NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie

Komrij laat ’n duisend afrikaanse gedigte blom in Europa

[September 2001]

Danksy Gerrit Komrij is die Afrikaanse poësie uiteindelik wyd bekend in die Lae Lande. Sy bloemlesing het ons digkuns bevry van sy politieke stigma en onbekendheid buite Suid-Afrika — nadat ’n eeu van kulturele diplomasie en akademiese inisiatiewe hierdie resultaat nie kon bereik nie. ETIENNE BRITZ maak sterk kapsie teen nuwe pogings om Komrij en sy bloemlesing in Suid-Afrika verdag te maak.

Afrikaanse digters het toestemming verleen dat hulle gedigte sonder betaling opgeneem kon word in die uitgawe bestem vir die Nederlandse mark


Vir Afrikaanse letterkundiges is Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte vandag ’n onontbeerlike boek. ’n Professionele letterkundige moet hierdie bloemlesing besit en ken om sy werk te kan doen. Dit is net so onmisbaar op sy boekrak as André P Brink se Groot Verseboek 2000.

Vir gewone liefhebbers van die Afrikaanse poësie is Komrij se bloemlesing met sy byna 1 200 bladsye ’n tamaai skatkis vol leesgenot. Die boek is uiters interessant en verkwiklik. Saam met Brink se versameling bied dit aan poësielesers ’n verruklike verskeidenheid Afrikaanse gedigte.

’n Mens sou ’n lang artikel oor die onontbeerlikheid van Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte kon skryf. Ek noem hier slegs twee belangrike dinge.

Ten eerste bevat die eerste honderd-en-twintig bladsye ’n keur uit die Nederlandse gedigte — en later half-Afrikaanse, half-Nederlandse gedigte — wat sedert die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 tot ongeveer 1875 in Suid-Afrika geskryf is.

Komrij bied hiermee ’n fassinerende en dikwels ontroerende of amuserende blik op ’n terrein wat die meeste Afrikaanse letterkundiges en poësieliefhebbers vóór sy bloemlesing glad nie geken het nie. Ook vir taalkundiges is die geleidelike eerder as skielike ontnederlandsing van die Afrikaanse poësie vanaf die sewentiende eeu ’n openbaring en ’n meesleurende ontdekking.

Ten tweede bied Komrij ’n intelligente, prikkelende, eintlik wonderlike aanvulling op die Opperman-kanon.

Sommige van ons eie Afrikaanse letterkundiges het die Opperman-erfenis met ideologiese hamerslae probeer vernietig in ’n poging om by die Nuwe Suid-Afrika in te skakel. Komrij laat ons bloot genietlike gedigte lees wat nie in die ou Groot Verseboek gestaan het nie.

Komrij kies dwarsoor die historiese spektrum — wat hy uitbrei tot 350 jaar — nie alleen die mooiste en beste gedigte soos Opperman nie, maar hy gee ook aan die klein stemmetjies ’n spreukbeurt. En hy kies sommige gedigte omdat hulle die clichés van ’n bepaalde era so aandoenlik verteenwoordig. Die leser word in die proses blootgestel aan ’n ánder perspektief en smaak as wat hy uit sy Suid-Afrikaanse opvoeding ken — ’n verfrissende ervaring.

Afgesien van die inherente waarde van Komrij se bloemlesing as bron van leesgenot en van nuwe kennis, is dit ’n feit dat geen Nederlander in die hele geskiedenis soveel bekendheid aan die Afrikaanse poësie in die buiteland gegee het as Gerrit Komrij nie.

Teen verlede jaar — die jaar nadat die bloemlesing verskyn het — was 15 000 eksemplare reeds in Nederland en Vlaandere verkoop.

’n Hele eeu van kulturele diplomasie en akademiese toenadering kon nie naastenby soveel lesers vir die Afrikaanse poësie in Europa wen nie. Beleggings van miljoene guldens, ponde (en later rande) in studiebeurse, in besoeke oor en weer van skrywers of dosente, in die onderhoud van ’n Afrikaanse biblioteek in Amsterdam, kon vir die Afrikaanse poësie nie regkry wat Komrij in enkele jare en sonder spesiale subsidies vermag het nie.

Die getal 15 000 as aanduiding van die aantal lesers moet vermenigvuldig word, want Komrij se Afrikaanse bloemlesing staan op die rakke van honderde openbare en akademiese uitleenbiblioteke in Nederland en Vlaandere.

Die boek is immers die vierde deel en sluitstuk van Komrij se driedelige De Nederlandse poëzie van de twaalfde tot en met de twintigste eeuw in 3000 en enige gedichten. Die Afrikaanse deel volg die patroon van die drie Nederlandse dele, byvoorbeeld maksimaal tien gedigte per digter, ongeag sy beroemdheid in terme van die kanon. Die geheel van vier dele is ’n monument, ’n standaardwerk binne die literêre sisteem van moderne Nederland.

En dit is nog nie die einde van die storie nie.

Komrij skryf die afgelope paar jaar gereeld opstelle oor Afrikaanse gedigte in NRC Handelsblad, ’n Nederlandse koerant van hoë kwaliteit, gerig op ’n verfynde en intellektueel ontwikkelde publiek. Die koerant het nagenoeg 450 000 lesers. Die opstelle is sjarmante, gevatte klein studies wat Komrij se verbasende kennis van en aanvoeling vir die Afrikaanse poësie weerspieël.

De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten, die Nederlandse uitgawe, verskyn in 1999 saam met ’n bypassende, gebinde versameling van dié opstelle. Daar het teen 1999 dus reeds verskeie van die NRC-essays verskyn.

Vanweë hierdie opstelle en vanweë Komrij se gewildheid as rubriekskrywer kan ’n mens aanvaar dat hy persoonlik daarvoor verantwoordelik is dat die aantal mense wat die afgelope jare met die Afrikaanse poësie in Nederland kennis gemaak het, in die honderd- eerder as die tienduisende getel kan word.

As ’n mens al hierdie feite ken, reageer jy verslae op die nuwe gemor oor Komrij as persoon en as Nederlandse bloemleser van die Afrikaanse poësie — ’n vervolg op die ou gemor van 1999-2000.

Die volgende kletspunte uit die ou en die nuwe gemor is totaal irrelevant vir lesers wat die bloemlesing gekoop het en tereg in hulle noppies is daaroor:

  • Wat ’n puntdigter van Kaapstad en ’n biograaf van Stellenbosch eenkeer in ’n private telefoongesprek vir mekaar gesê het
  • Wat daar oor ’n ete in Oudtshoorn tussen die Suid-Afrikaanse verspreider en die Nederlandse bloemleser alles bespreek is
  • Hoe lank die boeke gestuur uit Nederland in die Kaapse hawe gelê het
  • Watter vermaaklike beledigings uitgeruil is tussen Komrij en ’n Afrikaanse polemikus
  • Hoeveel geld Afrikaanse digters ontvang het nadat hulle aan hulle uitgewers pertinent of per verstek toestemming verleen het dat hulle gedigte sonder betaling opgeneem kon word in die uitgawe van Komrij se bloemlesing bestem vir die Nederlandse mark
  • Watter maatreëls nodig was om die bloemlesing sonder spesiale subsidie bekostigbaar te maak — soos Afrikaanse digters se vrywillige verbeuring van tantième om te sorg dat hulle eie werk in die Lae Lande gelees sou word
  • Wat Komrij oor die kompetisie (Brink se Groot Verseboek) gevrees het
  • Hoe kort na mekaar Brink en Komrij se bloemlesings verskyn het
  • Hoeveel sent daar deur ’n subsidie hier of deur ’n spesiale koste-item daar afgeknyp of toegevoeg is aan die onderskeie pryse van die twee groot, skitterende nuwe bloemlesings
  • Die feit dat Komrij die Afrikaanse poësie teen ’n bekwame tempo leer ken het
  • Die feit dat Komrij se keuse van gedigte soms afwyk van die smaak van DJ Opperman
  • Die verskille tussen Komrij se keuse van gedigte en die tradisionele geskiedskrywing van die Afrikaanse poësie
  • Die kulturele boikot van Suid-Afrika in die tagtigerjare (ingestel deur die Verenigde Nasies — Nederland het bloot gehoor aan ’n VN-resolusie gegee)
  • Die sogenaamde beterweterigheid van die Nederlanders
  • Die sogenaamde hooghartigheid van Nederlanders teenoor Suid-Afrika as voormalige buitepos van die VOC.

    Wat die laaste drie kletspunte betref:

    Dit is belaglik — om van onkundig en nydig nie eers te praat nie — om Komrij te probeer afskilder as ’n beterweterige kaaskop en ’n deurtrapte kultuurboikotter met ’n neerbuigende houding teenoor die kombuistaal van die skaamfamilie in die voormalige Nederlandse kolonie Suid-Afrika.

    Met sulke verdagmakery, wat ’n ouderwetse Hollanderhaat by baie Afrikaners teen Komrij probeer mobiliseer, kan geen afbreuk gedoen word aan die eenvoudige waarheid dat hy ’n fantastiese bloemlesing vir sowel Nederlandse as Afrikaanse letterkundiges en poësieliefhebbers saamgestel het nie.

    En dat hy daarmee gesorg het vir ’n verbluffende deurbraak van die Afrikaanse poësie in Europa.

    Hierdie stuk het oorspronklik in Die Burger verskyn.

    terug    /     boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.