oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afrikaanssprekendes moet in vennootskap tree met die sprekers van ander inheemse tale

Jason Lloyd

Die verbintenis van taal en politieke mag is al deur een van die eerste moderne grammatici, ‘n Spanjaard, in die jaar 1494 geformuleer; in Engelse vertaling: “Language is the perfect instrument of Empire.”

In sy gereelde rubriek in Die Burger in 2002 onderstreep Leopold Scholtz bogenoemde stelling deur te skryf:

Apartheid, net soos die taalstryd ‘n paar dekades tevore, was die instrument waarmee die oorlewing (van Afrikaans) bewerkstellig moes word. In die jare hierna het die Afrikaner-establishment Afrikaans en apartheid hand aan hand laat loop. Die twee het versmelt geraak.
Dit is reeds deur hierdie “versmelting” dat Afrikaans hom vandag by ‘n “kruispad” bevind. Na 1994 is hierdie versmelting egter iets van die verlede, en daarom moet Afrikaans hom sonder die “veiligheidsgordel” van die establishment probeer handhaaf – dit beteken om hom op alle vlakke van die samelewing te ontplooi buite die netwerk van ‘n Afrikaner-nasionalisme.

Die verskyning van Kruispad - toekoms van Afrikaans as openbare taal in 2001 het nie net al die kerngedagtes rondom die debat oor die toekoms van Afrikaans byeengebring nie. Dit is ook ‘n ingeligte bydrae tot die debat oor die lot van ander inheemse tale, waaroor daar tot op hede baie min – skandelik te min – gepraat word.

Hein Willemse het tereg in 2002 in Die Burger geskryf: “Die diskriminasie (teen inheemse tale) moet ons bestry”, bedoelende “Niks is so fundamenteel diskriminerend en onredelik as wanneer ons mense – alle Suid-Afrikaners – slegs deur geradbraakte Engels toegang tot die staat en sy instellings kan verkry nie.” En dan, miskien die belangrikste, het Willemse geskryf: “Daarom, wanneer ons ‘n plek vir Afrikaans beding, moet ons terselfdertyd ‘n soortgelyke plek vir ander inheemse tale beding.”

Dit is reeds die afwesigheid van ‘n stem vir alle inheemse tale by neokonserwatiewe elites op Stellenbosch wat die saak van Afrikaans verswak. Dit blyk hulle is te besig om die Universiteit van Stellenbosch Afrikaans en hoofsaaklik wit te hou om enige belang by die opheffing van inheemse tale te kweek. Dit wil voorkom daar is net een doel voor hulle oë: om Stellenbosch as ‘n “Empire” wat nog vele elemente van die Broederbond en van die ou Suid-Afrika bevat, te behou.

Hulle mors liewer hul energie daarop om Afrikaners wat liberale denke oor die hele taalstryd koester, te beveg. In dié proses word die taalstryders se ware agenda – naamlik ‘n polities gedrewe aksie tot selfbeskikking – ontbloot.

Hierdie optrede van ‘n klein groepie selfsugtige taalstryders dra grootliks daartoe by om Afrikaans tot bo-op die politieke altaar te help - waar die taal sy laaste asem beslis gaan uitblaas.

Die mengsel van taal en politiek is ‘n gevaarlike speletjie waarmee die taalstryders op Stellenbosch tans besig is. Die Soweto-opstande in 1976 en die taalopstande in Kanada, België en Spanje moet nie net as voorbeelde dien nie, maar daar moet ook daarteen gewaak word. Reeds daarom moet die denke van Neville Alexander in Kruispad bevorder word. Hy skryf:

  • Afrikaans kan ‘n sleutelrol speel in die vestiging van die demokrasie in Suid-Afrika namate dit sy bates en voorregte met die ander inheemse tale deel.
  • Die behoud van Afrikaans en die ander landstale is ‘n belangrike faktor in die globale magstryd tussen diegene wat die (Engels-georiënteerde) oorheersing van die Noorde voorstaan en diegene wat eerder ‘n eweredige verspreiding van mag tussen die Noorde en die Suide wil sien.
Volgens Alexander kan “samewerking, ‘n bondgenootskap of alliansie van die nie-dominante tale in Suid-Afrika en hul sprekers (…) meebring dat die ewewig tussen al die tale in die land herstel en gehandhaaf word”.

Afrikaanssprekendes (bruin en wit) moet in vennootskap tree met die sprekers van die ander inheemse tale. Nie dat Afrikaans self of sy sprekers daarvoor te swak is nie, maar omdat dit ‘n etnies-gebaseerde (politieke) taalstryd kan vermy. Verdeeldheid sal dus so vermy word. Afrikaans kan dus so vir al sy sprekers en toekomstige geslagte bewaar word.



LitNet: 25 April 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.