NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie
Interaksie


Nederlandse en Vlaamse skrywers besoek Suid-Afrika
Heinrich Grebe
Universiteit van Pretoria

’n Groep van vier Nederlandse en Vlaamse skrywers het gedurende Maart 1999 onder beskerming van die Nederlandse Taalunie ’n landswye reis deur Suid-Afrika onderneem en onder andere aan die Klein Karoo Nasionale Kunstefees deelgeneem. Die groep het bestaan uit die Vlaminge Monica van Paemel (romansier) en Roland Jooris (digter), en die Nederlanders Nelleke Noordervliet (romansier) en Rob Schouten (digter, letterkundige en koerantresensent).

Die skrywers, met Ferry Simonis as reisbegeleier, het hulle reis in Kaapstad begin waar hulle by twee geleenthede — aan die Universiteit van Kaapstad en in Het Huis der Nederlanden in Pinelands — uit eie werk voorgelees het. Daarna het hulle meegedoen aan die Klein Karoo Kunstefees op Oudtshoorn, waarna hulle hulle reis voortgesit het en op Potchefstroom voor studente en die publiek opgetree het. Op pad na Pretoria het die skrywers Bloemfontein aangedoen.

In Bloemfontein het die twee Nederlandse skrywers aan ’n vertaalwerkwinkel vir Suid-Afrikaanse Neerlandici deelgeneem. Rob Schouten het ’n boeiende “onderhoud” met Nelleke Noordervliet gevoer oor die aard van haar werk in die algemeen en oor haar novelle Water en as, wat deur die deelnemers vertaal moes word, in die besonder. Deelnemers aan die vertaalwerkswinkel het ook die geleentheid gekry (en dit goed benut!) om vrae aan die skryfster te stel. Daardie selfde aand het die vier skrywers in NALN (die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) uit eie werk voorgelees voor ’n belangstellende gehoor wat mense van alle ouderdomme ingesluit het.

Die vier skrywers het op Dinsdag 30 Maart in Pretoria gearriveer. Op Woensdag 31 Maart het hulle teen skemeraand in die Ou Letteregebou van die Universiteit van Pretoria voor die publiek opgetree. Hulle het oor eie werk gepraat en ook daaruit voorgelees. Vroeër die Woensdagoggend het die twee vroue voor studente van die Departement Afrikaans opgetree en verslag gedoen van hoe die letterkunde helend kan meehelp in die verwerking van die verlede.

Met die optredes in Pretoria is die skrywers se toer deur Suid-Afrika beëindig. Sommige van die skrywers moes dadelik huis toe vertrek, maar diegene wat nie dringende verpligtinge gehad het nie het nog ’n rukkie agtergebly om meer van die land te sien.

    Hierdie skrywersreis was die tweede besoek van ’n groep Nederlandse en Vlaamse skrywers aan Suid-Afrika. Die eerste skrywersbesoek het in 1996 plaasgevind, toe agt skrywers — J. Bernlef, Marion Bloem, Geertrui Daem, Herman de Coninck, H.C. ten Berge, Eddy van Vliet, Geert van Istendael en Simon Vinkenoog deur Suid-Afrika getoer het om hulle werk deur middel van voordragte en lesings aan die Suid-Afrikaanse publiek bekend te stel. (Ensovoort jg. 8, nr. 1 bevat inligting oor en gedigte en verhale deur hierdie agt skrywers. Eksemplare van hierdie nommer van die tydskrif kan teen R12 elk bestel word van Die Redakteur, Posbus 30314, Wonderboompoort, 0033.)

    In 1997 het ’n groep Suid-Afrikaanse skrywers ’n soortgelyke skrywersreis deur Nederland en Vlaandere onderneem. Hierdie skrywersreise is ’n inisiatief van die Nederlandse Taalunie en word deur die Taalunie gefinansier. Dit het ten doel om kennis van die Nederlandstalige en die Suid-Afrikaanse letterkunde wedersyds te bevorder — Konvenor.

boontoe


Vertaalwerkwinkel Nederlands — Afrikaans
Louis Gaigher
Universiteit van Pretoria

’n Workshop Literair Vertalen is van 29 tot 31 Maart by die Universiteit van die Vrystaat aangebied deur die Nederlandse Taalunie. Die werkwinkel het ten doel gehad om Suid-Afrikaanse Neerlandici sensitief te maak vir die vertalingsproses van literêre tekste, gevolglik is aandag bestee aan sowel teoretiese begronding as die praktiese vertaling (in groepsverband) van Nelleke Noordervliet se novelle Water en as. Hierdie inisiatief gaan in Junie 2000 ’n hoogtepunt bereik met ’n vertaalwerkwinkel in Amsterdam, met Afrikaans, Engels, Frans en Duits as doeltale.

Die werkwinkel het saamgeval met die besoek van vier Nederlandse en Vlaamse skrywers (waaronder die skryfster van die novelle wat vertaal moes word) aan Bloemfontein. Die eerste sessie van die werkwinkel het gevolglik bestaan uit ’n vraaggesprek tussen die twee Nederlanders, Rob Schouten en Nelleke Noordervliet. Die gesprek het oor Noordervliet se skrywerskap gehandel en sy het (ook na aanleiding van vrae deur die vertalers) verdere toeligting oor die teks verskaf. Die voorlesing van die skrywers uit eie werk, wat by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (naln) plaasgevind het, is ook in die program van die werkwinkel ingesluit.

Die Nederlandse vertaler Riet de Jong-Goossens het haar ervaring met die vertaling van Afrikaanse tekste met die deelnemers gedeel. Sy het ook die vertaalsessies bygewoon om die Afrikaanse vertalers te adviseer oor die register, nuanses en konnotatiewe betekenisse van Nederlandse woorde en uitdrukkings in die bronteks. Dit was hierdie aspekte, asook die afwesigheid van ’n imperfectum-tydsvorm in Afrikaans, wat die meeste probleme vir deelnemers opgelewer het.

Te mete aan die meningsverskille oor die gepaste teoretiese uitgangspunt, die tydsvorm en die presiese betekenis van woorde is dit duidelik dat daar geslaag is in die doel om Neerlandici meer sensitief te maak vir die vertaalproses. Dit het deelnemers ook bewus gemaak van die noodsaaklikheid van die ontsluiting van Nederlandse literêre tekste vir Afrikaanse lesers — ’n aangeleentheid wat verdere ondersoek gaan geniet.

    Ter afsluiting van die werkwinkel het die deelnemers nabetragting gehou en is daar onder andere aan dr. Marietjie Nelson ’n versoek gerig om die vertaling klaar te maak en af te rond. Hopelik sal ’n uitgewer vir die Afrikaanse vertaling gevind en vertaalregte toegestaan word — Konvenor.

boontoe


Nederlandse simposium vir onderwysers
Renée Marais
Universiteit van Pretoria

Dit gebeur al hoe meer dat eerstejaarstudente wat vir Afrikaans inskryf óf nog glad nie, óf nog net oppervlakkig met Nederlands kennis gemaak het. In teenstelling met die vroeëre situasie toe Nederlandse tekste in al vier van die destydse provinsies ’n verpligte onderdeel van die skoolleerplan vir Afrikaans Eerste Taal was, kan skole vandag in baie gevalle kies of hulle ’n Nederlandse teks in die leerplan wil insluit of nie.

Onbekend maak onbemind, en daarom is besluit om ’n dagsimposium oor die onderrig van Nederlands op skool by die Randse Afrikaanse Universiteit aan te bied. Die simposium, wat op 13 Maart aangebied is, is deur dr. Marthinus Beukes gereël en uitnodigings is aan verskillende Gautengse skole gerig om Afrikaans Eerste Taal-onderwysers daarheen af te vaardig.

Die simposium het ten doel gehad om onderwysers se geesdrif vir Nederlands aan te wakker deur enkele voordragte en/of werksessies aan te bied waarin sowel geskikte materiaal as onderrigstrategieë binne die konteks van Kurrikulum 2005 gedemonstreer en bespreek is. Jacques van der Elst (PU vir CHO) het oor enkele Nederlandse gedigte gepraat, terwyl Tom Gouws (Uniwest) die ander kant van die munt laat sien het in sy bespreking van ’n paar Afrikaanse gedigte oor Nederlandse skilders en skilderye (soos T.T. Cloete se “Vroue van Vermeer”). Renée Marais (UP) het in haar bespreking van Marion Bloem se kortverhaal “Koorts van de dood” (wat op die Indonesiese eiland Bali afspeel) onder meer gewys hoe kolonialisme en kultuur as invalshoeke gebruik kan word.

In Marthinus Beukes (RAU) en Thys Human (RAU) se bydraes is daar van die gebaande letterkundige weë afgewyk. Beukes het getoon dat strokiesprente — sy keuse het op Kuifje in Tibetgeval — hulle uitstekend tot taalonderrig leen: die visuele aanbod maak dit makliker om die Nederlandse teks te verstaan, en strokiesprente is boonop gewilder leesstof as die tradisionele literêre genres. Die gewildheid en toeganklikheid van musiek maak dit eweneens ’n geslaagde onderriginstument, soos Thys Human in sy bydrae oor die lirieke van Stef Bos gedemonstreer het. Hierdie twee referente se werksessies het dan ook baie geesdrif ontlok.

Taalkundige aspekte van Nederlands het vanselfsprekend in die reeds genoemde bydraes ter sprake gekom, maar was ook die onderwerp van Jac Conradie (RAU) se pittige lesing oor die probleme en verleenthede wat ’n Afrikaanstalige in Nederlandse taalsituasies op die lyf kan loop op grond van die oënskynlike ooreenkomste tussen die twee tale: “afslag” kry jy in Nederland nie in ’n winkel nie, maar op ’n deurpad; indien jy in Nederland “aangeschoten” is, is jy (hopelik) nog lewendig sodra jou roes afgeslaap is; en ’n Nederlandse student wat ’n toets “amper” geslaag het, hoef gelukkig nie vir die hereksamen aan te meld nie! (Respektabele volwassenes vra ook nie in Nederland om verskoon te word of bloot êrens heen te mag gaan nieÖ!)

Hierdie loodssimposium het twee dinge uitgewys: dat ’n beduidende getal onderwysers van mening is dat hulle onderrig van Afrikaans Eerste Taal verryk kan word deur die inkorporering van Nederlands, en dat hulle verdere simposia en werkwinkels hieroor sal verwelkom.

Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) sal dus voortgaan om projekte ter bevordering van die onderrig van Nederlands op skool te steun.

    Persone wat meer inligting oor toekomstige Nederlandse simposia in Gauteng wil hê of hulle besonderhede op ’n adreslys wil laat plaas, kan per e-pos aan dr. Marthinus Beukes skryf. Sy adres is: mpbe@lw.rau.ac.za.

    In ’n volgende nommer van NeerlandiNet sal daar oor die Nawerk-projek onder leiding van Dorothea van Zyl berig word — Konvenor.

boontoe


Eerste Nederlandse Filmfees
Februarie 1999
Renée Marais
Universiteit van Pretoria

’n Eerste Nederlandse filmfees is gedurende Februarie 1999 in die Labia-teater, Kaapstad, en in die African Window, Pretoria, aangebied danksy samewerking tussen die Koninklijke Nederlandse Ambassade en die Labia-teater.

Veertien rolprente uit die jare negentig, wat die beste van die Nederlandse en Vlaamse rolprentbedryf verteenwoordig, is in elk van die twee stede vertoon. Danksy drie tot vier vertonings per dag oor ’n periode van tien dae is daar in elke stad aan die publiek ruim geleentheid gebied om soveel van die 14 rolprente as moontlik te kon sien.

In Pretoria is die filmfees met die Nederlandse regisseuse Sonia Herman Dolz se dokumentêre rolprent “Lagrimas negras”, ofte wel “Black Tears”, geopen. Hierdie prent handel oor ’n Kubaanse orkes van vyf lede wie se gemiddelde ouderdom 84 jaar is en is deels in Kuba en deels gedurende ’n Europese toer verfilm. Die regisseuse het die openingsaand bygewoon en vrae uit die gehoor na afloop van die vertoning beantwoord.

Die rolprent “Left Luggage”, deur regisseur Jeroen Krabbé en met Isabella Rosselini in een van die hoofrolle, het die grootste gehore getrek. Dit vertel die verhaal van ’n eietydse jong Antwerpse student (van Joodse herkoms) wat as au pair by ’n streng ortodokse Joodse gesin in Antwerpen gaan werk, en hoe haar lewe deur hierdie werk en deur haar liefde vir die jong seuntjie wat sy oppas in ’n ander rigting gestuur word. Dié rolprent, wat by die Berlynse Filmfees met agt toekennings bekroon is, het die gehoor tot trane beweeg.

“All Stars” (regisseur: Jean van de Velde), die gewildste Nederlandse rolprent van 1997 in Nederland, handel oor ’n groep van sewe vriende wat sedert hulle skooldae reeds saam sokker speel. Namate hulle ouer en hulle verpligtinge meer word, word dit egter al moeiliker om hulle weeklikse sokkerafspraak na te kom. Hierdie lughartige rolprent met sy onverwags nostalgiese ondertoon was vir talle kykers ’n aangename verrassing.

“Tropic of Emerald” (regisseur: Oelow Seunke) speel tydens die laaste tien jaar van die Nederlandse koloniale bewind in Nederlands-Indië (vandag Indonesië) af. Dit vertel die bittersoet verhaal van die liefdesverhouding van ’n pragtige Indo-Europese sangeres met ’n Nederlander wat net voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog op sy oom se rubberplantasie kom werk. Hulle verhouding hou stand deur haar aanvanklike huwelik met die veel ouer Nederlandse eienaar van die plaaslike koloniale klub en deur die oorlog (wat hulle van mekaar skei), en die daarmee gepaardgaande ontberings. Na die oorlog versleg die koloniale situasie egter sodanig vanuit die Nederlander se oogpunt dat hy besluit om na sy vaderland terug te keer. Sy vrou (hulle is ondertussen getroud) moet tussen haar liefde vir hom en haar eie land en kultuur kies.

Die ander tien rolprente wat vertoon is, was:
  • “Bastards & bridesmaids” (“Hufters en hofdames”: Eddy Terstall);
  • “Little sister” (“Zusje”: Robert Jan Westdijk);
  • “Another mother” (“De nieuwe moeder”: Paula van der Oest);
  • “The purse snatcher” (“De Tasjesdief”: Maria Peters);
  • “The Northeners” (“De Noordelingen”: Alex van Warmerdam);
  • “Wasted” (“Naar de klote!”: Ian Kerkhof);
  • “06” (Theo van Gogh);
  • “Au Revoir” (“Tot ziens”: Eddy Honigmann);
  • “The Polish Bride” (Karim Traïdia); en
  • “The Stowaway” (Ben van Lieshout).

Die filmfees in Pretoria is so geesdriftig bygewoon dat mense mense by sommige vertonings weggewys moes word ten spyte daarvan dat ekstra sitplek ingeruim is. Die feit dat die “African Window” nie ’n gebruiklike rolprentteater is nie en boonop geleë is in ’n deel van die stad wat nie druk besoek word nie onderstreep die sukses van hierdie Eerste Nederlandse Filmfees. Dit is verblydend dat daar beoog word om die Tweede Nederlandse Filmfees volgende jaar aan te bied, en dat dit in ’n groter en meer toeganklike teaterkompleks vertoon sal word. ’n Mens hoop van harte dat dit ’n jaarlikse instelling sal word en dat dit reeds volgende jaar in meer sentra as net Kaapstad en Pretoria aangebied sal kan word.

boontoe


EU-Filmfees
Mei 1999

’n Weeklange Europese filmfees ter herdenking van Europadag op 9 Mei 1999 is in die ou Capitol-teater op Kerkplein in Pretoria aangebied. Naas 15 rolprente uit 14 lidlande van die Europese Unie (EU) is daar ook ’n Suid-Afrikaanse rolprent (“Fools” deur Ramadam Souleyman) vertoon. België is deur twee rolprente — een Vlaamse en een Franse — verteenwoordig. Die rolprente is met oorspronklike klankbaan en Engelse ondertitels vertoon.

Die rolprent “Karakter” (1997, Mike van Diem) het Nederland verteenwoordig. Van alle rolprente op die fees het dié een die grootste gehoor getrek. Die Vlaamse gemeenskap in België is verteenwoordig deur regisseur Luc Pien se “La Sicilia” uit 1995.

boontoe


Nederlandse rolprente op video
Pretoria

Gaslight Video in die Hazelwood-winkelsentrum (Delyweg, Pretoria) beskik oor ’n relatief groot verskeidenheid Nederlandstalige (en ander Europese) rolprente op video. Belangstellendes kan gerus daar ’n draai maak.

boontoe


Vlaams Filharmonisch Jeugdorkest tree in Pretoria op
Annali Zaaiman
Universiteit van Pretoria

Die Filharmonisch Jeugdorkest van Vlaanderen het op ’n toer deur Suid-Afrika hoë lof vir hulle optredes ingeoes, onder meer by die Standard Bank Nasionale Kunstefees in Grahamstad. Daar is dus met verwagting uitgesien na hulle optrede op 22 Julie in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die programkeuse het immers reeds te kenne gegee dat hierdie orkes nie op sy jeugdigheid getakseer moet word nie.

Die orkes is in 1996 gestig en word deur die Vlaamse regering onderhou. In die kort bestek van die orkes se bestaan het dit reeds twee CD's vrygestel en konserttoere na Rusland, Kanada en Suider-Afrika onderneem. Die orkes bestaan uit sowat 100 lede met ’n gemiddelde ouerdom van nagenoeg 20 jaar. Die dirigent is Robert Groslot. Hy is ’n pryswenner (vir klavier) van die Internasionale Musiekkompetisie Koningin Elisabeth van België, het reeds verskeie radio- en televisieopnames gemaak en meer as 90 CD's vrygestel. Hy dirigeer nie net die Filharmonisch Jeugdorkest van Vlaanderen nie, maar ook die Antwerpse Konservatorium Simfonie-orkes, vir wie hy dikwels werk komponeer, transkribeer en orkestreer.

Die orkes lê hom op die uitvoering van twintigste-eeuse musiek toe. Die programkeuse vir die uitvoering in Pretoria het dan ook werke van Schoenberg, Busoni, Fontyn en Nielsen ingesluit.

Schoenberg se ekspressiewe “Five pieces for orchestra” (opus 5) stel hoë eise aan die orkes vanweë aspekte soos die uitsonderlike toonkleur daarvan (wat met behulp van spesiale tegnieke bewerkstellig word) en die gebruik van eksentrieke ritmes. Schoenberg self het die komposisie as ’n ononderbroke vloei van kleure, ritmes en gevoel beskryf. Sowel tegnies as emosioneel het die orkes oor genoeg diepgang beskik om die werk uitdrukkingsvol te kon interpreteer en uitvoer.

Busoni se “Lustspiel”-ouverture was ’n verademing na die veeleisende Schoenberg. Die orkes het met moeitelose musikaliteit daarin geslaag om die dialogiese karakter, elegansie, streng tematiese vereenvoudiging en vlugtige strykerfigure van hierdie komposisie aan die gehoor te kommunikeer.

Jacqueline Fontyn se “Goede Hoop” het in hierdie uitvoering sy première beleef. Hierdie komposisie is aan Suid-Afrika opgedra. Mathews Phosa se Afrikaanse digbundel het as inspirasie gedien vir hierdie komposisie, waarin Suid-Afrikaanse liedere op abstrakte wyse in die laaste beweging voorkom. Dit is ’n uitsonderlike werk, wat elke emosie getrou en oortuigend oordra. Interessante aspekte van hierdie komposisie is die uitsonderlike klankkleure, wat ’n sekere forsheid aan die werk verleen, en gedeeltes waarin die orkeslede hardop moes praat, geluide maak en/of hande klap.

Carl Nielson se Simfonie nr. 5 kan beskryf word met woorde soos drama, individualisme, skerpsinnigheid, verrassings, fermheid en menslike ervaring. Hierdie werk maak ’n sterk indruk op die luisteraar op grond van die diepte en krag daarvan.

Die jong musici van die Vlaams Filharmonisch Jeugdorkest se spel, hulle briljansie, hulle selfvertroue, oortuiging en entoesiasme is indrukwekkend. Namate hulle meer volwasse word, sal die gevoelsmatigheid en musikale inlewing van hulle spel verder toeneem. In ’n tyd waarin orkeste in Suid-Afrika noustrop trek (as gevolg van verskeie faktore, soos die vermindering en/of onttrekking van ’n staatsubsidie) is dit bemoedigend om te sien dat nuwe orkeste elders op die been gebring word. Dit, en die geesdrif van hierdie jong musici, stel vir ons ’n voorbeeld wat verdien om nagevolg te word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.