‘n sogenaamde “kunsmatige skepping van Afrikaner-nasionalisme” en daarom verdag. Dit is nie te sê dat Hein Willemse nie welkom is om by die Afrikaanse PEN aan te sluit nie, maar waarskynlik sal hy meer tuis voel in ‘n Engels-Suid-Afrikaanse omgewing waar die Afrikaanse letterkunde ook baie min erkenning geniet, in so ‘n mate dat dit vrywel geïgnoreer word.


Philip John (deeltydse dosent aan die Universiteit van Port Elizabeth)

1. Dink jy Afrikaanse skrywers het ondersteuning en hulp nodig?

DR: Baie beslis. Ek dink dat die staat, soos die gebruik is in ander lande, vertalings van buitelandse werke in Afrikaans behoort te subsidieer. Ook literêre tydskifte behoef ondersteuning van die staat soos dit in die ou dae die geval was met die RGN en Nasionale Opvoeding. Om van die Akademie en ons Woordeboek nie te praat nie! Volgens wat ek verneem, ondervind die WAT ‘n gebrek aan fondse en gaan dit nog R30 miljoen kos om te voltooi. Dit is eenvoudig skandalig dat die SA staat nie ons taal en ons letterkunde wil ondersteun nie, terwyl Afrikaanssprekendes ongeveer 36 persent van die belastings in die land betaal. Maar die grootste ondersteuning wat die staat ons kan bied, is eenvoudig om te sorg dat ons kinders die skoolbanke geletterd en met ‘n kennis van ons letterkunde verlaat. Iets wat tans helaas nie meer die geval is nie!

2. Hoe is 'n Afrikaanse tak van PEN versoenbaar met PEN se bevordering van die belange van skrywers op 'n niesektariese grondslag?

DR: Ek dink u moet u eers op hoogte stel van PEN se grondbeginsels en handves voordat u so ‘n vraag vra. Artikel 1 van die PEN-handves stel dit baie duidelik: “Literature, national though it be in origin, knows no frontiers, and should remain common currency between nations in spite of political or international upheavals.”
Ons het die handves reeds in Afrikaans vertaal, maar ten einde geen onduidelikheid te laat nie, word dit hier in die amptelike Engels aangehaal. Letterkunde is “nasionaal van oorsprong”, wat ook impliseer dat dit in verskillende tale geproduseer word. Letterkunde moet ‘n gemeenskaplike medium tussen volkere bly, ongeag die politiek. In Suid-Afrika word die Afrikaanse letterkunde tans om politieke redes misken omdat dit draer sou wees van ‘n ongewenste identiteit. Internasionale PEN sou juis ons reg op ‘n eie taal en eie letterkunde wou verdedig téén die sentralistiese wense van die SA regering. Een van PEN se oogmerke is juis die bevordering van letterkundes in kleiner tale soos Afrikaans. Daar bestaan, benewens ‘n Spaanse PEN, ook ‘n Katalaanse, naas ‘n Waalse, ook ‘n Vlaamse, ens.

3. Waarom, dink jy, is dit so 'n probleem vir soveel Afrikaanse denkers, of beter, meningsvormers, om Afrikaans te bevorder en het hulle klaarblyklik min of geen probleme met die bevordering van die heersende ideologie van eenheid en (statisties-bepaalde) gelykheid nie?

DR: Ek is nie seker dat ek dié vraag reg begryp nie. Ek aanvaar u bedoel dat daar min Afrikaanse denkers/meningsvormers is wat Afrikaans verdedig en baie wat die eenheidsideologie en demografiese verteenwoordiging wil bevorder, soos byvoorbeeld prof Willie Esterhuyse en sy 112 sakemanne en akademici. Ek dink dit word verklaar deur die intellektuele lafhartigheid van ‘n groot aantal sulke meningsvormers, wat die mag volg eerder as om dit te bevraagteken. Vir my is ware denke soewerein en behoort dit nie in diens van enige maghebber te staan nie.

4. In 'n onlangse Mail & Guardian word die Franse kleinboer-leier Jose Bove soos volg aangehaal: "There are no preconceived ideas. Those days have gone – thank goodness – when popular movements were slotted into theoretical constructs." Het jy enige kommentaar op hierdie uitspraak, veral miskien met betrekking tot jou eie idees oor politiek of
politieke aksie?

DR: Ja, ek dink ons verkeer wêreldwyd in onbekende waters. Verandering is besig om ons te oorweldig, tegelyk globalisering en die inligtingsrevolusie. Fukuyama, wat eens verwys het na die einde van die geskiedenis, praat nou van ons “postmenslike toekoms”. Ek dink een van die armoedigste begrippe van die negentiende en twintigste eeue was dié van regs-links wat vir baie mense ‘n fasiele manier was om ‘n beweging te kategoriseer en in ‘n kassie te plaas. Vandag wentel die konflik nie meer om “wat jy glo”, maw ‘n ideologie nie, maar om “wie jy is”, maw ‘n beskawingsbotsing of “Kulturkampf”. Dit verteenwoordig ‘n postideologiese omgewing. Ons sien dit oral in die wêreld, maar ook en veral in Suid-Afrika.
Voorheen was propaganda ‘n onderdeel van oorlogvoering. Vandag is propaganda waarskynlik belangriker as oorlogstuig self. Soos dit in Engels gestel word: “wordfare not warfare”. Vir my behels politieke aksie om betrokke te raak by die propaganda-oorlog wat onverpoosd rondom ons woed. As dit egter om letterkunde en kuns gaan, sou ek wou sien dat ons, soos die PEN-handves ons versoek, ‘n skietstaking aangaan en probeer om nie bewustelik leuens en disinformasie te versprei nie – iets wat in ‘n gepolariseerde land soos Suid-Afrika nogal moeilik is, maar nogtans dink ek dis die moeite werd om te probeer. Soos Margaret Lee Runbeck egter gesê het: “Daar is niks wat so formidabel is soos die waarheid nie.” Maar daar is ook ‘n ou Jiddisje spreekwoord wat lui: “’n Halwe waarheid is gelyk aan ‘n hele leuen.”


Jaco Botha het verskeie artikels, prosa en gedigte in Suid-Afrika en Nederland gepubliseer. Sy mees onlangse publikasie is ’n bundel kortverhale getiteld Sweisbril en word uitgegee deur Human & Rousseau


1. Op PRAAG, waarvan jy die sturende lid is, verskyn daar vir my kommerwekkende artikels soos “Dr HF Verwoerd: Monster of edelman?”; deur Sydney Gregan, waarin iemand soos Hendrik Verwoerd se lof besing word . Dan is daar ook sekere van jou eie uitsprake wat ‘n ras-elitisme propageer. Aan die ander kant is daar jou vroeëre werk en was jy ook betrokke by Kleinboer se Kontrei-boek, wat eerder weer ‘n ander wêreldblik uitdra. Waarin glo Dan Roodt? Vyf persoonlike kernwaardes.

DR: Ek vind hierdie reeks stellings tendensieus en eintlik ongevraag. Dit klink soos ‘n inkwisisie wat teen my gevoer word en, ek moet sê, dit verraai iets aangaande die revolusionêre Zeitgeist in Suid-Afrika, waar elke “citoyen” of “kameraad” veronderstel is om sy ideologiese suiwerheid te openbaar. Amusantheidshalwe antwoord ek daarop.

Die artikel waarna u verwys, verskyn onder die rubriek “Opstelle” op die PRAAG-webwerf, wat voorsien is van die volgende waarskuwing: “Die menings wat binne hierdie en ander debatsruimtes op die PRAAG-webwerf uitgespreek word, verteenwoordig nie die amptelike beleid van PRAAG of opinies waarmee ons ons noodwendig vereenselwig nie.” Mag ons nie oor Verwoerd, ‘n vorige eerste minister van Suid-Afrika en stigtersredakteur van Die Transvaler, debat voer nie? By Protea het ‘n hele boek verskyn, Verwoerd, so onthou ons hom, met bydraes deur Mimi Coertze en ander persoonlikhede, juis oor Verwoerd. Ek is geen klakkelose bewonderaar van Verwoerd nie, maar tesame met Hermann Giliomee verwerp ek enige poging om hom as ‘n geweldenaar, massamoordenaar, Stalin, Hitler, of enigiets van dié aard uit te beeld, as absurd. Onlangs het ‘n Engelse skrywer, Christopher Hope, wat ook iewers voorgee om ‘n Suid-Afrikaner te wees, Verwoerd in daardie terme probeer verguis.

Ek kan nie onthou dat ek al ooit enigiets kwytgeraak het wat hoegenaamd neerkom op ras-elitisme nie. Daar gaan egter nie ‘n dag verby dat ons nie in die koerante lees van “wittes” en “swartes” nie. Wat sou dit beteken, indien dit nie spreek van ‘n rasbewustheid by die meeste Suid-Afrikaners nie? Wil u beweer dat ons nie daarvan moet kennis neem in ‘n land wat hom meer as ooit op ‘n rassegrondslag, sowel in die politiek as in die ekonomie, organiseer nie?

Waarin glo ek? Bowenal in dinge wat bewys kan word, of bewys is: die aarde is rond, die son is ‘n bal waterstof en helium wat onder sy eie massa reageer en daardie selfde aarde bestraal, ens. Die vyf waardes wat ek in ander mense bewonder, en wat ek graag my eie sou wou noem, is: eerlikheid, moed, lojaliteit, intelligensie en trots. Maar niemand hou seker van ‘n oneerlike, lafhartige, verraderlike, dom kruiper nie …

Wat Kleinboer se Kontrei betref, dink ek nie dat dit enige spesifieke politieke of morele ideologie verkondig nie, behalwe miskien dié van Cecil John Rhodes wat gesê het: “Elke man het sy prys.” Kleinboer glo “elke vrou het haar prys”. Sy voorstelling van Yeoville en die swart wêreld verskil ook nie veel van gangbare opvattings nie, naamlik dat geweld, wetteloosheid en promiskuïteit ‘n integrale deel van daardie omgewing uitmaak. In daardie opsig bly Kleinboer seker ‘n Afrikaner malgré lui.

2. Skryf is ’n eensame aktiwiteit wat mens maar alleen op jou boude moet beoefen. Waarin lê die waarde van ‘n skrywersvereniging vir jou?

DR: Die uitruil en kruisbestuiwing van gedagtes, die medewerking aan ’n gemeenskaplike doelwit wat die bevordering van die Afrikaanse taal en letterkunde is. Dit is ook baie naïef om te dink dat skryf, soos masturbasie, ’n aktiwiteit is wat op eie houtjie verrig word! Die literatuurteorie van die twintigste eeu, vanaf die Russiese Formaliste, het juis aangetoon dat skrywers in ’n groot mate met tweedehandse stof omgaan, dat hulle bloot herskryf wat reeds geskryf is. Taal is ’n kollektiewe medium waardeur ons omring word van ons geboorte af. Die skrywer skryf nie net in ’n bepaalde taal nie, maar ook binne ’n bepaalde tradisie. Dit is min of meer wat Julia Kristeva met die term interteks bedoel het.

3. Taal is kommunikasie, maar ook kenmerkend van kultuur. Wat sien jy as die kern-kultuurwaardes van Afrikaans? Veg jy bloot vir die oorlewing van gemaklike kommunikasie, of dalk vir iets heeltemal anders?

DR: Ek is geneig om met die hoofkarakter in JM Coetzee se Disgrace, wat Uitgewery Praag in Afrikaans wil publiseer, saam te stem dat taal veel meer as blote kommunikasie behels. Toe ek jonk was, is ek gefassineer deur die Lacaniane wat taal as ’n “lyf” of “liggaam” gesien het. Roland Barthes, oor wie ek op die ouderdom van 23 ’n MA-verhandeling geskryf het, het natuurlik ook hierdie idee verkondig.

Nou die dag ontvang ek ’n e-pos van iemand in Stellenbosch wat haarself as ’n “filoloog” beskryf in die letterlike sin: “’n liefhebber van woorde”. Ek het onmiddellik geantwoord dat ek myself ook só sien, en haar vertel van al my woordeboeke, onder andere van my nuwe Franse woordeboek, die Grand Robert in ses dele, waarvan die hardebande met pragtige tipografie op roomkleurige papier met rooi sy oorgetrek is, dit alles in ’n coffret of boekkassie wat insgelyks met rooi sy oorgetrek is en onderlangs met fluweel van dieselfde kleur uitgevoer is. Taal is nie kommunikasie nie, dis plesier, liefde, hartstog, selfs oordaad. Ná alles kon ons ewe maklik in Morsekode gekommunikeer het of in die masjientaal van rekenaars, die binêre kode van nulle en ene.

Wat Afrikaans betref was ek onlangs vir die eerste keer naby aan sluitingstyd by die Taalmonument in die Paarl. Ek was nie bewus daarvan dat die monument Van Wyk Louw se beroemde uitspraak oor Afrikaans, dat dit ’n brug slaan tussen Europa en Afrika, vergestalt nie, wat seker wys hoe onkundig ek is. Daar is min wat ’n mens kan byvoeg sover dit Louw se tipering van Afrikaans betref, dat dit ’n kultuur verteenwoordig in die tussengebied tussen twee groot kulture: dié van Europa en dié van Afrika.

Ek veg eintlik vir vryheid van spraak en van assosiasie, twee van die Europese Verligting se kernwaardes. Die Afrikaanse kultuur is onlosmaaklik verbind aan die taal. Wat roep dit by my op? Aardsheid, sensualiteit, ’n vryheidstrewe, ’n sekere askese of stoïsisme, die legendariese Boeregasvryheid, ’n viriliteit soos wat Tacitus in die Germane bewonder het, maar helaas ook: Calvinisme, moralisme, kleinlikheid, na-apery van alles wat Engels is, Schwärmerei.

4. Sien jy Afrikaanssprekende bruin mense as Afrikaners?

DR: Ek het dit eenkeer in Rapport geskryf, maar ek dink ek was naïef. Verwoerd het die bruin mense as ’n “volk in wording” beskryf, en miskien was hy reg. Ek lees graag die bruin rubriekskrywers in die Afrikaanse koerante, en hoewel ek met weinig saamstem wat hulle skryf, val dit my tog op dat hulle dikwels na hul eie skrywers, musici, toneelspelers, of politici verwys. Soos Afrikaners ly hulle ook onder die gedwonge assosiasie met swartes op alle gebiede en bespeur ek dieselfde begeerte om hulself te wees, net soos by die Afrikaners. Maar ek glo nie dat bruin Afrikaanssprekendes hulleself baie gou as Afrikaners sal sien nie. Afrikanerskap is ’n baie strydbare identiteit, wat vanweë ons kolonisering deur ’n wêreldmoondheid in die negentiende eeu dikwels met passie verdedig moes word. My vriend Carel van der Merwe van Stellenbosch sê altyd dat die bruin mense van die Kaap die Italianers van Afrika is: Hulle beskik oor ’n joie de vivre, ’n lewenslus en humor, wat die gemiddelde Afrikaner nie beskore is nie. Ons is veels te ernstig, te idealisties, te intellektueel of selfs te serebraal. Daarom kan ek verstaan dat hulle nie graag Afrikaners wil wees nie, en die omgekeerde geld seker ook.

5. Ek is iemand wat glo in ‘n kritiese alternatiewe denkgees. Iemand wat nie deur sosiale modes meegesleur word nie. Ek is egter ook iemand wat vas glo in vryheid, gelykheid en menseregte. Om eerlik te wees ervaar ek jou as daai ou wat op ‘n eiland uitspoel en dan vra: “Is hier ’n regering?” Indien die antwoord “ja” is, sê jy: “Ek is daarteen.” Deur dit wat ek al van jou gesien en gelees het, ervaar ek jou as iemand met ’n streaker-mentaliteit, wat daarvan hou om gesien te word, ten enige koste. Wat sou jy sê om my negatiewe persepsie van jou te verander?

DR: Ek kan sien dat u ‘n filosoof is met gewigtige beginsels. Vryheid en gelykheid is groot kwessies wat die wêreld se denkers nou al eeue lank besig hou. Dit is ook begrippe wat bloedige oorloë en revolusies ontketen het. Dink maar aan 1789 en die Napoleontiese oorloë wat Europa in puin gelê het. Of aan 1917 en Stalin se strafkampe, die koelaks …

Een van die sogenaamde “antihumanistiese” filosowe in Frankryk, Michel Foucault, het op ‘n stadium kritiek op menseregte gelewer toe hy gesê het dat dit van belang geraak het op dieselfde tydstip as wat die mens vir die eerste keer voor die moontlike ramp van totale uitwissing deur ‘n kernoorlog in die sestigerjare gestaan het. Daar is daarom iets paradoksaals omtrent “menseregte”. Waarom nie ook “diereregte” of “primaatregte” nie? Die dag as taalregte in Suid-Afrika eerbiedig word, sal ek miskien ook minder pessimisties raak oor menseregte.

Of ek aandagsoekerig is? Glad nie. Dit gebeur feitlik nooit dat ek ‘n joernalis bel nie, behalwe as dit daarom gaan om ‘n boek bekend te stel. Hulle bel mý altyd eerste. My teorie is eenvoudig dat Suid-Afrika ‘n land van vervelige mense geword het, wat een en almal ‘n gestandaardiseerde taal praat, dit wat die Franse ‘n langue de bois noem. Ons mag nog nie ‘n totalitêre samelewing wees nie, maar ons taal en die clichéagtige uitdrukkings wat ons gebruik, toon reeds al die eienskappe van ‘n maatskappy waar ware vryheid, die vryheid om te dink en om te verskil, afwesig is. Daar is heelwat mense wat my blykbaar sien as iets sonderlings omdat ek eenvoudig nog nie “ingebreek” is nie, en dit durf waag om my eie woorde te gebruik, pleks van die langue de bois. Ek dink dit was ZB du Toit van Rapport wat eenkeer vir my gesê het, met sy bry-r: “Dan, omtrent alles wat jy sê of doen, is nuuswaarrrdig!” Markus de Jong, eienaar van ‘n destyds legendariese boekwinkel in Braamfontein, het altyd gepraat van “buite verband”. Ek sou sê dat ek nie soseer “anti” is nie, maar eerder dat ek “buite verband” is.

Maar om u vraag direk te beantwoord … As ek môre in Suid-Afrika uitspoel en iemand vra my: “Is hier ‘n regering?” sou ek baie moeilik “ja” kon antwoord. Feit is, hierdie land word in vele opsigte nie meer regeer nie, soos baie mense wat nog in die staatsdiens werksaam is, aan u sal kan bevestig.


Kirby vd Merwe is 'n skrywer, 'n beeldhouer en ’n skilder. Sy debuutroman Klapperhaar slaap nie stil nie verskyn in 1999 by Kwela.


1. Waarom spesifiek ‘n Afrikaanse PEN stig, as hierdie organisasie reeds in Suid-Afrika bestaan?

DR: Toe ek aanvanklik aan die gedagte van ‘n Afrikaanse PEN gekom het, het ek kontak opgeneem met die sogenaamde South African PEN in Kaapstad om hulle mening oor die saak te toets. Die hoof van South African PEN het geen beswaar daarteen gehad nie, en kon insien dat die kwellinge van Afrikaanse en Engelse skrywers in Suid-Afrika hemelsbreed verskil. Ná alles word Engels as taal nie in Suid-Afrika bedreig nie: hulle verwyder nie Engelse boeke uit universiteitsbiblioteke om hulle te verpulp of gooi argiefmateriaal op die ashoop of verbied mense om Engels by die werk of op die skoolterrein te gebruik soos by die Cornwall Hill-skool met Afrikaans gebeur het nie. Sover ek weet, is geen Engels-departement aan enige van die universiteite nog ooit gesluit nie.

Die situasies van Engels en Afrikaans in Suid-Afrika verskil radikaal. Ook is hulle nie onderling verstaanbaar nie, sodat ons moeilik sonder tolke kan kommunikeer of sonder om een taal soos Engels te laat oorheers. Ons literêre tradisies is werklik heel uiteenlopend en daarom maak dit sin om minstens twee PEN-sentra in die land te hê. As ek reg verstaan, is die maksimum wat PEN Internasionaal per land toelaat, vyf. Indien die skrywers wat in die ander SA tale skryf, dus nie gou spring nie, gaan iemand iewers agterbly …

2. Wat is die simboliek van Kerkplein as lokaal vir die eerste vergadering?

DR: ‘n Paar van ons is gewoond daaraan om in die Ou Raadsaal op Kerkplein te vergader, ‘n manjifieke ou gebou uit die dae van die ZAR. Soos dit toe op 5 Junie gebeur het, is ons nie toegelaat om daar te vergader nie, hoewel ons die lokaal bespreek en vooruit daarvoor betaal het. Die plaaslike tak van die ANC het eenvoudig voor ons opgedaag en sonder om te bespreek of te betaal vir ons as ’t ware laat verstaan dat “die baas” nou hier is en dat ons maar iewers anders moet vergader. Sedertdien weier die sogenaamde Metroraad van sogenaamde Tshwane om ons geld terug te gee, al het ons nie die saal kon gebruik nie. Praat van simboliek! Die ondergeskiktes, klase, tweedeklasburgers, of wat jy ons ook al wil noem, het toe maar die aftog geblaas en by Café Riche vergader. Die Afrikaanse PEN is dus in dieselfde saal gebore waar die Afrikaanse Filosofiekafee gewoonlik gehou word. (Terloops, die volgende Filosofiekafee vind op 30 Julie plaas en word aan my roman Moltrein gewy, waar ons op al die wysgerige aspekte wil ingaan, van die Romantiek tot Walter Benjamin se Passagenwerk, asook Kant en Swedenborg.)

3. Watter versekering het skrywers wat by die Afrikaanse PEN sou aansluit dat die organisasie nie vir ‘n politieke agenda gekaap gaan word nie?

DR: Die Afrikaanse PEN word gebind deur die beginsels van PEN Internasionaal, wat in wese ‘n niepolitieke organisasie is. Persoonlik sou ek wou hê dat ons politiek eerder nie vanuit PEN bedryf nie, maar vanuit ander organisasies wat meer geskik is daarvoor. Ek dink dat ons binne PEN moet fokus op die bevordering van letterkunde, ‘n leeskultuur, vertaling, boeke en alles wat daarmee saamhang. Hier en daar sal ons seker ons stem moet dikmaak oor die gebrek aan aankope van biblioteke, die regering se afsydigheid teenoor die boek, en dergelike meer, maar in die geheel dink ek nie dit sal ‘n groot deel van ons aktiwiteite of verklarings uitmaak nie.

4. PEN beywer hom internasionaal vir die regte van skrywers in die gevangenis. Hoe vereenselwig jy jou politieke uitsprake (wat op skrif gestel is) met die regte van skrywers in Suid-Afrika wat nie Afrikaans is nie, as hulle dalk in die tronk sou beland?

DR: PEN Internasionaal, soos Amnestie Internasionaal, veg vir die regte van alle skrywers in die tronk, ongeag hul afkoms of taal. Dit sal net natuurlik vir ons wees om dieselfde te doen, met spesifieke klem op Afrika, waar soveel skrywers gesensureer of opgesluit word of selfs opgehang word, soos Ken Saro-Wiwa van Nigerië. Vryheid van spraak in Zimbabwe is ‘n ander probleem wat ons aandag behoort te geniet. Aan die ander kant mag daar ook ‘n dag aanbreek dat Afrikaanse skrywers in die tronk mag beland, soos Breyten Breytenbach onder die vorige bewind. In daardie geval sal ons hopelik dieselfde steun van ons medeskrywers in ander lande ontvang. In samehang met wat ek hier bo gesê het oor die postideologiese wêreld waarin ons leef, is die vernaamste rede waarom ‘n skrywer vandag tronk toe gaan, nie meer sy geloof of sy politieke oortuigings nie, maar gewoonlik agitasie vir ‘n eie taal, kultuur of staat. Wêreldwyd bestaan daar meer as 900 van hulle wat hoofsaaklik om daardie rede in die gevangenis verkeer.
Die parallel met ons situasie is, soos hulle sê, frappant. Daarom sien ek lidmaatskap van ‘n Afrikaanse PEN ook as ‘n vorm van versekering vir ons wat ons dalk in die toekoms gaan nodig kry as hierdie regering besluit dat hy nou finaal genoeg gehad het van mense wat aanhou om “voor te gee” dat hulle tot ‘n aparte taalgroep behoort ...


Robert Dorsman is bekend as vertaler van Suid-Afrikaanse skrywers soos Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Charl-Pierre Naudé en Etienne van Heerden. Hy woon in Utrecht, Nederland.

Ik heb maar een (1) vraag, goed zo? De internationale PEN is een beweging die sterk gekant is tegen racisme. Verreweg het meeste werk van de PEN ligt op het gebied van de mensenrechten (bestrijding van censuur, steun aan schrijvers en dichters in gevangenissen). Van alle PENleden wordt verwacht dat zij zich meer dan actief inzetten tegen rassenhaat en onderdrukking en exclusiviteit. Hoe denkt Roodt met zijn eenzijdige, op exclusiviteit en splijting gerichte anti-houding ooit met de hand op zijn hart het charter te kunnen onderschrijven, zoals van alle leden van de internationale PEN wordt verwacht? Kortom: Hoe denkt Roodt met zijn plannen ooit een geloofwaardig lid te kunnen worden van een wereldwijde organisatie die precies het tegenovergestelde beoogt van wat Roodt cs voorstaat.

DR: Sover dit die aanklag van “eksklusiwiteit” betref, is ons mense in Afrika moontlik maar ewe skuldig daaraan as Hollanders of ander Europeërs. Daar bestaan reeds ‘n “African PEN Centre” wat in Londen geleë is, spesifiek vir “mense van Afrika-afkoms”: “African Writers Abroad Centre of International PEN, the world association of writers, is a membership organisation for writers of African descent who live outside the continent.” Anders as AWA, is die Afrikaanse PEN egter nie gerig op “Afrikaanse skrywers van Europese afkoms” nie, maar op alle Afrikaanse skrywers.

PEN Internasionaal, hoewel in Londen gesetel, is buitendien geen Britse Empaaier of ander universele ryk met één taal, één koningin, één vlag, ens nie. PEN hou hom daarbenewens besig met die bevordering van kleiner tale en was verantwoordelik vir die opstel van ‘n Universele Verklaring van Taalregte waaroor kortliks só berig word op hul webwerf:

The Programme and Translation Committee, since renamed the Translation and Linguistic Rights Committee, was set up at PEN's 43rd International Congress, held in Stockholm in 1978, with the double task of co-ordinating PEN's international programme of meetings, and of encouraging the translation of literature written in languages of lesser currency, both into world languages and into other lesser-known languages.

[...]

Another major aspect of the Translation and Linguistic Rights Committee’s work has been to assist in the preparation of a Universal Declaration of Linguistic Rights, which was initiated by the Catalan PEN Centre.
Language is a distinguishing feature among human beings. The language ordinarily used by a community forms the basis and justification of that community: each person has the individual right to use his own language; and each linguistic community has the collective right to use its language. This has been one of the simplest and clearest of principles throughout history; but because of it, failures of understanding have been used as an excuse for conflicts of such violence that thousands of languages have been destroyed, together with their communities and cultures, for the benefit of a small number of dominant languages and their concomitant cultures. Today, with the revolution in technology and the ease of world-wide communication, many languages are in danger, and there is a prospect that most of the world’s languages are on course for extinction in the name of the efficacy, the progress, the internationalization of culture and civilization.

Wat vir my baie aantreklik is van PEN, is dat die idee van ‘n universele kunsvorm soos letterkunde so goed gerym word met ‘n verdediging van die regte van individuele skrywers om hul tale te gebruik, asook die kollektiewe reg van elke taalgemeenskap om sy taal te gebruik, soos dit uitdruklik hier bo gestel word. Logies volg dit dat die skrywers van elke taalgemeenskap oor die reg beskik om met mekaar te assosieer en hul eie kollektief te vorm, anders as wat Stalinistiese of Brits-imperiale sentralisme byvoorbeeld sou wou hê.

Soos ons almal, is PEN sekerlik gekant teen rassehaat, waarskynlik ook teen rassehaat jeens blanke Afrikaners, waarvan die huidige bestel nie vry te spreek is nie. Dink maar aan “Kill a Boer, kill a farmer”. Sou PEN die skrywer se vryheid van spraak om die begrip ras in sy werk as ‘n tema of besprekingspunt te hanteer, wou inperk? Ek twyfel. In Suid-Afrika word daar ‘n wet beoog wat enige bespreking van rasverskille tot “haatspraak” gaan verdoem. Ons stuur dus af op die absurditeit van ‘n wet wat enige bespreking van die belangrikste kriterium wat byna al ons arbeidswetgewing, asook die amptelike interpretasie van ons geskiedenis kenmerk – om van die samestelling van sportspanne op ‘n kwotabasis nie te praat nie – onwettig gaan maak ... Waarskynlik gaan dit ook ontoelaatbaar wees om iemand van “rassisme” te beskuldig, want impliseer dit nie ook “verskillende rasse”, in die sin van die een ras se vooroordeel teenoor ‘n ander nie?

Hoe dit ook al sy, is ek oortuig daarvan dat ons eerder vroeër as later PEN se volle arsenaal ter verdediging van ons vryheid van spraak, asook ons kollektiewe taalregte, gaan nodig kry

LitNet: 12 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.