oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jeffreys en die koolkosgirl

Jason Lloyd

Ek's terug, en ek wens net diegene wat voortaan dié rubriek lees, 'n voorspoedige nuwe jaar toe. Nee, sies tog dit is net 'n grappie. Natuurlik wens ek dat almal 'n mooi jaar sal hê.

Lesers sal opmerk dat ek vandeesweek losserig gaan skryf en nie bepaald gefokus sal wees nie. Rede: ek wil voorkom dat die Broederbond my van agter af gryp. Die Broederbond het teen die einde van verlede jaar skielik sy opwagting in die Oos-Kaap gemaak. En ek was in die visier. So, ek spring 'n bietjie rond om die Broederbonders te ontwyk.

Teen dié tyd is dit al ou nuus dat die gerespekteerde (bruin) joernalis Henry Jeffreys van Beeld vanaf 1 Januarie redakteur van Die Burger in die Kaap is. Hy neem waar vir drie maande. Stel jou voor wat doen Piet Cillié en ander (wit) oudredakteurs van dié koerant in hul grafte.

En toe kry ons sommer 'n "ander soort" Idol in die persoon van Karin "koolkosgirl" Kortjé van Grabouw. Maar daar gaan maak die voormalige appelpakker toe 'n glips deur te sê koolkos is boerekos. Sy het verder gesê "die plaasboere is lief daarvoor. Jy meng kool, vleis en aartappels soos 'n stew." Hoe kan koolkos boerekos wees? Want selfs die skrywer van die Kuier Kos Francois Ferreira het hom onlangs in 'n onderhoud soos volg uitgespreek: "Daar is nie iets soos boerekos nie; boerboontjies, melkkos, bobotie, en ja, selfs Hertzoggies, is alles Kaaps-Maleis." Die sanger David Kramer het in 'n ander konteks in 'n onderhoud vir Ferreira gesteun. Miskien moet "onse Karin" haar van die feite vergewis. Maar ek hou dit nie teen haar nie, want tot onlangs was sy net tot Grabouw beperk.

*

Mondli Makhanya, redakteur van die Sunday Times, het ewe gemaklik in sy koerant verklaar dat 2005 100% (Jacob) Zuma was. Nee broer, dit was die busbestuurder wat op 21 Desember verlede jaar by Stormsrivier in die Oos-Kaap opgestaan het van sy sitplek om 'n koeldrank uit 'n "yskas" te kry. Vir sommige mense was dit 'n wolhaarstorie, andere se verbeelding is weer aangegryp; maar dit het tog plaasgevind. Twee passasiers is ernstig en tien lig beseer in dié ongeluk. As Jan Smuts nog geleef het, sou hy miskien nooit gesê het in Suid-Afrika gebeur die beste en slegste nooit nie.

*

En so van die Broederbond gepraat: vanuit 'n intellektuele oogpunt is dit amusant om te verneem dat die FAK ver gevorder het met 'n beleidstandpunt rakende die posisie van die Afrikaner en Afrikaans in Suid-Afrika. 'n Eie Afrikaanse universiteit en tuisland is glo van die strewes van dié organisasie. Hoe belaglik. Dit is net so belaglik soos Jakes Gerwel se dualisme tydens die derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium (SAS) verlede jaar in Kaapstad.

Terwyl ons besin het oor die toekoms van die swart Afrikaanse skrywers, het Gerwel 'n kongres op die Afrikanerdorpie Orania gaan toespreek, net om die laaste uur van die SAS te kom bywoon asof niks gebeur het nie. Wat hy daar gesê het, gaan ek liewer nie hier herhaal nie.

Miskien moet die FAK liewer die voorstel van die Matie prof Fanie Cloete dat "Afrikaanse kultuur-, kerklike en ekonomiese organisasies meer konkrete bemagtigingsprogramme vir arm swart gemeenskappe in werking stel" ernstig oorweeg. 'n Onlangse peiling het reeds getoon Suid-Afrikaners stel min belang in politiek. Wat te sê in 'n politieke tuisland vir Afrikaners?

*

Die program 3 Decades of South African Television wat onlangs uitgesaai is, is deur sommige Suid-Afrikaners gekritiseer omdat dit te veel politiek bevat het. As dit wel met baie politiek belaai was, soos daar gesê word, sê dit baie van die vervaardigers, want wyle eerw Allan Hendrickse se swemmery op die toe nog "wit" Koningstrand in die Baai was nie eens genoem nie.

Noudat daar sprake is dat die Hendrickse-familie se wens is dat Koningstrand na wyle Eerwaarde hernoem moet word, blyk dit dat dit 'n tawwe stryd gaan wees. En moenie eens van die stadsvaders van die metropool praat nie. Is hulle daarvoor te vinde?



LitNet: 24 Januarie 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.