OnderwysNet - ruimte vir opvoeders van AfrikaansArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW
Hiemstra
Trust

Uit Douspoor

Prof W van Zyl

Douspoor is saamgestel deur Rudi Daniels en Gordon Julies

Aapstreke: Patrick W Davids

Die skrywer plaas sy verhaal teen die agtergrond van politieke magsmisbruik en skandes deur politici. Dit is ’n wÍreldwye verskynsel dat politici as sodanig deur die moderne publiek met skeptisisme beskou word. ’n Tweede, en miskien belangriker probleemveld op die agtergrond is egter die kwessie rondom die posisie van die vrou, eweneens ’n internasionale stryd wat in werklikheid al langer as ’n eeu aan die gang is, ook in Suid-Afrika. Dit het byvoorbeeld ’n belangrike rol gespeel by die skryf van die jongste Suid-Afrikaanse grondwet, hoewel dit ’n vraag bly of die vroueregte ook in die praktyk so toegepas word as wat dit op papier staan.

Teenoor die wÍreld van die vooraanstaandes word diť geplaas van die dieretuin, as ’t ware ’n vorige stadium in die evolusie. Ook by die gorillas gaan dit immers om ’n gesinsituasie.

Die verhaal kan in verskillende fases opgedeel word. Merkwaardig is dat die leser reeds in die openingsparagraaf verneem dat daar wraak geneem is — wŠŠrop verneem ’n mens pas later. Dit ontneem die leser egter nie spanning nie, maar laat jou met die vraag hůť die wraak gaan werk. In ’n volgende, meer uitgebreide fase word die situasie van die drie vernaamste menslike deelnemers uiteengesit. Dan verskuif die aandag na die dieretuin met twee newefases: die bekendstelling met die probleem van die gorillamoeder se verdriet en daarop die illustrasie van hoe sy inderdaad met “promises” gefop word. Die slotfases gryp terug op die openingsmededeling en illustreer die wraak wat uit die verskillende stelle uiteensetting voortkom: wraak deur die menslike vrou(e) en deur die gorillawyfie: die eerste met menslike geslepenheid, die laaste met dierlike direktheid en natuurlikheid. Die menslike lis word beloon met ’n volmaakte moord; die van die dier met onmiddellike onregverdige doodstraf.

Die probleem word geplaas in die karakter van die minister. Hy word al gou gedefinieer as iemand wat “sy posisie, vertroue, mense en fondse misbruik”. Ook ideologies (wat beleid betref) is hy verdag, soos blyk uit die kommentaar van die “belese luisteraar” (kennelik iemand wat op ’n radioprogram ingebel het) op sy “soort” se “ongoddelike hefboomidees”. Wat Rosanne, die knap privaat sekretaresse, aangetrek het, was sy vermoŽ om hierdie spel vol te hou, om soos ’n akrobaat “vreesloos op ’n koord van kwinkslae” te beweeg oor die “grysarea” (waar hy geen antwoorde het nie) en daarna “retoriek” (afgesaagde antwoorde en stellings waarmee die publiek gekondisioneer is om tevrede te wees) te gebruik om “die vyand” te oorwin. “Die vyand” sou hier min of meer gelykgestel kan word met diegene wat juis sy valsheid teenstaan. Terwyl hy ’n vegter is (“gewelddadig soos ’n roofdier”), is hy hom egter ook daarvan bewus dat hy in ’n oerwoud beweeg: “hy is ook potensiŽle prooi.”

Naas dit wat hy in die politiek doen, is hy egter ook bedrywig op die terrein van die liefde. Ook hier oortree hy die reŽls. Allereers besorg hy sy vrou oor baie jare “kommerplooitjies en slaaplose nagte”. Selfs geskenke en blomme op haar verjaarsdae en huweliksherdenkings gee hy haar nie regstreeks nie, maar laat dit uitsoek deur sy sekretaresse. En die sekretaresse gebruik hy “wyer as haar posbeskrywing”, in so’n mate dat hy “vader van haar ongebore baba” was en haar gedwing het tot ’n aborsie. Ook dit het sy lus na vroue nie gestil nie. Daar is ook sprake van “eskapades met ’n high class escort”. Dat laasgenoemde klop, blyk wanneer hy selftevrede sy toespraak begin: “Die debakel met die gesellin is besweer. Sy sal swyg, want sy is nie veel van ’n keuse gelaat nie.” Dit spreek dus ook van magsmisbruik en dwang. Aan hierdie vrou dink hy ook as “hoertjie” waardeur die “high class” wegval en sy bedrywighede in werklikheid gedegradeer word tot platvloersheid.

Hy is dus nie slegs ’n man wat soms in ’n avontuurtjie met ’n vrou beland nie, maar ’n sistematiese misbruiker van vroue.

Mevrou minister is hierteenoor ’n indrukwekkende figuur, “’n wÍreldwyse vrou — altyd in beheer”. Veeleer die soort persoon aan wie ’n mens die mag sou wou toevertrou. Sy laat haar ook nie fop nie, want Rosanne kan sien “dat sy lankal nie meer die verskonings namens haar man glo nie”. Dat sy wil by wees wanneer die gorilla se kleintjie weggeneem word, dui enersyds op egte belangstelling, terwyl dit andersyds ook gesien kan word as iets wat sy moontlik met haar eie lot verbind. Ten slotte blyk dat sy geweet het ’n vrou sal uiteindelik vir haar man se dood verantwoordelik wees. Sy grootste probleem was dus in haar oŽ sy optrede teenoor vroue.

Rosanne, daarenteen, was aangetrek deur sy vermoŽ om sy politieke immoraliteit te hanteer. Sy moes die leuenagtige verskonings aan mevrou minister oordra. Selfs met die gesellin het sy hom gehelp. Maar nou is sy “keelvol” daarvan om hom “slaafs” te dien. Die vernaamste rede hiervoor word nie gegee nie, maar die leser sou dit kon terugvoer na die aborsie wat hy “haar gedwing” het om te hÍ. Sy het (moontlik as gevolg hiervan) ook medelye met mevrou minister se “stille berusting” ontwikkel en daar is tekens van “skuldig”-heid by haar teenoor die ouer vrou. Die parallel tussen haar aborsie en die gorillamoeder wat die kleintjies moet afgee, is opvallend. Hoewel haar emosies daaroor van die leser weerhou word, kan dit inderdaad die vlak van dodelike wraak bereik het.

Dit val ook op dat Rosanne uiters knap is. Sy kan alles hanteer en het ook die minister se “baanbreker-omgewingstoespraak” geskryf. Sowel sy oorlewing as sy prestasies is dus op haar intelligensie gebou.

Die skrywer weerhou inligting waardeur die leser die een van die twee wat die “moorddadige plan” maak, kan identifiseer. Die sakdoek kom wel uit “’n modieuse bruin handsakkie”, terwyl mevrou minister in die slot ook in haar “bruin handsakkie” rondsoek. Genoeg om Rosanne as verdagte uit te sluit is dit egter nie. Albei het rede genoeg. Trouens, dit is veelseggend dat albei uiteindelik min of meer eensgesind is in hul kalmte. Dit suggereer ’n verenigde front van misbruikte vroue.

Dit is opvallend dat ook ander mans by implikasie in dieselfde kategorie as die minister geplaas word. Terloops word oor die kurator genoem dat hy “nuuskierig na meer as net Rosanne se telefoonnommer” is Ö En die opsigter met die “goedige lag” maak ’n uiters toepaslike algemene uitspraak oor vroue: “Ag, Suzy is soos enige vrou. Ek gaat haar net ’n klomp promises maak”! (Hy is nadat hy die kleintjie afgeneem het, daarteenoor wel soos ’n “sielsgewonde”.)

Die verhaal bevat allerlei verwysings daarna dat die minister soos ’n gorilla sou optree en hy word ook so deur sy kritici genoem. Die uitspraak van die antieke Griekse filosoof Aristoteles dat die mens ’n “politieke dier” is, kry in die proses ook bykomende waarde. Die verhaaltitel suggereer trouens dat die mens in die verhaal “aapstreke” uithaal. Gaan ’n mens die optrede van die gorillas na, getuig dit egter van heelwat meer onderlinge simpatie. Suzy treur by voorbaat hardop oor die verlies van haar kleintjie. Die mannetjie klap (weliswaar ongeŽrg) die vlieŽ weg van die wyfie se gesig. As die opsigter die hok binnekom, is beide wantrouig. As Suzy aanval, volg hy haar outomaties. Wanneer sy doodgeskiet is, is hy haar “kermende maat” wat haar nie teen die dood kon beskerm nie hoewel hy duidelik met alles binne sy vermoŽ dit probeer het.

Die natuur staan dus moreel hoŽr as die mense.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.