OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor — handleiding

Izak de Vries en Coenraad Walters

George Weideman: Die muisvoëls en die vyeboom

Voorbereiding

Maak maar seker dat die klas weet wat ’n vyeboom is en hoe die vrugte lyk. Dieselfde geld vir ’n muisvoël. Foto’s, of selfs plantmateriaal, sal help. ’n Goeie CD-ROM en die internet is ook nie te versmaai vir so ’n soektog nie.

Laat die leerders ook self navorsing doen om genoemde materiaal te verskaf. Party kan dalk vyebome in hul tuin hê, ander die nodige foto’s.

Moeilike woorde

Daar is enkele woorde en uitdrukkings in die verhaal wat vreemd mag voorkom. Hier is vier voorbeelde:

  1. Brakwater, teenoor vars water.
  2. Louter fonteinwater … (Louter het natuurlik ook ’n ander betekenis — wat is dit?)
  3. Rooi Jonnie ry spesiaal ore-in-die-nek dorp toe …
  4. Die skilletjies is “so dun van bekwaamheid“.

Die eerste lees van die teks

Indien daar iemand is wat ’n lekker Noordweste-aksent kan namaak, sou dit goed wees om dié persoon te vra om hierdie teks voor te lees.

Die individuele leerder se reaksie

Laat elke leerder afsonderlik die volgende vrae skriftelik beantwoord.

  1. Het jy van die verhaal gehou of nie?
  2. Wat was goed daaraan?
  3. Wat het jou gepla?
  4. Waar dink jy speel die verhaal af (in watter provinsie van die land)? Hoekom sê jy so?
  5. Wat dink jy van Rooi Jonnie?
  6. Dink jy Jonnie het sy verdiende loon gekry? Verduidelik kortliks jou antwoord.
  7. Wat dink jy van die vreemde man? Het hy reg opgetree teenoor Jonnie?
  8. Wat kon jy aflei van die verteller van die verhaal?

Nuwe tye vra nuwe verhale en nuwe perspektiewe op ou verhale: Hierdie geleentheid groet WKOD-Afrikaansonderwysers wat eerstetaalmatrieks in hulle sorg het in die nuwe skooljaar. Twee nuwe kortverhaalbundels is naamlik voorgeskryf vir 2001: Douspoor (Tafelberg) en Storiepalet (JL van Schaik). Vir albei kan onderwysers handleidings by die uitgewers kry.

Tafelberg-Uitgewers stel die volgende uittreksels uit Douspoor — ’n Handleiding (saamgestel deur Izak de Vries en Coenraad Walters) beskikbaar. Die uittreksels handel oor die ses verhale wat deur die WKOD vir 2001 voorgeskryf is. Vir volledige kopieë van die handleiding, skakel me. R. Doman by (021) 918-8603.


Groepsreaksie

  1. Hou ’n stemming. Teken op die bord aan hoeveel van die leerders van die verhaal gehou het en hoeveel nie.

  2. Trek nou twee kolomme op die bord en vra terugvoer (a) oor vraag 2 hier bo en (b) oor vraag 3. Laat die terugvoer so ver as moontlik spontaan geskied. Skryf net opsommende woorde neer (soos “spannend”, “onwerklik”, “leuens”, e.d.m. as leerders dit byvoorbeeld sou noem), maar vra telkens die leerders om ’n individuele respondent se antwoord te help opsom. Laat hulle ook toe om daarop te let dat sekere response dalk alreeds opgesom is op die bord, of laat hulle daaroor redeneer of iets miskien nog bygevoeg moet word.

    Gebruik hierdie twee kolomme om die gesprek so te stuur dat probleme opgelos word wat leerders nog mag hê om die gebeure in die verhaal te verstaan.

  3. Laat die leerders in gonsgroepe verdeel om oor vrae 5 tot 8 te praat. Fasiliteer die gesprekke, maar laat hulle idees uitruil hieroor.

    Uiteindelik kan daar kortliks terugvoer verkry word van groepe wat voel hulle wil hulle sienings met die ander deel.

    Wat van vraag 4 hierbo? Dit kom aan die bod wanneer die ruimte in meer diepte bespreek word. Die leerders moet dus hulle geskrewe response behou.

  4. In dieselfde gonsgroepies: Vra die leerders om die verhaal in 20-30 woorde op te som. Die idee is om die gebeure vas te vat, waarna die storielyn later ondersoek sal word. Gee die onderskeie groepe kans om terug te rapporteer.

Die struktuur van die verhaal

Enige verhaal het sekere struktuurelemente wat bestudeer kan word. Soms is die ruimte baie belangrik, ander kere is die persoon wat die storie vertel veel belangriker. In die meeste verhale is daar egter ’n groot aantal van hierdie elemente wat saamwerk om die storie te maak wat dit is.

Die struktuurelemente van hierdie verhaal sal vervolgens bespreek word. Dit kan waarskynlik ten beste in gonsgroepe gebeur. U kan dan die vrae vra, die geleentheid aan die leerders bied om dit te bespreek, terugvoer kry en dan in ’n fasiliterende rol die onderskeie idees help opsom. Die klas hoef natuurlik nie tot ’n vergelyk te kom oor alles nie — dit is baie belangrik dat die onderskeie leerders hulle eie idees kan huldig.

  1. Die spreker

    1. Wat kan ons aflei van die spreker uit sy manier van praat? Laat die leerders ’n bietjie idees opper oor die persoon en wie hy / sy is. Is die persoon byvoorbeeld of ongeleerdgeleerd? Daar is geen direkte beskrywing nie; ons moet dit dus aflei. Aanvaar enige antwoorde wat die leerders uit die teks aflei.
    2. Watter soort verteller het ons hier? (Wees oop vir antwoorde, want dit is ’n verteller wat vertel oor iets wat hy / sy gehoor het. Dit is dus ’n eerstepersoonsverteller, maar nie regtig een wat oor sy / haar eie ervarings vertel nie!)

  2. Die hoofkarakter: Rooi Jonnie

    1. Wat doen Jonnie vir ’n lewe?
    2. Probeer ’n beskrywing van Jonnie se uiterlike gee … kan ons? (Daar is eintlik nie ’n beskrywing van Jonnie nie. Die leerders kan dalk probeer raai, maar dis belangrik dat hulle besef dit is raaiskote, en dat dit nie werklik uit die teks gefundeer kan word nie.)
    3. Let op die spelling van sy naam . Hoe sou ’n mens dit normaalweg spel? (Dit sal ook die klas interesseer dat hierdie naam waarskynlik nie “djonnie” uitgespreek word nie, maar wel met ’n j-klank, soos in “jô!”.)
    4. Is Jonnie getroud of nie? Watter aanduidings is daar? (Dis ’n moeilike een, maar die manier waarop hy lewe, die bok as vriend … Kyk gerus of die leerders met iets vorendag kan kom.)

  3. Die ruimte: Anderkant die Gamoep

    1. Laat die leerders eers self ’n paar idees gee oor die ruimte waar die verhaal afspeel. Gebruik hulle antwoorde op vraag 4 hierbo.
    2. Dit sal waarskynlik ook help as die leerders ’n idee het van die omgewing waar die verhaal afspeel. Of u Gamoep op ’n kaart sal kry, is onseker, maar Weideman se oeuvre speel natuurlik heel dikwels met die droë streke van die Noordweste van ons land. Verskeie verhale in Die donker melk van daeraad speel daar af, asook ’n hele klompie van sy gedigte.

  4. Die water

    1. Wat is die naam van Jonnie se plaas? (Hoe word die naam in die storie “aangekondig”?)
    2. Wat is brakwater? Hoekom word water brak?
    3. Sou Jonnie meer kon doen met die vars water as om bloot net sy vyeboom daarmee nat te maak?
    4. In vraag 3 hierbo het ons gepraat van die droë klimaat waarin heelwat van Weideman se verhale afspeel. Water is ’n baie belangrike kommoditeit. Sou die vars water moontlik ’n metafoor kon wees? Dink ook aan ’n moontlike “geestelike” waarde wat water mag hê. (In talle gelowe kom water dikwels voor as ’n reinigingsmiddel, maar dit verkry dikwels ook die konnotasie van seëninge wat vanuit die hemel kom.)

  5. Die vyeboom

    Dit is waarskynlik die belangrikste objek in die verhaal.

    1. Wat sou ’n mens doen met ’n boom wat nie vrugte dra nie?
    2. Laat die leerders ’n lys maak van twee dinge:
      1. . Plekke waar hulle weet dat vyebome goed groei.
      2. Ander tekste waarin daar vyebome voorkom.
    3. Dié boom kom gereeld in die Bybel voor. Daar is ook ’n duidelike intertekstuele verwysing hierna: In die vierde paragraaf word melding gemaak daarvan dat Jonnie weet wat die “Woord” oor hierdie soort boom sê. Dit is interessant dat daar twee verskillende weergawes van die vyeboomverhaal voorkom in die Bybel. Mattheus 21 en Markus 11 vertel albei die verhaal van hoe Jesus by ’n vyeboom verbyloop en hom vervies as daar nie vrugte aan is nie. Hy vervloek dan die boom. Lukas 13 vertel die storie egter anders. Daar is die baas van die boom kwaad oor daar nie vrugte aan is nie, maar die tuinier pleit dat hy nog ’n jaar kans gegun moet word. Die tuinier is seker dat daar met die nodige bemesting vrugte sal kom — so nie, kan die boom gekap word.
    4. Sou dit raadsaam wees om in hierdie omgewing ’n boom af te kap, selfs al dra dit geen vrugte nie?

  6. Die vreemdeling

    1. Wat weet ons van die vreemdeling? Laat die leerders ’n beskrywing van die vreemde kêrel opstel.
    2. Sy vallery op die presiese plek waar die water gekry is, lyk nogal verbasend. Laat die klas ’n paar ander maniere met mekaar deel oor die wyses waarop mense “water aanwys”.
    3. Is hierdie vreemdeling ’n werklike mens, of …?
    4. Wat dink die klas van sy aandrang daarop om die eerste vye te kry? Was dit regverdig?
    5. Hoe sou hy weet wanneer om weer te kom?
    6. Het hy ’n rede gehad om kwaad te wees vir Rooi Jonnie?
    7. Het die vreemdeling die muisvoëls gestuur?

  7. Die muisvoëls

    1. Laat die leerders ’n bietjie navors oor muisvoëls en hulle gedrag. Bronne sal toon dat dit wel sosiale voëls is wat baie lief is vir vrugte. Of hulle egter in sulke groot groepe voorkom, is onwaarskynlik.
    2. Hoe weet die muisvoëls wanneer om toe te slaan? Wag antwoorde in van die leerders. Daag hulle uiteindelik uit met die vraag: Is dit nie maar omdat hulle toeslaan wanneer daar nie beweging is op die werf nie?
    3. Is dit toevallig dat hulle opdaag net ’n paar uur na die vreemdeling weg is?
    4. Is dit moontlik dat ’n groep voëls met ’n boom en al kan wegvlieg?

  8. Die slot

    Hoe ervaar die leerders die slot?

    1. Is so iets werklik moontlik? (Vergelyk ook die bespreking in 7 hierbo.)
    2. Is dit ’n “simpel” slot, of nie? Hoekom sê jy so? Laat die leerders gerus individuele reaksies bied op hierdie vraag.
    3. Was dit wat met sy boom gebeur het, ’n straf vir Rooi Jonnie?
    4. Het Rooi Jonnie dit verdien om sy boom te verloor, of het dit niks met die saak te doen nie? Hoekom sê julle so?

  9. Die titel: “Die muisvoëls en die vyeboom”

    ’n Mens begin dikwels die ondersoek van ’n verhaal by die titel, maar hier is dit eintlik belangrik om weer te kan terugkyk na die titel noudat die verhaal deeglik ontleed is.

    1. Wat opval, is dat die muisvoëls eerste genoem word. Is hulle — terugskouend — belangriker as die vyeboom, of nie? Hoekom sê julle so?
    2. Hoekom is daar nie menslike figure nie in die titel nie? Wat van: “Rooi Jonnie en die vreemdeling”? Of: “Rooi Jonnie se vyeboom”? Bespreek.
    3. Die water word ook nie in die titel genoem nie. Hoe klink: “Soet water maak soet vye”? Bespreek.
    4. Is die gegewe titl dus ’n goeie titel? Motiveer jou antwoord.

Die storie agter die storie

Lesers wil dikwels, en heel tereg, weet wat “sê” die verhaal nou eintlik. Hoekom is dit geskryf? Wat wou die outeur daarmee sê? Wat is die boodskap, of ideologie, wat in so ’n verhaal ingebou is?

Die antwoorde op al hierdie vrae is dat die outeur beslis rigtingwysers in ’n verhaal inbou, maar dat hy of sy glad nie die skepper is van die finale betekenis van ’n verhaal nie. Daarvoor is daar lesers. Ons as lesers “skep” in ’n groot mate die betekenisse van die verhale wat ons lees.

Vroeg in die twintigste eeu is geglo dat alle betekenisse in ’n verhaal ingebou word, en dat die leser net moet weet hoe, dan is die onttrekking van daardie betekenis so eenvoudig soos om ’n mandjie uit te pak.

Vandag glo ons dat betekenis deur die leser na die teks gebring word. Elke leser, of dit nou ’n vriend van die outeur is, of die opvoeder, of ’n individuele leerder, dra by tot die algehele betekenis van die verhaal — maar moet sy /haar veronderstelde betekeins deeglik uit die teks kan fundeer.

Die individuele leser bring dus sy / haar eie betekenis na die teks, maar dan tree hierdie leser weer met ander in interaksie en kry nuwe insigte. Uiteindelik is al die betekenisse wat gegenereer word, die naaste wat ons aan ’n finale betekenis kan kom. Die individu se siening van die teks is dus baie belangrik, maar dit kan of moet aangepas word deur na ander te luister. Individue hoef egter nie hulle eie betekenis af te lê om ander s’n te aanvaar nie (mits hulle hulle betekenis deeglik uit die teks gefundeer het. Dit gaan dus nie oor reg of verkeerd nie, maar veel eerder oor dit én dit én dit — wat alles moontlike betekenisse kan wees.

Daar is dus ’n hele paar moontlike betekenisse wat aan hierdie verhaal geheg kan word. Dit mag help om eers die tipe teks te probeer vasstel.

Die tipe teks Daar is verskillende soorte kortverhale (sien ook die bespreking oor genres in die hoofstuk oor die “Die prediker”). Die indeling van verhale in hokkies is moeilik, maar die inhoud gee gewoonlik vir ’n mens ’n goeie idee van die tipe verhaal waarmee gewerk word. Baie verhale pas baie maklik in meer as een subgenre, dus is die afbakening geensins swart en wit nie, en dit moet ook nie so aan die leerders oorgedra word nie.

Stel gerus die volgende vrae aan die leerders. Hou die onderstaande definisies aan hulle voor en laat hulle eers in gonsgroepe en daarna in klasverband terugvoer gee oor hulle idees.

  1. Is dit ’n tipiese kontreiverhaal?
  2. Is dit ’n allegoriese verhaal? (Laat die leerders die term allegorie naslaan.)
  3. Wil die verhaal Marxisties iets sê oor die mens se verhouding met die natuur?
  4. Is die verteller iemand wat ’n streek en sy mense beskryf? Noem voorbeelde.
  5. Word daar ’n bietjie by die waarheid “gelas”? Is daar ’n paar “leuens” in die teks? Noem voorbeelde, indien daar is.
  6. Dra hierdie verhaal een of meer sedelesse oor? Indien wel, wat sou dit kon wees?
  7. Kan die verhaal ’n mens dalk probeer beïnvloed om opnuut te kyk na ons verhouding met die natuur, die wilde diere en die manier waarop ons die natuur bewerk? Verduidelik. (Die idee is om die leerders te laat gesels oor die feit dat die mens die natuur bewerk om sy / haar eie kos te verbou, en dat die diere se habitat krimp. Dit is egter maar ’n klein moontlikheid in die verhaal en veel tyd hoef nie hieraan afgestaan te word nie.)
  8. Het die muisvoëls (die natuurkinders) nie die reg om ook te deel in die vrugte (die industrie) van die arbeider nie? Sonder die vars water — die natuur — sou die vrugte mos nie daar gewees het nie?

Verskillende lesers sal beslis verskillende betekenisse in hierdie verhaal lees. Dit hoort so, want dit is ’n veelvlakkige teks. Die leerders moet ook daarvan bewus wees dat daar meer as een moontlike interpretasie in die verhaal opgesluit lê.

Die verhaal en die bundel waarin dit verskyn het

“Die muisvoëls en die vyeboom” het oorspronklik verskyn in Die donker melk van daeraad, Weideman se tweede kortverhaalbundel. Die titel van die verhaal is, saam met nege ander, in die inhoudsopgawe in kursief gedruk. Hierdie nege verhale het telkens ’n spesifieke deel van die bundel ontsluit, of afgesluit. Soos “Die muisvoëls en die vyeboom” is al die verhale ’n herskrywing van stories wat Weideman in sy jeug by oumense gehoor het.

Die bundel is geskryf ter nagedagtenis van Ruiter en Elsie van Onseepkans. Daar is ’n foto van hierdie twee baie ou mense voor in die boek. Die heel eerste verhaal van die bundel “(Matrys)“ begin met hierdie woorde:

    Soos met die stories (…) wat hier versamel is — wonderverhale, grilstories, liegstories, reste van vertellings — het ek as losklosklong ook nie wérklik aandag gegee aan dit wat ek by Ruiter en Elsie gehoor het nie. Of miskien moet ek sê: ek het die storie ágter die storie nie verstaan nie (Weideman 1994:1).

Die leerders kan gerus aangemoedig word om die hele bundel te gaan lees. Dit sal die weetgierige leerder heelwat insig gee in hierdie verhaal wanneer dit gelees kan word teen die agtergrond van die ander verhale wat in die bundel opgeneem is.

Ander tekste

  • In Afrikaans is daar ’n hele paar kontreivertellers. Jan Spies was byvoorbeeld ’n baie bedrewe verteller en twee resente name wat ook genoem kan word, is Elias P. Nel en Thomas Deacon.
  • George Weideman se roman Die onderskepper is ’n baie goeie voorbeeld van ’n allegorie.
  • André P. Brink se Kennis van die aand is ’n goeie voorbeeld van ’n Marxistiese teks. Dit het niks met die Kommunisme te doen nie, maar die boodskap is baie skerp teen die apartheidsideologie wat in daardie dae geheers het.
  • Op ’n soortgelyke wyse is Lindsay King se verhaal “Die beach” hier in Douspoor ’n skreeusnaakse voorbeeld van nog ’n verhaal wat die leser, heel Marxisties, laat verstaan dat apartheid bevraagteken moes word.

Kry ook gerus die volgende twee films op video en vertoon dit aan die klas. Albei films is omtrent 90 minute lank, dus kan dit kan maklik vertoon word in ’n tydjie waar u as opvoeder werklik elders benodig word. Die films is Jean de Florette en Manon of the spring. Albei is Franse films met Engelse onderskrifte. ’n Vyeboom en vars water staan sentraal in hierdie verhale.

Die leerder se eie opinie oor die verhaal

Daar is nou baie gepraat en vanuit vele hoeke oor die teks besin. In ’n klasverband kan u vra:

  1. Was dit ’n verhaal wat die leerders geniet het? Hoekom? Hoekom nie?
  2. Wat sal die leerders onthou van hierdie verhaal?

Werksopdrag

Laat elke leerder ’n brief skryf aan ’n vriend of vriendin waarin hy/sy die teks kortliks aan die vriend(in) verduidelik: ’n eie gevoel oor die teks, ’n opsomming van die verhaal, die boodskap van die teks (indien enige), ’n kritiese kyk na die taalgebruik en die verteltegnieke in die verhaal en, uiteindelik, ’n motivering hoekom die ontvanger van die brief die verhaal eenvoudig móét lees (of nié moet lees nie).

’n Ander teks

Vos van Anna M. Louw vertel die verhaal van ’n desperate boer wat tydens ’n langdurige droogte ’n ooreenkoms met die bose aangaan. Ingevolge die ooreenkoms reën dit vir ’n lang tyd net op sy plaas.

Ander tekste in Douspoor

  • Leerders mag dit interessant vind om “Waterwyfie” van E. Kotze en “Lig” van Jaco Jacobs te lees. Beide verhale speel, soos “Die muisvoëls en die vyeboom”, met die bonatuurlike.
  • Elias P. Nel se “’n Troosprys vir Jan Khoemkoem” is ’n baie goeie voorbeeld van die tipe kontreivertelling waar die hoe van die vertel amper belangriker is as die wat van die vertelling.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.