oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wie bak ballas waar? ’n Plekkie in die son vir die bruin debat

Jason Lloyd


Facts always rest on an insight. He who has no insight, no vision, does not see a fact. He who has insight, sees only those facts that tally with his insight. For the rest he is blind. He who wishes to see new facts, must first gain a new insight.
                  — JH van den Berg

Die gesprekke oor die posisie van bruin mense in Suid-Afrika na die dood van apartheid — oftewel die bruin debat — het sedert vanjaar se KKNK in Oudtshoorn talle reaksies ontlok. Van dié gesprekke tot op hede was baie insiggewend en opbouend. Andere was weer negatief, onverantwoordelik en sonder enige erns en insig en het die debat heeltemal skeef getrek. Hierdie reaksies het meestal uit voorspelbare en verwagte oorde gekom.

Twee bydraes tot die debat — een elk in Die Burger en Rapport — steek in my geheue vas en ek kan nie anders as om daarop te reageer nie.

Prof Richard van der Ross (’n oudrektor van die Universiteit van Wes-Kaapland) probeer in sy Rapport-meningstuk (18 Mei 2003) saam met sekere sektore van die gedrukte en elektroniese media die indruk wek dat die bruin debat primêr gaan oor die soek na ’n bruin leier. Dit is ongetwyfeld ’n poging om die hele debat skeef te trek.

Vir die rekord kan ek net noem dat die huidige (bruin) debat gevolg het op wat na die Burger-lesingsreeks oor bruin identiteit by die KKNK voorgestel is. Daar is ’n voorstel gemaak om ’n forum te stig waarbinne die bekommernisse van bruin mense bespreek sou word. En was dit nie vir daardie voorstel nie, sou ons waarskynlik nie met hierdie gesprekke besig gewees het nie. Ons weet mos dat bruin identiteit ook by verlede jaar se KKNK tydens die Burger-lesingsreeks bespreek is en daarna ’n stille dood gesterf het.

Daarmee gepaard stel Van der Ross hom kwansuis self aan as iemand wat almal kan leer oor die begrip “leier”. So asof hy ’n leier van formaat was of nog steeds is. Dit is reeds hy, mnr Franklin Sonn (oudrektor van die Skiereilandse Technikon) en prof Jakes Gerwel (ook ’n oudrektor van UWK) se leierskap wat daartoe bygedra het dat bruin studente van hul tradisionele opvoedkundige inrigtings (UWK en die Technikon Skiereiland) en van hul taal, Afrikaans, vervreem is. En daarmee bedoel ek glad nie dat dit verkeerd was om dié inrigtings oop te stel vir alle Suid-Afrikaners nie. Wat my wel pla, is hoekom bruin mense hul taal, Afrikaans, en hul posisies (veral op die studenterade) moes prysgee. So asof hulle verantwoordelik is vir die gemors van apartheid. Hoekom moes dié bruin opvoedkundige inrigtings die prys vir aparte onderwys betaal, terwyl die meerderheid van die tradisionele swart en wit inrigtings glad nie soveel betaal het nie?

Van der Ross sit die pot mis as hy die indruk wil skep of dit so verstaan (of wil verstaan) dat die bruin debat primêr gaan oor die soeke na ’n bruin leier. Daar is wel ’n soeke na ’n voertuig om die bekommernisse van bruin mense onder die aandag van die regering te bring.

As ek hy was, sou ek my die moeite gespaar het om die pen op te tel. Nie net probeer hy die bruin debat skeef trek nie, ook sy poging (leierskapkursus) is doelloos, want hy voldoen weer aan die “bruin intellektuele styl” om aan almal te wil voorskryf. Is hier dalk ’n gebrek aan erns aanwesig?

Oor die soeke na ’n bruin leier laat Van der Ross hom soos volg uit:

Miskien moet ons nie oorhaastig wees en die vrug probeer ryp druk nie.

Hierin lê ongetwyfeld ’n gebrek aan insig opgesluit. Die argument dat sekere dinge spontaan gebeur, is lankal afgesaag. Die antwoord is: AKSIE.

Neem nou maar as voorbeeld die voorgestelde wetswysiging wat die minister van landbou en grondsake sal magtig om grond te onteien sonder ’n hofbevel. Volgens min Thoko Didiza is die doel van die wysiging om onnodige vertragings uit te skakel in die allerbelangrike grondhervormingsproses en om die Onteieningswet van 1975 en die Wet op die Herstel van Grondregte in ooreenstemming met mekaar te bring. So hoekom is die wysiging baie nodig? Dit is omdat daar sekere boere is wat eenvoudig weier, of bloot traag is, om grond beskikbaar te stel aan die voorheen benadeelde gemeenskappe. So, van die regering se hoop dat die herverdeling van grond spontaan gaan geskied, het niks gekom nie. En net so gaan daar ook niks kom van Van der Ross se hoop dat daar in die verre toekoms ’n bruin leier agter ’n bos gaan uitspring nie.

Hierdie gebrek aan insig herinner my aan Gerwel wat onlangs aan Jan-Jan Joubert en Mandy Rossouw van Beeld gesê het dat hy nie etnies aanmekaar gesit is nie. So, die professor is uniek. Hy is alleen in die wêreld en behoort aan geen groep nie. Ek het nuus vir die professor. In Amerika, met sy liberale grondwet wat meer as 200 jaar oud is, is Tiger Woods eerste ’n African dan ’n Amerikaner. So hy is ’n African American. En dit beklemtoon: Tiger Woods is swart en nie wit nie. En so tussen hakies: al het Woods op ’n keer gesê hy is Kaublasiaan (of so iets) bly hy, volgens die Amerikaanse volk, steeds swart.

So dit help nie om weg te hardloop van etnisiteit af nie. Iewers langs die pad gaan jy flou word en val. En kennis gaan jy beslis maak met die harde werklikheid. En Professor, die harde werklikheid is dat jy bruin is. En ook: dit is ander mense wat bepaal wie en wat ’n mens is. En daaraan het Sonn ons herinner toe hy in 1999 in Insig soos volg aangehaal is:

Die ontkenning (dat jy bruin is) moet end kry. As ek in die straat stap, sien mense ’n bruin man. Kleur is ’n werklikheid, maar dit hoef nie negatief te wees nie. Iemand wat sê hy’s net ’n Suid-Afrikaner, is pateties en bejammerenswaardig.

So, Professor, vat ’n kans en gaan Soweto toe en sê (en dit nogal in jou Afrikaanse aksent) vir die volk daar jy is swart of wit. En jy gaan hoor: Aikona, boetie … ama-Coloured!!

En solank as jy jou nie in ’n hoek in vasverf nie en nie teen ander etniese groepe diskrimineer nie, is daar niks met etniese bewustheid verkeerd nie. Die sentiment dat etnisiteit en rassisme hand aan hand loop, is ook lankal ’n valsgeslaande snaar.

Die tweede bydrae tot die debat waaraan ek aandag wil gee, is my goeie vriend Llewellyn Prince se “Van Alle Kante” in Die Burger (16 Mei 2003). Dit herinner my aan die Nasionale Redakteursforum (Sanef) se vaardigheidsoudit verlede jaar waarin uitgewys is dat ’n gebrekkige algemene kennis ’n groot probleem in nuuskantore is.

Daardie probleem word nie net in Suid-Afrika ervaar nie, want ’n lae aansien vir joernaliste heers tans wêreldwyd. Daaraan het die joernalis Jayson Blair van die New York Times ons sowat ’n maand gelede herinner. Blair se meer as 36 vals berigte of artikels het sy redakteurs genoodsaak om regstellings — op die voorblad én op die binneblad — te publiseer. Dit het die “magtige” New York Times, wat homself aansien as getroue dienaar van joernalistieke etiek, sy kop in skaamte laat sak. Dit is ’n absolute skande en dus geen wonder mense vertrou nie meer joernaliste nie.

Ek probeer glad nie om Prince se karakter as persoon aan te val nie. Dit is immers sy rubriek (sy agterplaas) en nie ’n artikel/berig nie. En ’n mens kan mos doen wat jy wil in jou agterplaas. Selfs ’n skaap of bees slag. Selfs jou onderklere ophang. Dit is ook sy goeie (demokratiese) reg om nie die bruin debat te steun nie — in sy woorde:

Dus kan dié skrywer die “bruin debat” nie verdra nie, want volgens my wéét Kallits wie hulle is en waarvandaan hulle kom.

Maar wanneer dié rubriekskrywer skryf:

Ek het nog nooit gehoor dat Sotho’s, Vendas, Tswanas, Xhosas en Zoeloes ’n “leier” nodig het om aan die politiek deel te neem nie,

bring dit ontelbare vrae na vore.

Is hier ’n gebrek aan insig aanwesig? Wat weet hierdie skrywer van ons Suid-Afrikaanse geskiedenis? Stel hy hoegenaamd belang om iets van ons samelewing en ons mense te weet? Hoe ernstig is hierdie skrywer oor die onderwerp waaroor hy skryf? Wat dink die skrywer van sy lesers? En so kan ek aangaan totdat die perde horings kry.

Ek wil graag ’n beroep doen op Prince om wakker te skrik en hom te vergewis van wat in Suid-Afrika aangaan. Kom ons neem die Zoeloes. Nee, kom ons neem Buthelezi en Zwelethini. Nee … nee, kom ons neem die Inkatha Vryheidsparty. Nee, neem al vier en ons gaan kyk na die geskiedenis van die Zoeloes.

As ’n mens terugkyk na die afgelope klompie jare wat in KwaZulu-Natal gebeur het, laat dit jou wonder hoe Prince tot die slotsom gekom het dat die Zoeloes nie na ’n leier op soek is nie. Reeds sedert die dae van koning Shaka en Dingaan neig die Zoeloe-volk na selfregering in Natal. En vandag nog eis die IVP dié provinsie op as tuiste vir die Zoeloes.

Wat my ook pla, is dat Prince die indruk skep dat alles pluis is in Madiba-land. Of sal ek sê, Mbeki-land. En belangrik: hy bly in gebreke om my van sy standpunt te oortuig.

Een van die vertrouelinge van oudpres Nelson Mandela, oudmin Mac Maharaj, het verlede jaar ’n belangrike punt gemaak:

Daar is tans geen gevoel dat die land saamtrek as een nie. Daar is ’n aansienlike behoefte daaraan om aan alle Suid-Afrikaners die gevoel van eienaarskap van Suid-Afrika ingelyf te gee,

het hy aan die Financial Mail gesê.

Vir my klink dit na ’n mosie van wantroue in die huidige leierskap uit eie geledere. Dit is ’n negatiewe refleksie wat die ouens in die Uniegebou nie kan bekostig nie. Wat het van die “demokratiese projek” geword? Het dit gefaal? Of is daar nog hoegenaamd sprake daarvan? En as dit nog bestaan, hoe ver gevorderd is die projek?

So, wat is dié projek? Die bruin debat? Zimbabwe? Die debat oor Afrikaans? Nepad? Vigs? Regstellende aksie? Nasionale versoening? Privatisering? Die debat oor diversiteit? Die transformasie van die hoëronderwysstelsel? Die debat oor godsdiens in skole? En nog vele meer.

Almal is stukkies van ’n groter legkaart wat uiteindelik die “nasionale projek” uitmaak. Of die “nasionale projek” gaan slaag of nie, sal net afhang van Suid-Afrikaners self. En dat daar mense is wat die bruin debat as onnodig afmaak, is niks anders as ’n absolute onverantwoordelikheid nie. Dit is immers deel van die “nasionale projek” en moet dus met alle erns behandel word.

Dit is hoog tyd dat die gesprek oor die posisie van bruin mense in Suid-Afrika ’n volwassenheid bereik. Dit sal ons niks in die sak bring om jaar in en jaar uit in koerante en op die Internet die kwessie te bespreek nie.

Die antwoord is weer eens: AKSIE. ’n Begin sou wees om alle belanghebbendes bymekaar te kry om idees uit te ruil. Daarna kan ’n formele of ’n informele gespreksforum gestig word om die proses vorentoe te neem. Daardie bruines, soos die intellektuele, wat gekant is teen die bruin debat, moet meer as welkom voel om aan so ’n gespreksforum deel te neem.

Gepraat van die bruin intellektuele. ’n Mens wonder hoekom hulle so stil is oor die bruin debat. Laat ek ’n bietjie wonder. Mense soos Gerwel, Sonn en Hein Willemse word ongetwyfeld vet gevoer deur die Afrikaners aan die een kant en die swartes aan die ander kant. Hulle beklee poste soos direksielede van Naspers en Absa, voorsitters van die Nelson Mandela Children Fund, direkteurs-generaal in die kantoor van die president, ambassadeurs in die buiteland, kanseliers en departementshoofde van tradisioneel Afrikaner-universiteite, en het verskeie sakebelange.

So, hoekom die stilswye? Die wesenlike gevaar van koöptering kan nie hier weggeredeneer word nie. En daaroor het die gesoute joernalis Max du Preez hom reeds in 1995 soos volg uitgelaat: “… ballas bak met die boere [en om dit so bietjie aan te pas: en swartes] om dieselfde vuur.”

11 Junie 2003

Lees ook: Gerrit Brand gee ’n “wit” perspektief op die “bruin” debat (Deel 1)

Lees ook: Gerrit Brand gee ’n “wit” perspektief op die “bruin” debat (Deel 2)

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.