NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie

Dagseminaar oor die Nederlandse biografiese en outobiografiese literatuur ’n groot sukses

Andries Visagie

Op Vrydag 6 Julie 2001 het die Program vir Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Natal in Durban ’n seminaar aangebied oor die Nederlandse egoliteratuur. Die seminaar het plaasgevind binne die raamwerk van die akademiese samewerkingsooreenkoms tussen die Universiteit van Natal en die Katolieke Universiteit van Brabant in Tilburg, Nederland. Hierdie ooreenkoms bestaan reeds sedert 1992 en het onder meer al gelei tot die publikasie van ’n boek oor multikulturalisme en veeltaligheid in Suid-Afrika en in Nederland.

Die sprekers tydens die dagseminaar was hoofsaaklik afkomstig van die Universiteite van Natal en Brabant, hoewel daar ook enkele besoekers van ander universiteite was. Dit was vir die personeel van die Program vir Afrikaans en Nederlands in Durban besonder aangenaam om vir prof Jaap Goedegebuure van Tilburg as gas te kon ontvang, aangesien hy een van die grondleggers van die samewerkingsooreenkoms was. Prof Goedegebuure staan aan die hoof van die afdeling Theorie en Geschiedenis van de Literatuur in Tilburg en is onder meer bekend vir sy boeke oor die dekadentisme, die invloed van die Bybel op die Nederlandse literatuur en sy onlangse biografie oor die Nederlandse digter Hendrik Marsman. Hy werk tans mee aan die groots opgesette literatuurgeskiedenis van die Nederlandse literatuur wat enkele jare gelede deur die Nederlandse Taalunie geïnisieer is. Prof Goedegebuure het tydens die dagseminaar twee lesings gelewer: ’n beskouing van die Nederlandse outobiografiese roman sedert die Tweede Wêreldoorlog, en ’n besonder indrukwekkende lesing oor die biografiese metodes wat tans in Nederland gebruiklik is.

Prof Goedegebuure is vergesel deur sy kollega dr Léon Hanssen. Dr Hanssen het pas die eerste deel van sy belangrike biografie oor Menno ter Braak die lig laat sien en die tweede deel verskyn teen September in Nederland. Dr Hanssen se biografie is met groot waardering begroet in Nederland. In ’n lewendige aanbieding het hy die aanwesiges by die dagseminaar op die hoogte gebring van Ter Braak se rol in die intellektuele lewe in Nederland. Dr Hanssen het die verskillende fases in Ter Braak se denke met groot duidelikheid aan sy gehoor oorgedra.

Die eerste bydrae tot die dagseminaar het egter gekom van dr Annemarie van Niekerk van die Universiteit van Vista, wat haar proefskrif geskryf het oor die egoliteratuur van vroue in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog. Haar referaat oor dieselfde onderwerp was ’n besonder gepaste openingsrede en het tot ’n lewendige bespreking gelei. Dr Van Niekerk is verder ook bekend vir haar bloemlesings, in Afrikaans en Engels, van vrouefiksie.

Mnr Vasu Reddy, tans programdirekteur van Afrikaans en Nederlands in Durban, het ’n deeglike teoretiese beskouing van die getuienisliteratuur gelewer. In sy referaat het hy onder meer verwys na die bekende Commando van Deneys Reitz. Mnr Reddy werk tans aan ’n proefskrif oor seksualiteit en homoseksualiteit en het onlangs ’n hoofstuk bygedra tot die boek The Greatest Taboo: Homosexuality in Black Communities met die Amerikaner Delroy Constantine-Simms as redakteur.

Drs Andries Visagie van Durban het ’n referaat gelewer oor hibriditeit in Henk van Woerden se outobiografiese Kaapse trilogie. Die derde deel van hierdie trilogie is onlangs deur Antjie Krog vertaal onder die titel Domein van glas. Andries Visagie is tans besig met ’n proefskrif oor manlikheid in die Afrikaanse prosa. Drs Visagie het onlangs ook ’n hoofstuk oor Slagplaas van Koos Prinsloo bygedra tot die boek Party van ons met Danie Botha as redakteur.

Al die aanwesiges was besonder tevrede met die hoë gehalte van die bydraes tot die dagseminaar; die verskillende bydraes het ook besonder goed bymekaar aangesluit. Daar word reeds planne gemaak vir ’n volgende gesamentlike dagseminaar in 2003 wat heel moontlik weer sal fokus op die egoliteratuur. Die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek het ’n onmisbare geldelike bydrae tot die dagseminaar gelewer. Die NKN word daarom hartlik bedank vir hulle ondersteuning.

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.