NeerlandiNet - Neerlandistiek in Suid-AfrikaArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Nederlandse Taalunie

SAVN — 4de Internasionale Neerlandistiekkongres, 2001

9-13 Julie 2001
Dikhololo-Natuurreservaat

Die SAVN bied elke drie jaar ’n internasionale Neerlandistiekkongres in Suid-Afrika aan. Vanjaar word die Vierde Internasionale Neerlandistiekkongres van 9 tot 13 Julie in die wildreservaat Dikhololo, net buite Brits, aangebied. Die Universiteit van Pretoria tree as gasheer vir die kongres op en dit word weer eens aangebied met finansiële steun van die Nederlandse Taalunie. Enige persoon wat die Neerlandistiek beoefen of daarin belangstel, mag aan die kongres deelneem. ’n Groot getal Neerlandici uit Nederland en Vlaandere, asook uit Oos-Europa, Indië en die VSA, het reeds vir die kongres ingeskryf.

Afgesien van die akademiese program word die driejaarlikse algemene ledevergadering van die SAVN in die loop van die kongres gehou. Tydens hierdie vergadering vind ’n bestuursverkiesing plaas. Saans word daar saam gekuier: genooide gaskunstenaars tree op, daar is geleentheid om ’n wildrit in die aand te onderneem, en op die laaste aand word die kongres met ’n feestelike dinee afgesluit.

Die tema van die kongres: Centrum en Marge

Die 2001-kongres se tema, Centrum en Marge, leen hom tot ’n ondersoek na verhoudings van ongelyke en/of veranderende aard op verskeie terreine binne die Neerlandistiek, asook op verhoudings met betrekking tot ander dissiplines. Ondersoeksmoontlikhede sluit in: die koloniale diskoers; Neerlandistiek intra en extra muros; Nederlands as vreemde taal (onderrig, aanleer, kenmerke); minderheidsrelasies en magsverhoudinge (byvoorbeeld ten opsigte van gender, ras, sosiale groeperinge), die verhouding verlede-hede-toekoms, tradisionele versus nuwe media; en die verhouding tussen formele en toegepaste taalkunde. Daar word aandag gegee aan sowel formele linguistiek as toegepaste taalkunde en taalgebruikskunde, letterkunde vanaf die Middeleeue tot vandag, koloniale letterkunde, jeugliteratuur, en kulturele en maatskaplike aspekte. Die gebruik van Nederlands as brontaal (byvoorbeeld in sewentiende-eeuse dokumente) en die onderrig van Nederlands as vreemde taal word in oënskou geneem. Ten slotte word daar na vertaling en na die gebruik van nuwe media en/of tegnologieë gekyk.

Hoofsprekers

Prof. Elize Botha, emeritus hoogleraar in letterkunde aan Unisa en tans kanselier van die Universiteit van Stellenbosch, sal die openingsreferaat op die kongres lewer. Prof. Botha het aan die Universiteit van Amsterdam gedoktoreer as student van N.P. van Wyk Louw.

Prof. Carel Jansen van die Katholieke Universiteit Nijmegen en dr. Fons Maes van die Katholieke Universiteit Brabant (Tilburg) sal gesamentlik ’n referaat en ’n werkswinkel aanbied oor onlangse ontwikkelinge in die taalbeheersing. Hulle sal spesifiek aandag gee aan:

“onderzoek en onderwijs rond document design (of zo men wil tekstontwerp)” en
“de relaties van ons vakgebied met nieuwe media en interculturele communicatie”.

Prof. Fritz Ponelis van die Universiteit van Stellenbosch se referaat sal handel oor Nederlands as kultuurtaal in Suid-Afrika. Hy sal aan die hand van voorbeelde uit die sewentiende tot die negentiende eeu toelig hoe die gebrekkige sosiale en kulturele onderbou van Nederlands aan die Kaap en in die latere Suid-Afrika aanleiding gegee het tot sowel die kreolisering van die Nederlandse spreektaal as die onvolkome vestiging en uiteindelike verdwyning van die Nederlandse kultuurtaal.

Gerrit Komrij, Nederlandse digter en samesteller van die magistrale driedelige bloemlesing van die Nederlandse poësie van die twaalfde tot en met die twintigste eeu, en samesteller van Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, tree ook as hoofspreker by die kongres op. Sy referaattitel sal later bekendgemaak word.

Henk van Woerden, Nederlandse skrywer wat as kind in Suid-Afrika gewoon het en van wie daar die Nederlandse boek Moenie kyk nie verskyn het, is in Suid-Afrika ook bekend vir Een mond vol gras, ’n biografie van Dimitrio Tsafendas, wat die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd uitgevoer het. Sy referaattitel sal eweneens nog aangekondig word.

Die Nederlandse digter en vertaler H.C. ten Berge sal ’n referaat oor vertaling aanbied, met die titel “Stokroos of Hartrank: genoegens en dilemma’s van een poëzievertaler”. Sy lesing sal waarskynlik konsentreer op eie ervarings met die vertaal van tekste uit Asteeks, Japannees, Amerikaanse Engels en Sweeds in Nederlands.

Dikholo-natuurreservaat

Die 2001 SAVN-kongres word aangebied in die natuurreservaat Dikhololo, ongeveer ’n uur se ry van Pretoria af in die warm, ongerepte Bosveld. Wild beweeg vryelik op die terrein (ook tussen die chalets en konferensiegeriewe) rond. Naas gerieflike, moderne konferensiegeriewe bied Dikhololo ook ontspanningsfasiliteite vir tennis, muurbal, minigholf, tafeltennis, swem en bergfietsry. Die volle 450 hektaar-wildreservaat kan per opelugsafari op Land Cruisers besigtig word. Die formele dinee word aangebied in die boslapa: onder die suidersterre, omring deur die veld en die diere van Afrika.

Verblyf in Dikholo

Kongresgangers word in volledig toegeruste, luukse dupleks-cabanas en chalets gehuisves. Kongresgangers sal dus ’n chalet deel, maar sal elk ’n eie, privaat slaapruimte hê. Indien persone nie bereid is om ’n chalet te deel nie, sal die organiseerders, indien hulle vooraf uitdruklik so versoek word, probeer om ’n privaat chalet teen ’n verhoogde tarief beskikbaar te stel.

Kongresgeld en bywoningskoste

Danksy die borgskap van die Nederlandse Taalunie en die samewerking van Dikhololo word ’n spesiale gesubsidieerde pakket aangebied aan kongresgangers wat die volle kongres bywoon. Die pakket sluit die volgende in: registrasiegeld, alle etes vanaf middagete op Maandag 9 Julie tot en met ontbyt op Vrydag 13 Julie, die formele dinee, verblyf in ’n gedeelde chalet (maar met eie, privaat slaapruimte, soos hierbo uiteengesit) en busvervoer vanaf die Johannesburgse Internasionale Lughawe of die Universiteit van Pretoria en weer terug. Die pakketbedrag beloop R1 300 per persoon vir Suid-Afrikaanse kongresgangers en R1 500 per persoon vir buitelandse kongresgangers. Dit is soos volg saamgestel: R400 registrasiegeld vir Suid-Afrikaanse deelnemers (R600 registrasiegeld vir buitelandse deelnemers), en R900 vir vier dae en nagte se verblyf, insluitend alle etes, die kongresdinee en vervoer (d.w.s. ’n gemiddeld van R225 per dag).

Kongresgangers wat nie die volle vier nagte oorslaap nie, se verblyf sal bereken word teen die volle, ongesubsidieerde verblyftarief van R390 per dag. Persone wat in ’n eie chalet gehuisves wil word, se verblyfkoste sal ook teen ’n hoër tarief as die gesubsidieerde tarief bereken word.

Indien ’n kongresganger ’n metgesel saambring vir die volle duur van die kongres, geld die pakkettarief ook vir die metgesel. Die metgesel mag dan ten volle aan die kongres deelneem, of kan kies om alle etes (met inbegrip van die dinee) saam te nuttig maar nie die lesings by te woon nie.

Wat is nie by die kongrespakket ingesluit nie?

Kongresgangers moet self betaal vir telefoonoproepe, fakse en kopieerkoste wat deur hulle aangegaan word. Met die uitsondering van wat aan tafel verskaf word saam met die ete, moet kongresgangers wat addisionele drankies bestel, ook hiervoor self betaal. Wildritte op Land Cruisers kan onderneem word teen sowat R20 per persoon per rit, en enige deposito’s of koste wat gehef mag word vir deelname aan sportaktiwiteite is eweneens vir die deelnemer se eie rekening.

Vervoerreëlings

Aangesien die kongres buite die stad gehou word, word busvervoer vanaf die Johannesburgse Internasionale Lughawe en vanaf die Universiteit van Pretoria verskaf aan deelnemers wat daarvan gebruik wil maak. Ook plaaslike deelnemers kan van hierdie aanbod gebruik maak. Die busse sal in die loop van Maandagoggend 9 Julie na Dikhololo reis en sal deelnemers in die loop van Vrydagoggend 13 Julie weer na die Universiteit van Pretoria of die lughawe terugneem. Indien u per vliegtuig reis, word u vriendelik versoek om hierdie vervoerreëlings in gedagte te hou wanneer u u vliegkaartjie bespreek. Persone wat reeds voor Maandag 9 Julie arriveer, kan die bus op die kampus van die Universiteit van Pretoria haal.

Kom voorbereid

Dikhololo beskik oor slegs ’n klein winkeltjie met beperkte voorraad. Onthou dus om artikels soos medikasie (indien nodig), sonbrandroom en toiletware saam te bring. Die temperatuur kan bedags styg tot sowat 20°C in die son, maar snags kan die temperatuur tot 0°C daal. (As u van plan is om te reis, moet u onthou dat dit in die res van die land heelwat kouer kan wees.) Binne die natuurreservaat is stapskoene, ’n verkyker, en voël- en soogdiergidse aan te beveel indien u die wildlewe ten volle wil geniet. ’n Warm baadjie is saans noodsaaklik (hou in gedagte dat u ook warm klere vir die dinee nodig het).

Besigtigingstoere en daguitstappies

U sal binnekort ingelig word oor toere of daguitstappies voor, tydens of na die kongres, byvoorbeeld na die Nasionale Krugerwildtuin, die Waterberg en plekke in en om Pretoria en Johannesburg. Die langste toer sal hoogstens vyf dae duur. Spesifieke navrae kan aan die adres hieronder gerig word. Die koste hiervan is nie by die kongrespakket ingereken nie.

Algemene Ledevergadering van die SAVN

Die driejaarlikse algemene ledevergadering van die SAVN sal op Woensdag 11 Julie gehou word. Onthou dat u slegs stemreg in die vergadering het indien u ledegeld ten volle betaal is. Ledegeld beloop R50 per jaar vir Suid-Afrikaanse Neerlandici, R100 per jaar vir buitelandse Neerlandici (R80 ledegeld + R20 posgeld) en R25 per jaar vir bona fide voltydse studente. Ledegeld is betaalbaar by mev. Heidi de Villiers, Dissipline: Afrikaans en Nederlands, School of Language, Culture & Communication, Universiteit van Natal, Privaatsak X01, Scottsville, 3209 Pietermaritzburg.

Inskrywing vir die kongres

Indien u die kongres wil bywoon, moet u asseblief die meegaande inskrywingsvorm invul en dit so gou moontlik stuur aan: rmarais@postino.up.ac.za.

REGISTRASIEVORM vir die 4DE INTERNASIONALE SAVN-KONGRES
9-13 JULIE 2001
DIKHOLOLO, SUID-AFRIKA

Vul asseblief u besonderhede in die regterkantste kolom in (gebruik asb. drukskrif):

1.    Van

2.    Voorname

3.    U title

4.    Universiteit of organisasie waan u verbonde is

5.    Werkadres

6.    Huisadres

7.    Telefoonnommer (Huis)

8.    Telefoonnommer (Werk)

9.    Faksnommer

10.    E-posadres

11.    Word u vergesel deur ’n metgesel?
         JA    NEE    Getal persone wat huisvesting benodig:

12.    Gaan u metgesel aan die kongresverrigtinge deelneem?
         JA    NEE

Spesifiseer asseblief indien u etes op ’n spesiale manier voorberei moet word (bv. vegetaries of halaal):

14.    Wil u van die busvervoer gebruik maak?
         JA, v/d Johannesburgse Internasionale Lughawe af
         JA, van die Universiteit van Pretoria af
         NEE

15.    Is u van plan om ’n referaat aan te bied?
         JA    NEE
INDIEN JA, verstrek asseblief ook die volgende besonderhede:

15.1    Voorlopige titel van referaat:

15.2    Dui asseblief aan in watter van die onderstaande kategorieë u referaat val:

A.1    Letterkunde voor 1800

A.2     Letterkunde na 1800

A.3     Koloniale letterkunde

A.4     Jeugliteratuur

B     Kultuur en maatskappy (insluitende Geskiedenis, Kunsgeskiedenis)

C.1     Formele Taalkunde

C.2     Toegepaste Taalkunde / Taalgebruikskunde

D     Nuwe media / Nuwe tegnologieë

E     Nederlands as vreemde taal

F     Nederlands as brontaal

G     Vertaling

15.3     *My referaatopsomming is aangeheg
           *Ek sal my referaatopsomming voor 31 Maart 2001 instuur

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.