oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die gehamer op identiteit is onnodig

Jason Lloyd

Gedink ek is 'n stoelsiel-alleen "roepstem in die woestyn" toe die uwe vroeër aan 'n kollega opgemerk het dat hy moeg is vir die alewige obsessie van Suid-Afrikaners oor identiteit. Maar toe sê die menseregte-aktivis dr Rhoda Kadalie as deelnemer aan die Jakes Gerwel-gespreksreeks (by die Suidoosterfees in Belville) presies dit wat ten hemele roep om gesê te word: "Ek gee nie om nie waarvandaan ons kom nie. Wat belangrik is, is waar de fok ons heen op pad is. My motto op die oomblik is: Fok voort en gaan aan."

My standpunt is eenvoudig: daar is op die oomblik belangriker dinge in Suid-Afrika wat aandag moet (lees: móét) geniet as om oor identiteit kerse saans uit te brand. Myns insiens is die sosiaal-ekonomiese toestand van diegene wat na tien jaar van demokrasie nog steeds nie die vrugte pluk van die nuwe bedeling nie, belangriker.

Dr Annari van der Merwe, hoof van Kwela Boeke, het reg wanneer sy sê: "'n Verstommmende aantal boeke wat dié uitgewery (Kwela) die afgelope tien jaar uitgegee het, staan in die teken van die verkenning van identiteit." Die verskyning van 'n nuwe reeks boeke twee jaar gelede by Kwela en gelyktydig by South African History Online, getiteld Social Identities in the New South Africa, is 'n voorbeeld daarvan. Die herdruk van wyle Jan Rabie se roman Die groot-andersmaak, wat handel oor die uitsterf van die Khoi-tradisies in die middel agtiende eeu, kan ook as bydrae tot identiteit beskou word.

Ook is identiteit as onderwerp op talle verhoë en geleenthede (hetsy formeel of informeel) al deurgetrap. Dit laat 'n mens dan vra hoekom die bespreking van identiteit nog steeds 'n "brandende kwessie" op die Suidooster is. Dit nadat dit ook verlede jaar bespreek was, net onder 'n ander tema genaamd "Nierassigheid in Afrikaans".

Die gehamer op identiteit is onnodig, "want dit is nie iets inherents aan 'n mens wat dieselfde bly tot in alle ewigheid nie. Identiteit is 'n konstruksie wat voortdurend hersien word, dis 'n proses van word eerder as wees," het die uwe twee jaar gelede in 'n essay opgemerk. Mens sou eerder wil hê dat die Jakes Gerwel-gespreksreeks die ekonomiese posisie van die armes moet bespreek.

In 'n onlangse onderhoud met Die Burger het Gerwel genoem die rede hoekom hy deur maatskappye genader is om op hul direksies te dien, "is in elk geval nie omdat ek 'n financial wizard is nie. Dit is omdat ek kan help om 'n groter klem te plaas op die sosiale aspekte van 'n sakeonderneming." Reeds daarom sou ek verwag dat Gerwel se gespreksreeks 'n groter klem moet plaas op sosiale aspekte, soos oor hoe gemaak om arm mense deel te maak van die hoof ekonomiese stroom.
Vir die gewone deursnee-Suid-Afrikaner is die alewige gesprekke oor identiteit glad nie belangrik nie. Inteendeel, dit kan hulle nie uit die moeras van armoede help nie. Bread and butter issues is vir hulle belangriker.

Dit bring 'n mens by die standpunt van Sampie Terreblanche in sy boek A History of Inequality in South Africa 1652-2004 dat die ANC die armes verwaarloos.

Goed en wel, kom ons aanvaar dat Trevor Manuel wondere verrig met die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert hy minister van finansies geword het. Maar ten spyte van die feit dat die ekonomie die afgelope agt jaar gegroei het, het Manuel se Gear-beleid van vyf jaar, wat hy in Junie 1996 in die parlement bekend gestel het, nie gewerk nie. (Gear is ingestel vir die vermindering van staatskuld, 'n kleiner belastingslas op individue, staatsinkomste wat uit privatisering gegenereer moes word, minder staatsbesteding aan lopende uitgawes - soos salarisse van die staatsamptenare - om ruimte te skep vir die groter kapitaalbesteding aan infrastruktuur, 'n groeikoers van tot ses persent per jaar teen 2001 en die skep van 500 000 nuwe werksgeleenthede per jaar.)

Kapitaalbesteding, ekonomiese groei en werkskepping het nooit 'n werklikheid geword nie. Inteendeel, meer as 'n miljoen werksgeleenthede het verlore gegaan as gevolg van Gear. Boonop groei die ekonomie groei jaarliks teen 'n skamele drie persent.

Oor die skep en verloor van werksgeleenthede is daar 'n erge verskil tussen die regering en vakbonde. Die regering sê werksgeleenthede het verlore gegaan as gevolg van internasionale mededinging (globalisering), terwyl vakbonde Gear as die skuldige uitkryt. Hoe dit ook al sy: werksgeleenthede het verlore gegaan en dit blyk die regering het nie die wil om dit te stop nie. Teen dié agtergrond sou dit miskien heel veilig wees om Terreblanche se standpunt te steun.

Die werkloosheidsyfer is te onaanvaarbaar hoog en dit is tyd dat die regering alternatiewe moet oorweeg. 'n Alternatief sou wees om 'n middeweg tussen kapitalisme (omdat dit die gaping tussen ryk en arm vergroot) en sosialisme (omdat dit reeds uitgedien is) te vind wat die armes se prioriteite eerste stel. Markbeginsels se beheer van die ekonomie moet beperk word en sodoende moet die regering se rol vergroot word. Die arm massas se belange moet dus eerste gestel word en debatte oor identiteit moet minder belangrik wees. "Indien nie, kan 'n rewolusie moontlik in die toekoms uitbreek," het pres Thabo Mbeki reeds lankal gewaarsku.

Prof Gerwel, ek hoop ons neem dié waarskuwing ernstig op.



LitNet: 15 Oktober 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.