Multimedia-poësieprojekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Poësie + beeld + klank = ‘Vonkverse’

Gerrit Brand

RUSTUM KOZAIN, die wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-poësieprys vir sy bundel This Carting Life, is een van die digters wat te hoor en te sien is op Vonkverse, ’n tweetalige DVD wat op vanjaar se KKNK die eerste keer as kunsinstallasie vertoon sal word.

Dié projek van LitNet betrek, behalwe die digters, ook visuele kuns deur Christine Truter, en ’n klankbaan met onder meer oorspronklike musiek deur die digter Peter Snyders. Naas Kozain en Snyders dra Chris Brunette, Ingrid de Kok, Antjie Krog en Jasper van Zyl van hul poësie voor. Die fotografie, animasie en regie is deur die dramaturg en teaterregisseur Charles J. Fourie behartig.

Die CD Mondmusiek, waarop Breyten Breytenbach sy poësie met musikale begeleiding deur verskeie kunstenaars voorlees, het ’n standaard gestel vir uitvoerende-poësie-opnames. In bepaalde opsigte bereik Vonkverse dan ook dié peil. Die musiek, visuele kuns en animasie trek nie die aandag van die gedigte af nie, maar komplementeer en eggo dit, en maak so van die poësie die sentrale bestanddeel in ’n meer omvattende kunswerk – ’n geslaagde samewerking deur Truter en Fourie, dus.

Die fotografering van die digters wat voordra, is egter nie altyd ewe geslaag nie. Veral die nabyskote is soms steurend.

Aan die tegniese kant is die klankbaan weer nie reg gebalanseer nie. Die digterstemme is te hard teenoor die musiek. Soms, soos in die geval van die metronoom-animasie wat die Krog-voorlesing voorafgaan, voel ’n mens dat klank en beeld beter gekoördineer kon gewees het.

Snyders en Krog staan as voordraers kop en skouers bo die ander digters uit, en laat ’n mens wonder waarom die digter as uitvoerende kunstenaar in die Afrikaanse wêreld nog nie so sterk na vore getree het as in byvoorbeeld Vlaandere nie. Hopelik sal projekte soos Vonkverse juis hierin ’n regstelling help bring, want ’n gedig kom eers werklik tot sy reg as dit gehoor word. Die ander digters op die DVD kwyt hul ook heel skaflik van hul taak.

Aan die inhoudelike kant is dit steurend wanneer die Afrikaanse digter Brunette twee keer in sy motto’s die Chileense digter Pablo Neruda, wat in Spaans geskryf het, in Engels aanhaal – iets wat op ’n DVD-klankbaan waarskynlik selfs meer opval as in druk.

Volgens Brunette, wat ook namens LitNet by die vervaardiging betrokke was, is die gedagte met die Vonkverse-projek dat dié eerste poging deur ander opgevolg sal word.

Die skrywer Etienne van Heerden, wat een van die eerstes was om die Afrikaanse letterkunde in die digitale era in te lei, het gesê: “Met Vonkverse wil ons poësie die elektroniese ruimte binnebring; ons het ’n versnit van ses digterskappe uit verskillende agtergronde en genders gaan haal ...”

’n Uittreksel uit Vonkverse, met beeld en klank, is op LitNet (www.litnet.co.za) te sien.

• Vonkverse sal op die KKNK deurlopend vertoon word op ’n reuseskerm in die Prince Vincentgebou as deel van die fees se kunsaanbod onder die kuratorskap van Theo Kleynhans.

Hierdie berig deur Gerrit Brand het op 30 Maart 2006 in Die Burger verskyn. Besoek hul webtuiste by www.dieburger.com.

LitNet: 22 Mei 2006

terug    /     boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.