OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Opstelonderwerp en idee vir ’n tema

Coenraad Walters

Die volgende advertensie is verwerk uit materiaal wat in die Britse dagblad The Guardian verskyn het:

    Reis gratis om die wêreld met Die Nuusblad

    Wil jy ’n Net-toeris wees?

    Ons soek drie Net-toeriste om vanaf November 2000 vir ses maande lank gratis om die wêreld te reis. Jy sal besluit waarheen jy wil gaan, en ons sal jou ’n gratis wêreldwye kaartjie met onbeperkte stoppunte gee, met die komplimente van die voorste onafhanklike reisspesialiste, Oorbrug Die Wêreld. Ons sal jou ook ’n digitale kamera gee sodat ons jou avonture kan volg.

    Al wat jy moet doen, is om weekliks vir ons ’n e-pos te stuur waarin jy die ervaring van reis vasvang. Ons wil weet wat jy doen, waarheen jy gaan en hoe jy voel. Jy sal ook e-pos ontvang van Die Nuusblad Onbeperk se weblesers oral oor die wêreld wat jou sal raadgee — hulle mag jou selfs oortuig om jou roete te verander!

    Of jy nou ’n ruk ná matriek wil rus, of klaarmaak met ’n werk en onseker is oor wat jy volgende wil doen, of sommer net lus het om weg te breek, dis nou jou kans om ’n Wêreldwye Web-ster te word.

    Stuur net 500 woorde aan ons waarin jy vir ons sê waarheen jy wil gaan en waarom ons jou moet kies. E-pos dit aan nettoeriste@nuusblad.co.za en Die Nuusblad se reisspan sal die beste van die drie kies. Alle inskrywings moet ons teen Vrydag 15 September bereik, en jy moet beskikbaar wees om tydens November op jou reis te vertrek.

Die vanselfsprekende opdrag sal wees om die leerders te vra om die voorlegging van 500 woorde te skryf. U moet natuurlik die datums in die berig aanpas by u eie omstandighede (en veral spertye!), en die aantal woorde kan gerus (drasties) verminder word indien u met ’n groot klas werk.

Indien tyd en omstandighede dit toelaat, kan die idee maklik uitgebou word tot ’n tema wat die volgende kan insluit:

  • ’n Gedetailleerde reisplan, wat deur groepe leerders uitgewerk word. Die reis moet die ses maande lank duur en die plan moet aandui hoe lank die reisiger in elke plek sal wees.
  • Laat elke groeplid (minstens) een van die weeklikse e-posse vanuit ’n bepaalde stad skryf.
  • Laat die groepe terugvoer gee van die “afgelope” reis, deur middel van ’n plakboek, kaarte, plakkate, skyfies, of enige ander medium wat vir hulle toeganklik is. Indien hulle nie van werklike ervarings gebruik kan maak nie, moet hulle baie navorsing doen oor die stede en ander plekke wat die reisiger sou besoek het!
  • Vind reisbeskrywings wat pas by die groepe se reisplanne en laat hulle dit as deel van die voorgeskrewe sillabus bestudeer. Of vind kortverhale en gedigte wat in bepaalde stede afspeel of dit beskryf. (Enkele dekades gelede het daar byvoorbeeld ’n boek, Stad en stedelig, verskyn wat bestaan uit beskrywings deur bekende Afrikaanse skrywers van stede die wêreld oor.)
  • Soek reisartikels in tydskrifte wat as leesstukke vir begripstoetse gebruik kan word.
  • Laat die leerders verhale of gedigte skep waarin bepaalde stede of toeristebestemmings ’n belangrike rol speel.

Navorsing, aanbieding, mondeling, skryfwerk (beskrywend en skeppend), leesbegrip … ’n hele paar uitkomste moet hierdeur gedek word! En dit sal (hopelik) lei tot frenetiese groepwerk, biblioteekgebruik, vertaling en kleurryke materiaal om die klasmure te verfraai. Geniet die reis!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.