NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie

Verwoerd ’n honderd jaar later: ’n geskiedenis van migrasie, waansin en moord

’n Terugblik op Verwoerd in die Suid-Afikaanse geskiedenis met spesifieke verwysing na Henk van Woerden se Een mond vol glas

Rachelle Conradie


Hogewoerdstraat
Leiden
[September 2001]

I

Op 8 September 1901, ’n honderd jaar gelede, is Hendrik Frensch Verwoerd naby Amsterdam gebore. Die Anglo-Boereoorlog was aan sy einde en vele Nederlanders het met veel simpatie vir die Boere probeer help en ondersteun. Sy geboorte het geval in die tyd wat lord Kitchener, in beheer van die Britse mag in Suid-Afrika, ’n ultimatum uitgereik het aan die Boere, wat nie wou oorgee nie: almal wat nie voor 15 September 1901 oorgegee het nie, sou permanent verban word en die koste om hul families in konsentrasiekampe te hou sou teen hul eiendom verreken word.

Hendrik Verwoerd se vader, Wilhelm Verwoerd, gebore in 1874 in Nederland, wou met alle mag na Suid-Afrika vertrek. Hy het gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1901) op ’n komitee gedien wat die Boere gehelp het om Nederland te besoek vir hulp in hul stryd teen Brittanje. Van jongs af was dit sy ambisie om sendingwerk in Afrika te doen, maar het met die afkeur van sy vader hierdie ambisie laat vaar tot dit weer aangewakker is deur sy betrokkenheid by die Boerestryd in die Anglo-Boereoorlog. Dit het hom ook uiteindelik gedryf om saam met sy vrou en seun van drie maande in Desember 1901 na Kaapstad te verhuis, ses maande voor die Verdrag van Vereeniging op 31 Mei 1902 gesluit is.

Hendrik Verwoerd is ingelei in ’n geskiedenis waaraan sy eie voorvaders nie deel gehad het nie. Hy het grootgeword en deel geword van ’n Afrikaner-gemeenskap waar sy tydgenote minderwaardig en sterk verontwaardig gevoel het teenoor Brittanje. Dit was natuurlik dat Hendrik simpatie vir sy tydgenote gehad het en dieselfde sentiment begin aanhang het as dié van die anti-Britse Afrikaners, maar hy het nooit dieselfde sterk emosionele verontwaardiging gehad nie. Toe hy voorsitter was van die studenteraad in 1923, nie lank na die Eerste Wêreldoorlog nie, was van sy medestudente seuns en dogters van Afrikaner-rebelle wat gestraf is omdat hulle nie aan die kant van Brittanje wou veg nie. Die verhale oorgedra aan die kinders het geput uit ’n geskiedenis van bittere verontregting wat reeds begin het met die eerste Britse anneksasie in 1795, die tweede en permanente in 1806, die oorname van Natal in 1843, die anneksasie van die Transvaal Republiek in 1877 en die Jameson-inval in 1895 waar Cecil John Rhodes en ander Britse fortuinsoekers gepoog het om die Witwatersrand se goudvelde van die Kruger Republiek te steel.

Hendrik Verwoerd het indirek hierdie geskiedenis van onderdrukking geleer en was daarom tot in sy politieke loopbaan in staat om redelik emosioneel onbetrokke na hierdie verlede te kyk. Sy strewe was om die minderwaardigheid van die Afrikaner op te hef deur die armblanke-probleem op te los: rassediskriminasie om armoede te beveg. Sy oplossing het gelê in die verdeling van arbeidstatus en regte om blanke dominasie te handhaaf. Geskoolde arbeid was vir blankes bedoel en ongeskoolde arbeid vir “nie-blankes”. Met `n viervyfdes-meerderheid “nie-blankes” was daar egter nie genoeg geskoolde arbeid in Suid-Afrika nie en moes die armblankes vinnig opgehef word en ander alternatiewe is oorweeg — een hiervan was die aanmoediging van blanke immigrasie. Die konklusie van `n artikel in Die Transvaler uit 1961 stel dit soos volg:

Immigrasie aan die een kant en skeiding aan die ander kant — dit is die enigste manier om te verseker dat die Republiek van Suid-Afrika ’n ware witmansland sal word (1961:115).

Hendrik Verwoerd se aanmoediging van blanke Nederlandse migrante om na Suid-Afrika te kom, is ’n faktor wat die spanningsverhouding tussen Nederland en Suid-Afrika aangevuur het, omdat die Nederlandse emigrante as bedreiging vir die res van die Suid-Afrikaanse bevolking gesien is ten einde “die witmansland” te bewerkstellig:

Of ze het nu wilde of niet, het immigratiebeleid van Zuid-Afrika maakte dat Nederlanders die zich in het land vestigden een politiek doel dienden en daarmee werd de emigratie een politieke zaak. De toestroom van blanke immigranten hield de apartheidspolitiek in stand en in die zin was immigratie wel degelijk nadelig voor de niet-blanke bevolking. Nederlandse emigranten leken niet geneigd zich te ontwikkelen als tegenstanders van apartheid, het tegenovergestelde lijkt eerder het geval geweest te zijn (Van Putten, 1997:73).

Die spanningsverhouding tussen Nederland en Suid-Afrika was volgens Van Putten ambivalent: aan die een kant die felle apartheidsbeweging en aan de ander kant die apolitiese Nederlandse emigrasiebeleid, wat in werklikheid deur die apolitiese aard daarvan immigrasie bly bevorder het en daarmee saam apartheid in stand gehou het.

Die geskiedenis van hierdie sienswyse kan gelees word in die geskiedenis van migrasie vanuit Nederland na Suid-Afrika. Die emigrasiebewegings na Suid-Afrika het ’n geskiedenis wat algemeen in Nederland bekend is, en is daarom nie algemeen met ’n politieke agenda geassosieer nie. Volgens die Standard Encyclopedia of Southern Africa (1970: 125-126) was daar drie periodes van Nederlandse emigrasie na Suid-Afrika: in die periode van Nederlandse administrasie in Suid-Afrika (tot 1806), in die 19de eeu (tot 1899) en in die 20ste eeu.

Die belangrikste faktor in die eerste periode van die uitbreiding van die wit populasie was die vryburgersisteem: ongeveer 2 100 Nederlanders het voor 1795 hul aan die Kaap kom vestig.

Gedurende die tydperk van die Bataafse Republiek het die poging van Bouchenröder en van Hogendorp ’n skema ontwerp om die Kaap te koloniseer, maar dit is nooit uitgevoer nie, vanweë die oorname van Brittanje.

In die 19dr eeu was die Kaap en Natal se immigrasie georganiseer deur die Britse regering. Die ekonomiese welvaart in die Boere-republieke het vrye emigrasie aangemoedig. President Burgers se besoek aan Nederland in 1875 was veral gefokus rondom die aanmoediging van vry emigrasie na Suid-Afrika.

In die tyd rondom die Anglo-Boereoorlog het die belangstelling in Suid-Afrika met groot getalle toegeneem, vanweë ’n pro-Boere-sentiment in Nederland sowel as die belofte van verblyfsreg na afloop van die oorlog. Reeds in 1881 het die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereeniging in Amsterdam die emigrasie na Suid-Afrika sterk aanmoedig. Die getalle Nederlandse immigrante het geweldig toegeneem; slegs in Johannesburg het die populasie Nederlandse immigrante met 2 000 toegeneem.

In die 20ste eeu, net na die Anglo-Boereoorlog, is veral Nederlandse onderwyseresse na Suid-Afrika gestuur om die na-oorlogse blanke bevolking op te lei. Die eerst immigrasiewet is in 1913 geloods wat tot 1923 toestemming aan 1 700 Nederlanders verleen het om hul in Suid-Afrika te vestig en tot 1940 nog 10 000 Nederlanders toegelaat het. Gedurende die jare na die Tweede Wêreldoorlog was werkloosheid hoog en heers daar ’n angs vir `n atoombom. Dié beklemdheid was aanvanklik een van die sterk motiverings waarom ongeveer 44 000 Nederlanders tussen 1946-1978 hul hoop gerig het op die moontlikheid om hul geluk in Suid-Afrika te gaan beproef. Dit is veral in hierdie tyd wat daar sterk reklame vir Suid-Afrika gemaak is in Nederland om Nederlanders na Suid-Afrika te lok.

II

Daar was vele immigrante wat na Suid-Afrika gelok is, veral tydens die opkoms en handhawing van die apartheidsbeleid deur Hendrik Verwoerd. Een van hierdie immigrante is die skrywer en skilder Henk van Woerden, gebore in 1946 in Leiden, Nederland. In 1956 besluit sy vader om na Suid-Afrika te emigreer. Twee weke na Henk van Woerden se negende verjaardag emigreer hy saam met sy ma, twee broers en suster vanaf Leiden na Suid-Afrika en vestig hulle in Pinelands, Kaapstad.

Van Woerden word groot in apartheid Suid-Afrika. Hy beleef die opkomende nasionalisme, die Republiekwording in 1961, die gedwonge uitsettings volgens die gebiedswette, die dreigende weerstand teen die apartheidsregering en die moord op Verwoerd deur Demetrios Tsafendas. Hy woon saam met sy gesin in Kaapstad, gaan daar skool en ontvang later opleiding in die beeldende kunste aan die Universiteit van Kaapstad en die Michaelis-kunsskool, waar hy vir Breyten Breytenbach leer ken het. Van Woerden emigreer op 22 jaar (1969) na Nederland deels vanweë die politieke omstandighede en deels om sy loopbaan as kunstenaar in Europa te gaan bevorder. In 1993 debuteer hy met Moenie kyk nie, wat handel oor sy jeug in Suid-Afrika. In sy volgende boek Tikoes (1996) keer hy saam met sy vriendin terug na Suid-Afrika as volwassene en word hul beide met hul verlede en hul werklike identiteit gekonfronteer. Sy laaste boek, Een mond vol glas (1998), is die eindproduk van sy ondersoek rondom die moord op Verwoerd en daarin verwerk hy hoofsaaklik sy eie migrante-geskiedenis, sowel as die van Demitrios Tsafendas.

III

Een mond vol glas is die sluitstuk van Henk van Woerden se drieluik oor Suid-Afrika. Henk van Woerden lewer hiermee ’n groot bydrae tot die herkonstruering van ’n groot deel van die geskiedenis van Suid-Afrika en gee in die proses stem aan ontheemdes — hier in die besonder gee hy stem aan Demitrios Tsafendas, meer bekend as die moordenaar van die destydse eerste minister, Hendrik Frensch Verwoerd, in 1966. Henk van Woerden vertel die lewensverhaal van Demitrios Tsafendas, beginnende vóór die moord op Verwoerd. Naas hierdie verhaal word ook die belewenis weergegee van Henk wat terugkeer na Suid-Afrika — ’n duidelike outobiografiese verwysing na Henk van Woerden self. Hiermee erken Henk van Woerden ook sy subjektiwiteit in die herkonstruering van historiese gegewens.

Een mond vol glas is geskep op grond van outobiografiese en geskiedkundige gegewens. Dit bied veral ’n groot bydrae tot die onontginde geskiedenis rondom die lewe van Demitrios Tsafendas. Dit heropen die gesprek om ’n duideliker beeld te kry oor die vrae wat destyds onbeantwoord gebly het. Van Woerden het tydens die skryf van Een mond vol glas diepgaande ondersoek in die argiewe van Suid-Afrika gedoen om hierdie verhaal van Tsafendas te kon vertel, maar soos met elke ondersoek is nie ál die menings en materiaal ooit volledig beskikbaar nie en was hy in ’n groot mate aan sy eie interpretasie oorgelaat. Die boek mond uiteindelik uit in die verrassende ontmoeting tussen die tagtigjarige Tsafendas en Henk die skrywer — ’n werklike gebeurtenis.

Wat Van Woerden veral geïnteresseer en gemotiveer het vir die skryf van hierdie boek, is Tsafendas se immigrante- en gemengde afkoms — half swart, half Griek — en die feit dat hy hierdeur benadeel is in die apartheidsregime. Tsafendas is ’n ontheemde figuur wat nêrens tuis of welkom was nie. Destyds was die verklaring van die moord sy psigiese versteurdheid, veral ook deur sy opmerking na die moord dat `n lintwurm in hom vir hom opdrag gegee het om die moord te pleeg. Die verklaring is destyds voorgehou sonder om verder aandag te gee aan Demitrios Tsafendas, die persoon, en hoe hy die verloop van die geskiedenis van Suid-Afrika verander het.

Tsafendas se vader was Grieks, en sy moeder — die diensmeisie (Amelia Williams) van sy vader — was half-Swazi. Hy is in Mosambiek gebore, maar is op ’n jong ouderdom na sy ouma in Alexandrië gestuur nadat sy vader met ’n jong Griekse vrou getrou het. Tsafendas se terugkeer na Mosambiek, omdat sy ouma te swak geword het om na hom om te sien, het baie aanpassing van hom geverg. Hy moes inpas in ’n nuwe familie en in nuwe tale skoolgaan. Later is hy na die Transvaal (die huidige Gauteng) in Suid-Afrika gestuur om daar sy skoolloopbaan te gaan voltooi. In Suid-Afrika is hy as kleurling uitgeskel — “You’re nothing but a lousy coloured” (53) — waarvan hy niks begryp het nie. Dit is eers in sy sewentiende jaar dat hy die waarheid rondom sy afkoms ontdek het. Hierna het die opmerkings op skool en die weiering van die Suid-Afrikaanse ministerie vir buitelandse sake om aan hom ’n visum uit te reik vir hom begin sin maak — hy was onwelkom in Suid-Afrika in ’n groot mate vanweë sy gemengde afkoms.

Tsafendas het hope weinig suksesvolle pogings aangewend om Suid-Afrika te besoek waarheen sy ouers na sy sewentiende jaar verhuis het. Tsafendas se swerwersbestaan het hier begin deurdat hy op skepe begin werk het. In sy rondreise tussen 1942 en 1963 het hy verskeie lande besoek, waar hy dikwels die reëls oortree het: hy is vyf maal vir onwettige verblyf gearresteer, vyf maal gedeporteer, twee maal tronkstraf opgelê, en in verskeie psigiatriese inrigtings opgeneem.

Uiteindelik het hy dit reggekry om die grens van Mosambiek oor te steek en onwettig in Suid-Afrika te kom woon. Hy is na ’n paar maande as `n bode by die parlement aangestel. Dit is in hierdie hoedanigheid dat op 6 September 1966 vir Hendrik Verwoerd om die lewe gebring het. Die eenman-ondersoek direk na die moord konstateer dat hy psigies versteurd was. Of hy enige politieke motivering gehad het, is egter steeds onduidelik. Van Woerden beskou die moord wel as polities gemotiveerd in dié sin dat Tsafendas eerstens gehandel het “uit die frustrasies van die bruinman” wat gebrandmerk is as “baster” en objek van skaamte in Suid-Afrika (Wasserman) en tweedens dat dit die einde van apartheid beteken het, soos hy aan die einde van Een mond vol glas verduidelik:

De aanslag op Verwoerd luidde het einde in van de doctrine van apartheid, van de idiotie die “angst voor rassenvermenging” heette. En het betekende het aarzelende begin van integratie (202).

Van Woerden bevestig hierdie motivering van Demitrios vir die moord op Verwoerd net voor die uiteindelike ontmoeting met Tsafendas aan die einde van Een mond vol glas deur byvoorbeeld sy gesprek met die sosiale werker wat nie kan glo dat Demetrios tot moord in staat is nie. Ook lê Van Woerden klem op die ontkennende bestaan van die kleurling en die frustrasies wat dit ontketen het. Van Woerden gee hierdeur ’n eie interpretasie vir die motivering van Tsafendas se moord op Verwoerd.

Die drie vername verslae wat oor hierdie insident geskryf is (Scholtz 1967, Schoeman, 1976, Marais 1992) is verskillende interpretasies, maar spruit uit dieselfde ideologie van apartheid: die eerste twee is in die hitte van apartheid geskryf (1967, 1976) en die derde in 1992 deur Jaap Marais, voorsitter van die Herstigte Nasionale Party wat sy regsheid en verdediging van Verwoerd en sy apartheidsregime duidelik laat blyk. Van Woerden het die innerlike teenstrydigheid van die verskillende verslae verwerk tot ’n persoonlike interpretasie, wat ook spreek van `n politieke oortuiging: Van Woerden benader Verwoerd en die apartheidsregime aansienlik meer krities as die drie genoemde verslae en is daarom ’n unieke toevoeging tot die interpretasies oor die moord op Verwoerd.

In hierdie opsig verskil ek van Van Coller (2001:146-148) wat bogenoemde drie verslae oor dieselfde kamp skeer as Een mond vol glas sonder om in ag te neem dat Een mond vol glas, in teenstelling met die drie verslae, die eerste interpretasie is wat nie die hooffokus op Verwoerd plaas nie en krities staan teenoor Verwoerd en sy apartheidsidees. Die besluit om klem op die lewensverhaal van Tsafendas te lê is ook ’n ideologiese daad van Van Woerden om kritiek te lewer teen die manier waarop Tsafendas in die geskiedenis van Suid-Afrika geen aandag ontvang het nie, al het sy daad groot gevolge gehad vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Veral die uiters fyn lyn tussen feit en fiksie word in hierdie roman van Van Woerden ontgin. Henk, Tsafendas en Verwoerd is karakters en werklike figure. Die leser neem later aan dat Henk in die boek Henk Van Woerden self is en dat die vertelling van sy eie ervaring tydens die ondersoek oor Tsafendas se lewe afgewissel word met sy bevindings. Van Woerden se betrokkenheid by die vertelling — sý weergawe van die geskiedenis, dus — word deur hierdie afwisseling beklemtoon. Hy wil dit hierdeur duidelik laat blyk dat sy weergawe van die lewensverhaal van Tsafendas ’n interpretasie is. Die “leë plekke” in die verhaal het hy met sy intuïsie ingevul om, soos wat hy dit in sy “aantekeninge” agter in Een mond vol glas stel, “een verantwoordelijke mate van schijn” (207) weer te gee.

In die optekening van die geskiedenis kan die interpreteerder se betrokkenheid nooit ontken word nie. Die probleem is dat geskiedenis veral geskryf word deur diegene wat aan bewind is. Die geskiedenis van Suid-Afrika is oorheers deur `n preokkupasie met suiwerheid en die mag om `n stelsel te handhaaf wat dit probeer verseker. Henk van Woerden vra, deur die situasie terugskouend te beskou, “of de macht van de waanzin toen heel even gelijk was aan de waanzin van de macht” (202).

Die vraag wat Van Woerden uiteindelik vra, is wat “gek” beteken in ’n land soos Suid-Afrika, waar die grens tussen waansin en mag poreus begin raak het om ’n stelsel te probeer handhaaf. Henk van Woerden het met hierdie werk gepoog om die psige van Suid-Afrika uit te beeld, sowel as die algehele ontheemding van sy bewoners (Hoogervorst, 88).

IV

Van Woerden beklemtoon veral in Een mond vol glas dat die geskiedenis van migrasie belangrik en relevant is tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis, omdat daaragter verskillende magsverhoudings skuil. Die situasie van Van Woerden (en Verwoerd) as Nederlandse immigrante het verskil van dié van Tsafendas, wat van gemengde afkoms was.

Demitrios Tsafendas word in Een mond vol glas by uitstek as ’n ontheemde figuur voorgestel. Die identiteit van `n ontheemde figuur is volgens Van Woerden geleë in die geskiedenis van die “halwe”, wanneer daar verwys word na iemand wat byvoorbeeld half-Suid-Afrikaans of -Nederlands is. Van Woerden maak die verbintenis met gemengde afkoms (van verskillende lande) en gemengde afkoms (van verskillende rasse). Beide is egter in Suid-Afrika behandel as buitestaanders.

In Een mond vol glas bevraagteken Henk (Van Woerden) sy identiteit as halwe Suid-Afrikaner of halwe Nederlander deur sy posisie te vergelyk met die twee ander seuns van emigrante, naamlik Verwoerd en Tsafendas:

Verwoerd was een buitenstaander in Afrika, een half-gebakken Hollander net als ik. De aanslag was een aangelegenheid tussen twee landverhuizers. Een halve Griek die een halve Nederlander vermoordde. Het antwoord van vele vragen schuilt in de voor-geschiedenis van dat “halve” (15).

Die voor-geskiedenis van daardie “halve” hou veral verband met die siening gedurende apartheid dat iemand van gemengde afkoms nie ’n egte ras is nie. In die tyd van die opkomende nasionalisme in Suid-Afrika het die modernistiese filosofie, wat destyds aan die ontwikkel was in Europa, die fokus geplaas op essensialisme en klassifikasie. Die sogenaamde visie van “die ander” was gebaseer op teenstelling, een óf die ander. Daar was dus geen ruimte vir gemengdheid in hierdie filosofie nie — gemengdheid is as onsuiwer of oneg beskou. Vandaar dan ook kontroversie rondom Verwoerd se afkoms, omdat daar geglo is dat vele hom sou wantrou en in sy besluite twyfel as dit algemeen bekend was dat hy slegs “half” Suid-Afrikaans was:

[Verwoerd se] afkomst sou later, tijdens zijn parlementaire loopbaan, enigzins een tere plek worden, iets om te verbergen. Niet alleen de oppositie bromde bij gelegenheid dat hij geen Zuid-Afrikaan was, ook onder Afrikaners bleef hij voor sommigen “die Hollander”, of erger: “die uitlander” (14).

Die siening van Verwoerd en Tsafendas se buitestaanderskap is ’n voorbeeld van die binêr-opposisionle denkwyse in terme van “ek” en “ander”. Dit hou verband met die “voor-geschiedenis van dat halve” deurdat dit ook verwys na die ontwikkeling van die denkwyse rondom hibriditeit. Van Woerden wys daarop dat ’n halwe Suid-Afrikaner nie noodwendig verskil van iemand wat half blank is nie, alhoewel hulle in Suid-Afrika verskillende behandeling ontvang het. Sigbare tekens van rassevermenging op iemand se gelaat is meer verafsku, omdat dit ’n sigbare teken was in die tyd toe rassevermenging as onnatuurlik beskou is.

Hierdie beskouing, verduidelik Robert Young in Colonial Desire: Hybridity in Theory, Culture and Race (1995), het uiteindelik geresulteer in die essensialistiese (biologiese) denke wat deur Hitler en die Nazisme beargumenteer is. Die idee van verskillende rasse en dat hul apart benader moet word, is alreeds in 1799 beargumenteer, maar hierdie idees het met verloop van tyd ontwikkel tot die essensialistiese (biologiese) denke wat gemengdheid as onnatuurlik en gevaarlik vir die voorbestaan van die volk beskou het. Young verduidelik dat die grondliggende idees hieragter gegaan het oor ’n preokkupasie met suiwerheid in terme van seksualiteit, dws wat ras-egtheid en ’n goeie nageslag sou verseker. Hierdie preokkupasie het uiteindelik gelei tot ’n geloof dat dit teen die natuur is om hibriditeit goed te keur. Young verduidelik hierdie resultaat volgens Hitler se Mein Kampf:

... in the chapter “Nation and Race” in Mein Kampf, Hitler argues that Nature’s rule consists of “the inner segregation of the species of all living beings on this earth”, and that where this natural apartheid is infringed, Nature resists “with all possible means ... and her most visible protest consists either in refusing further propagation to bastards or in limiting the fertility of later offspring (8).

Hitler het geglo dat gemengdheid, behalwe vir onreinheid of “bestialiteit”, ook ’n onvrugbare nageslag kon beteken en dus ’n gevaar inhou vir die toekoms van `n volk. Hierdie biologies-essensiële geloof het vele Nazi’s gedryf ter bewaring van die toekoms en suiwerheid van hul volk.

Verwoerd se blootstelling aan hierdie biologies-essensialistiese denke tydens sy studie in Duitsland voor die Tweede wêreldoorlog is hoogs waarskynlik. Sy besoek daarna aan gemengde gebiede in Kaapstad, Woodstock en Distrik Ses het hom oortuig dat hierdie hibridiese omgewing gevaar inhou vir die toekoms van “die blanke volk” en dat skeiding die oplossing is om dit te verhoed. Hy skryf geskok hieroor in die universiteitsblad:

Dikwijls vindt men dat blanken en kleurlingengezinnen samen in één huis wonen. Geen wonder dat de jonge Afrikaners er geen bezwaar in zien om te trouwen met hun vroegere [swarte] speelkameraadjies ( Een mond vol glas p 17).

Verwoerd wil met hierdie uitspraak laat sien dat Afrikaners `n gevaar loop om te begin ondertrou en dat dit as ’n bedreiging gesien moet word vir die toekomstige suiwerheid van die Afrikaner volk en die voortsetting daarvan. Sy obsessie en aktiewe bemoeienis met “Die Volk” het begin uit sy missie om die groot aantal armblankes in hierdie gemengde gebiede se situasie te “verbeter”. Hierdie “verbetering” het vir Verwoerd in feite beteken om “suiwerheid van ras” te behou deur huwelike tussen blank en nieblank te bly verbied, groepsgebiedwette te begin instel en die idee rondom “natuurlike” tuislande te begin ontwikkel.

Hy was juis van plan om sy idees rondom die ontwikkeling van “natuurlike” tuislande te inisieer op die parlementêre sitting van 6 September 1966 toe hy deur Tsafendas vermoor is. Die moord op Verwoerd was ’n vrees van vele Suid-Afrikaners wat bewaarheid is — hy het ’n paar maande vantevore ’n aanslag op ’n merkwaardige wyse oorleef. Die aanslag is uitgevoer deur `n ryk Engelse boer, David Pratt. Hy het Verwoerd tydens ’n landboutentoonstelling met ’n kleinkaliber-pistool (.22!) twee maal deur sy hoof geskiet. Die skote het alleen Verwoerd se voorhoofholte skoongeblaas en hy het oorleef. Daar is in Londen deur anti-apartheidsbeweging geld ingesamel vir die verdediging van die regsaak van Pratt, maar hy pleeg selfmoord in ’n psigiatriese inrigting in Bloemfontein nog voordat die regsaak kon plaasvind.

Van Woerden beklemtoon dat waansin ’n belangrike deel vorm van die geskiedenis van Suid-Afrika. Die moord op Verwoerd staan hierin sentraal. Die idee dat Tsafendas Verwoerd bloot in disillusie kon vermoor het, was ongeloofwaardig. Redes is gaan soek en sy politieke betrokkenheid is nagevolg. Die feit dat `n gedisillusioneerde Griek of “baster” hom vermoor het, het vir veral die volgelinge van Verwoerd nie tevrede gestel nie.[1] Aan die einde van Moenie kyk nie (1993) word hierdie situasie beskryf:

Dat het geen direkte politieke moord was, maar de daad van een dolgedraaide Griek, vinden ze [Nationale Partij] jammer ... Hendrik Verwoerd is door een zekere Tsafendas met een broodmes (sic) door sy hart en hals (sic) gestoken (173).

Die kernvraag wat Van Woerden teen die einde stel is: “Wie was er eigenlijk gekker geweest: Verwoerd of Tsafendas?” In dié sin bedoel hy dat dit duidelik geword het hoe “gek” die apartheidsisteem was en dat Tsafendas se gekheid daarteen gerelativeer word. Van Woerden sien egter ook die ironiese raak: dat die eertydse Afrikaner-stamgevoel opgebou is uit dieselfde sentimente as wat Tsafendas gekoester het: “heimwee naar huis, zucht naar erkenning, een besef dat men te lang zwervende in de woestijn was geweest, afgesneden van oorsprong, van zuiverheid en van de ’echte’ wereld” (202). Die konstante bedreiging van ontheemding deur koloniste of enige “vreemde” wat hul kan beroof van land en taal, lê diep gewortel in Afrikaner-sentimente as gevolg van hulle lang geskiedenis van veg vir erkenning, eie grond en identiteit.

Van Woerden wil in Een mond vol glas juis nie slegs die verhaal van die blanke “Afrikaner” vertel nie, maar wil die lot van die kleurling, die sogenaamde “half-bloed” beklemtoon. Deel van Tsafendas se motivering, redeneer Van Woerden, het gespruit uit die “frustrasies van die bruin man” in apartheid-Suid-Afrika se frustrerende gevoel van identiteitloosheid — die kleurling het nie ingepas binne die tweedeling wit of swart nie en is in terme van nie swart óf wit nie gedefinieer as die uiteindelike hibridiese resultaat van vermenging tussen blank en swart, wat beskou is as “product van bestialiteit” en “het vleesgeworden bewijs van de blanke verdorvenheid, een wandelend schaamteobject” (201).

Wat Van Woerden dan uiteindelik laat sien, is die groot invloed wat “gekheid” in die geskiedenis van Suid-Afrika speel. Hy merk op dat die grens tussen waansin en mag poreus begin raak het om ’n stelsel te probeer handhaaf. Hy sien die belemmerende gekheid van die lewe in Suid-Afrika wat bestaan uit ’n skisofreniese angs tussen ontkenning en erkenning. Henk van Woerden het met hierdie werk gepoog om die psige van Suid-Afrika uit te beeld, sowel as die algehele ontheemding van sy bewoners (Hoogervorst 81-88).


V

Die vraag bly egter steeds waarom Tsafendas nie meer geëerd is in die geskiedenis van Suid-Afrika nie. Die verklaring hiervan lê volgens Van Woerden in die houding van die ANC. In Nelson Mandela se Long walk to freedom skryf hy:

Political assassination is not something I or the ANC have ever supported (1994:417).

Tog is daar gedurende die demonstrasies van 1976 geskree: “Tsafendas inyanga yezizwe” (Tsafendas healer of the nation). Sien www.mathaba.net/www/black/dimitri.htm. En moet mens wonder waarom Tsafendas vir vier jaar lank elke dag gemartel is in Pretoria-sentraal, opgesluit is waar die doodstraf toegepas is, maar nooit ter dood veroordeel is nie; waarom sy versteurdheid deur dr Kossew, Kaapstad se distrik-chirurg, as “skisofrenie van die hoogste graad” beskryf is, “maar nie sertifiseerbaar” nie. Dat Tsafendas versteurd was, is duidelik te sien in die onderhoude wat Van Woerden met hom voor sy dood gehad het, maar die graad en datum van die aanvang van hierdie versteurdheid bly onseker.

Wanneer regter Beyers weier om hom te verhoor met die uitspraak “dat hy net sowel dan ’n hond kan verhoor”, is Tsafendas finaal van sy menslikheid beroof (Beresford 1997-13-10). Van Woerden gee aan Tsafendas sy menslikheid terug deur sy lewensverhaal te vertel en dit by te voeg in sy interpretasie van die geskiedenis. Van Woerden is die eerste skrywer wat Tsafendas se regmatige plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis laat sien en ’n belangrike verband trek tussen Verwoerd se apartheidsisteem en die Nederlandse emigrasie na Suid-Afika.

[1] Sommige Suid-Afrikaners, soos ondersteuners van pas oorlede JA Marais van die Herstigte Nasionale Party (artikel in www.hnp.org.za/afrikaner/mei2k1/art.htm) beskou steeds Verwoerd as die grootste held en “grootste geskenk wat Nederland ooit aan Suid-Afrika kon gee”.

Bronnelys:

Beresford, D. 1997. “He has not the mind of a dog”. Mail & Guardian, October 13.

Berkvens-Stevelinck, C. 1996. “Een poging het zwerverschap te beschrijven”. Adrem. julie, p 5-6.

Bloem, HC. 1949. Een Hollandse Familie in Zonnig Zuid-Afrika. Amsterdam: J.H. de Bussy.

Bosch, BJ In Den. 1957. De Aanpassing der Nederlandse immigranten in Kaapstad en Pretoria 1952-1956. Deel I.

JC In den Bosch. 1956. De Aanpassing der Nederlandse immigranten in Kaapstad en Pretoria 1952-1956. Deel II.

Etty, Elsbeth.1998. “Ons woon in `n vormlose land. ”NRC Handelsblad: Boekenblad. 27-11-1998.

Glorie, I. 1993. “Nathan Sid in Kaapstad”. Vrij Nederland. 20 November.

Glorie, I. 1999 Tydskrif vir Letterkunde nr 37, Afl 2, Mei, p106-110.

Hoogevorst, I. 2000. “Henk van Woerden”. In: Vreemdeling in eie landskap, p.81-88.

Hepple, A. 1967. Political leaders of the Twentieth Century: Verwoerd. Harmondsworth: Penguin Books.

Jonckheere, W. 1999. Van Mafeking tot Robbeneiland. Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896-1996. Nijmegen: Uitgeverij Vantilt.

Marais, JA. 2001. “Linkse Nederlander en Afrikaanse vertaalster wil Verwoerd die misdadiger en Tsafendas die slagoffer maak!” 23 Mei. a href="http://www.hnp.org.za/afrikaner/mei2k1/art.htm"> www.hnp.org.za/afrikaner/mei2k1/art.htm

Moumbaris, A. “Homage to Dimitri Tsafendas”. 28 Mei 2001. www.mathaba.net/www/black/dimitri.htm

Standard Encyclopaedia of Southern Africa. 1971. DJ. Potgieter (ed-in-chief). Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery, p 125-6.

Van Coller, H. 2001. “Proewe van `n rekonstruksie: Een mond vol glas deur Henk van Woerden” Literator 22 (1) April, p 137-154.

Van Kempen, Yves. 1996. De Groene Amsterdammer, 8 Mei.

Van Putten, 1997. Een emigratieland apart? Het Nederlandse emigratiebeleid ten aanzien van Zuid-Afrika. Leiden Universiteit: Eindscriptie.

Van Woerden, Henk. 1994 (1993). Moenie kyk nie. Amsterdam. Nijgh & Van Ditmaar.

Van Woerden, Henk. 1996. Tikoes. Amsterdam: Balans.

Van Woerden, Henk. 2001 (1998). Een mond vol glas. Amsterdam: Podium.

Wasserman, Herman. 2000. “Tsafendas se storie is te lank weggesteek, sê Van Woerden”. Die Burger, Maart 25.

Young, Robert. 1995. “Hibridity and Diaspora”. Colonial Desire: Hybridity in Theory, Culture and Race. London / New York: Routledge.

1961. ’Immigratie in wetgeving en pers’ Zuid-Afrika. Maandblad van de Zuid-Afrikaanse Stichting Moederland voor de culturele en economische betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika 38, p115


Lees ook Otto Terblanche se kritiek op hierdie artikel

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.