OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor — handleiding

Izak de Vries en Coenraad Walters

Petra Müller: Junkheap in Oktober

Voorbereiding

  1. Vra elke leerder om ’n kunswerk klas toe te bring wat gemaak is uit een of meer vorm van tuisafval. Stal die objekte uit.
  2. Versamel, met die leerders se hulp, soveel ou koerante as moontlik. Berei ’n collage voor met die redes vir die skoolboikotte in die laat sewentigerjare en die vroeë tagtigerjare. Dit hoef nie indringend bespreek te word nie, maar kan prominent opgeplak word in die klaskamer vir selfstudie.

Die eerste lees

  1. Wees voorbereid op woorde wat die leerders mag pootjie. Enkele woorde wat moontlik moeilik verstaanbaar mag wees, is:
    ravot
    matadors
    klepper
    krink
    wynbottelhulsels.
  2. Vra ook die leerders om hulle eie lyste saam te stel van woorde of frases wat hulle nie verstaan nie.
  3. Verdeel die klas in groepe. Deel die lyste op sodat sekere groepe sekere van die woorde kan naslaan — of gewoon definieer as hulle reeds die betekenisse ken. Geskikte woorde- en fraseboeke sal benodig word. Fasiliteer die ondersoek, en laat die groepe terugrapporteer.

Eerste terugvoer

Hoe voel die leerders oor hierdie verhaal? Laat hulle elkeen ’n stuk koerantpapier vind waarop daar genoeg plek is om ’n paar sinne te skryf. Hulle moet nie hulle name op die papier skryf nie. Wat hulle wel moet doen, is die volgende:

  1. Kies een van die volgende woorde om jou gevoel jeens die verhaal uit te druk deur die volgende sin te voltooi:
    Die verhaal laat my ______ voel.
    (Die moontlikhede is: a. lekker, b. hartseer, c. bly, d. teleurgesteld, e. opgewonde, f. kwaad, g. nie een van die woorde nie; my woord is ________.)
  2. Skryf nou drie sinne neer wat die rede(s) verduidelik vir jou antwoord.

    Wanneer hulle klaar hulle woord en hulle sinne geskryf het, vra die leerders om hulle papiere op te frommel en in die snippermandjie te gooi. (Maak eers seker die snippermandjie is skoon en leeg. As alternatief kan ’n emmer, of ’n groot kardoessak gebruik word.)

    Wanneer al die stukkies papier in die snippermandjie of emmer gegooi is, word hulle goed geskommel en die leerders moet dan elkeen weer een bondeltjie kom uithaal. Laat elkeen hardop aan die res van die klas lees wat op die stukkie papier staan.

Nuwe tye vra nuwe verhale en nuwe perspektiewe op ou verhale: Hierdie geleentheid groet WKOD-Afrikaansonderwysers wat eerstetaalmatrieks in hulle sorg het in die nuwe skooljaar. Twee nuwe kortverhaalbundels is naamlik voorgeskryf vir 2001: Douspoor (Tafelberg) en Storiepalet (JL van Schaik). Vir albei kan onderwysers handleidings by die uitgewers kry.

Tafelberg-Uitgewers stel die volgende uittreksels uit Douspoor — ’n Handleiding (saamgestel deur Izak de Vries en Coenraad Walters) beskikbaar. Die uittreksels handel oor die ses verhale wat deur die WKOD vir 2001 voorgeskryf is. Vir volledige kopieë van die handleiding, skakel me. R. Doman by (021) 918-8603.


Die redes waarom die kinders nie skool toe gaan nie

Dit is nou belangrik om die leerders uit te daag om te sien of hulle verstaan waarom die kinders op die junkheap nie skool toe gaan nie. Vra hulle om een of meer koerante te neem en dit deur te blaai op soek na enige berig wat moontlik mag verband hou met redes waarom kinders nie skool toe sal kan gaan nie. (U sal waarskynlik nie koerante hê wat uit daardie tyd kom nie, maar hedendaagse gebeure kan gebruik word om die kinders se optrede te begin verstaan.)

Skuif die tafels en stoele, of banke eenkant toe en laat al die leerders hulle onderskeie berigte in die middel van die kamer neersit. (As dit nodig is, kan hulle ’n klip gaan soek om die papier mee vas te hou.)

Gee die klas tyd om die berigte te bestudeer en hou dan ’n stemming oor watter berig die redes die beste uitbeeld. As dit nodig is, kan daar ’n paar stemmings wees waarin dié met die laagste aantal stemme in elke ronde uitval.

U as opvoeder sal nou kan sien of die klas die agtergrond tot hierdie verhaal verstaan. Indien hulle heeltemal van die spoor af is, kan u hulle dalk help deur ’n collage te gebruik van die gebeure wat aanleiding gegee het tot 16 Junie 1976, en die gevolglike oproer daarna. Haal gerus ook weer Die swerfjare van Poppie Nongena van die rak en lees vir hulle relevante passasies voor.

U ken egter u klas, en sal weet of u die inligting moet verskaf, en of hulle die nodige studie sal kan doen sonder om te veel tyd daaraan te spandeer.

Dit is baie belangrik dat die leerders besef dat die kinders in oproer was jeens die politieke bestel, en die nadraai van die afdwing van Afrikaans as voertaal vir sommige vakke. Hierdie verhaal styg egter bo ’n spesifieke tyd uit, dus moet dit bloot as agtergrond gebruik word.

Navorsingsprojekte

Laat die klas spontaan in groepe verdeel om die volgende kwessies te ondersoek. Hierdie projekte sal waarskynlik ’n week of meer neem om behoorlik na te vors.

  1. Die nut van vleilande in ons ekologie en die gevare van waterbesoedeling.
  2. Die gevare wat voëls inhou vir vliegtuie. Met ander woorde: Hoe is dit moontlik dat ’n voël straler kan laat val?
  3. Die rede vir die meeue se teenwoordigheid op die junkheap. Wat eet meeue gewoonlik? Wat het hulle gedoen voor die rommelhope verskyn het?
  4. Die moontlike rede vir die rommelhoop se nabyheid aan die lughawe.
  5. Die verskillende vliegtuie en rederye wat ons land se lughawens aandoen.
  6. Die verskillende soorte meeue wat ons in Suid-Afrika aantref.

Hierdie projekte kan dan uitgestal en voorgedra word.

Die teks van nader beskou

Die titel

’n Titel ontsluit ’n verhaal. Dit lei die teks in. Die titel verskaf sekere kodes aan die leser waarmee hy / sy die teks kan benader. Dit laat ontstaan vrae rondom die titel:

  1. Hoekom word die woord junkheap gebruik en nie rommelhoop nie? (Dis ’n moeilike vraag en nie een wat sommer net een antwoord sal ontlok nie. Daar is verskeie hoeke waaruit die ondersoek geloods kan word — die politieke klimaat waarteen die storie afspeel en die spreektaal is maar twee. Let daarop dat die woord koppelaars gebruik word om te beskryf wat op die rommelhoop lê, en nie die meer gebruikte Engelse woord clutch nie. Dit sou goed wees om die leerders se opinies te hoor en hulle te vra om dit uit die teks te fundeer.)
  2. Wat het Oktober te make met die verhaal? Watter ander Afrikaanse tekste het ook die woord Oktober in hulle titels? Is die Oktober-konnotasie ironies, of nie? (Oktober, die mooiste, mooiste maand is in die middel van die lente. Hierdie kinders se “natuur” is rommelhoop wat die hele jaar “blom”. Dan is Oktober ook die maand waarin die groot voorbereidings vir die finale eksamen gemaak word, nie waar nie?)

Die ruimte

  1. Is ’n rommelhoop ’n positiewe of negatiewe plek om jou vryetyd op deur te bring?
  2. Ervaar die karakters in hierdie verhaal die rommelhoop as positief of negatief? Watter woorde beskryf die kinders se siening van die hoop?
  3. Sou die verhaal dieselfde trefkrag gehad het as hierdie kinders die beelde gemaak het van materiaal wat in hulle ouers se huise te vinde was?

Die verteller

    Watter soort verteller het ons hier aan die woord?
  1. Is dit ’n goeie keuse vir ’n verteller? Wat daarvan as die verhaal vanuit die perspektief van die “rondekopleier” vertel sou word? Watter voor- en nadele hou die keuse van die verteller in?

Die kinders

  1. Wat weet ons van die kinders?
  2. Daar word baie min karakteriseringstegnieke in hierdie storie gebruik. Is dit positief, of nie? Watter effek het dit? Sou die storie anders gewees het as die kinders name gehad het en elkeen deeglik beskryf is?

Die kinders, die industrie en die natuur

  1. Watter nutwaarde, al dan nie, het die volgende masjinerie vir die kinders: die vliegtuie, die stootskraper, die trein en die motors op die grootpad?
  2. Die kinders leef in ’n wêreld waar die industrie alles kom stort wat dit nie meer wil hê nie. Watter uitwerking het dit op die kinders?
  3. Is Port Jackson-bome inheems?
  4. Ondersoek die kinders se betrokkenheid by die natuur — steur hulle hulself veel daaraan?
  5. Wat dink die leerders van die wyse waarop die kinders die muskiete van hulle weghou?
  6. Daar word aan die begin en aan die einde van die verhaal gewag gemaak van die “geweld” van die stralers se klank, en die feit dat dit ’n deel is van die kinders se ervaring. Is dit toevallig? Is dit funksioneel? Hoekom sê julle so?

Die twee beelde

  1. Watter simboliese waarde heg die leerders aan die feit dat die kinders mensfigure maak uit die afval, en nie byvoorbeeld vliegtuie, honde of stootskrapers nie?
  2. Is die tweede man “beter” as die eerste een? Hoekom sê jy so?
  3. Hulle maak vuur in die stoof. Dan kom die rook deur die man se lyf geborrel. “Hulle asem die bitter rook van die blarevuur in, tot diep in hulle longe. Dit bevredig, op ’n vreemde manier.” Hoekom bevredig hierdie rook hulle?
  4. “Nou is dit ook heeltemal hulle eie man, net hulle weet van hom.” Waarom sou die kinders so opgewonde wees oor ’n man wat “heeltemal hulle eie” is?
  5. “Hulle dans na hartelus om hom, tot hulle moeg neerval op die sagte kweek wat oopsprei om die groenmoesvleitjies.” Hoekom dans hulle om die beeld?
  6. Daar is geen direkte aanduiding dat hierdie beelde aan enige godsdiens gekoppel kan word nie. Baie van die groot godsdienste soos die Islam, die Judaïsme en die Christendom staan egter skepties teenoor beelde. Ook godsdienste wat in Suid-Afrika ontstaan het, heg geen betekenis aan beelde nie. Laat die leerders hulle onderskeie godsdienste se sieninge oor beelde met mekaar deel.

Die kinders en volwassenes

  1. Maak ’n lys van al die volwassenes wat in die teks voorkom (daar is nie baie nie).
  2. Beskryf dan kortliks hoe die kinders gesagsfigure ervaar — waar dit hoegenaamd beskryf word.
  3. Is alle volwassenes noodwendig gesagsfigure in hierdie verhaal?
  4. Wat weet ons van die kinders se verhoudings met hulle ouers?

Die studente van die universiteit

  1. Hoekom het die studente die beeld verwyder?
  2. Was dit die regte ding om te doen? Hoekom (nie)?

Die koerante

  1. Watter rol speel koerante in die kinders se lewens?
  2. Wat dink die leerders van die manier waarop die koerante die kinders se kuns beskryf?
  3. Hoekom noem die koerante die beeld “Lord of the flies?” (Die opvoeder moet nie te gou William Golding se teks met daardie titel byhaal nie. Kyk of die leerders ander interpretasies ook kan vind. ’n Hele aantal leerders sal egter bewus wees van Golding se teks. Vra dan gerus dié wat die teks gelees het of hulle dink die interteks werk. Is Golding se teks tersaaklik? Het ons hier te doen met ’n groep kinders wat sonder volwassenes ’n eie lewe probeer skep? Is anargie hier ter sprake? Is hier enige geweld teenoor ander kinders ter sprake?

Die meeue

  1. Hoe weet die kinders dat ’n meeu ’n straler kan laat val?
  2. Watter simboliese waarde het voëls in ’n wêreld, of omgewing, waar mense van ander wêrelde, of omgewings, heen en weer oor die kinders se koppe vlieg?
  3. In die verhaal “Die muisvoëls en die vyeboom” doen voëls ook ’n eienaardige ding teen die einde. Is daar enige verband tussen dit wat ons vertel word oor die muisvoëls — hulle relatiewe krag — en die “krag” waaroor ’n enkele meeu beskik? Of nie? Verduidelik.

Die slot

“Om te dink, mymer die seun, dat ’n meeu ’n vliegtuig kan laat val, en ook sy stem word stil, en kring weg in die waterklankies van die vlei.”

  1. Wie se stem(me) word stil?
  2. Die meeu is baie kleiner as die vliegtuig. Watter simboliese waarde het dit dat so ’n klein diertjie so ’n groot vliegtuig kan laat val?
  3. Die vleiland sluk albei se stemme in, asook die eerste man s’n — wat beteken dit?
  4. Wat dink die leerders van die slot? Diegene wat dink die slot is nie goed nie, kan gerus ’n eie slot skryf en dit aan die klas voorhou. Laat die klas die verskillende moontlikhede bespreek.

Resensie

Ter afsluiting — die leerder se reaksie op die teks. Hier volg ’n moontlike essay-onderwerp:

    Jy is ’n joernalis wat die eerste beeld op die plein gesien het en die kinders toe gaan opsoek het. Jy het hulle vertroue gewen en hulle het jou na die tweede beeld geneem — nadat jy belowe het jy sal nie foto’s neem of aan ander vertel waar die beeld is nie. Jy het egter wel hulle toestemming om in die koerant se kunsblad daaroor te skryf.

Skryf nou ’n berig vir die plaaslike koerant waarin jy die simboliek van hierdie twee beelde vasvang. Jy kan die kinders in jou resensie insluit, maar onthou — die berig is vir die kunsblad en die lesers sal dus wil weet hoekom jy die twee beelde as kunsobjekte sien, al dan nie. ’n Mate van beskrywing sal nodig wees — asook jou interpretasie van die beelde binne hulle kontekste — die een wat verdwyn het van die plein af, en die nuwe een.

Ander tekste wat gelees kan word

  • U kan gerus leerders met goeie leesvaardighede uitdaag om N.P. van Wyk Louw se Raka te lees. Dit sal interessant wees om te sien of die leerders intertekstuele verwantskappe raaksien (vergelyk byvoorbeeld die vleilande en die bou van die beeld, die verontagsaming van gesag, ensovoorts).

    Ander tekste in Douspoor

    • “Clarence” van Elsa Joubert handel oor ’n meisie wat wil skool toe gaan, maar nie kan nie, weens die politieke situasie wat op daardie stadium in die land geheers het.
    • “Op pad huis toe” van Ivor Petersen beskryf die lewe van ’n jongmens wat deur die politieke situasie ingehaal is.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.