OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Die Leesveldtog: ’n Klompie wenke en ’n bietjie inspirasie

Adinda Vermaak

Algemene wenke

  1. Genoeg boeke is seker die grootste probleem

    As geld skaars is, vergeet van nuwe boeke. Gaan by tweedehandseboekwinkels! Koop soveel boeke as wat jy of die kinders kan bekostig om jou klasversameling aan te vul. Soek lekkerleesboeke eerder as hoge letterkunde. Sorg ook vir niefiksie vir die trae lesers: boeke oor motors, rekenaars, modes, klere, sport, ens.

    In Kaapstad is Langstraat die bekende straat vir snuffelaars van tweedehandse boeke; maar wonderlike plekke vir hope spotgoedkoop tweedehandse kinder- en jeugboeke — ook in Afrikaans — is die Cafda-boekwinkels:

    Werdmuller-Sentrum
    Mainweg
    Claremont
    Tel. (021) 674-2230

    Mimosa-Arkade
    Regentweg
    Seepunt
    Tel. (021) 434-6149

    It is not natural to read what we don’t like and don’t feel connected to  … It is the personal choices that lead to personal connections and meaningful discoveries.
    —   A.M. Sullivan: “The natural reading life: A high-school anomaly.” English Journal 80 (6) 40-46

  1. Versamel ou tydskrifte

    Die klaskamer moet ’n “Leesatmosfeer” uitstraal. Moedig die leerders aan om, deur die res van die dag as hulle werk klaar is, te gaan lees. Lees moet soos ’n beloning voel — nie ’n straf nie!

  1. Die opvoeder moet die rolmodel wees

    Volgens navorsing kan leerders van opvoeders wat self lief is vir lees, beter lees as leerders van opvoeders wat self selde lees.

    1. Leesjoernaal

  2. Aan die begin van so ’n Leesveldtog kan alle leerders hulle “Leesgeskiedenis” neerskryf. As hulle sukkel om dit in opstelvorm te skryf, kan hulle dit aan die hand van vrae soos die volgende doen:

    1. Wanneer het jy leer lees?
    2. Watter storie of boek het jy eerste self deurgelees? Wat onthou jy daarvan?
    3. Ongeveer hoeveel boeke het jy al gelees?
    4. Wat is jou houding teenoor lees? Motiveer jou antwoord.
    5. Is daar iemand (in die gesin, of dalk ’n onderwyser of onderwyseres) wat jou geïnspireer het om te lees of jou lief gemaak het vir lees? Vertel daarvan.
    6. Het julle boeke by die huis?
    7. Lees jy nou meer of minder as ’n paar jaar gelede? Waarom?

    So ’n Leesgeskiedenis kan die inleiding vorm van ’n Leesjoernaal. (Aan die einde van die jaar kan dan vasgestel word watter vordering en/of verandering in houding daar was.)

  3. Of die leerders kan ’n vraelys invul, met vrae soos:

    1. Sou jy liewer jou kamer skoonmaak as om ’n boek te lees?
    2. Dink jy jy sal, as jy groot is, baie tyd of min tyd aan lees bestee? Waarom?
    3. Dink jy boekwurms is vervelig? Motiveer jou antwoord.

      Elke leerder vul ’n vorm in, byvoorbeeld genoem “My Uitdaagkaart” (My Challenge Card). Hierin daag die leerder hom- of haarself uit om byvoorbeeld 20 boeke in die kwartaal te lees. Sorg vir aansporing vir die wat eerste hul mikpunt bereik.

  4. As vasgestel word watter skrywer(s) se boeke die gewildste is, kan die klas ’n brief, via die uitgewers, aan die skrywer skryf en vertel hoe hulle as klas oor die boek(e) voel en byvoorbeeld vrae vra oor die skryf van die boek of oor die skrywer self.

  5. Stel vraelyste op met vrae soos:

    1. Wat was die graad 4’s of 5’s se drie gunstelingboeke van die jaar?
    2. Wat is graad  ... se gunstelingskrywers?
    3. Watter boeke is deur die meeste seniors gelees?
    4. Watter boeke word die meeste by die biblioteek uitgeneem?

    (Hulle kan plakkate maak of grafieke opstel aan die hand van die inligting.)

  6. Elke Maandagoggend in die saalbyeenkoms moet iets oor lees gesê wor d. En Let Wel: Dit moenie net één onderwyser(es) se verantwoordelikheid wees nie — veral die mansonderwysers moet betrek word. Die trae seunslesers het manlike rolmodelle wat van lees hou, bitter nodig!

    1. Dalk kan ’n kind (of ’n opvoeder) wat mooi lees, vir afwisseling ’n kort storie of ’n gedig of twee tydens die saalbyeenkoms voorlees of voordra.
    2. Wat van ’n lekker kort rymklets (rap song) of klingel (jingle) wat almal Maandae in die saal kan sing — oor lees natuurlik? Natuurlik moet dit afgewissel word as dit vervelig raak.

  7. Betrek die ouers

    1. Stel gereeld ’n lysie boeke op, byvoorbeeld die ideale boeke vir die koue wintervakansie; of moontlike Kerspresente; of die boeke in die plaaslike biblioteek oor ’n sekere onderwerp; of goeie voorleesboeke — met annotasies of kommentaar daarby, indien moontlik.

      Die Adviseurs: Kurrikulumbronne van EDULIS (die Onderwysbiblioteek- en Inligtingsdiens) van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement kan in hierdie verband geraadpleeg word.

    2. Sorg dat ’n gereelde afdeling of rubriek oor hoe die Leesveldtog in die skool vorder, in die omsendbrief aan die ouers is.

    Moontlikhede:

    *    Gee riglyne aan die ouers oor hoe hulle by die huis kan help.
    *     Vra of hulle kan help met matte vir leeshoekies in die klaskamers, of met ekstra boekrakke of lekker gemaklike kussings, of met kinderboeke wat nie meer tuis gelees word nie (net nie ou, stukkendes nie!).
    *     Lig hulle in oor die (straf-?) maatreëls wat getref word as leerders nié hulle storieboeke saambring skool toe nie.
    *     Moedig hulle aan om by die plaaslike biblioteek aan te sluit.
    *     Beklemtoon die feit dat ouers móét belangstel in hul kinders se leeswerk.
    *     Gee statistiek (dis altyd indrukwekkend!), byvoorbeeld oor die gemiddelde aantal boeke wat elke leerder reeds gelees het, oor bewyse dat die leesprogram die leerders in hulle skryfwerk help, ens.
    *     Vra die skool se Ouer-Onderwysersvereniging om te help om ’n groot funksie te reël om geld vir boeke in te samel.
    *     Daag die ouers uit om ten minste 20 minute per dag vir hulle kinders voor te lees.
    *     Laat weet die ouers van jou klas ook gereeld hoe dit met die Leesveldtog gaan. Laat hulle voel hulle is betrokke en dat hulle saam moet “veg” in hierdie “veldtog”.

      Laat almal wat die skool binnekom, besef die skool is ’n “Leesskool”, met slagspreuke en plakkate in die voorportaal en in die gange.

  8. Betrek die gemeenskap

    1. Kondig lank voor die tyd ’n Leesweek aan waartydens die hele gemeenskap moet lees. (Dit word in baie dorpe en selfs stede in Amerika gedoen — en dit werk!)
    2. Nooi die burgemeester, die polisie, brandweermanne, sakepersone, e.a. skool toe. Hulle moet ’n boek of ’n storie saambring om aan die klasse voor te lees.
    3. Nooi ook vroegtydig storievertellers en skrywers. (Dalk stem hulle in om nie net ’n praatjie te kom lewer of net uit hul boeke voor te lees nie, maar ook om ’n paar dae as writer-in-residence by die skool op te tree — soos gereeld in Brittanje en Amerika gebeur — om byvoorbeeld skrywerswerkseminare te hou.)
    4. Vir daardie week maak die leerders plakkate oor boeke en oor lees. Hulle kan ook vasvrakompetisies opstel, byvoorbeeld oor bekende sprokies.
    5. Skryf ’n kompetisie uit vir die beste rymklets — wat natuurlik oor lees en boeke moet handel.
    6. Laat hulle vooraf gedigte of toneelstukkies skryf wat voorgedra of opgevoer kan word.
    7. Nooi van die oudleerders (byvoorbeeld in die Raad van Leerders van die hoërskool) om die laerskool te besoek om stories te kom voorlees.
    8. Laat die leerders ook na ander uitreik deur byvoorbeeld by ’n hospitaal, ouetehuis of kliniek te gaan kuier om stories of artikels uit tydskrifte te gaan voorlees.

  9. Die personeel
    1. Nooi die plaaslike bibliotekaresse uit om vergaderings van die verskillende grade by te woon om raad te gee oor goeie boeke. (Die personeel van EDULIS kan ook hierin van hulp wees.)
    2. Wat van leesklubs, boekklubs of leeskringe onder die personeel? Die graad 1-onderwysers kan byvoorbeeld almal een keer per maand ná skool byeenkom en oor prenteboeke gesels, byvoorbeeld gunstelingboeke uit hulle kinderdae, nuwe boeke, ’n sekere skrywer se boeke, of boeke oor ’n sekere onderwerp. Almal in die graad-groep moet ’n bydrae lewer.
    3. Vra katalogusse of pryslyste aan van die uitgewers en stal dit in die personeelkamer uit. Koop of leen Resensiones van EDULIS waarin lyste gekeurde boeke, met kommentaar en aanbevelings, verskyn.
    4. Sorg dat ’n deel van die kennisgewingbord in die personeelkamer afgesonder word vir nuus oor die skool se Leesveldtog.
    5. Vra die hoof vir geld uit die begroting om in te teken op tydskrifte soos Horn Book, The Reading Teacher, Klasgids, ens.
    6. Besoek biblioteke, soos die EDULIS-Onderwysbiblioteek in Bellville gereeld, en neem van die tydskrifte en boeke oor leesbevordering uit.

  10. Lees gaan saam met skryf

    1. Laat die leerders meer skryf! Die graad 7’s kan byvoorbeeld stories skryf en illustreer wat die Graad 3’s kan lees.
    2. Laat hulle die boeke wat hulle reeds gelees het, as riglyne gebruik en help hulle, byvoorbeeld deur dinkskrums, met die karakterisering, die belangrikheid van ’n spannende intrige, die skep van ’n oortuigende ruimte of agtergrond, die gebruik van dialoog, ens.
    3. Laat hulle eers hulle stories met die hulp van hulle groepe redigeer voordat dit oorgeskryf of -getik en geïllustreer en gebind word.

  11. Hou die koerante dop en gaan woon boekbekendstellings by. Dis gratis en groot pret (gewoonlik met iets om te drink en te eet!) en so ontmoet ’n mens Suid-Afrikaanse skrywers en raak deel van die boeke- en leeswêreld.

  12. Die heel belangrikste: Koop self boeke! Die uitgewersbedryf is afhanklik van mense wat boeke kóóp.

  13. Die halfuur self

    1. Verduidelik waarom lees belangrik is. (En dis nié omdat die Onderwysdepartement of die hoof dit voorskryf of om die leerders stil te hou gedurende die Leesperiode nie!) Dit klink seker oorbodig, maar moenie aanneem dat die leerders weet waarom jy van hulle goeie lesers wil maak nie. Help hulle om in te sien dat lees noodsaaklik is vir ’n mens se daaglikse oorlewing en om die meeste loopbane te volg, om te kan vorder in jou werk én omdat dit ’n heerlike tydverdryf is. Mense wat lees, is nooit verveeld nie — en gewoonlik ook nie vervelig nie!

      Goeie lesers is goeie lesers , nié omdat hulle leer klank het of omdat hulle baie huiswerk in graad 1 gekry het nie, maar omdat hulle baie lees. Dit maak nie saak wat hulle lees nie. Selfs prul (trashy books) kan leesspoed en begrip verhoog. Enige boek, solank dit boeiend is.
      —    Mary Leonhardt: Parents Who Love Reading, Kids Who Don’t

    1. Laat die leerders ná die leessessie met mekaar gesels oor hulle leeswerk — of dan, elke Vrydag gesels oor die leeswerk van die week. (Net soos kinders graag oor video’s of flieke wil gesels, so wil almal graag gesels oor ’n lekker boek.) Deur navorsing is bewys dat sulke gesprekke die leerproses bevorder. As die periode egter eindig met ’n vinnige geskarrel om die boeke terug in die tasse of op die rakke te kry en woerts! is almal by die deur uit vir pouse (of vir wiskunde) gaan niemand bekeer word tot genotvolle lees nie. (Vergelyk die artikel van Sharon Virgil: “More time and choices overcome students’ resistance to reading” in The Clearing House Sept/Okt. 1994.)

    2. Laat die leerders self idees voorstel van wat ’n mens kan doen as jy ’n boek klaar gelees het, byvoorbeeld

      *    Lees weer ’n gunstelingdeel.
      *    Kyk weer hoe die karakters verander het soos die storie vorder.
      *    Gaan kyk weer na die moeilikste deel. Vra jou Leesmaat of Reading Buddy hoe hy of sy dit sou ontsyfer of verstaan.

    1. Natuurlik mag hulle ’n boek meer as een keer lees — dis heeltemal in die haak. Dis hoe swakker lesers leer om vlot te lees. (En moenie vergeet om leerders te prys as hulle ’n boek deurgelees het nie. Dis baie belangrik!)

    2. Nadat ’n week of twee verloop het, moet elke leerder neerskryf hoe hulle oor die leesperiode voel. Gebruik die positiewe aanhalings as plakkate dwarsdeur die skool.

    3. Sonder dat dit nóg iets word wat die opvoeder moet “nasien”, móét elke leerder kontrole hou van die boeke wat hy of sy gelees het. Probeer dit prettig en maklik maak - d.w.s. nie ’n “resensie” of book report oor elke boek nie!

      *    Hulle kan byvoorbeeld ’n lysie van die boeke maak met langsaan ’n syfer uit 10 as evaluering, of met ’n kort opmerking oor elke boek.
      *    Wat van nóg ’n lysie: hul eie leeswerk by die huis of gedurende die vakansies?

    1. Alle skrywers is optekenaars. Laat die leerders besef dat lees en skryf saamgaan.

    2. Hulle moet soos skrywers begin lees en dus interessante beskrywings, name en woorde wat hulle voorheen nie geken het nie, in hulle Leesjoernale opteken.

    3. Moedig hulle aan om by te lees oor dit wat in die klas behandel word. As die vroeë seevaarders en ontdekkingsreisigers behandel word, kan hulle byvoorbeeld ’n lewensbeskrywing van Robert Scott lees. As hulle in die geskiedenisklas leer van die Tweede Wêreldoorlog, is die dagboek van Anne Frank of outobiografieë van oorlewendes of Liesbet Delport se Oorlogboek van Berna Ackerman of Rona Rupert se ’n Roofvoël uit die Ooste die aangewese leesstof. As ’n sekere land in die nuus is, byvoorbeeld as daar tennis op Wimbledon is, kan boeke oor Engeland en Londen aanbeveel word; as die Springbokke of Proteas teen die Aussies meeding, boeke oor en van Australië, ens.

    4. Laat hulle nuuskierig word — en besef die TV is nie genoeg om ’n mens se nuuskierigheid te bevredig nie.

    5. Die opvoeder moet self ook nuwe boeke bekendstel.

      *    Knip resensies van boeke uit die koerante of tydskrifte uit, vra katalogusse van uitgewers aan, druk resensies van boeke uit Resensiones van EDULIS af. Plak dit op die kennisgewingbord.
      *    Begin om jou eie biblioteek op te bou. Die leerders moet kan sien die opvoeders is self ook lief vir boeke. Anders sal lees vir hulle ’n aktiwiteit bly wat ’n mens (onder dwang!) moet doen terwyl jy in ’n skoolbank sit.

    1. Boekmerke

      *    Wat van twéé boekmerke vir elke leerder — wat hulle self kan maak? Die een om te merk waar hy of sy Maandagoggend moet begin lees, en die ander een verderaan in die boek — daar waar hy of sy aan die einde van die periode of die week wil uitkom.

    1. Die opvoeders moet belangstel in wat hulle klas lees.

      *    Enige mens hou daarvan om iemand anders te vertel van ’n opwindende boek. Laat die lesertjie belangrik voel, stel ander boeke van dieselfde skrywer voor of ander boeke oor dieselfde tema of in diesefde genre, ens.

      *    Begin die kwartaal deur te vra: “Iets lekkers gelees hierdie vakansie?” (En te vertel wat jy sélf gelees het!)

      Many teachers “model” reading during sustained silent reading in their classrooms, and although this is an admirable practice, I believe it presents a passive, rather than an explicit model of what it means to be a reader. Teachers become explicit reading models when they share their own reading experiences with students and emphasise how reading enhances and enriches their lives. There is usually something worth sharing in most of the books and materials we read — an exciting or informative paragraph, a description of a character, or an interesting turn of phrase.
      When we, as teachers, share our own reading with students, we show how reading enhances our lives. In this way, we demonstrate to our students that reading helps us learn more about the world in which we live, gives pleasure and enjoyment, develops our vocabulary, and helps us become better speakers and more effective writers. Most importantly, when we share appropriate selections from our own personal reading, students begin to see us as real readers. If we serve as explicit reading models for our students and specifically associate reading with enjoyment, pleasure, and learning, our students will be encouraged to become voluntary lifelong readers.

          Linda B. Gambrell, “Creating classroom cultures that foster reading motivation”, The Reading Teacher, 50 (1):20-21

    1. Vra die goeie lesers, of ’n sekere groepie, om ’n uitstalling van boeke te hou (as die skool se biblioteek nie kan nie). Hulle moet die boeke “bemark” en bekendstel — natuurlik sonder om die hele storie te vertel en so die pret vir nuwe lesers te bederf.

    2. Vorm leeskringe, boekklubs of Literacy Clubs van ongeveer ses lede. Een van die leesperiodes per week kom hulle byeen om oor die week se leeswerk te praat. Die ideaal is dat hulle almal ’n spesifieke boek lees wat hulle dan kan bespreek. Of hulle kan boeke oor ’n sekere tema kies.

    3. Vra raad by die volwasse leeskring of book club in die gemeenskap. Lede daarvan is dikwels uiters kundig en sal waarskynlik graag kom help met die stigting of organisasie van leeskringe op skool.

    4. Die hoof, of adjunkhoof, moet vry wees in die Leesperiode. Hulle moet rondgaan van klas tot klas — nie om polisieman te speel en te kontroleer of almal lees nie (hoewel dit seker sal help!), maar om te kom saamlees of te gaan voorlees. Die skoolhoof kan byvoorbeeld vir die nuwe graad eentjies gaan lees en ook ’n hele stapel kinderboeke in of voor sy kantoor aanhou vir die kinders wat daar moet sit en wag.

    5. Maak ’n opname van die gewildste of mees geskikte boeke. (Watter boeke het hierdie jaar vir my klas “gewerk”?) Dit sal help met die aankope van nuwe boeke, of as ’n stel storieboeke omgeruil word met die klas langsaan.

      ’n Goeie boek is ’n goeie boek vir kinders alleenlik as hulle dit geniet. ’n Boek is nie ’n goeie kinderboek nie — selfs al reken grootmense dit is ’n klassieke boek — as kinders dit nie kan lees nie of as dit hulle verveel.
      —    May Hill Arbuthnot

      Ons moet ophou praat van goeie boeke en swak boeke. Vir kinders en vir nieliterêre mense is daar net interessante boeke en vervelige boeke.
      —     Aidan Chambers

    Moontlike probleme
    (Met ’n paar moontlike oplossings)

    Vraag: Wat moet ek doen as meer as die helfte van my klas nié boeke saambring nie? Of wat kan ek doen as die kinders glad nie gemotiveerd is nie?
    Antwoord: Verdeel die leerders in klein spannetjies. Elke span se oogmerk is om die leesperiode deur te bring deur regtig te lees. Enige leerder wat nie ’n boek saamgebring het nie, wat gesels of wat die klas ontwrig, maak dat sy of haar span ’n strafpunt kry. Die wenspan is die span wat aan die einde van die week die minste strafpunte het. En natuurlik moet daar byvoorbeeld aan die einde van die maand ’n lekker beloning vir die wenspan wees.

    Vraag: Wat moet ek doen met leerders wat so sukkel om te lees dat die leesperiode vir hulle ’n las en ’n straf is?
    Antwoord: Gebruik Vrydagoggend as ’n (ekstra) voorleesperiode. Dit sal die geleentheid bied om hulle bekend te stel aan stories wat hulle andersins nie self sou kon baasraak nie. So ’n “bekende” storie sal hulle dan makliker self kan lees. Of lees net die begin van ’n langer storie voor om hulle te motiveer om dit self klaar te lees. (Biblioteekpersoneel weet dat as ’n sekere boek in ’n klas voorgelees is, daar altyd daarna ’n groot vraag is om die boek uit te neem.)

    Vraag: Wat kan gedoen word met kinders met leesprobleme?
    Antwoord: Kry vir die swak lesertjie ’n Leesmaat wat kan help. In Amerika word hierdie stelsel die Literacy Corp genoem: ’n een-tot-een-tutorstelsel. Hierdie lees-tutors word opgelei of touwys gemaak oor hoe om ’n swak leser te help. ’n Sukkelende leser sal gewoonlik makliker vir so ’n leesmaat lees as vir die onderwyser. Die ideaal is dat die twee leesmaats saam boeke gaan soek waarvan albei hou. In Amerika het die skole wat ’n Literacy Corp ingestel het, agtergekom dat dit skoolbywoning bevorder: die tutor én die leerder het opgehou stokkiesdraai!

    ’n Paar ma’s kan gevra word om as leestutors of as voorlesers te kom help. ’n Ouer kind kan ook as Leesmaat of Reading Buddy kom help met ’n jonger, swak leser.

    Ander vrae wat mag opduik en waarvoor antwoorde gesoek sal moet word, is onder andere: Wat kan gedoen word as die opvoeder self nie wil lees nie of beswaarlik kan lees? Moet daar sensuur wees? Watter soort boeke of tydskrifte of comics mag hulle saambring skool toe om te lees?

    Adinda Vermaak
    Adviseur: Kurrikulumbronne
    EDULIS
    Kruskallaan 15
    BELLVILLE
    7530
    Tel. (021) 948-7504 x 221
    e-pos: avermaak@pawc.wcape.gov.za

    Verwysings

    Die volgende artikels (almal beskikbaar by EDULIS) is gebruik by die skryf van hierdie wenke, of bevat interessante aanvullende inligting:

    Berliner, David. “What research says about reading aloud.” Instructor. Mei 1990.
    Calkins, Lucy. “Motivating readers: Five ways to nurture a lasting love of
    reading.” Instructor. Jan./Feb.1997.
    Davis, Susan, J. “Make reading rewarding, not rewarded.” The Education Digest. Okt.
    1994.
    Gambrell, Linda, B. “Creating classroom cultures that foster reading motivation.” The Reading Teacher. Sept.1996.
    Hindley, Joanne M. “Books in the classroom.” Horn Book. Sept. 1996.
    Hodge, Frank. “Reading aloud: Listen to learn.” Instructor. Okt. 1990.
    Hong, Min. “To home and back with books: A reading program that is a joy for kids and an eye-opener for their parents.” Instructor. Sept. 1995.
    Jennings, Joan. “You can’t afford not to read aloud.” Phi Delta Kappan. Maart 1990.
    Koskisen, Patricia (red.) “In their own words: What elementary students have to say about motivation to read.” The Reading Teacher. Okt. 1994.
    Leonhardt, May. “Make lemonade: How to sweeten your school’s climate for reading.” School Library Journal. Nov. 1998.
    Lesesne, Teri, S. “Developing lifetime readers: Suggestions from fifty years of
    research.” English Journal. Okt.1991.
    Minderman, Linda. “A library of your own: Tips on building the right kind of
    classroom library.” Instructor. Mei 1999.
    Sullivan, A.M. “The natural reading life: A high-school anomaly.” English Journal. Okt.1991.
    Trelease, Jim. “Have you read to your kids today?: Make reading aloud a daily habit.” Instructor. Mei/Junie 1996.
    Van Deusen, Jean D. & Mary J. Langhorne. “Iowa City reads! The reading
    event worth shouting about.” School Library Journal. Mei 1997.
    Virgil, Sharon. “More time and choices overcome students’ resistance to
    reading.” The Clearing House. Sept/Okt.1994.
    White, Jim. “Three ways to encourage reading.” Principal. Sept.1999.

    boontoe


  14. © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.