OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust
Hieronder volg ’n bespreking van die roman Toorberg deur Etienne van Heerden, wat vir baie skole vir 2000 voorgeskryf is. In die toekoms sal daar gereeld besprekings van voorgeskrewe werke in hierdie rubriek plaasvind. Miskien kan opvoeders ’n “verlangelys” stuur van werke wat hulle graag bespreek wil sien. Ons doen ons bes om aan versoeke te voldoen!

BESPREKING VAN Toorberg
Etienne van Heerden

Die verhaal
Magistraat Abraham van der Ligt kom na die plaas Toorberg om ondersoek in te stel na die dood van die kind Noag (“Druppeltjie”) du Pisani, wat in ’n boorgat geval en gesterf het. Reeds ’n paar jaar vroeër was daar ’n geregtelike ondersoek, en is daar bevind dat dit ’n ongeluk was en dat niemand skuld het aan sy dood nie. Van der Ligt moet nou vasstel of hierdie bevinding korrek was.

Tydens sy besoek kom die magistraat agter hoe nóú verbonde die hede en die verlede is; dat hy nie die hede kan begryp sonder om die verlede in ag te neem nie. Op die misterieuse plaas Toorberg is die gestorwenes nie dood nie, maar leef hulle voort en tree hulle op as getuies voor die magistraat. Met behulp van die getuienis wat hy inwin, slaag Van der Ligt geleidelik daarin om die geskiedenis van die Moolmans bloot te lê.

Dit begin met StamAbel, wat met Haas Boesman en die Pandoer (“Kleurling”-soldaat) Jan Swaat se hulp die wildernis makgemaak en die plaas Toorberg opgebou het tot ’n geskikte woonplek vir StamAbel se vrou, Magtilt. Vier van die vyf kinders uit hulle huwelik was nie geskik om die boerdery voort te sit nie: Lucius, wat ’n regter geword het, vlot Latyn kan praat en hom in allerlei regskwessies verdiep; Andreas, ’n fynbesnaarde kunstenaar en digter met homoseksuele neigings — en boonop, tot ergernis van sy pa en sy broer Soois, Engelsgesind; Soois, ’n Kaapse rebel tydens die Anglo-Boereoorlog, wat deur die Engelse doodgeskiet is; en die vierde broer, Floors, die groot “skandemaker” deur sy verhouding met die bruin vrou, Ouma Kitty Riet. Dit was net StamAbel se vierde seun, OuAbel, ’n praktiese, nugter daadmens, wat geskik was om op Toorberg te boer. OuAabel se vrou was Ouma Olivier, wat later beroerte gekry het en die plaasbedrywighede van haar rolstoel moes bekyk.

OuAbel het drie seuns gehad. Posmeester het met die Ierse Rooms-Katoliek Amy O’Leary getrou en hom daarmee die woede van die gesin op die hals gehaal. Die tweede seun, wat boer op Toorberg word, heet “Abel”; hy is met Ella Coetzer getroud. Die derde seun, De la Rey, was ’n non-konformis en ’n denker — hy het ook van Ella gehou, en sy van hom, maar op die laaste het haar keuse tog op die boerseun Abel geval.

Abel en Ella het vier seuns wat doodgebore is: OokAbel, KleinAbel, Lucius en Andreas. Hul enigste seun wat bly leef het, is DwarsAbel, maar hy is onvrugbaar, sodat die Moolman-stamboom by hom eindig. Verder het Ella ook nog die lewe geskenk aan die beeldskone, maar vertraagde dogter, KênsTillie. Waterwyser Du Pisani, ’n getroude man met kinders, is so deur haar skoonheid bekoor dat hy met haar geslagsomgang gehad het wat gelei het tot die geboorte van die kind Noag (Druppeltjie), die een na wie se dood die magistraat kom ondersoek instel.

Dit dan, is kortliks die geskiedenis van die Moolman-geslag. Daar is egter ook ’n ander deel van die gesin, die sogenaamde “Skaamfamilie”, wat nie deur die Moolmans as familie erken word nie. Hier is Jan Swaat en Haas Boesman die voorvaders. Ouma Kitty Riet is die dogter van Jan Swaat en die kleindogter van Haas Boesman, en deur haar kom die koppeling tussen Jan Swaat, Haas Boesman en die Moolmans tot stand. Floors Moolman, StamAbel se seun, het ’n seksuele verhouding met Ouma Kitty waaruit ’n seun, Andries, gebore word. Wanneer die “skande” op die lappe kom, word Floors deur sy pa met die sambok bygedam en van die plaas weggejaag; Kitty word weer deur haar pa, Jan Swaat, gelooi. Andries was so verbitterd oor die manier waarop StamAbel opgetree het dat hy sy van verander het na “Riet” — daarmee wou hy sy band met die Moolmans verbreek.

Andries trou met Kaatjie Danster, en hulle het drie kinders. Die eerste, Oneday, is so genoem na die woorde van sy pa: eendag is eendag, dan sal geregtigheid geskied. Oneday word ’n pastoor van die bevrydingsteologie, wat die evangelie van Jesus verbind met die politieke bevryding van die onderdruktes. As gevolg van sy boodskap beland hy herhaaldelik in die tronk — sy vrou, Meisie Pool, treur omdat sy so min van haar man te siene kry. In teenstelling met DwarsAbel, wat onvrugbaar is, het Oneday en Meisie vyf gesonde kinders met die Bybelse name Matthew, John, Mary, Mark en Andrew.

Die tweede kind van Andries en Kaatjie is Shala, wat net so ongelukkig soos Oneday voel oor die onreg teen sy mense en die meerderwaardige houding van die blankes. Die derde kind is KleinKitty, wat ’n geheime liefdesverhouding het met Koevert Moolman, die seun van Posmeester Du Pisani en die kleinseun van OuAbel Moolman. Sodoende word die Moolmans en hul “Skaamfamilie” tog weer by mekaar uitgebring.

’n Ander karakter op Toorberg is die “Slams”, met sy derde oog wat verborge waarhede kan sien, en wat glo kan toor. Hy word deur die plaasbewoners vir die onheil op Toorberg geblameer.

Dit is die verlede wat die magistraat op Toorberg ontrafel. Maar terwyl hy daar vertoef, gebeur daar ook in die “hede” ’n aantal verrassende dinge. Die mees dramatiese is die verdwyning van Abel, die baas van die plaas, die belangrikste verdagte in verband met die dood van Druppeltjie. Hierdie verdwyning vind plaas voordat die magistraat hom nog kon ondervra. Later word Abel onder geheimsinnige omstandighede dood gevind op die solder van sy woonhuis — met kaart en transport van die plaas in sy hand, en jaggeweer op sy skoot, maar geen koeëlwond aan hom of enige ander teken van hoe hy gesterf het nie. Na sy dood val daar stormreëns wat die langdurige droogte op Toorberg verbreek maar ook groot skade veroorsaak.

Tydens sy ondersoek word die magistraat geleidelik al dieper in die gebeure op Toorberg betrek; hy verander van ’n buitestander na ’n deelgenoot van die geskiedenis. Hy begin saam met Ella, die boervrou, te eet en in die huis op Toorberg te vernag; Ella sien hom as die reïnkarnasie van De la Rey, haar man se broer op wie sy vroeër verlief was, en hy sien haar as die reïnkarnasie van sy oorlede vrou. Wanneer Van der Ligt uiteindelik vertrek, is hy nie in staat om ’n objektiewe en finale oordeel uit te spreek nie — die saak is so ingewikkeld dat dit nie binne die grense van die regstelsel besleg kan word nie. Dit is ’n saak wat die mens in sy komplekse geheel raak; en die magistraat is van niks meer seker nie, behalwe van die noodsaak van vergiffenis en genade.

Bespreking
Die geskiedenis van die Moolmans kan gelees word as die geskiedenis, in beknopte vorm, van die Afrikaner, vanaf sy vroeë pionierslewe waarin hy die wildernis makgemaak het, tot die tagtigerjare toe blanke soldate in militêre voertuie die “townships” gepatrolleer het. Die roman het iets van ’n allegorie, ’n verhaal met ’n dubbele betekenis, waarin die karakters nie net indiwiduele persone is nie, maar ook tipes in die samelewing verteenwoordig — byvoorbeeld die geharde boertipe, die vuurvreter-nasionalis (Soois), die geleerde (Lucius), die sensitiewe kunstenaar (Andreas), die denker en non-konformis (De la Rey), die bevrydingsteoloog (Oneday) en die gedomineerde Afrikanervrou (Ella).

Die Abel-karakters is almal harde heerserstipes wat die geskiedenis domineer. Die Bybelse Abel was die uitverkorene, die een wie se offer deur God aanvaar is (Genesis 4); sy broer, Kain, was ’n moordenaar wat die vloek van God gedra het. Op Toorberg is die blankes, onder die leiding van Abel, die bevoorregtes; die bruinmense is (in die woorde van die digter S V Petersen) die “kinders van Kain”. Die Moolman-geskiedenis word, oor die geslagte heen, toenemend gekenmerk deur onverdraagsaamheid en rassisme; daardeur bring hulle op hulself ’n las van morele skuld, en die oordeel van God.

Die droogte wat oor die jare al hoe erger word, is simbolies van hierdie toenemende skuldelas. Al die pogings van die Moolmans om die waterprobleem op te los, soos om ’n kanaal te bou of na water te boor, is tevergeefs. ’n Offer is nodig om vir die skuld te betaal, en hierdie offer word gebring deur die onskuldige kind, Druppeltjie. Hy is ’n Christus-tipe wat deur sy lyding vir ander se sondes moet boet.

Die manier waarop Druppeltjie sterf, is van die grootste belang. Die boer Abel bring, vir die eerste keer, ál die bewoners van die plaas bymekaar om hul toestemming te vra dat hy die kind skiet om hom van sy lyding te verlos. Hy kry almal se toestemming, en trek dan self die skoot af. Daarmee word Abel ook ’n tipe offer-figuur, wat almal se verantwoordelikheid op homself neem, en die pynlike ding doen wat noodsaaklik is. Ook teen die einde van sy lewe neem hy ’n soortgelyke rol: hy gaan begrawe die boorpunt, met ander woorde, hy laat vaar sy hoogmoedige pogings om die droogte te omseil, en dan gaan hy na die solder, waar hy skynbaar in vrede sterf. Dit lyk of hy homself inderdaad as ’n offer aan God aangebied het, en of God sy offer, soos dié van die Bybelse Abel, aanvaar het.

Deur die dood van Druppeltjie en van Abel word die krisis afgeweer. As teken dat die oordeel van God afgewend is, sak die reën dan ook net na Abel se dood uit. Hierdie reën is teken van die suiwerende oordeel sowel as van die genade van God. Dit is ’n tipe sondvloed, soos wat Druppeltjie se naam “Noag” dan ook suggereer (vgl. Genesis 6-9); maar, soos wat God na die sondvloed genade aan die mens bewys het, is die reën hier ook teken van genade — die droogte is beëindig en die lewe kan voortgaan.

Die genade gaan egter veral na die eens uitgestote “Skaamfamilie”. Die Moolman-geslag het tot ’n einde gekom met die onvrugbare DwarsAbel, terwyl Oneday Riet daarenteen vyf kinders het. Die Moolmans leef dus voort deur die Riets, vir wie hulle oor die jare heen nie wou erken nie. Die kaart en transport van Toorberg, wat op Abel se skoot is wanneer hy sterf, is ’n teken van sy eienaarskap van die plaas; en sy dood bring ’n einde aan sy heerskappy en sy besit van die grond.

Toorberg sluit aan by ’n lang tradisie van die plaasroman in die Afrikaanse prosa. Vanaf die heel eerste novelle in die Afrikaanse literatuur, Catharina, die dogter van die advokaat van C P Hoogenhout, tot by latere skrywers soos D F Malherbe, C M van den Heever en Jochem van Bruggen, is die plaas gesien as die tuiste van die Afrikaner, as die plek waar hy sy waardes kan uitleef, waar die Afrikaner, en veral die Afrikanerman, die baas is. Vanaf die sestigerjare het hierdie prent begin verander, en is die plaas in die Afrikaanse prosa meer krities uitgebeeld, met die fokus veral op blanke rassisme en onreg — byvoorbeeld in Jan Rabie se Ons, die afgod en André P Brink se Houd-den-bek.

Van Heerden se roman sluit by die vroeëre, maar veral by die latere plaasroman aan. StamAbel is nog die baas van die plaas, die absulute alleenheerser op Toorberg — in ’n mate heroïes, maar veral meedoënloos. Sy verdrywing van sy seun Floors en die verwerping van Floors en Kitty se nageslag sit ’n ketting van rassediskriminasie en skuld aan die gang. Met die sterwe van Druppeltjie vind ’n belangrike verandering plaas wanneer Abel ook die toestemming van die “Skaamfamilie” vra om die seun te skiet. Hiermee erken hy dat die “Skaamfamilie” ook deel van die Moolmans is. Die magsbasis begin verskuif van die blankes na hul bruin familie.

In teenstelling met die ou plaasroman, waar die werkers meestal randfigure was en die Afrikanerboer in die sentrum was, is daar in die roman Toorberg ’n groter polifonie, ’n veelheid van stemme; by die ondersoek van die magistraat is elkeen se getuienis van belang. In dié opsig is dit ’n “demokratiese” boek. Dit is ook veelseggend dat dit Kaatjie Danster, ’n bruin vrou, is wat ten slotte die “legkaart” van die geskiedenis voltooi met ’n uiters belangrike stuk getuienis, dit waarna die magistraat die hele tyd op soek was: die gebeure wat die dood van Druppeltjie voorafgegaan het. Die een wat dubbeld aan die kortste ent moes trek, die vrou wat gekleurd is, kry hier die laaste woord.

StamAbel was baie lief vir sy vrou, Magtilt, en sy sterkste motivering vir die opbou van die plaas was om ’n goeie woning vir Magtilt te skep. Sy kleinseun Abel, daarenteen, maak die lewe vir sy vrou, Ella, baie moeilik. Hy is ontrou aan haar en sy moet maar met sy nukke en grille vir lief neem en desondanks toesien dat die plaas nie verval nie. Geen wonder nie dat die magistraat, met al sy huiwering om uitsprake te maak, tog ten slotte sy bewondering vir haar te kenne gee (p. 177).

Daar is ’n interessante verhouding tussen die magistraat en Ella. Soos reeds genoem, ontwikkel hy tot ’n tipe reïnkarnasie van De la Rey Moolman, op wie Ella vroeër verlief was en wat skynbaar nou oorlede is. Sy naam suggereer dit trouens, want “De la Rey” is ’n half Franse, half Engelse vorm van “Van der Ligt”. Hy is die een wat lig moet bring in die duister, wat die onkunde moet verdryf, en een van die dinge wat hy ontdek, is die noue verbondenheid van die verlede en die hede. Die verlede is nie waarlik verby nie, maar leef voort in die hede ... veral in die foute van die verlede wat nie verwerk en versoen is nie.

Een van hierdie foute was Ella se keuse van Abel as huweliksmaat in plaas van De la Rey vir wie sy liefgehad het. In hierdie opsig het sy ook skuld aan die probleme van die hede, omdat sy die man gekies het wat die baas van die plaas is in plaas van die een wat vir haar ’n geesgenoot sou kon wees. De la Rey, aan die ander kant, was skynbaar aarselend in sy toenadering tot Ella, en het sodoende sy geliefde in die hande van ’n ander laat kom. Nou spook hierdie episode voort in hulle albei, maar sonder dat daar werklik ’n verandering kom; in die hede is daar dieselfde aarselende toenadering gevolg deur ’n skeiding. Ella verkry mettertyd die identiteit van die magistraat se gestorwe vrou — die briewe vir sy oorlede eggenote geskryf, is inderwaarheid aan Ella gerig. Maar uiteindelik spoel hy die briewe in die toilet af en verlaat die plaas. Die geskiedenis het homself herhaal.

Dit is duidelik dat die gebeure van die roman in ’n magies-realistiese wêreld afspeel. Die roman is realisties in die sin dat die omgewing van die plaas en die tipe mense wat dit bewoon, herkenbaar is uit die alledaagse lewe. Die vreemd-magiese is veral daarin geleë dat daar geen onderskeid gemaak word tussen gestorwenes en lewendes nie; dat hulle saam op die plaas verkeer, sonder dat die lewendes die gestorwenes kan waarneem. Alleen die magistraat, wat as reïnkarnasie skynbaar tot albei wêrelde behoort (as De la Rey tot die gestorwenes, as Van der Ligt tot die lewendes), het tot albei wêrelde toegang om getuienis in te win.

Dit is nie dat die karakters van die hede realisties uitgebeeld word, en dié uit die verlede “magies” nie. Eerder is dit so dat die skrywer ’n skemerwêreld skep op die rand van lewe en dood, waar die sintuiglike en die geestelike ontmoet. Met hierdie magies-realistiese aanbod wil die skrywer ons oë oopmaak daarvoor dat daar meer in die lewe is as wat ons met die sintuie kan waarneem. Daar is ’n geheimsinnige skakel wat die mens aan sy voorgeslag bind; die gestorwenes leef voort na hul dood. Die mense van die verlede en die hede dra ’n gesamentlike verantwoordelikheid, en die skuld van die verlede moet in die hede verwerk en versoen word.

Sommige lesers mag miskien aanstoot neem aan die uitbeelding van die “Slams”, en dink dat die skrywer met hierdie karakter die Islamitiese geloof as boos uitbeeld. Dit is nie die regte interpretasie van hierdie karakter nie. ’n Mens moet onthou dat hy vir die mense van Toorberg ’n vreemde, andersoortige tipe mens is; vir hulle is enigiemand wat hom met toordery besig hou, ’n “Slams”. Dit is hulle voorstelling van hom wat dit moontlik maak om die “Slams” as ’n simbool van bose magte te sien — sekerlik word die Islamitiese geloof nie negatief uitgebeeld nie.

Die verhaal ontwikkel nie op ’n lineêr-chronologiese wyse, vanaf dit wat eerste tot dit wat laaste gebeur het nie; nie soos ’n rivier wat in een rigting vloei nie. Eerder is die lees van die roman soos die bou van ’n legkaart, en daar word heen en weer in die tyd beweeg op soek na stukkies inligting wat daartoe kan bydra om die legkaart te voltooi. Die roman kan ook beskou word as ’n “hofsaak” waarin die getuies opgeroep word voordat die uitspraak aan die einde gelewer word. Die volgorde van tonele in die roman word bepaal deur die rigting waarin die magistraat se ondersoek hom lei. Aan die begin van die roman word ’n onopgeloste “raaisel” aan die leser (en aan Van der Ligt) gestel: Wat het presies gebeur by die dood van Druppeltjie? Hierdie “raaisel” is een van die belangrikste elemente om spanning by die leser te wek; en elke stukkie getuienis voor die magistraat dra daartoe by om hierdie raaisel op te los.

Aan die een kant word die spanning gewek deur die raaisels van die verlede; aan die ander kant word dit volgehou deur die geheimsinnige verdwyning van Abel. Hierdie dubbele spanning, uit die verlede en die hede, word tot aan die einde van die roman volgehou, totdat die dubbele raaisel van die twee sterwes op Toorberg, dié van Druppeltjie en dié van Abel, opgelos is.

Die roman is ’n variasie op die misdaadverhaal, waarin die dood van ’n seun wat in ’n boorgat geval het en doodgeskiet is, ondersoek word. Maar dit is meer as ’n misdaadverhaal. In die ondersoek word die “misdade” van ’n hele geskiedenis ontbloot, en saam daarmee die rigting vir die versoening met die verlede aangedui. Die droogte van Toorberg is die “droogte” van die Afrikaner, maar uiteindelik van elke nasie en van elke mens, en die “reën” is die uitkoms wat ons almal nodig het.

MOONTLIKE VRAE EN AKTIWITEITE VOLG IN DIE VOLGENDE RUBRIEKE.

Chris van der Merwe
Universiteit van Kaapstad

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.