oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moet bruines die Afrikaners en Afrikaans red?

Jason Lloyd

is ‘n Oos-Kaapse Regeringswoordvoerder, vryskut- en rubriekskrywer

Miskien sou dit veilig wees om te sê ek is ernstig as ek vra: Is dit nou ‘n geval dat bruines die Afrikaners en Afrikaans moet red? Ek vra dié vraag na onlangse nuusberigte dat ‘n groep Afrikaanse “geleerde” mense bymekaar gekom het om weer nuwe lewe in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in te blaas. ‘n Groep bruin “intellektuele” is glo by die proses betrokke. Dié “proses” is daarop gemik om ‘n sogenaamde nuwe “Akademie”, wat sal fokus op die “hoër uitdrukkingsvorme” van Afrikaans, tot stand te bring.

Die idee om “hoër uitdrukkingsvorme” van Afrikaans tot stand te bring pla my glad nie. Dit is immers in landsbelang dat Afrikaans bly voortbestaan, dat die taal onlosmaaklik moet deel wees van ‘n nierassige samelewing en ook daaraan moet help bou. Ook sal daar moet afstand gedoen word van die sentiment dat Afrikaans aan Afrikaners behoort en dat niewit sprekers van die taal tweedeklassprekers is. Met ander woorde, daar moet volle erkenning gegee word aan die feit dat die taal se eerste sprekers afstammelinge van die Khoi en die slawe is. Ook moet die Afrikaner se rol om die taal as akademiese taal uit te bou, erken word. In dieselfde asem moet ook gesê word dat ander dialekte van Afrikaans, soos Kaaps, Nama, Griekwa, doelbewus deur sommige Afrikaners op die periferie onderontwikkel is. Belangriker moet egter beklemtoon word dat Afrikaans aan al sy sprekers behoort. En dat die taal hier gebore is en vasbeslote is om hier te bly.

Reeds omdat die beeld van “Afrikaans is die taal van die onderdrukker” nog by ons spook, moet daar ‘n ruimer benadering gevolg word om Afrikaans in al sy fasette uit te bou en te behou in ‘n nierassige samelewing. Die idee om die “ou” Akademie met ‘n “nuwe” Akademie te vervang is dus goed, want die oue was – soos die satirikus Pieter-Dirk Uys geskryf het – “die sleutel tot apartheid-kultuur”. En reeds daarom het Uys die Akademie se erepenning vir toneelkuns in April vanjaar van die hand gewys.

Maar ongelukkig het sommige elemente (‘n Afrikaanse dagblad is ‘n voorbeeld) binne Afrikaner-geledere die stigting van ‘n “nuwe” Akademie as ‘n alliansie tussen wit en bruin gebrandmerk. (Jakes Gerwel, Hein Willemse, Christa van Louw en Danny Titus is maar net ‘n paar bruines wat betrokke is.) Ook so het iemand (‘n Afrikaner) wat aan die proses deelneem om die “nuwe” Akademie van die grond af te kry, teenoor my genoem dat dit “die samekoms van wit en bruin is”. As dit egter die hele idee vir die stigting van die “nuwe” Akademie is, is die proses reeds dood gebore. En die ergste: dit benadeel die saak van Afrikaans.

Ook wil dit voorkom dat die “nuwe” Akademie onder sommige Afrikaners nou ‘n “politieke kleur” gekry het: dat bruines nou saam met hulle ‘n stryd teen die regering voer “om die regerende party se aanslag teen Afrikaans af te weer”. Dit is dié dat ek nou vra: Moet bruines die Afrikaners en Afrikaans nou red? (En kan ek byvoeg: ek glo nie vir een oomblik dat bruines hulle integriteit so sal laat ondermyn nie.) Dit sal immers ‘n baie dom fout wees vir alle Afrikaanssprekendes om laer te trek teen die nuwe orde. Niemand kan verwag dat Afrikaans sy onregverdig-bevoordeelde posisie soos voor 1994 steeds in die nuwe orde moet behou nie. Die taal moet liewer maniere vind om homself suksesvol in die nuwe Suid-Afrika te handhaaf.

Die uitdaging vir ‘n nuwe Akademie sal wees om so inklusief as moontlik te wees. Om nie-Afrikaanssprekendes en die jonger geslag by gespreksvoering te betrek. Dit sal dan ook moet help om ander (inheemse) tale se hoër funksies te ontwikkel. Ek dink die grootste uitdaging vir die Akademie gaan sy deelnemers wees. Die huidige “ou” Akademie het ‘n klomp gryskoppe met doktorsgrade aan boord. Jong mense sal betrek moet word.

Gespreksvoering sal buite die kring van net “geleerdes” moet funksioneer. Intellektuele debatvoering sal geherdefinieer word om ook ander stemme in te sluit. Die transformasie van die hoër onderwys vereis reeds dat universiteite in genootskap gaan met gemeenskappe. Die Universiteit van Chicago in Amerika het dit reeds lankal reggekry. Die onus rus nou op Suid-Afrikaanse akademici en universiteite om met alle gemeenskappe te skakel.

Dit vereis dat die voorgestelde “nuwe” Akademie in sy geheel inklusief en nierassig moet wees. Gebeur dit nie, word Afrikaans weer deur die modder gesleep.



LitNet: 19 Julie 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.