oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

My KKNK-hoogtepunt? Die ontmoeting met Kleinb(H)oer!

Jason Lloyd

Die filosoof Johann Rossouw het my aan die einde van vanjaar se Die Burger-Lesingsreeks by die KKNK laat dink toe hy soos volg opgemerk het: “Dit is my laaste fees wat ek vanjaar bygewoon het. Ek dink die fees dien nie meer ’n doel nie. Die Afrikaner het ook die einde van die pad bereik …”

Rossouw se uitlatings en die debat in die media of die KKNK ’n B(b)oerebasaar is al dan nie, het my as nie-Afrikaner laat wonder wat ek elke jaar by die fees soek. Jaar na jaar word dieselfde debatte gevoer. Bruin mense kla onder meer dat die KKNK te wit is.

Die skandelike woordgeveg tussen die sogenaamde kulturele terroris Zebulon Dread en die Kaapse Son-vryskutjoernalis Hein Coetzee het weer dié “gekla” na die oppervlak laat borrel. Met die aanvang van die fees het Die Son ’n voorbladberig geplaas waarin Dread sou gesê het die KKNK is ’n B(b)oerebasaar. In ’n brief aan die feeskoerant Krit het Dread ontken dat hy ooit so gesê het. Hy het Coetzee daarvan beskuldig dat hy “Kleurling-joernalistiek” bedryf. Coetzee het op sy beurt gesê dat nie hy die berig geskryf het nie, maar wel ’n ene Keith Meyer, wat glo ’n korrespondent op Ladismith vir Die Son is. Meyer het op sy beurt gesê Dread het wel so gesê.

Dread en Coetzee het mekaar lelik uitgetrap in hul onderskeie briewe aan Krit — woorde soos: “vieslike pisgat”, “vark” en “vieslike vullis” was aan die orde van die dag. Dit het bruin mense ongetwyfeld in die skande gesteek. Dread en Coetzee is altwee openbare figure uit eie reg en mens sou verwag dat hulle beskaafde taal in hul onderskeie briewe sou gebruik het.

Klik hier en help ons om LitNet te verbeter!

Dan is daar wit mense wat daarvan beskuldig word dat hulle die KKNK en Afrikaans ’n slegte naam gee met “vieslike” T-hemp-slagspreuke soos: “Praat Afrikaans … of hou jou bek!” Sommige wit jong mans word daarvan beskuldig dat hulle hul sinneloos dronk drink net om gekleurdes saans in Oudtshoorn se strate uit te tart.

Daar word ook onder meer aangevoer dat meer plaaslike produksies op groot skaal op die planke gebring moet word. Of meer spesifiek: om die skaarste aan bruin produksies by die fees te help reg stel. Die feesbestuur sien plaaslike talent oor die hoof, hoor ’n mens aanhoudend. Sommige mense het byvoorbeeld aangevoer die plaaslike Oudtshoorn-toneelstuk 45°, wat verlede jaar by die fees te sien was, moes weer vanjaar op die planke gewees het. Hulle sê 45° was ’n stap vorentoe vir veral begin-akteurs.

Maar toe besluit die feesbestuur om dit te vervang met die toneelstuk Meermin onder die regie van Amelda Brand. Meermin moes min of meer ’n lewensdrama, in die tradisie van 45° en Struisvogelstories, wees. Dié toneelstuk handel oor die 1996-vloedramp wat die stories oor die Klein Karoo-meermin weer losgespoel het uit die volksmond. Daar word vertel dat die watermeid, of die waterantie, of miskien die fonteinmeisie, die vloed gestuur het.

Nie net was daar gesê dat die “verdwyning” van 45° ’n stap agtertoe is nie, maar dat die herhaalde gebruik van die woord watermeid in Meermin bruin mense aanstoot sou gee. Ja, miskien waar, maar in die konteks van Meermin — soos Brand opgemerk het, moet die woord in konteks gesien word — is watermeid heeltemal gepas. En die gebruik van die woord in die toneelstuk behoort niemand aanstoot te gee nie, want watermeid is liewer ’n refleksie van ’n tyd wat nie meer met ons is nie (al is dit volgens my baie nodig dat die jonger geslag daarvan bewus gemaak word dat bruin en swart huiswerkers in die verlede — miskien vandag nog ook?) “meide” genoem was.

Maar terwyl die woord watermeid in ’n omstredenheid gedompel is, is die toneelspelers op die verhoog dit eens: “Daar ís so iets soos ’n watermeid. Sowaar soos wat die Here nie pap eet nie …”

Vertonings is te duur, word daar gesê. Maar die feesbestuur voer aan dat die pryse van KKNK-produksies goed vergelyk met die pryse van stede soos Kaapstad en Johannesburg. Die duur kaartjies, word daar gesê, veroorsaak dat ’n groep mense — hoofsaaklik wit — vertonings kan gaan kyk en dat ’n ander groep mense — hoofsaaklik bruin — liewer in die strate ronddwaal.

Maar die bogenoemde gekla is niks nuuts nie. Inteendeel; en ek is nou moeg daarvan. Ek wil dit liewer vergeet.

En op die laaste Saterdagaand van die fees hét ek dit vergeet. Ek onthou ek en ’n paar vriende was vanaf die ABSA Klein Karoo Grootsaal, waar die Kanna-toekennings gehou is, na ’n onbekende bestemming op pad. Ek was agter die stuur met ’n hele paar doppe weg. In die agtergrond het Loit Sôls se digterlike stem my herinner aan ’n ontslape digter wat opgemerk het dat ’n gedig nie sonder wyn ontstaan het nie. En dat daar baie wyn in die omtrek was, is gewis.

Ofskoon ek ’n groot liefde het vir beide wyn en die digkuns het (terloops, ek is maar ’n probeer-digter), wil ek liewer praat oor die roman. En meer spesifiek oor ’n romanskrywer van formaat. Ek stop toe skielik en onbewustelik voor Club Al Capone. Woerts! vlieg ons uit. Binne moes ek my lyf skraal hou om tussen die gepak van mense te kan beweeg.

By die toonbank herken ek vir Erns (van LitNet). “En my got — soos my ouma sou gesê het — wie staan hier by Erns? Hy lyk nogal bekend?” vra ek myself. Daar was ’n foto van hom op Rapport se boekeblad. “Nee, dit kan nie wees nie,” probeer ek my self oortuig.

En toe hoor ek: “Jy is die ou wat se laaste rubriek op LitNet oor Pretoria gehandel het? Jy is mos Jason, dan nie?” laat val die kort mannetjie.

“En jy is mos …?”

“Ja, ek is Kleinboer …!”

’n Gelag breek uit en ons albei erken dat hierdie ou wêreld van ons maar baie klein is. Dié skrywer van die omstrede roman Kontrei het beslis konserwatiewe lesers ’n skok op hul lyf gejaag. Hoe dan anders, want op Kontrei se agterblad word Kleinboer beskryf as ’n “seksmal hoerloper wat as blanke die geselskap van swart prostitute verkies.”

En toe gee hy gestalte aan die agterbladbeskrywing. Fanie de Villiers (sy boerenaam) was gewapen met twee bruin girls. En ek weet al sou ek een by hom geleen het, sou hy beslis geweier het. Daarom het ek liewer nie.

Gedans, gelag, gesuipery en lekker bogpraatjies was daar beslis. Inderdaad, Kleinboer — of sal ek sê Kleinhoer? — is ’n lekker ou om mee saam te kuier.

Dit was die hoogtepunt van my KKNK-besoek. En dit wys vir my daar is beslis hoop vir die fees. Miskien is daar ook hoop vir die Afrikaner, want dit is beslis Afrikaners soos Kleinboer wat die beeld van die Afrikaner baie goed doen. En daarom gaan ek nie, soos Johann Rossouw, nie weer Oudtshoorn toe nie. Volgende jaar gaan ek weer. En dit is ’n feit …



LitNet: 07 Mei 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.