OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor — handleiding

Izak de Vries en Coenraad Walters

Abraham de Vries: Die rooi vaas

Ter voorbereiding van die opvoeder

John Keats se gedig "Ode to a Grecian urn" is 'n bekende gedig en al taamlik dikwels gebloemlees. Die relevantste gedeelte word wel hier onder afgedruk, maar u as opvoeder sou waarskynlik daarby baat om 'n kopie van die hele gedig in die hande te kry.

Dalk kan u ook 'n boek of twee opspoor oor vase wat aan die begin van die twintigste eeu in Suid-Afrika te vinde was. Dit is nie noodsaaklik vir die verstaan van die teks nie, maar dit mag dalk interessant wees om 'n idee te hê van die tipe ornament waarvan gepraat word.

Ter voorbereiding van die leerders

Om die leerders in die regte stemming te kry vir hierdie verhaal, kan u hulle uitdaag om kortliks aan die klas te vertel wat hulle kosbaarste besitting is en hoekom. Indien hulle sukkel om aan net een voorwerp te dink, vra hulle wat hulle eerste sal gryp as die huis aan die brand sou raak. Presies hoe u dit doen, kan u as opvoeder na gelang van omstandighede aanpas.

  • Dit kan geskied deur 'n formele mondelinge sessie - met die voorwerpe (en/of foto's of tekeninge van die voorwerpe onder bespreking byderhand; of die leerders kan dit in 'n plakkaatvorm aanbied.
  • Dit kan ook informeel in 'n klasbespreking aangebied word. (Veral as die verhaal met 'n tweedetaalklas gelees word, en elke leerder 'n plakkaat of lêer kan hê wat sy / haar persoonlikheid uitbeeld, of selfs 'n ander persona kan aanneem, is hierdie soort aktiwiteit waardevol.)

    Na die eerste lees

    Aspekte van die teks wat verduideliking of bespreking mag vereis

    • Die woord plankblindings
    • Die sin: "'n Mens kan mos nie sommer so bloedig met iemand oor die dood praat nie."
    • Hoekom die herhaalde gebruik van verkleinwoordjies? (Byvoorbeeld soppies, kossies, voordeurtjie, tafeltjie, vertrekkie.)

    Hoe voel die leerders oor die teks?

    Stel vrae soos die volgende aan hulle:

    1. Wat dink jy van die tannie wat al die jare die vaas in die kas gehou het?
    2. Wat dink jy van Martha se begeerte om die vaas te besit? Was dit reg of nie? Hoekom sê jy so?
    3. Is jy bly die vaas het gebreek? Hoekom sê jy so?

    Die leerders kan eers hulle eie reaksie op hierdie vrae uitwerk, dan in groepe verdeel en die vrae gesamentlik benader. U kan dan die groepe die geleentheid bied om terugvoer te gee.

    Die titel

    Hierdie verhaal heet gewoon "Die rooi vaas". Dit trek dus onmiddellik die aandag na die voorwerp.

    1. Is dit daarom 'n goeie titel? Verduidelik.
    2. Sou dit beter gewees het as die titel byvoorbeeld "Tant Isa se vaas" was? Gee jou redes.
    3. Wat bereik die skrywer met so 'n eenvoudige titel? (Dit is 'n oop vraag en 'n aantal moontlike antwoorde kan dus verwag word. Solank 'n leerder se antwoord op die teks gebaseer is, moet dit aanvaar word.)
    4. Stem die leerders saam met die volgende stelling? "Die titel vestig die aandag op die vaas. Dit gee dus die verteller die geleentheid om ons eers meer te vertel oor die agtergrond en die karakters - sy weet ons gaan aanhou lees tot ons by die voorwerp self uitkom." Waarom of waarom nie?
    5. Hoekom juis 'n rooi vaas? Wat simboliseer die kleur rooi?

    Nuwe tye vra nuwe verhale en nuwe perspektiewe op ou verhale: Hierdie geleentheid groet WKOD-Afrikaansonderwysers wat eerstetaalmatrieks in hulle sorg het in die nuwe skooljaar. Twee nuwe kortverhaalbundels is naamlik voorgeskryf vir 2001: Douspoor (Tafelberg) en Storiepalet (JL van Schaik). Vir albei kan onderwysers handleidings by die uitgewers kry.

    Tafelberg-Uitgewers stel die volgende uittreksels uit Douspoor — ’n Handleiding (saamgestel deur Izak de Vries en Coenraad Walters) beskikbaar. Die uittreksels handel oor die ses verhale wat deur die WKOD vir 2001 voorgeskryf is. Vir volledige kopieë van die handleiding, skakel me. R. Doman by (021) 918-8603.


    Kleure

    Daar is reeds verwys na die kleur (rooi) wat in die titel voorkom.

    1. Gaan soek alle verwysings na kleure in die verhaal.
    2. Die lappieskombers is blou en rooi. Blou het 'n romantiese konnotasie, rooi is 'n passievolle kleur (onthou Valentynsdag!). Sê dit dalk vir ons iets van hierdie tannie? Skuil daar dalk iets in haar ten spyte van haar alleenheid? Wat sê die leerders hieroor?
    3. Geel is die kleur van vryheid. Kyk hoe fyn speel die outeur met dié gegewe. Wat wil die "koolswart" skaduwees nie doen nie? Hoekom is dit juis in hierdie lig dat Martha uiteindelik vra?
    4. Lig bring egter ook die waarheid - die tannie se kleinheid in hierdie omgewing. Die skaduwees wys reeds vir ons heen na die kis. Watter kleur is die kis? Watter kleur is die plek waar haar graf gaan wees?
    5. Die kis waarin sy begrawe word, is glansend swart, anders as die skaduwees. Na watter kleur gryp die tannie as sy sterf? Is die dood altyd negatief?
    6. Vraag 5 verwys eintlik na die agtergeblewenes se siening oor die dood. Kyk ook na die kleur van die lig (Martha se waarneming daarvan) ná die tannie se dood - en ná sy besef het die vaas is stukkend.

    Wat weet ons van die verteller?

  • Naam?
  • Geskatte ouderdom?
  • Geaardheid?
  • Waarmee hou sy haarself besig?
  • Watter konnotasies roep haar naam op? Pas die konnotasies by haar geaardheid? (Martha is onder andere 'n Bybelse naam - daar was Martha die een wat altyd bereid was om te dien.)

    Die soort verteller

    Die meisie skryf eintlik die storie voor ons oë. Sy (die verteller) is ook die implisiete outeur, of implisiete skrywer (vgl. die Engelse woord implied). Die eksplisiete (regte) outeur is natuurlik Abraham H. de Vries.

  • Is 'n eerstepersoonverteller die regte keuse in hierdie storie?
  • Ons weet dat Abraham H. de Vries die ware skrywer is van die verhaal. Hoekom lyk dit dan asof die storie deur die meisie geskryf is?
  • Dink jy dit is die effektiefste manier om die verhaal te vertel? Motiveer.

    Laat die leerders eers eie antwoorde formuleer op hierdie vrae Gee hulle die geleentheid om terugvoer te gee en kyk wat u kry. Een moontlike antwoord - die teoretiese een - lê daarin dat De Vries gereeld stories vertel op só 'n manier dat die leser die maak van die storie voor hom / haar sien afspeel. Ons noem dit 'n metastyl. Meta- het hier die betekenis van "selfbewus". Die storie is dus (self-)bewustelik storie, bewus van die feit dat dit ook 'n kunswerk is, iets wat broos is, wat kan breek, opgeskeur en weggewaai word. Dit het ook die vermoë om vals / fiktief te wees, om die waarheid aan te bied op 'n manier wat die verteller-skrywer sal pas. (Vergelyk T.T. Cloete se boek Die waarheid gelieg.)

    Vir 'n deeglike bespreking van die meta-elemente in De Vries se werk, lees gerus Etienne van Heerden se Postmodernisme en prosa.

    Die twee dele van die storie

    Hierdie storie val duidelik in twee dele uiteen: dit word met ander woorde aangebied asof dit in twee afdelings geskryf is. Identifiseer hierdie twee dele.

    1. Stem julle saam met die volgende stelling? "Hier is eintlik twee stories. Die eerste is geskryf om te sê hoe Martha die vaas bekom het. Die tweede is geskryf om te sê hoe sy dit nooit gekry het nie."
    2. Hoekom sou Martha die eerste deel van die verhaal skryf? Was dit 'n soort "dagboekinskrywing"? Wat sou nog 'n rede kon wees?
    3. Stem julle saam dat die eerste deel - as dit alleen sou staan - 'n skets kon wees oor die vaas en die eienaar daarvan? (Vergelyk die gesprek oor die skets in die hoofstuk oor "Die prediker".)
    4. Na aanleiding van vraag 4: Stem julle saam dat die tweede deel van hierdie verhaal 'n volledige kortverhaal maak met verskillende betekenisvlakke?
    5. Watter simboliek lê daarin opgesluit dat die wind die eerste deel van die storie omdop - as't ware onsigbaar maak - en die skrywende verteller weer met wit papier laat om die tweede deel te skryf?
    6. Pas hierdie omdop van die papiere by die res van die verhaal, of word dit sommer toevallig genoem?

    Die ander karakters

    1. Wat weet ons van die ander karakters in die verhaal? Maak 'n lysie van die ander karakters en skryf neer wat ons van hulle weet. (Nota: Hierdie vraag is 'n lekker een waar u groepe teen mekaar kan laat meeding - dalk kan die groep wat die meeste eienskappe beskryf, 'n paar lekkers wen?)
    2. Hoekom word die karakters so skraps geskets? Het dit iets te doen met verteller / implisiete skrywer van hierdie verhaal? Het dit iets te doen met die verteller / implisiete outeur se belangstelling in die vaas?
    3. Handel hierdie verhaal oor mense, een mens, of geen mens nie? (Dink mooi - dis 'n effens moeilike vraag en daar is baie moontlike antwoorde. Die titel waarsku ons egter dat die onderlinge verhoudinge tussen die karakters hier gestuur gaan word deur 'n voorwerp, nie noodwendig deur die direkte handeling tussen karakters nie.)

    Vaas vs. blompot

    Martha wil vreeslik graag die vaas hê. Tog het sy nie die moed om te vra nie. Dan besluit sy uiteindelik: "As sy doodgaan, sal ek sommer die vaas neem. Niemand sal hom tog aan 'n blompot steur nie, het ek gedink en daarby het dit gebly."

    Hoekom verwys sy hier - die enigste keer dat sy dit doen - na die vaas as 'n "blompot"? Wat is die funksie daarvan in haar kindergemoed? (Laat die leerders 'n bietjie hieroor gesels. 'n Moontlike interpretasie is dat 'n blompot nie so duur en spoggerig klink soos 'n vaas nie. Deur te sê dat niemand 'n blompot sal mis nie, maak sy dus die neem daarvan minder problematies as wanneer sy 'n vaas sou vat.)

    Die ruimte

    1. Waar speel die verhaal af? Dorp, stad of plaas?
    2. Gee 'n gedetailleerde beskrywing van die ruimte - plantegroei, voorkoms, enigiets wat julle kan agterkom. (Weer 'n lekker vraag vir 'n klaskompetisie!)
    3. Is dit 'n vrugbare gebied? Is die plante mooi? Hoekom sê jy so?
    4. Wat is die streek se gemiddelde reënval? (Raadpleeg 'n atlas waar die gemiddelde reënval van die verskillende streke aangebied word. Dit kom nie in die storie voor nie.)
    5. Hou die verteller van hierdie ruimte? Hoekom sê jy so?
    6. Die storie begin met tant Isa, maar eindig met 'n beskrywing van die ruimte. Hoekom?
    7. Die vaas is 'n baie fyn, baie mooi voorwerp in 'n redelik harde deel van ons land. Is dit 'n moontlike rede vir die meisie se geweldige belangstelling daarin? Sou haar pa-hulle dit kon bekostig om gereeld nuwe voorwerpe aan te koop bloot omdat dit vir hulle mooi is?

    Die leser as storiemaker

    In die verhaal "Offerblomme" is die leser 'n speurder wat die stiltes moet ooplees, anders word die "geheim" nie opgelos nie. In hierdie verhaal word ons vertel dat die verteller haar eie verhale uitdink oor die voorwerpe waarvan sy ons vertel. Vergelyk hierdie twee stellings uit die stuk:

    • "Ek het self geraai en gedink en honderde stories van die vaas vir myself versin."
    • "Ek kon in my verbeelding die geskiedenis voor my sien afspeel. Want, wat ek nie geweet het nie, het ek bygelas."
    Die "storie agter die storie" - die een waaroor ons werklik nuuskierig is - word nooit vertel nie; daardie hele verhaal word dus aan die leser oorgelaat om te versin.

    1. Hoekom vertel sy ons dat sy al hierdie stories opmaak, maar dan deel sy dit nie met ons as lesers nie?
    2. Dwing sy ons nie op dié manier om ons eie stories te maak nie? Sy gee vir ons die gegewens, maar ons moet die stories uitdink - net soos sy dit uitgedink het. Op hierdie manier word ons self skeppers van stories - of nie?
    3. Die stories:
      1. a. Is dit waar dat daar nou duisende potensiële stories is rondom hierdie vaas in plaas van maar net een?
      2. b. Gestel nou die verhaal was waar. Dan sou daar egter net een ware storie wees, naamlik dit wat werklik tussen tant Isa en haar geliefde gebeur het, nie waar nie? Daardie storie is egter vir altyd weg, verlore, want die mense wat die feite gehad het, is nou dood.
      3. c. Word al die ander stories doodgemaak wanneer 'n mens die "waarheid" uitvind? Vergelyk die bespreking van "Lig".
    4. Hierdie manier van "opmaak" is mos maar hoe alle stories verloop, nie waar nie? Of anders gestel: alle vertellers van alle stories werk dikwels met 'n baie klein hoeveelheid inligting en dan moet hulle, om die verhaal lewe te gee, maar opmaak om dit wat hulle nie weet nie, aan te vul. Bespreek hierdie stelling.

      (Vir die opvoeder, enkele idees om die gesprek mee te fasiliteer. Geskiedskrywers, of skrywers wat verhale oor die verlede skryf, het dikwels die probleem dat hulle met baie min feite sit, en dan moet hulle begin interpreteer. Hulle moet letterlik vra: Hoekom het dit gebeur na daardie voorval? Wat was die rede? Die redes word nie altyd verstrek nie - dis waar die geskiedkundige dan moet feite "opmaak" deur die feite wat hy / sy wel het, te interpreteer. Die geskiedkundige is dan 'n speurder, net soos die lesers speurders moes wees in 'n verhaal soos "Offerblomme".

      In die letterkunde moet die leser ook tekste interpreteer en "verlore" gedeeltes invul. Wanneer letterkundiges tekste begin interpreteer, word daar gepraat van die hermeneutiek. Die term hermeneutiek is afkomstig van die Griekse woord hermeneuein wat ongeveer dieselfde beteken as die Latynse woord interpretari. Vergelyk die naam van die Griekse god Hermes: hy wat as boodskapper opgetree het. (Hermes is deesdae meer bekend as die Interflora-mannetjie, want die maatskappy gebruik sy beeld nou as hulle logo). In die letterkunde bring die digter / skrywer aan die leser 'n boodskap, wat dan verder geïnterpreteer moet word. Dit is ook hoekom dominees op Sondae preek. Die Bybel is 'n boodskap wat uitgelê, geïnterpreteer moet word. Baie dominees, baie preke oor dieselfde teksvers. Op 'n soortgelyke wyse: baie lesers, baie interpretasies van stiltes; min feite, baie stories wat moontlik gemaak word.)

    5. In "Aapstreke" moes die leser die leidrade - wat alles vir ons neergeskryf is - raaklees. In "Offerblomme" was daar heelwat goed nie neergeskryf is nie, en moes die leser dit self "vind" deur die leidrade in die teks te volg. In hierdie storie word in effek aan die leser gesê: "Hier is 'n hele storie agter my storie, maar ek gaan dit nie vertel nie. Maak daardie storie." Stem julle saam?
    6. Wat is die rol van die eksplisiete skrywer, Abraham H. de Vries dan? Laat die leerders 'n bietjie die volgende paar stappe oorweeg. Gestel die verhaal is losweg gebaseer op die waarheid, dan sou die "betekenisse" in die verhaal soos volg verloop het:
      1. Iemand kry 'n vaas van haar verloofde en die verloofde sterf kort daarna.
      2. Die feite is verlore as die tannie ook sterf.
      3. Die mense praat daaroor, en spekuleer oor die feite.
      4. Abraham H. de Vries hoor dit en besluit om daaroor te skryf, maar ken nie al die feite nie.
      5. De Vries skep 'n karakter, Martha, wat die verhaal "skryf".
      6. Martha ken nie al die feite nie, en spekuleer daaroor
      7. Sy skryf dat sy spekuleer, maar vertel ons nie wat sy dink nie.
      8. Die leser lees die verhaal en spekuleer oor die feite.

    'n Belangrike interteks:

    John Keats het 'n gedig geskryf met die titel "Ode to a Grecian urn". Dit begin met die woorde: "Thou still unravished bride of quietness".

    Die storie, soos deur hierdie gedig vertel, gaan oor 'n Griekse vaas waarop verskillende figure uitgebeeld word. Onder andere is daar twee mense wat net-net wil soen. Omdat hulle egter so geskilder is, sal hulle vir ewig millimeters weg wees van soen, en tog nooit soen nie. Hulle sal dus nooit die vreugde van soen ken nie, maar ook sal hulle liefde nooit vergaan nie.

    Vergelyk hierdie strofe:

      Bold Lover, never, never canst thou kiss,
      Though winning near the goal - yet, do not grieve;
      She cannot fade, though thou hast not thy bliss,
      For ever wilt thou love, and she be fair!

    Stem die leerders saam met die volgende stellings?

    1. Tant Isa gebruik hierdie vaas as simbool om haar liefde vir Fanie die res van haar lewe te simboliseer.
    2. Anders as in gedig, het hierdie verliefdes wel 'n klein deel van hulle liefde gesmaak, maar die dood van Fanie het dit vernietig.
    3. Die vaas wat breek, is ook die dood van hierdie verhaal wat (a) nooit vertel is nie, en (b) nou saam met die tannie sterf.
    4. Die "liefde" wat so besing word op die Griekse kleivaas sal ook net hou tot die vaas breek.
    5. Net soos die verhaal van die vaas nooit vertel is nie, is die storie agter die Griekse ornament ook nie vertel nie. John Keats het dus die verhaal opgemaak net soos De Vries, Martha en die lesers van die "Die rooi vaas" die storie agter die vaas opgemaak het.

    Hoe vergelyk die leerders hulle antwoorde in 1 - 5 met die verteller se insig dat die vaas eintlik op die graf sou hoort?

    Opstelonderwerpe

    1. Skryf die storie oor die verliefde mense agter hierdie vaas.
    2. Skryf 'n storie oor twee minnaars en 'n baie spesiale geskenk.
    3. Vertel die storie van twee mense wat mekaar baie liefgehad het, maar nooit bymekaar kon wees nie.

    Verdere leesstof

    Lees gerus die Amerikaanse skrywer O. Henry se verhaal "The gift of the magi".

    Ander tekste in Douspoor

    • Een van die hartseerste verhale in Douspoor is Willem D. Kotzé se "Die dag toe ek my pa verloor het". Dit handel oor die verlies van 'n uiters geliefde voorwerp - in hierdie geval 'n dier, en daarmee saam 'n pa.
    • Charles Fryer se "Verlore blou" is 'n interessante verhaal van verlies.
    • T.T. Cloete se kortverhaal, "Die ramp" handel oor die dood van 'n persoon, maar op 'n heel ander manier.
    • Hennie Aucamp se "In die leegte" is 'n voorbeeld van 'n verhaal waarin die ware storie eintlik nooit vertel word nie, net soos Kirby van der Merwe se "Brand".

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.