OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor

Prof W van Zyl

Douspoor is saamgestel deur Rudi Daniels en Gordon Julies

Offerblomme: Nanette van Rooyen

Die skrywer bied hier ’n skrikwekkende geskiedenis aan, maar bedek dit deur onderbeklemtoning. Daar word dus van die leser verwag om “tussen die lyne” te lees voordat die gebeurelyn werklik vasgestel kan word.

Afhangende van die ek-verteller, Phoebe, se ouderdom het ons waarskynlik te make met ’n geval van pedofilie, en in ieder geval van ’n seksuele wandaad. Phoebe is onwetend swanger en word na die “heks”, Miesie, geneem vir vrugafdrywing. Uit Phoebe se gedagtes op die oomblikke voor die operasie kan die leser aflei wie die misdadiger was: Miesie se hande lyk opeens soos “Oom Paul se worsvingers” en dan volg haar reaksie: “Moenie aan my vat nie (). Nie soos hy nie.” Hy het haar waarskynlik verkrag.

Die skrywer gebruik verskillende tegnieke om die gebeure te verdoesel. Die vernaamste is die aanbied van ’n parallelle situasie met die hond, asook die gebruik van die kinderverteller. Etlike ondersteunende verwysings word egter ook ingebou.

In die openingsparagraaf is die aandag op die verdwene hond waarvan die ek-verteller die implikasies presies weet. Hierdie gegewe verdwyn dan heeltemal uit die vertelling totdat dit opeens as ’n tussenstuk — afgebaken deur asteriske — verder gevoer word. Die hond keer terug sonder haar kleintjies en almal wonder wat van hulle geword het. Nog ’n sprong volg voordat daar teen die einde van die verhaal openbaar word dat sy hulle in ’n afvoerpyp versteek het, waar hulle dood is. ’n Presiese parallel met Phoebe is dit nie. Die mate van ooreenkoms blyk egter wel uit onder meer die moeder se reaksie.

’n Mens kan jou afvra of Phoebe inderdaad nie begryp wat aangaan nie en of sy die besef sielkundig verdring. Die feit dat sy soveel aandag gee aan die hond, dui immers al op ’n bepaalde seleksie. Sy “misverstaan” ten slotte die rede waarom die moeder saam met haar in die donker huil op so’n wyse dat die intelligente leser beslis nie met haar sal saamstem nie, maar dit sal verbind met die aborsie: “Toe het sy die kers uitgeblaas en sonder om dit vir mekaar te s, het ons vir die eerste keer oor die dooie hondjies gehuil.”

Phoebe weet nie hoekom sy moet saamgaan nie. Die verledetydsvorm maak dit wel moontlik dat die verteller — wat uit ’n agternaperspektief vertel — dit nou wel kan weet. Anders sou die mededeling moeilik geklop het. Dat sy haar vinger so styf opdraai in die rottangstrokie dat dit “blou” word, kan as teken van spanning gesien word. Dit is s wat die rose “offerblomme” noem. Ons verneem later van haar dat haar enkels “geswel gelyk” het. Die “naargeid” interpreteer sy as ’n gewone eksamenverskynsel. Met haar tong om haar “vrae vasgeknoop” stap sy agter Miesie aan. Sy verwar die voorbereidings vir die aborsie met “grootdoop”. Wat werklik gebeur, word nie verder vertel nie en ’n sprong volg na die “volgende paar dae”. Pas die slotsin vul die gegewens in, naamlik dat sy besef sy was by “sonde” betrokke en dat sy daarom “bloei”: “bo alles het ek gewonder of die sonde ’n mens altyd laat bloei.” Die leser sou di sin kon beskou as onthulling dat sy tog geweet het, al is daar tekens wat weer daarteen spreek.

Die moeder, daarenteen, is ’n barometer van die werklike situasie. Die leser kan uiteindelik aflei dat sy nie soseer kwaad is omdat Oom Paul so lank daar kuier nie, maar oor sy wandade. Haar woede vir hom spreek sy nie uit nie, maar dit is te sien aan haar nek. Nadat sy die boodskap vir die bevestiging van hul koms aan Miesie gestuur het, staan sy lank in die tuin na die berge en staar. Sy sing Hallelujas en Phoebe kan sien sy is “vol kommer”. Haar optrede teenoor die teruggekeerde hond kan ook hiermee verbind word. Onmiddellik voor die aborsie begin sy praat “oor sonde”. Ook haar lyftaal wys op spanning: “Ma’t soos meerkat voor gat gesit met haar handsak netjies op die skoot en haar bene wip-wip.” As sy Phoebe aans om saam met Miesie te gaan, haal sy haar “tissue” uit “so of sy wil huil”. As sy uiteindelik s “Moenie worry oor die hond nie. Sy sal oraait wees”, kan die leser dit eweneens beskou as eerder ’n gerusstelling aan Phoebe oor haar eie toestand, dat sy wel weer sal regkom na die aborsie.

Terwyl Miesie (ontereg?) met ’n “heks” assosieer word, kan die vraag oor die “engele” in die slot na die moeder verwys. Meer as een keer word haar chiffon-moue immers verbind met vlerke. “Engeltjies” is egter ook ’n bekende verwysing na geaborteerde kindertjies.

Die gegewe in die verhaal word deur ander tekens ondersteun. Die titelwoord dui daarop dat die aborsie ook “offer” beteken. Waaraan? Aan die skyn van sedelikheid? Die stryd wat die moeder teen die kewers in haar rose het, staan parallel met die probleem om haar kinders ongeskonde op te voed. Dit is veelseggend dat sy ten slotte ’n kewer middeldeur knip. Die pa praat in sy onkunde wel die waarheid as hy s Miesie “kan g’n goed wees vir kinners nie”. Dat dit egter gaan om onwelkome kinders soos sy eie ongebore kleinkind, besef hy nie.

Oom Paul speel hier ’n merkwaardige rol. Sy uitspraak van “Dier bly dier” is immers op sy seksuele dierlikheid van toepassing. Dit lyk asof hy meer weet van Miesie se aktiwiteite as vrugafdrywer en haar daarom ’n heks noem (vgl “En dan lag hy gie-gie-gie ”). Telkens word verwys na sy oorgewig en die leser sou sy koggelvraag, “Vra vir haar of sy ’n prins van ’n padda kan maak”, as ’n toespeling op homself as ongeskikte prins vir Phoebe kon beskou. Net soos wat hy sy vingers in haar sy druk, doen hy dit ook later met die hond, iets wat die verband tussen die twee subtiel ondersteun.

“Offerblomme” is dus ’n verhaal met veel meer onder die oppervlak as daarbo, ’n verteltegniek wat uiters gepas is by die onderwerp: ongeoorloofde seks en die probleme daarom heen.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.